• No results found

2.1 ’n Beskrywing van geestelike groe

2.2 Die Bybel en die vraag na geestelike volwassenheid.

2.2.2 Enkele lyne vanuit die Nuwe Testament

Ook die Nuwe Testamentiese spiritualiteit word gesien as meta-kommunikasie op God se spreke in Jesus Christus. Noordegraaf bevestig hierdie stelling: “Mensen worden geroepen met heel hun bestaan op dit spreken en handelen van God in Jezus Christus te antwoord” (1993:44). In Jesus het God vir ons ‘n voorbeeld kom gee. Volgens Noordegraaf (1993:45) is elemente van Jesus se lewe wat navolging vra, die feit dat Hy gereeld met sy Vader in gesprek was, sy lewe uit die Skrif, en sy gehoorsaamheid aan die wet van die liefde. Die navolging van Jesus in voorbeeld red egter nie die mens nie. Jesus is nie net voorbeeld van korrekte optrede nie, Hy is ook Verlosser. Spiritualiteit in die Nuwe Testament vind sy middelpunt in Jesus Christus en is ’n pneumatologiese aangeleentheid.

Volgens Moberg (1990:14) is daar veral twee basiese denkrigtings met betrekking tot geestelike groei of geestelike volwassenheid, naamlik dié van selfverloëning en selfaktualisering. Aangesien die navorser van mening is dat geestelike groei gestimuleer word wanneer self- differensiasie met betrekking tot die individu se lewensverhaal plaasvind, is dit belangrik om die twee denkrigtings vanuit Bybelse perspektief te belig. Die vrae wat beantwoord moet word, is of selfverloëning of kruisdra die verlies van eie identiteit beteken en verder of daar ruimte is vir die klem op eie identiteit binne Bybelse perspektief oor volwassenheid. Is selfaktualisering noodwendig ’n begrip wat dui op die oorbeklemtoning van die eie identiteit en dus negatief, of kan selfaktualisering as Bybelse beginsel in die groei na volwassenheid sy plek vind?

Mt 22:39 word dikwels gebruik om te beklemtoon dat die mens homself mòèt liefhê. Die selfliefde in hierdie gedeelte is egter nie ’n opdrag nie, maar word as ’n gegewe aanvaar. Kruger en Venter stel dit so: “Jesus bestraf nie hierdie selfliefde in die mens nie; Hy skakel dit ook nie uit nie, maar kanaliseer dit dat dit op die naaste gerig word ... Selfliefde as ’n gegewe in elke mens openbaar dat in die christelike lewe die self nie uitgeskakel word nie, maar instrumenteel betrokke gemaak word”(1996:370-371). Die mens verloor nie sy identiteit in sy verhouding met God en die naaste nie, maar stel sy persoon juis tot beskikking om God te dien in sy naaste.

Selfverloëning is ’n opdrag in die Bybel. In Mt 10:38-39 staan die volgende: “Hy wat nie sy kruis dra en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat sy lewe wil behou, sal dit

verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.” Mk 8:34-35 is in dieselfde gedagtelyn: “Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën , sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou’”. Dieselfde gedagtes kom ook voor in Mt 16:26, Lk 17:32-33, en Jh 12:25- 26. Identifikasie met Jesus se sterwe is noodsaaklik om ook saam met Hom op te staan in ’n nuwe lewe (Jones 1996b:78).

Die navorser is van mening dat die begrippe selfverloëning en kruisdra dikwels verkeerd deur gelowiges geïnterpreteer is en dat daar steeds verwarring bestaan oor die verstaan van die twee begrippe. In die lees van Holt (1993) se boek “Thirsty for God”, wat handel oor die verskillende wyses hoe die dors na God deur die eeue aangespreek is, word die indruk tog gelaat dat die klem dikwels onder andere geval het op ‘n soort teenprestasie asook ’n identiteitloosheid.

Aangesien die verskillende teksgedeeltes wat genoem is dieselfde gedagtes aanspreek en binne dieselfde konteks funksioneer, is dit nie van enige nut om ’n uiteensetting van elke gedeelte te gee nie, daarom hanteer die navorser slegs een van die gedeeltes, naamlik Mt 10:34-39. Hierdie gedeelte pas in binne die breë konteks van Mt 9:35-11:1 waar Jesus sy dissipels uitstuur om die evangelie in die wêreld te gaan verkondig.

Die boodskap sal mense verdeel. Sommige sal die boodskap en vir Jesus aanhang terwyl ander dit sal verwerp en verder ook die draers van die boodskap sleg sal behandel. Hierdie verdeeldheid sal selfs in gesinne plaasvind. Die gedagte van selfverloëning en kruisdra beklemtoon die getrou-bly aan Jesus en sy boodskap onder moeilike omstandighede, soos onder andere druk van mense wat nie glo in Jesus nie. Om kruis te dra ter wille van Jesus beteken simbolies om Jesus te volg en sy evangelie te verkondig ten spyte van vervolging, pyn en die aflê van eie belange (Noordegraaf 1993:48). Wanneer die keuse tot eie belange die boodskap van die evangelie kan benadeel, moet die keuse gemaak word om eerder getrou aan Jesus en sy boodskap te wees. Hierdie teksgedeeltes beklemtoon dus nie die verloor van eie identiteit nie. Die eie unieke identiteit kan vrugbaar gebruik word om Jesus se belange en die evangelie uit te brei (Velema 1993:380-382). Die behoud en bevordering van eie identiteit mag egter nooit lei tot verdeeldheid

nie. Slegs die evangelieboodskap mag ‘aanstoot’ gee. Aangesien die klem val op die wegdoen met alles wat die eerste-stel van Jesus en die bevordering van die evangelie benadeel, is die navorser van mening dat ’n ‘siek’ lewensverhaal ook onder die spits van hierdie teksgedeelte val. Cloud (1990) wys in besonderhede hoedat nadelige patrone (injuries) wat deur die loop van die lewe deel van ’n lewensverhaal geword het, kan lei tot ’n onvermoë om die lewe ‘in volheid’, wat Jesus bewerk het, deelagtig te word. Veral die nalaat van die ontwikkeling van ’n eie self lei tot die gebrek aan grense wat onder andere kan lei tot ’n self-gesentreerde lewe en die oor- aktualisering van die self ten koste van ander. Verder word mense se houdings, gevoelens, optrede, gedagtes, vermoëns, begeertes, keuses, beperkinge, dus hulle hele bestaan deur hulle eie self-verstaan beïnvloed (1990:45-111). ’n Lewe wat Jesus en sy evangelie nie eerste stel nie, kan dus ’n simptoom wees van ’n ‘beseerde’ lewensverhaal. Indien daar genesend met die lewensverhaal gewerk word, kan die persoon in staat gestel word om Jesus eerste te stel en so aan die eis van die Woord gehoorsaam te wees. Om Jesus waarlik eerste te kan stel, is dit volgens die navorser noodsaaklik om die lewensverhaal ook aan te spreek. Hierdie teksgedeeltes beklemtoon die gedagte dat geestelike volwassenheid beteken om Jesus se belange altyd eerste te stel. Die verlies aan eie identiteit word nie gevra nie, maar juis die uit-die-weg-ruim van faktore wat die mens kan verhinder om sy unieke persoonlikheid totaal aan God te wy. Geestelike groei beteken

nie om eie identiteit te verloor nie, maar juis om alles wat die mens verhinder om Jesus eerste te stel, uit die weg te ruim.

Twee teksgedeeltes wat verder lig werp op die onderwerp van selfverloëning en selfaktualisering is Rm 12:1-10 en 1 Kor 12. Aangesien albei teksgedeeltes dieselfde gedagtes beklemtoon, word slegs aan 1 Kor 12 aandag gegee. In die beeld van die liggaam van Christus wat Paulus gebruik, word twee beginsels beklemtoon, naamlik verskeidenheid en eenheid (Hudson 1995:76). Die dele bestaan nie as afsonderlike dele of stukke nie, maar kom alleen tot sy reg binne die liggaam en in diens van die goeie funksionering van die liggaam. Dié dele behoort vanuit die oorsprong asook die doel, saam ’n eenheid te vorm. In vers 7 word die gedagte beklemtoon dat elke mens ’n gawe ontvang het en dus uniek is met die oog op die verryking en goeie funksionering van die geheel. Die gawes wat genoem word, is nie bedoel om ’n volledige lys te wees nie, maar plaas slegs klem op die gedagte dat elke mens met sy persoonlike identiteit deur God geskape is en gebruik wil word tot Sy voordeel. Die enkeling word toegerus om op ’n wyse wat aan hom alleen

eie is, ’n plek in te neem in die lewe van die geheel en ’n diens te verrig tot voordeel van almal, sodat die gemeente kan leef en funksioneer soos ’n lewende organisme (Groenewald 1980:161; Morris 1983:173). Die gevaar bestaan ook dat eendersdenkendes ’n eenheid en ’n buffer vorm teen andersdenkendes. Daar moet ’n openheid bestaan vir die verskeidenheid en dit moet in gedagte gehou word dat die eenheid belangiker is as persoonlike voorkeure. Ook hier is die navorser van oordeel dat kommunikasie skeppingsmag besit. Wanneer mense wat verskillend dink met ’n openheid aan ’n gesprek deelneem, sal ’n skuif in die rigting van eenheid en heelheid beslis plaasvind. Daar moet raakgesien word dat eenheid nie eendersheid is nie, maar juis ruimteskeppend. König (1998:26) beklemtoon dit so: “Dit is enersyds verkeerd om die verskeidenheid tussen mense te ontken, en dit is andersyds net so verkeerd om die verskeidenheid tot geskeidenheid te voer”. Die vrug, naamlik die liefde, moet die wyse hoe die verskeidenheid hanteer word, bepaal.

Die enkeling kan alleen aan hierdie skeppingsdoel beantwoord indien hy homself aanvaar as uniek. In verse 15-20 word hierdie beginsel beklemtoon: “ As die voet sou sê: ‘omdat ek nie ’n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,’ hou hy om die rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie.” In vers 18 word die wil van God beklemtoon met betrekking tot die unieke aard van elke deel van die liggaam: “Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.” Voordat die enkeling ’n bydra in die geheel kan maak, moet die unieke, Godgewilde aard eers aanvaar word (Cloud 1990:92). Voordat die enkeling ’n unieke bydra kan lewer tot die geheel, moet die eie unieke individualiteit ontdek en aanvaar word.

’n Tweede beginsel met die oog op die beantwoording aan die skeppingsdoel, is die aanvaarding van die ander dele van die liggaam as uniek en noodsaaklik. 1 Kor 12:21-22 beklemtoon die gedagte dat die enkeling ook die ander dele moet aanvaar as uniek deur God geskep met die oog op die goeie funksionering van die liggaam. Hierdie twee beginsels van uniekheid en eenheid is ook belangrik vir die belewenis van God en die spiritualiteit wat daaruit vloei. Elke mens is uniek en sal God dus uniek beleef. Eenheid sal beteken dat daar ook begrip en aanvaarding sal wees vir die unieke belewing van elkeen en gevolglik die unieke spiritualiteit (Rice 1991:27). Christene moet versigtig wees om te dink dat hulle belewing en reaksie op die Godsverhaal evangeliestatus het. Hoewel die ander spiritualiteit vir ’n spesifieke individu vreemd mag wees, is dit nie

noodwendig verkeerd nie. Daar moet ook gewaak word om die ander persoon se spiritualiteit evangeliestatus te gee en die eie spiritualiteit nie te aanvaar nie. Gesprek kan begrip en groei na mekaar teweegbring. Gesprek met God, die self en ander oor die Godsverhaal, kan foutiewe verstaan regstel. Daar moet egter ’n nederigheid en ’n openheid wees.

Die individu moet sorgdra dat sy unieke persoonlikheid ontdek en beskerm bly asook betrokke is en diens lewer in die liggaam, terwyl die individu ook moet besef dat die aanvaarding van ander beteken dat hulle erken en gebruik sal word. Mense se uniekheid mag nie bedreig word deur hulle verantwoordelikheid oor te neem nie. Duidelike grense vloei dus vanuit die gedagte van die liggaam met die verskillende dele. Geestelike volwassenheid beteken volgens 1 Kor 12 om die

self te ontdek en te aanvaar as uniek met ’n spesifieke doel, asook om ander mense te aanvaar as uniek met ’n spesifieke doel. Die doel van die verskillende dele is om die geheel te

dien. Die unieke aard kry slegs waarde wanneer dit saamwerk met die ander dele in diens van die geheel. Fowler se drie laaste geloofsfases is hier van belang, naamlik die “ individuative- reflective faith”, “conjunctive faith” en die “universalizing faith” (Fowler1984:64-70). In hierdie geloofsfases word die gedagte van die ontdekking van ’n eie identiteit en die openheid vir ander identiteite beklemtoon, asook die gedagte dat die individu as unieke wese homself onvoorwaardelik gee in diens aan God. ’n Gedagte wat telkens voorkom en baie belangrik blyk te wees, is die gedagte dat daar nie sprake van geestelike groei sonder grondige selfkennis is nie. ’n Gebrek aan selfkennis lei tot probleme in menseverhoudinge. In die volgende hoofstuk word dit duidelik aangetoon dat self-differensiasie ook ’n grondige selfkennis veronderstel met die oog op goeie funksionering tussen ander. Hierdie self-differensiasie vind plaas deur kommunikasie, aangesien konstruksie en dekonstruksie taalgebeure is. Geestelike groei sal dus vanuit hierdie siening ook ’n taalgebeure wees en vereis dus kommunikasie.

Volgens die navorser is die gedagte van grense (boundaries), wat in die sielkundige wêreld algemene spreektaal is, nie vreemd aan die Bybel nie. Waar die individu egter uit die geheel gehaal word en sy regte beklemtoon word, word eensydighede beklemtoon, aangesien die individu uniek geskape is met die oog op diens in die geheel. Liefde volgens 1 Kor 13 is binne die konteks gesien dan juis aanvaarding van jouself en aanvaarding van die ander. Liefde beteken om jouself te aanvaar en aan ander lewensruimte te gee. Om jouself te beklemtoon ten

koste van ander, of jouself te vergelyk met ander, of ander op te hemel ten koste van jouself, is liefdeloos en geestelik onvolwasse. Binne hierdie konteks kan geestelike volwassenheid en

die proses van self-differensiasie (binne christelike konteks) as dieselfde proses gesien word.

Hierdie teksgedeelte beklemtoon dat die individu alleen tot sy reg kom binne die geheel. Verder lei die ontdekking van die eie identiteit tot die waak teen ‘grensoorskreidings’. Elke individu binne die liggaam behoort dus ruimte te hê om as unieke geskapene ’n bydra te lewer. Geestelike groei vind plaas binne die liggaam.

’n Volgende teksgedeelte wat klem lê op geestelike volwassenheid en waaraan aandag gegee gaan word is Efes. 4. Die navorser se doel is nie om ’n volledige eksegetiese uitleg van die hoofstuk te gee nie, maar om slegs die teologiese interpretasie wat relevant is met die oog op die betrokke studie weer te gee. Die beginsels wat deurgegee word, berus egter op ’n eksegese van die teks. In hierdie gedeelte handel dit oor die kerk, oor die verhouding van die verhoogde Here met sy liggaam (die kerk), asook oor die funksionering van die kerk.

Die klem val op die eenheid van die kerk wat gedien word deur goeie funksionering. Die eenheidsgedagte word baie sterk beklemtoon deur verskeie argumente. Ten einde goed te kan funksioneer het die oorwinnende Here aan elke lidmaat van die kerk ’n bepaalde gawe gegee. Hierdie gawe is nie bedoel as ’n persoonlike bevoordeling van die individu nie, maar dien tot bevoordeling van die Godsvolk. Die individuele gawes moet aangewend word tot die goeie funksionering van die kerk. Ten einde goed te funksioneer as kerk, het die oorwinnende Here nie net gawes aan spesifieke mense gegee nie, maar ook spesifieke mense as gawes gegee. Die doel van hierdie mense was om opleiding te gee aan die mense, sodat hulle hulle gawes maksimaal kon aanwend in die liggaam. Die opbou van die liggaam vind plaas wanneer heidene deur die evangelie bereik word en deel van die kerk word, asook wanneer lede van die liggaam groei in kennis van die waarheid en gevolglik in die waarheid stewiger geanker word (Roberts 1990:103- 130).

van die Godsvolk, wanneer individue hulle gawes gesamentlik met ander uitleef, met die oog op die beter funksionering van die kerk. Groei is dus nie iets wat in isolasie plaasvind nie en verder word groei nooit ’n doelwit wat nagejaag kan word nie. Persoonlike geestelike groei is altyd ’n

neweproduk van die uitleef van ’n unieke persoonlikheid met sy Godgegewe gawes tot voordeel van die kerk en eer van God. Die betrokkenheid van die individu moet altyd gerig

wees op groei van die kerk. Groei word in die gedeelte gesien as die uitbreiding van getalle en die eenheid wat bestaan tussen die verskillende lede. Verder word die waarde van die ‘waarheid’, dit wil sê die feite met betrekking tot die evangelie soos geopenbaar in Jesus Christus, ook beklemtoon. Paulus beklemtoon dat die deel-wees van die Godsvolk, asook die toeneem in kennis met betrekking tot die waarheid, ’n anker gee. Die beklemtoning van die korrekte leer in geestelike volwassenheid kan nie geïgnoreer word nie, maar moet juis bevorder word. Die klem kan beslis nie net op die belewing val nie, maar die belewing van die

betrokke geloofswaarheid is belangrik. Die waarheid sonder die belewing is egter ook van

weinig nut. Die navorser is van mening dat die brug tussen die waarheid en die belewing geslaan word deur middel van kommunikasie met die oog op die sin van die betrokke waarheid. Vrae met betrekking tot die waarde van die betrokke geloofswaarheid moet gevra word. Verder moet die vraag ook na God en sy wil in die waarheid gevra word (Godsverhaal). Laastens moet daar ook gevra word na dit wat in die mens se eie lewe deur hierdie waarheid aangespreek wil word en wat in die pad van die eindresultaat staan.

Laastens wil die navorser klem lê op Jesus se antwoord toe Hy gevra is oor watter wet die belangrikste is. Jesus se antwoord waarin Hy aanhaal uit Deuteronomium beklemtoon dat die God van die Ou Testament ook die God van die Nuwe Testament en die Vader van Jesus Christus is. God word erken as die Een van wie alles kom. Alles in die lewe word aan die verhouding met God onderdanig gestel. Die belangrikheid van die wil van die mens (verstand) word ook uitgewys

wanneer daar vereis word dat God in gehoorsaamheid gevolg moet word. Jones (1996b:65) beklemtoon die rol van die verstand as hy sê: “The ‘love’ enjoined and elicited is nothing emotional or self-indulgent; total devotion entails the active will expressed in obedience to the will of God”. Jesus vra niks buitengewoon nie, maar liefde vir God, die naaste en die self. Jesus vra respek en toegeneentheid vir die mens as beelddraer van God. Jones beklemtoon die

eenheid van die twee gebooie, asook die gedagte dat geestelike groei in die medemens sigbaar moet word: “The second commandment raises our fellow human beings above the level of other creatures, such as food and clothing, on which we are not to spend much though; human beings are not to be used, but enjoyed and loved, and to served. The two commandments are subtly linked, but not inseparable, as if the first can only be fulfilled in the second” (1996b:66). God word gedien in mense. Spiritualiteit is die reaksie van die mens op God se liefde vir die wêreld. Die mens reageer in die wêreld en veral in die mens deur lief te hê soos wat God liefgehad het.

Samevattend kan die volgende lyne met betrekking tot geestelike groei vanuit die teksgedeeltes