• No results found

DIE VERHOUDING TUSSEN DIE KERK EN SY LIDMATE WAT PROFESSIONELE TRAUMAWERKERS IS

Christenwerkers is nie slegs diegene wat voltyds in diens van die kerk is nie (vgl. 2.4.2) en daarom het die Kerk ook 'n pastorale verantwoordelikheid vir lidmate wat as professionele traumawerkers in "sekulere" beroepe staan. Pastorale betrokkenheid is dus 'n Bybelse imperatief.

Navorser vermoed dat hierdie verantwoordelikheid in die verlede nie genoegsame aandag geniet het nie en vervolgens word enkele riglyne uitgespel ten einde hierdie probleem meer sinvol te benader.

• Die riglyne soos voorgestel in die metateoretiese afdeling, verruim die pastoraat deurdat dit die basisteoretiese aspek verryk (vgl. 4.9.3 tot 4.9.4.1)). In hierdie opsig kan die kerk ook baie leer uit talle van die sogenaamde "sekulere beginsels" betreffende hulpverlening aan getraumatiseerde persone. Die toewyding en sorg waarmee talle van hierdie professionele persone hul daaglikse werk verrig, is dan ook tekenend van die kwaliteit van 'n groot persentasie mense wat betrokke is in die verskeidenheid van helpende professies. Hierdie dienswerk in die beroepswereld buite die kerk (in privaat praktyke) staan ook in diens van God. Die pastoraat kan homself daarin verheug dat 'n dissipline soos die psigologie tans ook groot erkenning gee aan die spirituele dimensie van die terapeutiese proses, met betrekking tot 'n probleem soos trauma en medelye-moegheid. Die aanname word gemaak dat heelwat organisatoriese beginsels wat professionele traumaterapeute benut, bewustelik of onbewustelik uit die Christelike tradisie ontleen is (vergelyk in hierdie verband maar net die mooi insigte wat voortspruit vanuit die nuwe ontwikkeling binne die

psigologie wat bekend staan as 'positiewe psigologie' - talle van die beginsels waarop hier gefokus word, is basies ou Bybelse temas).

• Kerklike handelinge in die hede (praksis 1) spruit gedeeltelik voort uit 'n bepaalde teologiese tradisie - dit is hoe die geloofsgemeenskap tans sy roeping vertolk. Wanneer 'n nuwe situasie ontstaan het, soos dit blyk uit die situasieanalise (vgl. 2.2.2), behoort die kerk dan ook met nuwe oe na die "beroepe" en die persoonlike lewens van professionele lidmate te kyk - veral dan ook diegene wat by die helpende professies betrokke is. In hierdie beroepe word die werk van die kerk in 'n sekere sin voortgesit, veral wanneer dit byvoorbeeld gaan om die beskerming van

getraumatiseerde kinders, maar ook die mediese en psigologiese versorging van emosioneel verwonde mense. Die Ned. Geref. Kerk byvoorbeeld, kontrakteer in 'n sekere sin NG Welsyn en daarmee saam die owerheid, om as 'n 'verlengstuk' te dien van die werk van die plaaslike gemeente, naamlik die versorging van emosioneel verwonde mense. Liefdevolle ondersteuning, erkenning en bemagtiging van gelowiges wat in beroepe soos hierdie staan, behoort gevolglik hoe prioriteit te geniet. Sedert die Hervorming is die onderskeid tussen geestelikes en leke verwerp en word die algemene priesterskap van alle gelowiges erken (vgl. 2.4.2). Moontlik is dit juis die wegval van die ou geestelik-leke onderskeiding wat tans kristalliseer in die nadenke van byvoorbeeld die sielkundiges, soos gesien in hul neerl6 van professionele en organisatoriese riglyne.

• Die kerk behoort dus aktief saam met professionele traumawerkers vanuit verskillende dissiplines na die voorste linies te beweeg waar die emosioneel verwondes bygestaan word. Andersom gestel, lidmate wat binne die helpende professies funksioneer kan in groter mate hande vat met die kerk in 'n poging om die nood van die gewondes, binne die loopgrawe van die emosionele slagvelde van die wereld, daar buite aan te spreek. Dit alles beklemtoon dan ook die feit dat die betrokkenheid van die kerk veel verder behoort te strek as byvoorbeeld slegs die jaarlikse biddae vir gesondheidsdienste, beskermingsdienste, opvoeding en

onderwys, soos tans die situasie in byvoorbeeld die Ned. Geref. Kerk is.

• Die metafoor van 1 Kor 12:12-26 beskou die gemeente as die liggaam van Christus. Daar word verwys na al die onderskeie take en gawes wat God aan individue (die ledemate) gegee het, waaronder die genadegawes "... om mense gesond te maak, om

hulp te verleen, om hiding te gee,... " (1 Kor.l2:28). In 1 Kor 12:24b-26 word die

doel verder verduidelik:

"... sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die

lede gelyke sorg vir mekaar dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geeer word is al die lede saam bly. "

• Die professionalisering en privatisering van beroepe sedert die Hervorming, het

waarskynlik aanleiding gegee tot 'n groter wordende afstand tussen die kerk as liggaam van Christus, en professionele beroepe/roepinge. Die Bybel stel egter steeds radikale eise aan die gelowiges in die navolging van Christus, dit wil se ook vir die gelowige in privaatpraktyk (vgl. 2.6.4). Op die gebied van traumawerk bevind hulle hul op gevaarlike terrein in konfrontasie met die bose (vgl. 2.5) en word hulle ook in hul ingewande getref (vgl. 2.1.3 betreffende die term splagna). Dit sou besonder verrykend wees indien alle Christen traumaterapeute lidmaatskap verkry van enersyds The Association of Christian Counsellors in South Africa en andersyds van

The Southern African Association for Pastoral Work - veral as gevolg van die groot

bydraes wat vanaf hierdie twee professionele verenigings met betrekking tot die geestelike opbou en bemagtiging van Christen terapeute gelewer word. Werkers behoort ook aangespoor te word om verder te studeer. Hierdie hele proses lei dan onwillekeurig daartoe dat byvoorbeeld leraars en maatskaplike werkers in kontak kom met 'n groter groep van Christelike hulpverleners - ook diegene wat privaat praktiseer. Dit alles dra by om die isolasie te verbreek wat soms 'n groot bydraende

faktor is tot 'n probleem soos medelye-moegheid.

• Dit sal ook van geweldige groot waarde wees indien daar 'n meer konkrete vorm van amptelike erkenning en 'bevestiging' deur die plaaslike gemeente sou geskied, betreffende lidmate wat as sielkundiges, psigiaters, mediese dokters,

nooddienswerkers en maatskaplike werkers voltyds besig is om hul lewens te wy aan die terapeutiese ingrype en begeleiding van stukkende en verwonde mense . Hoe die kerk in die onderskeie denominasies praktiese gestalte daaraan kan gee, is voorlopig nog nie duidelik nie - nuwe situasies eis egter nuwe praksis. Een moontlikheid mag wees dat hulle as diakens met 'n spesifieke opdrag amptelik bevestig word, om as "gestuurdes van die gemeente" hulle roeping in diens van die Koninkryk in die wereld voort te sit.

• Die kerk behoort die moontlikheid te ondersoek om byvoorbeeld aan Christen sielkundiges fasiliteite beskikbaar te stel om spreekure by die kerk waar te neem. Een moontlikheid is dat die persone 'n sekere persentasie van hul professionele tyd as "dankoffer" aan die kerk gee en dit beskikbaar stel, veral aan lidmate wat

byvoorbeeld nie sulke dienste kan bekostig nie. Daarby behoort die kerk sy gestuurde lidmate te bemagtig om met missionale gesag in die voorste linies betrokke te wees (Barrett, 2004:xiv). (Vergelyk in hierdie verband ook 2.1.3, die vyfde paragraaf, waar dit gaan om die omvattende betekenis van die term sozo.) Die kerk behoort 'n

missionale kerk te wees

"... that is shaped by participating in God's mission, which is to set

things right in a broken, sinful world, to redeem it and to restore it... " (Barrett, 2004:x).

• Kerke kan dit oorweeg om mediese praktisyns, sielkundiges, ensovoorts, in diens te neem/ in te kontrakteer/ op te roep om 'n diensjaar aan die kerk te gee sodat die kerk beter kan omsien na emosioneel verwonde individue wat nie 'n eie mediese fonds kan bekostig nie. In hierdie verband kan die beroep dus gemaak word op gelowige professionele individue om as deel van hul dankbaarheidswerk, bepaalde ure aan die kerk beskikbaar te stel vir die heling van gekweste individue.

• Die kerk behoort saam met bogenoemde professionele werkers te besin oor hul pastorale identiteit, as geroepenes in die diens van die Here. Gelowige professionele werkers moet gewys word op die groot verantwoordelikheid wat hulle het om hul werk in gehoorsaamheid, trou en dankbaarheid aan God te verrig. Hulle behoort so ver moontlik en in die mate wat amptelike regulasies dit toelaat, hul pasiente aan te spoor tot 'n lewende verhouding met God - ter wille van hul liggaamlike en geestelike gesondheid (vgl. 4.9.5.2 & 4.9.5.3).

• Gemeenteleiers en lidmate moet bewus gemaak word van die persoonlike koste en risiko's (emosioneel, geestelik en fisies) verbonde aan die werk met getraumatiseerde individue.

• Die gelowiges moet bewus gemaak word van die feit dat niemand in trauma en in traumawerk alleen behoort te staan nie. Elke gelowige wat omgee vir die pyn en

nood van ander, is besig om traumawerk te doen. Die Here self roep gelowiges op om betrokke te wees by die nood en pyn van andere (vgl. Luk 10:25-37).

• Die probleem van die sosiale ontkenning in die samelewing van byvoorbeeld

kindermolestering, wat die behandeling van slagoffers benadeel, moet aan gemeentes gekommunikeer word (vgl. 4.7.1).

• Aan die gelowiges in gemeenteverband behoort gekommunikeer te word dat

slagoffers van traumatiese gebeurtenisse soos verkragting, nie daarna gesoek het nie. • Oortreders was dikwels self die slagoffers van misdaad. Mense wat traumawerk doen

ervaar dikwels dus empatie met die oortreders in skrille kontras met hul walging en afkeer van die dade van die oortreders. Op hierdie wyse kommunikeer hulle aan die gemeenskap die Christelike waarde van ander met respek te behandel. Om selfs byvoorbeeld 'n oortreder met respek te behandel, is reeds 'n daad van Christelike liefde in navolging van Christus. Baie slagoffers en oortreders beskik nie oor die potensiaal om hulleself te help nie.

• Gemeentes behoort self helende en genesende gemeenskappe te wees (Hart, 2004b). Hart waarsku dat baie moderne evangeliese kerke in die VSA glad nie gesonde gemeenskappe is nie. "We need look no further than how pastors are treated for

evidence of this" (2004b:). Die skep van 'n klimaat (vgl. 4.7.5 & 4.7.2) waarbinne

heling kan plaasvind binne 'n gemeente, is van kardinale belang. Dit beteken dat pastors gemeentes oproep om helend en genesend in die samelewing teenwoordig te wees. Pastors moet aan die gemeente kommunikeer dat hul medelye, empatie, begrip, liefde en aanvaarding die medelye van God en die besorgdheid van God aan andere behoort te kommunikeer. Dit behoort duidelik verkondig te word dat God

bekommerd is oor die welsyn van sy kerk en alle ander mense. Dit mag impliseer dat maatskaplike werkers en selfs dokters en sielkundiges sal weet dat hulle bystand van die plaaslike gemeente sal kry, wanneer hulle individue wat liggaamlik, emosioneel en geestelik stukkend is, op die agenda van die gemeente plaas. Jesus het immers belowe "Ekhet gekom sodatjulle die lewe kan he en dit in oorvloed" (Joh 10:10b). Dit sluit nou aan by die drie metafore vir pastorale versorging van Gerkin (1991:91- 165), naamlik teenwoordigheid, gemeenskap en roeping. Gerkin (1991:108) wys op die paradoks van die teenwoordigheid van God temidde van sy oenskynlike

traumatiese afwesigheid. Israel kon dus uitstyg bo die oenskynlik onbegryplike van hul omstandighede deurdat hulle geweet het dat "God hidden is still God" (Gerkin,

1991:108). In die selfverstaan van die Nuwe Testamentiese kerk, het die ontwykende teenwoordigheid van God 'n tasbare werklikheid geword in die teenwoordigheid van Jesus Christus. In die verhale van die gekruisigde en opgestane Here vind die gelowiges die versekering van God se patos met hulle in hulle nood. Die empatiese

klimaat in die gemeente behoort dus helend uit te kring na die organisasies waarbinne geroepe traumawerkers hul professie beoefen.

• Hierdie empatiese klimaat het nie net betrekking op gewonde individue wat bedien word nie, maar dit moet veral ook gekweek word en deurwerk in die empatiese vertrouensverhoudings van personeel in die kerk en private organisasies onderling. • Die professionalisering van beroepe hou verder die gevaar in dat die gemeenskap van

gelowiges alle professionele gesondheidswerkers (byvoorbeeld dokters, psigiaters en sielkundiges) sien as mense wat slegs besighede ter wille van eie belang bedryf. Dit kan lei tot 'n groter mate van isolasie van hierdie groep, tensy daar van die kant van die kerk 'n appel op hulle gedoen word om hulle gawes by geleentheid ook in diens van Christus te stel. Gerkin (1991:139) wys dat die neiging tot privatisering selfs na die kerk oorvloei. Hy sien dat kerke privatiseer deur hulleself af te sluit van die probleme in die breer gemeenskap, byvoorbeeld die probleme eie aan die

middestadsgebiede. Deur betrokke te wees in die geestelike opbou van professionele werkers in privaatpraktyke, byvoorbeeld maatskaplike werkers, sielkundiges,

psigiaters en mediese dokters, behoort die Christelike visie van die genesing van gebroke mense al meer deur te werk na die "private wereld" van professionele mense. So word die Christendom die instrument vir die genesing van stukkende mense in die wereld.

• Die kweek van 'n klimaat (vanaf kerklike kant) waarin die verwagting pertinent uitgespreek word dat empatiese betrokkenheid by die pyn van andere die potensiaal tot ongekende geestelike groei inhou, sal die gesindheid van Christen traumawerkers (asook professionele lidmate wat betrokke is by die onderskeie hulpdissiplines) ten opsigte van hul werk ten goede bei'nvloed word. Indien hulle ervaar dat hulle besig is om van die wereld 'n beter plek te maak, gee dit reeds sin aan die moeisame arbeid en word dit uiteindelik ook een van die belangrike teenvoeters vir medelye-moegheid.

PRAKTIESE RIGLYNE VIR DIE BEKAMPING VAN MEDELYE-