• No results found

4.4.1 Inleiding

Eloffsdal kon alleen nuwe lewe en hoop ontdek op die reis saam met die sturende God indien ons ons roeping as gemeente weer kon bevestig. Dié roeping moet daagliks deur geloofsonderskeiding ontdek en vervul word. Barrett (2004:126) praat oor die roeping van die kerk en sê dan die volgende: “The missional church understands its calling as witness to the gospel of the in-breaking reign of God and strives to be an instrument, agent, and sign of that reign”. Die identiteit van die kerk is dus missionaal in sy wese. Die Triniteit bevestig die roeping van die kerk. Die missionêre kerk word uit die wêreld geroep en dan saamgebring deur die Gees as liggaam van Christus. As gestuurdes word die kerk uitgestuur na die wêreld. Die kerk vervul alleen sy roeping as die kerk ter wille van die sending bestaan. Die kerk kan en mag dus nooit op sy eie bestaan nie maar moet altyd ter wille van ander bestaan. Regele (2003:21) stel dit as volg: “Everything we do must extend from God‟s mission and extend God‟s mission into God‟s world. We have no other business”. Ons word deur die Heilige Gees bewus van God se missio Dei. God werk alreeds in die wêreld, Hy is aktief besig met sy missie om sy koninkryk te laat kom. Die skeppingswerk laat hy voortgaan in die herskepping van die wêreld. Die werk word deur die Trinitariese God self gedoen. Alles gaan dus net oor die Drie-enige God. Moltmann (2005:1) sê verder: “Remember, the triune God is a social God, rich in internal and external relationships”. Die kerk moet in die verhoudings juis sy roeping as kerk bevestig en uitleef.

4.4.2 God roep ons as kerk

As ons praat van die roeping van die kerk, bevestig ons dat God direk daarby betrokke is. Dit gaan oor God, oor Sy wese en karakter. Hy stuur ons om „n verskil te maak. As gestuurdes moet ons as gemeente reaksie toon op God se karakter. Sy karakter is missionaal. Die Triniteit se karakter laat die liefde seëvier. Die liefde dring ons om ons gestuurde roeping te alle tye uit te leef. Omdat God aktief besig is in die wêreld weet ons as gestuurdes dat hy nie in die hemel sit en niks doen nie. Hy is besig om die wêreld 24 uur per dag, sewe dae per week te herskep om al meer „n betroubare plek te word waar daar verlossing, herstel en versoening kan wees. Die kerk se identiteit as gestuurdes vereis dat daar anders gekyk moet word na talle sake. Omdat ons gestuurdes is, sal daar aanpassings gemaak moet word in ons denke, ons verstaan van God, ons verstaan van kerkwees asook in die praktiese uitlewing van ons Christenskap. Die gestuurde gemeente sal in die proses moet leer dat hulle deelname aan God se sending vir die wêreld juis beteken dat hulle moet getuig en lewe wat God se bedoeling met die wêreld is. Alles moet fokus op ons gestuurde roeping. „n Gestuurde gemeente is altyd op reis. Op hierdie reis is ons op pad na God se voorkeur en beloofde toekoms. Om dit reg te kry is dit nodig om sensitief te wees en bly vir God se stem. „n Gestuurde gemeente is op „n ontluikende reis. Op die reis moet die gemeente juis ontvanklik wees om telkens deur God verras te word.

4.4.3 Lewensbelangrike perspektiewe vir missionale gemeentes

Mouton skryf in Kruisgewys (2007:3) oor lewensbelangrike perspektiewe vir missionale gemeentes wat by die Lausanne konferensie beklemtoon is:

Missionale gemeentes breek doelbewus met „n Konstantynse model van kerkwees,

 Missionale gemeentes bid vir diegene buite die geloofsgemeenskap,  Missionale gemeentes herorganiseer hulle strukture,

 Missionale gemeentes organiseer rondom lidmaatleierskap en gedelegeerde bevoegdhede,

Missionale gemeentes ontwikkel „n driedimensionele bediening rondom aanbidding gemeenskap en gestuurdheid,

In missionale gemeentes is elke lid op „n missie,

 Missionale leiers versorg die gemeenskap deur die nuwe lewenstyl in Christus te modelleer.

Eloffsdal het gou besef dat die roeping van die kerk alleenlik nagekom kan word as die gestuurde gemeente bereid is om grense oor te steek om sodoende nuwe geloofsgemeenskappe te vorm en te stig soos alreeds in Afdeling 3.6 na verwys is. Guder (2000:32) sê: “The compassion of God is the motivating power of God‟s mission”. Die omgee en uitreik na die wêreld maak die groot verskil en bevestig die roeping van die gemeente. Die kerk doen nie sendingwerk nie want die kerk is God se sending aan die wêreld. Die kerk wat sy roeping vervul, is juis God se mense wat „n voorsmaak bied van Sy genesende heerskappy in die wêreld. Die geloofwaardigheid van die gestuurde word dan juis bevestig deur die Drie-enige God wat die gemeente saambind as „n eenheid met Sy onvoorwaardelike liefde en trou. Dit bevestig die roeping van die kerk!

4.4.4 Die kerk as 'n gemeenskap

Marius Nel (2010:34) vat die roeping van die kerk mooi saam as hy sê:

Die klem op die kerk as 'n gemeenskap kan herlei word tot die wese van die Drie-enige God self. Die leer van die perichoresis (God's essential mutual interiority‟ - dit wil sê die verhouding tussen die verskillende Persone van die Drie-Eenheid) beklemtoon dat God self ten diepste 'n gemeenskap is. Omdat God 'n gemeenskap is van Drie-in-een is sy heilswerk altyd relasioneel van aard. Só stel God se heilswerk altyd nuwe gemeenskappe daar (bv. die verbondsgemeenskap van Abraham, die Torah-gemeenskap van Moses en Israel, die koninkryk-gemeenskappe van Dawid en die Geesgevulde gemeenskap van die kerk in die Nuwe Testament) wat sy heilsplan vir die ganse wêreld beliggaam.

Geanker in die wese en sending van die Drie-enige God beklemtoon 'n missionêre ekklesiologie dus dat gelowiges in die gemeenskap van die Drie-eenheid ingenooi word ter wille van die wêreld. Die doel van die kerk se deelname aan God se sending is dus primêr die totstandkoming van nuwe geloofsgemeenskappe. Gemeentes mag dus nie by ander mense betrokke raak (bv. deur finansiële steun) sonder dat daar ook geloofsgemeenskap met hulle ontstaan nie. Al beteken die betrokkenheid nie noodwendig die totstandkoming van 'n enkele gemeente nie, impliseer dit dat daar beslis

een of ander nuwe gemeenskap van gelowiges moet ontstaan. Die gestuurdheid van gemeentes noodsaak dus sowel die oorsteek van grense as die ontvangs van ander. In dié sin is dit die herontdekking van sowel die apostolaat, as die bediening van radikale gasvryheid van die kerk.

4.4.5 Die kerk is 'n organisme met 'n spesifieke DNS

Die kerk is 'n organisme met 'n spesifieke DNS en die DNS definieer wie ons is (Easum 2000:88). Die unieke DNS van Eloffsdal moes weer deur die proses van geestelike onderskeiding herontdek word. Die DNS dra sekere eienskappe wat elke gemeente uniek maak. Die DNS behels aspekte soos die gemeente se visie, missie en waardes, maar dit behels ook persoonlikheid, leierskapstyl, kultuur en baie ander kwaliteite wat nie altyd maklik op papier verwoord kan word nie. Dit is uiters belangrik vir 'n kerk om sy DNS te ken en dit te versterk. Dit is nie nodig om gras te leer groei nie, dit groei vanself, dit is deel van 'n gras se DNS. Wanneer kerke hul DNS ken en individue hul gawes en talente gebruik om binne die DNS van „n gemeente hulle gawes uit te leef, vind groei outomaties plaas.

Talle mense voel vandag ontredder, kwesbaar en blootgestel. Die kerk sal beslis sy roeping versaak indien sulke situasies en kontekste ons as geloofsgemeenskap nie meer raak en aanspreek nie. Dan leef ons soos Ferdinand Deist (1982:96) tereg gesê het met baie min begrip en sonder enige emosie en verstand. Dan het ons, ons gestuurde roeping versaak!