• No results found

As „n Gestuurde gemeente het en moet Eloffsdal steeds as gemeente aanhou om grense oor te steek, bepaalde risiko‟s te neem en deel te neem aan verskeie netwerke se werksaamhede om sodoende „n verskil te maak in ons konteks en in die Moot. Hoe het Eloffsdal NG Gemeente as ʼn terdoodveroordeelde gemeente nuwe lewe en hoop gekry?

Hier word die navorsingsvraag belig met die stemme van Eloffsdal se lidmate uit die etnografiese leesveslag:

 Die gemeente word beskryf as „n gemeente wat krimp as gevolg van demografiese gevolge. Die kerngroep wat oorgebly het is egter persone “wat nie bang is om vir die gemeenskap iets te doen nie”. Die koms van die nuwe leraar het ook „n klomp energie losgemaak. Saam met hom is daar „n stewige, standvastige kerngroep wat deur moeilike én goeie tye lojaal gebly het aan die gemeente terwyl die wêreld om die gemeente dramaties verander en geskuif het. In „n toenemende onpersoonlike omgewing vorm die gemeente „n warm geloofsfamilie. Die kerngroep was egter bereid om krities na die identiteit van die gemeente te kyk en risiko‟s te neem om die kultuur te laat skuif. „n Nuwe kultuur van gestuurdheid het begin ontwikkel. Dit sal later meer volledig beskryf word.

 Om volgelinge, dissipels van Jesus te wees is en bly „n groot uitdaging. Die Woordverkondiging word as die primêre bron van dissipelskapvorming aangedui. Die na binne-gerigtheid staan ook uit. Dit was hoofsaaklik as „n verdedigingsmeganisme gebruik om net te kon oorleef. Deur die gestuurdheid het die leiers en gemeente weer begin grense oorsteek en hulle gestuurdheid begin uitleef. Baie het die “daad by die woord gevoeg”. “Om God en die gemeente te sien saamwerk” was „n droom wat waar geword het. Die nuwe predikant het saam met die leiers die aangesig van die Here gaan opsoek om vas te stel na wie die Here ons stuur.

 God se teenwoordigheid word op verskeie terreine in die gemeente en gemeenskap ervaar. Daar is baie verwysings na siektetoestande en die genesing asook vertroosting wat God gee. Die verbetering in die kerkbywoning asook die toename in die gemeentelike finansies spreek ook van God se teenwoordigheid. Die “manier waarop Hy die nuwe dominee vir die gemeente gegee het” is die enkele faktor wat die meeste respondente weer gegee het as „n bewys van hulle belewing van God se teenwoordigheid. God word ook in die alledaagse lewe van die gemeentelede beleef. Talle stories van nuwe lewe en hoop word ook gereeld in die eredienste en opleidingsgeleenthede gehoor.

 Betekenisvolle aanbidding word veral in die eredienste beleef. Ervaringe in die erediens word ook by die werk met ander gedeel. Talle getuienisse oor die lewende teenwoordigheid van God word verder en wyer vertel. Daar word ook gereeld gebruik gemaak van rituele soos die “Stil nagmaal” (meditatiewe nagmaal), die gemeente retreat (meditatiewe naweek met die gebruik van die geestelike dissiplines), Wandel in die Woord (in eredienste, vergaderinge en opleidingsgeleenthede) en stil word tye in die erediens self. Die geestelike onderskeiding speel ook „n al groter rol in die bou van kapasiteit en geloofsgroei in die gemeente.

 Probleme, konfliksituasies en onderonsies is maar altyd deel van enige gemeente se verhaal. Dit is die afgelope paar jaar aangespreek en sinvol hanteer. Daar is baie moeite gedoen om sinvolle en duursame verhoudings te bou. In die proses van geestelike onderskeiding na wie die Here ons sou stuur, het daar ook van tyd tot tyd konflik ontstaan. Die positiewe getuienisse en geleenthede wat benut is om die leiers en gemeente aan stories van hoop en nuwe lewe bekend te stel, het baie sagtheid en wedersydse begrip gebring.

 Dinge wat die mense angstig maak, is die kleiner wordende gemeente. Dit word egter oorskadu deur die geweldige golf van positiewe energie wat sedert die koms van die huidige leraar in die gemeente, aanwesig is. “Nuwe gesigte in die kerk”, „n “nuwe oplewing” in die gemeente en “vernuwing” in die eredienste asook die “herlewing en inskakeling van oud-lidmate by uitreikaksies” gee nuwe lewe en bring hoop. Die gemeente en haar leiers het dié kairos-tyd aangegryp om die sturende God se medewerkers te wees aan „n heler en meer funksionele samelewing.

 Hier is heelwat respondente wat hulle kommer uitspreek oor die toekoms van hulle kinders en kleinkinders. Die daaglikse misdaad, werkloosheid, ekonomiese en politieke agteruitgang word aan almal se lywe in Pretoria en spesifiek die Moot gevoel. Dit kan almal moedeloos maak of juis as „n uitdaging en geleentheid gesien en benut word. Skrefies lig gee nuwe lewe en bring hoop mee. Opmerkings wat uit die gemeente se geledere kom kan dalk help om te probeer verstaan hoe God se hart vir die mense van ons omgewing lyk. Dinge soos: “al die veranderinge kan ‟n groter behoefte aan die kerk en die anker wat dit jou kan gee, bied”; “solank

ons as kinders van die Here onsself hierin voorberei, sal ons ook Sy doel met ons hier te midde van die veranderinge insien. Ons moet dus die hand van die Here hierin sien en ons deel bydra om sy woord in hierdie opsigte uit te dra.” Iemand anders het gesê: “Die behoefte aan uitreiking het baie groter geword, in skole, in ouetehuise en die samelewing.”

Ons sien die demografiese veranderinge rondom ons almeer as ‟n uitdaging! Ons probeer daagliks deur Jesus Christus se oë kyk. Ons sien talle mense en hul omstandighede by en rondom ons raak wat behoefte het aan die aanraking van ‟n genadige God wat Hom ontferm oor stukkende mense. Hierdie stemme van Eloffsdal se lidmate uit die etnografiese leesverslag belig die navorsingsvraag: Hoe het Eloffsdal NG Gemeente as ʼn terdoodveroordeelde gemeente nuwe lewe en hoop gekry? die antwoord dalk? Juis met talle tekens en bakens van nuwe lewe en hoop.