• No results found

Fokus op verwerking en konstruering van inligting

3.3 BEHAVIORISTIESE LEERTEORIEE

Behavioristiese leerteoriee fokus op die vorming van assosiasies tussen stimuli en response deur die selektiewe versterking van korrekte response (Meyer et al., 1997:375; Monteith, 2006:13; Ormrod, 2008:306). Alle idees, wat na geboorte, in die menslike gees ontstaan, word uit sintuiglike ervaring opgebou. Hierdie idees word aan mekaar verbind by wyse van assosiasie wat tot stand kom wanneer gebeure gereeld saam voorkom. So word weerlig, byvoorbeeld met donderweer geassosieer, omdat dit gereeld saam voorkom (Meyer & Van Ede, 1998:57).

Lerner en Kline (2006:170) stel dit dat behaviorisme gebaseer is op 'n gedragseenheid wat drie sleutelgebeure identifiseer in die soeke na verandering van gedrag. Die ABC-model (vgl. Figuur 3.2) word saamgestel uit A wat die voorafgaande gebeure (stimulus) verteenwoordig, B is die verlangde gedrag (respons) wat verkry is en C is die gevolg (versterking).

FIGUUR 3.2: Komponente van die gedragseenheid

(Lerner & Kline, 2006: 170)

Die Leesonderrigprogram (vgl. Figuur 7.1) is daarop gemik om 100 hoefrekwensiewoorde aan leerders in 'n Graad 3-klas te leer. Die behavioristiese leerteorie impliseer dat leer aangewese is op die vorming van assosiasies tussen stimuli (geskrewe hoefrekwen­ siewoorde) en response (die visuele herkenning van die geskrewe hoefrekwensiewoorde). Die gevolg behoort te wees dat leerders se leesvaardighede (gemeet aan woordherkenning en leesbegrip) sal verbeter (vgl. par. 3.3.1). Behaviorisme word daarom as een van die teoretiese raamwerke van hierdie studie gebruik. 'n Besluit wat ondersteun word deur Schunk (2008:20) wat meen dat behavioristiese onderrig daarop gemik is om leerders korrek te laat reageer op 'n stimulus en dat dit toepaslik sal wees vir eenvoudige vorms van leer, waarby assosiasies betrokke is.

Die volgende drie wyses van leer sal vervolgens in die raamwerk van die behaviorisme bespreek word: Klassieke kondisionering, samehangende leer en instrumentele of operante kondisionering.

3.3.1 W Y S E S V A N L E E R

Volgens Monteith (2006:29) kan klassieke kondisionering, samehangende leer en instrumen­ tele of operante kondisionering op leer in skole toegepas word. Genoemde behavioristiese wyses van leer word nou bespreek, omdat hierdie wyses van leer in die Leesonderrig- program realiseer.

3.3.1.1 KLASSIEKE KONDISIONERING

Leer deur middel van klassieke kondisionering vind plaas wanneer 'n respons wat eers met een stimulus gekoppel was, met 'n nuwe stimulus geassosieer word (Schunk, 2008:34; Ormrod, 2008:309; de Witt, 2009:53). Pavlov (1849-1936) noem dit 'n gekondisioneerde refleks. In sy navorsing met honde het hy aangetoon dat honde speeksel afskei wanneer hulle kos kry en dat die speekselafskeidingsrefleks mettertyd met 'n gekondisioneerde stimulus (die gelui van 'n klokkie) geassosieer kan word (Schunk, 2008:34; Ormrod, 2008:309). Volgens Monteith (2006:34) is die groepering van 'n ongekondisioneerde stimulus en 'n gekondisioneerde stimulus deel van die vereistes van klassieke kondisionering. Klassieke kondisionering is die prototipe van 'n groot gedeelte van dit wat deur leerders aangeleer word, byvoorbeeld die name van voorwerpe. Dit is egter 'n passiewe vorm van leer en verklaar net die verband tussen bestaande response en nuwe stimuli (de Witt, 2009:53).

Binne die onderwyspraktyk en ook soos van toepassing op die Leesonderrigprogram (vgl. Bylaag DD: Leesonderrigprogram 1 - Deel 1) word die onderwyser se glimlag, goedkeuring of kompliment vertolk as die ongekondisioneerde respons. Hierdie positiewe optrede van die onderwyser gee aanleiding tot gevoelens van plesier by die leerder. Volgens Gage en Berliner (1998:210-211) word die voorheen neutrale onderwyser, die gekondisioneerde stimulus wat geassosieer word met die ongekondisioneerde stimulus (glimlag) en word dieselfde gevoelens van plesier (nou 'n gekondisioneerde respons) verkry. Tydens die implementering van die Leesonderrigprogram is daar voortdurend gepoog om die onderrig van hoefrekwensiewoorde so aangenaam moontlik te maak, sodat leerders 'n positiewe ingesteldheid teenoor die visuele herkenning daarvan sal ontwikkel.

3.3.1.2 SAMEHANGENDE LEER

Gage en Berliner (1998:212) stel dit dat die groepering van gebeure ook leer tot gevolg kan he. Eenvoudige samehangende assosiasie van 'n stimulus en 'n respons kan daarom tot verandering in gedrag lei en leer tot gevolg he. Schunk (2008:42) meen dat leerders tydens die leerproses dikwels moet reageer en ook terugvoering rakende die akkuraatheid van hul reaksies moet kry. In die skoolsituasie word samehangende leer gebruik vir die verwerwing van kennis deur middel van herhaling. Deur, byvoorbeeld gebruik te maak van flitskaarte word leerders geleer om 'n stimulus (4x4) te assosieer met 'n respons (16) en word die leerder beloon met positiewe terugvoering van die onderwyser.

In die konteks van die aanleer van hoefrekwensiewoorde sal dit meebring dat die woorde onder andere op flitskaarte geskryf word (Nicholson, 1998:189). Hierdie flitskaarte sal herhaaldelik aan leerders geflits word om te lees, waarna die navorser positiewe terug­ voering sal gee op die korrekte lees van die woorde. Onderrig deur herhaling (byvoorbeeld die indril van hoefrekwensiewoorde) kan doeltreffend en minder vervelig gemaak word deur die gebruik van samehangende versterking. Die toekenning van plakkers, of punte waarmee 'n prys gewen kan word vir die korrekte respons (korrekte lees van die hoefrekwensie­ woorde) op die stimuli (flitskaarte van die hoefrekwensiewoorde) kan saam met die gebruik van interessante aktiwiteite, byvoorbeeld speletjies en spankompetisies die leersituasie verryk en samehangende leer tot gevolg he (Gage & Berliner, 1998:216). Die Leesonderrig- program (vgl. Bylaag DD: Leesonderrigprogram 1 - Deel 2) maak voorsiening vir die beoefening van voorafgenoemde aktiwiteite.

3.3.1.3 INSTRUMENTELE OF OPERANTE KONDISIONERING

Burrhus Frederick Skinner (1904-1990) erken verskeie vorme van leer, maar beklemtoon operante kondisionering. Tydens operante kondisionering speel die organisme 'n aktiewe rol, dit word gedemonstreer wanneer rotte in 'n spesiaal ontwerpte hok geplaas word. As die hefboom in hierdie hok gedruk word, val 'n voedselpil in die hok. Aanvanklik druk die rot toevallig op die hefboom en die kos val toevallig in die hok. Omdat daar 'n beloning is, sal die rot die handeling mettertyd leer herhaal. Die nuwe respons (druk van die hefboom) word by wyse van instrumentele kondisionering versterk en behels die aanleer van nuwe response (Meyer & Van Ede, 1998:60-61; Ormrod, 2008:312).

De Witt (2009:53) stem saam met voorafgenoemde navorsers, maar argumenteer dat operante kondisionering plaasvind wanneer daar 'n assosiasie gemaak word tussen twee

gebeure: "In this type of conditioning the subject learns that by doing something, he can obtain a specific result." (De Witt, 2009:53.) Die stimulus gee aanleiding tot 'n respons wat 'n gevolg sal he. Die gevolg is enige stimulus of gebeure wat 'n effek het op toekomstige response wat verkry sal word, as die stimulus teenwoordig is. Versterking gee aanleiding tot die vermeerdering van die voorkoms van die respons (Schunk, 2008:23). Ormrod (2008:313) huldig dieselfde standpunt oor versterking en stel dit dat indien 'n respons deur 'n positiewe versterker gevolg word, die respons in alle waarskynlikheid weer sal plaasvind.

Ormrod (2000:407-409) en Schunk (2008:23-24) identifiseer en bespreek die volgende positiewe versterkers:

• Konkrete versterkers

Konkrete versterking vind plaas deur die gebruik van werklike voorwerpe, byvoorbeeld lekkergoed, plakkers en speelgoed (Ormrod, 2000:407). Tydens die implementering van die Leesonderrigprogram maak die navorser gebruik van konkrete versterkers wanneer leerders se voltooide werkvelle19 (vgl. Bylaag C) nagesien word en leerders by die suksesvolle

voltooiing daarvan plakkers ontvang.

• Sosiale versterkers

Sosiale versterkers bestaan uit 'n gebaar of teken van een mens aan 'n ander, dus 'n reaksie op 'n onlangse respons. Voorbeelde hiervan is 'n glimlag, 'n omhelsing en 'n kompliment. Die goedkeuring van klasmaats en vriende kan ook as versterkers dien (Ormrod, 2000:407). Sosiale versterking is deurentyd aangewend tydens die implementering van die Leesonderrigprogram.

• Aktiwiteitsversterkers

Aktiwiteitsversterkers bied aan leerders die geleentheid om aan 'n gunstelingaktiwiteit deel te neem (Ormrod, 2000:408). Schunk (2008:50) stel dat die Premack-beginsel geld wanneer leerders aan 'n aktiwiteit deelneem waarvan hulie nie baie hou nie, mits dit vir hulle op 'n latere stadium 'n beloning sal inhou. Gedurende die implementering van die Leesonderrigprogram het die navorser gebruik gemaak van die Premack-beginsel en is leerders op 'n kontinue grondslag herinner aan die diplomas (vgl. Bylaag F) wat hulle tydens 'n prysuitdeling (vgl. Bylaag EE) gaan ontvang. 'n Verdere motivering was dat die leerders

9 Voltooide werkvelle van al die proefpersone is deur die navorser nagesien en is op aanvraag beskikbaar.

HOOFSTUK 3: TEORETIESE BEGRONDING VAN STUDIE: LEERTEORIEE EN LEESTEORIEE

wat die beste vordering toon, met betrekking tot die herkenning van die hoefrekwensiewoorde, ook in die plaaslike koerant sal verskyn (vgl. Bylaag G).

3.3.2 G R O E P S A F H A N K L I K H E I D

Groepsafhanklikheid is 'n situasie waarin versterking plaasvind wanneer elkeen in die groep op 'n sekere vlak presteer het, of hulle op 'n bepaalde maniergedra het (Ormrod, 2000:408). Die navorser maak gebruik van versterking deur middel van groepsafhanklikheid tydens die speel van die woordspeletjies, Snap en Bingo (vgl. Bylaag DD: Leesonderrigprogram 1 - Deel 2) wat deel van die Leesonderrigprogram vorm.

• Positiewe terugvoering

Positiewe terugvoering manifesteer in 'n eenvoudige boodskap, wanneer 'n antwoord korrek is of 'n taak goed verrig is. Terugvoering is doeltreffend wanneer leerders in duidelike woorde hoor wat hulle goed gedoen het en in welke mate hul prestasies nog moet verbeter (Ormrod, 2008:24). Positiewe terugvoering as versterker het voorgekom tydens die uitvoering van die Leesonderrigprogram wanneer die leerders moes lees, werkvelle voltooi en ook tydens die afneem van informele toetse20 oor die reeds aangeleerde hoefrekwensiewoorde.

• Intrinsieke versterkers

Konkrete, sosiale, aktiwiteitsversterkers; groepsafhankilikheid en positiewe terugvoering is ekstrinsieke versterkers wat deur die ekstrinsieke omgewing (gewoonlik ander mense) voor­ sien word. Intrinsieke versterkers word deur die leerders self voorsien, of deur die taak wat hulle ondemeem het (Ormrod, 2000:409; Slavin, 2000:147). Tydens die implementering van die Leesonderrigprogram het intrinsieke motivering plaasgevind wanneer leerders op eie inisiatief hul leesboekie (vgl. Bylaag J) en oefenkaarte (vgl. Bylaag K) gebruik het om die hoefrekwensiewoorde in te oefen. Intrinsieke motivering het ook voorgekom as die leerders die hoefrekwensiewoorde spontaan ingeoefen het, deur gebruik te maak van die hoefrekwensiewoorde wat in die klas teen die woordemuur aangebring is (vgl. Bylaag L). Intrinsieke versterking vind ook plaas wanneer leerders bewus raak dat die visuele herkenning van reeds aangeleerde hoefrekwensiewoorde hulle in staat stel om beter te lees. Hierdie besef spoor leerders aan om die daaropvolgende aantal hoefrekwensiewoorde te bemeester.

Informele toetse van die proefpersone is deur die navorser nagesien en is op aanvraag beskikbaar.

H O O F S T U K 3: TEORETIESE BEGRONDING VAN STUDIE: LEERTEORIEE EN LEESTEORIEE

Ormrod (2008:24) meen dat onderwysers seker moet maak dat hulle die gedrag wat hulle aan leerders wil leer, versterk. Die gedrag wat aangeleer wil word moet versterk word wanneer dit voorkom. Die Leesonderrigprogram maak in 'n groot mate gebruik van operante kondisionering om leerders se leesgedrag voortdurend te versterk. Die navorser net ook daarop gelet om nie ontoepaslike en teenproduktiewe gedrag (Ormrod, 2008:24) te versterk nie. In Tabel 3.1 illustreer Ormrod (2008:24) die verskil tussen positiewe en negatiewe versterking.

TABEL 3.1: Positiewe en negatiewe versterking

Gebeure Stimulus Respons Gevolg

Positiewe versterker

Onderwyser gee aan leerder werk om te voltooi.

Leerder voltooi die werk.

Onderwyser prys leerder vir die goeie werk wat gedoen is. Negatiewe

versterker

Onderwyser gee aan leerder werk om te voltooi.

Leerder voltooi die werk.

Onderwyser se dat die leerder nie eintlik die werk hoef te voltooi nie.

(Vertaal uit: Ormrod, 2008:24)

Alhoewel behavioristiese leerteoriee (vgl. par. 3.5 vir die kritiese bespreking daarvan) as relevant tot hierdie studie beskou word, word die studie ook in kognitiewe leerteoriee begrond. Die inligtingsverwerkingsteorie en konstruktiwisme is van toepassing op hierdie studie en word vervolgens bespreek.