• No results found

HOOFSTUK 4 DATA-ONTLEDING

4.1 Inleiding

4.2.1 Response op vraelys en onderhoude

4.2.1.6 Vraelys: rekenaarondersteunde opleiding

In die voorafgaande afdelings is daar reeds gekyk na 'n evaluasie van die NWU-tolkdiens se huidige opleidingskursus sowel as na tolke se opleidingsbehoeftes soos bepaal deur data wat ingesamel is deur die vraelys en semigestruktureerde onderhoude. Die volgende navorsingsvraag wat in die onderstaande afdelings bespreek word, handel oor tolke se opinies oor rekenaarondersteunde opleiding. Die onderstaande afdeling bespreek die data wat rakende hierdie vraag ingesamel is. Die data wat deur die vraelyste ingesamel is, word eerste bespreek.

4.2.1.6.1 Vraag 1: Lewensvatbaarheid van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke

Afdeling C van die vraelys was daarop gemik om kwalitatiewe data in te samel rakende bestaande tolke se opinies oor rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke. Die doel van hierdie afdeling was om te bepaal of die respondente ʼn positiewe benadering tot rekenaarondersteunde tolkopleiding sal toon en of hulle enige verdere aspekte by die opleiding sal wil voeg. Hierdie afdeling in die vraelys het bestaan uit vyf vrae wat vervolgens bespreek sal word, telkens met verwysings na die ooreenstemmende data wat uit die onderhoude verkry is.

Vraag 1 van die vraelys is in twee dele verdeel. Die eerste deel het aan respondente gevra om op ʼn skaal van 1 (glad nie lewensvatbaar nie) tot 5 (uiters lewensvatbaar), aan te dui in watter mate hulle voel die gebruik van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke ʼn lewensvatbare opsie is. Hierop het die meerderheid respondente (22) oorwegend positief gereageer deur 4 en 5 te kies. Deelnemers aan die onderhoude het ook oorwegend positief gereageer op die gebruik van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke, met 10 deelnemers wat aangedui het dat hulle die gebruik daarvan sal ondersteun en slegs 2 wat aangedui het dat hulle gekant is teen die voorstel. Die tweede gedeelte van die vraag het gevra dat respondente redes verskaf vir hulle antwoord. Nie alle respondente het hierdie gedeelte van die vraag beantwoord nie en enkeles het die vraag misverstaan; en hulle antwoorde kon dus nie deel uitmaak van die datastel nie. Die enkele negatiewe motivering (die respondent het opsie 2 by vraag 11a gekies) is gemotiveer as dat die beste moontlike vorm van tolkopleiding is om meer ervare tolke te observeer en praktiese vaardighede op te doen. In teenstelling hiermee het deelnemers aan die onderhoude aangetoon dat hulle van mening is dat rekenaarondersteunde opleiding lewensvatbaar is aangesien dit tyd spaar en aspiranttolke in staat stel om teen hulle eie pas opleiding te deurloop. Twee respondente het ook voorgestel dat die rekenaarondersteunde opleiding ʼn virtuele simulasie-aspek38 behoort te bevat wat die praktyk so na as moontlik naboots,

terwyl drie deelnemers aan die onderhoude soortgelyke antwoorde verskaf het, deur aan te dui dat video-opnames van klasse 'n waardevolle bydrae tot tolkopleiding sal lewer. Dit is wel moontlik om die klaskamersituasie in praktiese opleiding te simuleer en die voorstel kan gemaak word om die praktiese opleiding daarvolgens aan te pas. Verder het 9 respondente gevoel rekenaarondersteunde opleiding is ʼn lewensvatbare opsie omdat dit aan aspiranttolke die geleentheid bied om op hulle eie pas die teorie te bemeester, asook omdat dit die tyd beskikbaar vir opleiding baie meer buigsaam gebruik. Hierdie resultate toon dat die meerderheid respondente dit eens is met die hipotese van hierdie studie, naamlik dat rekenaarondersteunde opleiding vir

38 So ʼn situasie vorm eerder deel van 'n afsonderlike studieveld wat kyk na virtuele leefwêrelde (vir ʼn toepassing van virtuele leefwêrelde op tolkopleiding, sien Ritsos et al., 2012) en val dus buite die

opvoedkundige tolke ʼn goeie alternatief is vir van aangesig-tot-aangesig-opleiding. In figuur 4-13 hieronder volg 'n grafiese aanbieding van die betrokke data.

Figuur 4-13: Lewensvatbaarheid van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke

4.2.1.6.2 Vraag 2: Watter opleidingskomponente behoort by rekenaarondersteunde opleiding ingesluit te word?

Vraag 2 van die vraelys het aan respondente gevra om aspekte te lys wat nie tans ingesluit is by die opleidingsmodel nie, maar wat volgens hulle ingesluit behoort te word by die rekenaarondersteunde opleidingsprogram. Die doel van hierdie vraag was om leemtes in die beskikbare opleiding te identifiseer sodat omvattende voorstelle vir die ontwikkeling van die rekenaarondersteunde opleidingsprogram gemaak kan word (hierdie vraag kan ook saam met vraag 8, 9, 10 en 12 uit afdeling B gesien word). Weereens het nie alle respondente antwoorde verskaf nie, en slegs 18 antwoorde was geskik vir data-ontleding. Van hierdie 18 response het 4 getoon dat hulle nie enige voorstelle het om te maak nie. Verder het 8 respondente aangetoon dat hulle ʼn behoefte vir meer praktiese oefening gedurende die opleiding het, asook beter voorbereiding om moeilike dosente te tolk en om spesifieke klaskamersituasies te hanteer en lang sessies aaneen te tolk. 4 respondente het ook aangedui dat hulle sou wou hê dat meer vakspesifieke opleiding in die praktiese sessies ingesluit word. Met ander woorde, hulle voel dat dit nodig is vir tolke om vertroud te raak met hoe om voor te berei en hoe om vakspesifieke terminologie te leer ken en te gebruik. Buiten die praktiese aspek van tolking, het 2 respondente ook aangetoon dat hulle sou verkies om opleiding te kry in die gebruik van beskikbare tegnologie vir die administratiewe aspek van tolking by die NWU-tolkdiens. Soortgelyke data is vanuit die onderhoude verkry en sal as voorstelle dien vir die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke en kan selfs in ag geneem word vir die uitbreiding van die huidige opleiding alvorens rekenaarondersteunde opleiding beskikbaar is.

3 3 11 11 1 2 3 4 5 A an tal r e sp o n d e n te

4.2.1.6.3 Vraag 3, 4 & 5: Gebruik van rekenaarondersteunde opleiding

Vraag 3, 4 en 5 van die vraelys kan saam hanteer word, aangesien vraag 3 aan respondente gevra het of hulle sou verkies om geskeduleerde aangesig-tot-aangesig-opleiding (ook bekend as opleiding deur middel van kontaksessies) te deurloop of rekenaarondersteunde opleiding. 11 respondente het aangesig-tot-aangesig opleiding gekies en 16 respondente het rekenaarondersteunde opleiding gekies het. Vraag 4 en 5 het respondente gevra om onderskeidelik voor- en nadele verbonde aan rekenaarondersteunde opleiding te lys. Die mees opvallende voordeel wat gelys is (deur 15 respondente), is dat rekenaarondersteunde opleiding dit vir aspiranttolke moontlik maak om teen hulle eie pas en op hulle eie tyd die opleiding te deurloop. Hierdie voordeel stem ooreen met die aanbeveling dat rekenaarondersteunde opleiding op 'n wyse ontwikkel behoort te word wat selfgerigte leer aanmoedig, aangesien volwassenes self verantwoordelikheid kan neem vir die beplanning, implementering en evaluering van die leerproses (Hiemstra, 1994:9; Knowles, 1975:18) en daardeur doeltreffender opgelei kan word. Respondente het ook genoem dat rekenaarondersteunde opleiding meer toeganklik kan wees en meer aanpasbaar is vir individuele behoeftes en dit moontlik maak om meer tolke tegelyk op te lei, wat ook strook met die voordele van e-leer soos uitgewys deur Barron en Orwig (1995:3-4) en soos bespreek in afdeling 2.4.2 van hierdie verhandeling.

Wat betref die moontlike nadele verbonde aan rekenaarondersteunde opleiding was 6 respondente besorg oor die verwydering van persoonlike kontak tussen aspiranttolke en opleiers, wat kan veroorsaak dat daar nie verhoudings tussen voornemende kollegas gebou word nie en ook dat aspiranttolke nie geleenthede sal hê om vrae te vra oor die inhoud van die opleidingsprogram nie. Daar is ook aangetoon dat die rekenaarondersteunde opleiding nie geleentheid sal bied om die klaskamersituasie akkuraat te simuleer nie aangesien aspiranttolke dan nie die geleentheid gebied word om voor ander mense te tolk nie. Hierdie potensiële probleem word egter vermy deur die feit dat die rekenaarondersteunde opleidingsprogram slegs teoretiese opleiding bied terwyl praktiese opleiding en oefening steeds in die teenwoordigheid van ervare tolke en opleiers sal geskied. Respondente het ook die moontlikheid geïdentifiseer dat aspiranttolke wat nie die nodige selfdissipline vir outonome leer het nie, nie die opleidingsprogram sal afhandel nie en dat daar geen wyse sal wees om te verseker dat hulle wel deur die program werk nie. Hierdie potensiële probleem kan opgelos word deur kort kennistoetse in die opleidingsprogram in te werk, wat voltooi moet word alvorens aspiranttolke kan begin met die praktiese gedeelte van die opleiding. Verder het respondente gewys op die moontlikheid dat tegniese probleme met die program kan ontstaan en dat sekere van die aspiranttolke nie oor die nodige rekenaarvaardighede mag beskik om die rekenaarprogram suksesvol te voltooi nie. Met die ontwikkeling van enige rekenaarondersteunde opleiding moet hierdie moontlikhede in ag

geneem word, maar daar is ook wyses om hierdie probleme te vermy of op te los. Daar kan byvoorbeeld verseker word dat die program gebruikersvriendelik is en minimale tegniese vaardighede vereis. Soos in hoofstuk 2 verduidelik is, is die teikengroep wat vir hierdie opleiding gewerf gaan word, gegradueerdes wat oor die nodige rekenaarvaardighede beskik.

In die bostaande bespreking is gerapporteer oor die resultate wat verkry is uit die vraelyste rakende tolke se opinies oor die gebruik van rekenaarondersteunde opleiding. Om hierdie data egter sinvol te kan toepas in die formulering van aanbevelings rakende die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke, moet die verkrygde kwantitatiewe data ook ondersteun word deur kwalitatiewe data. 'n Uiteensetting van data wat verkry is deur middel van onderhoude met opvoedkundige tolke, volg hieronder.