• No results found

HOOFSTUK 1 KONTEKSTUALISERING EN PROBLEEMSTELLING

2.4 E-leer

2.4.5 Leerteorieë

2.4.5.3 Konstruktivistiese benadering

Die konstruktivistiese benadering tot leer is ʼn benadering wat die kognitiewe leerteorie bevraagteken (Klapwijk, 2008:29), net soos wat die kognitiewe benadering die behavioristiese benadering bevraagteken. Die konstruktivistiese leerteorie hou voor dat kennis en betekenis stadig en op individuele wyse geskep word (Pritchard & Woollard, 2010:5) deur middel van ʼn aanhoudende proses van interaksie tussen die student se eie kognitiewe strukture, sy/haar omgewing en die terugvoer wat uit die omgewing ontvang word (Class et al., 2004:511). Die konstruktivistiese leerteorie is gebaseer op Jean Piaget se teorie van kognitiewe ontwikkeling (Pritchard & Woollard, 2010:4), wat aanvoer dat inligting nie aan mense gegee kan word nie, maar dat hul eerder hul eie kennis moet genereer (Powell & Kalina, 2009:242). Volgens Palacios en Evans (2013:18) stel konstruktivistiese leerkonsepte voor dat mense kennis en betekenis genereer vanuit die interaksie tussen hul ervaring en hul idees. Hierdie wyse waarop kennis en betekenis gegenereer word, hou volgens Pritchard en Woollard (2010:5) in dat elke student ʼn individuele weergawe van realiteit sal bou op grond van sy/haar individuele ervarings, asook sy/haar voorafbestaande kennis, verstaan en ervarings. Gedurende die konstruktivistiese leerproses word inligting in die brein gestoor, georganiseer en heroorweeg deur middel van ʼn proses wat behels dat betekenisvolle inligting bo-oor reeds bestaande kennis gekodeer word (Palacios & Evans, 2013:18). Aktiewe konstruktivistiese leer behels die kies van relevante frases en beelde wat dan in

koherente kennisstrukture georganiseer word en in verband gebring word met reeds bestaande kennis. Joyce et al. (2009:11-12) redeneer dat konstruktivistiese leer daarop staatmaak dat studente geleer word om hul kapasiteit te benut om kennis te genereer en met hul eweknieë saam te werk om ten einde produktiewe intellektuele en sosiale verhoudings te ontwikkel. Om hierby aan te sluit, wys Class (2004:511) asook Pritchard en Woollard (2010:6) daarop dat die konstruktivistiese leerteorie ook ʼn sosiale dimensie, naamlik sosiale konstruktivisme, insluit. Ten einde ʼn deeglike begrip van die konstruktivistiese benadering tot leer te skep, word sosiale konstruktivisme vervolgens bespreek.

2.4.5.3.1 Sosiale konstruktivisme

Waar konstruktivisme aanvoer dat kennis geskep word deur ʼn persoonlike proses wat interaksie met die leermateriaal en die student se reeds bestaande kennis behels, voer sosiale konstruktivisme aan dat kennis en idees geskep word deur middel van interaksie met ander studente (Powell & Kalina, 2009:241; Pritchard & Woollard, 2010:8). Sosiale konstruktivisme is voorgestel deur Lev Vygotsky, wat van mening was dat sosiale interaksie ʼn integrale aspek van die leerproses is (Powell & Kalina, 2009:243). Die teorie van sosiale konstruktivisme is bykans in sy totaliteit op Vygotsky se werk geskoei (Pritchard & Woollard, 2010:35). As deel van hierdie teorie het Vygotsky ook die sone van proksimale ontwikkeling (zone of proximal development of ZPD) voorgestel. Die sone van proksimale ontwikkeling fokus meestal op kinders en word beskryf as die sone waar leer plaasvind wanneer ʼn kind gehelp word om ʼn konsep te bemeester (Powell & Kalina, 2009:244). Pritchard en Woollard (2010:9) is van mening dat die sone van proksimale ontwikkeling sentraal staan tot die teorie van sosiale konstruktivisme, aangesien dit die verskil beskryf tussen wat ʼn persoon op sy/haar eie kan leer, en wat ʼn persoon kan leer wanneer hy/sy gedurende die leerproses bygestaan word deur ʼn ander persoon met meer kennis.

Powell en Kalina (2009:244) toon aan dat Vygotsky se teorie rakende sosiale konstruktivisme voorhou dat samewerkende leer ʼn integrale rol speel in die skep van ʼn dieper begrip. Studente behoort nie slegs op hul eie te leer of met die opleier in interaksie te tree nie, maar behoort ook saam met ander studente te werk, aangesien kennis makliker geïnternaliseer word indien dit gepaardgaan met sosiale interaksie (Powell & Kalina, 2009:244). Pritchard en Woollard (2010:35) sluit hierby aan en wys daarop dat menslike studente staatmaak op sosiale interaksie met medestudente vir die stimulus, uitdagings en gedeelde aktiwiteite wat denke en interaksie met kennis bevorder, en ruimte laat vir intellektuele groei, insluitende die groei van kennis en begrip. Pritchard en Woollard (2010:35) som sosiale konstruktivisme op deur te verwys na drie belangrike aspekte van die leerproses. Hierdie drie aspekte is naamlik dat die mense rondom ʼn student ʼn belangrike rol vervul in die leerproses; die mense rondom ʼn student beïnvloed hoe die student die

wêreld sien; en sekere vaardighede (onder andere kultuur en taal) beïnvloed die wyse waarop leer plaasvind. Dit is derhalwe duidelik dat leer nie in isolasie plaasvind nie. Dit word bevestig deur Bandura (soos aangehaal deur Pritchard & Woollard, 2010:16), wat stel dat mense leer deur rolmodelle te observeer aangesien leer bykans onbekombaar is sonder die leiding van ander mense. Deur leer in ʼn sosiale omgewing te laat plaasvind, laat die sosiale konstruktivistiese benadering toe dat studente hul nuutgeskepte kennis kan meet teen dié van hul medestudente, wat verder daartoe lei dat studente die vermoë ontwikkel om hul kennis te verbaliseer en om hul kennisstrukture toe te pas met ʼn beter begrip van hul beperkings (Moser-Mercer et al., 2013). In die geval van tolkopleiding word die sosiale konstruktivistiese leerteorie veral belangrik by die praktiese inoefening van tolking, aangesien dit dikwels onder leiding van meer ervare tolke geskied. Vir die doel van hierdie studie kan daar aangevoer word dat dit belangrik sal wees om interaksie tussen aspiranttolke en meer ervare tolke te fasiliteer, asook interaksie van aspiranttolke met mekaar. Hierdie interaksie kan deur wyse van mentorskappe aangemoedig word. Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat die praktiese oefensessies in die vorm van kontaksessies aangebied behoort te word om sodoende seker te maak dat aspiranttolke by mekaar en by meer ervaar tolke kan leer.