• No results found

HOOFSTUK 5 SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKINGS

5.2 Die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding vir

5.2.2 Data-insameling en ontleding

Hierdie studie het ʼn gemengdemetode-navorsingsbenadering gevolg, wat behels het dat beide kwantitatiewe en kwalitatiewe data ingesamel is. Kwantitatiewe data is ingesamel deur ʼn vraelys wat aan tolke verbonde aan die NWU-tolkdiens versprei is, terwyl kwalitatiewe data deur middel van stawende onderhoude ingesamel is. Die vraelys sowel as die onderhoude het ten doel gehad om die NWU-tolkdiens se huidige opleidingskursus te evalueer (om sodoende enige verdere leemtes te identifiseer), tolke se opinies te kry oor komponente wat by opleiding ingesluit behoort te word en te bepaal of hulle die gebruik van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke sal steun (soos bespreek in afdeling 3.4.1). Die navorsingspopulasie (N) het bestaan uit alle praktiserende tolke verbonde aan die NWU-tolkdiens, alhoewel slegs 28 (n) die vraelys ingevul het en 14 deelgeneem het aan die onderhoude. Alhoewel hierdie lae responskoers as ʼn beperking gesien kan word, dui dit nie daarop dat die data ongeldig is nie as gevolg van die feit dat

gedetailleerde antwoorde die fokus van die studie was (Hale & Napier, 2013:68) en die gebruik van beide kwalitatiewe en kwantitatiewe data daarop dui dat die data getrianguleer en daarom geldig is, aangesien die resultate verkry vanuit die vraelys en onderhoude soortgelyk was.

Die vraelys is deur middel van Google Forms ontwikkel en as 'n skakel deur middel van e-pos aan die navorsingspopulasie gestuur. Die vraelys is twee maal uitgestuur om te verseker dat genoegsame data ingesamel word, aangesien die eerste rondte 'n baie lae responskoers gehad het. Die vraelys het bestaan uit drie afdelings wat meestal kwantitatiewe vrae gevra het, maar ook enkele kwalitatiewe vrae bevat het. Die drie afdelings het onderskeidelik ten doel gehad om biografiese inligting van die respondente in te samel, om die bestaande opleidingskursus van die NWU-tolkdiens te evalueer en om tolke se opinies rakende die gebruik van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke te meet.

Daar is ook semigestruktureerde onderhoude gevoer met 14 respondente wat ten doel gehad het om die data vanuit die vraelyste verkry te ondersteun en aan te vul. Die vrae het gehandel oor tolke se ervaring met tolkopleiding by die NWU-tolkdiens, hulle behoeftes ten opsigte van tolkopleiding asook hoe hulle voel oor die moontlikheid dat tolkopleiding deur middel van rekenaarondersteunde opleiding aangebied kan word.

Die resultate wat verkry is uit hierdie data word deeglik in hoofstuk 4 bespreek (spesifiek in afdeling 4.2.), maar die belangrikste insigte wat daarvan verkry is, toon dat die meerderheid tolke gevoel het hulle opleiding was nie voldoende nie omrede dit te kort was en daar nie genoegsame geleentheid gebied is vir praktiese oefening nie, asook dat hulle 'n behoefte het aan uitgebreide opleiding. Uit die onderhouddata is daar ook vasgestel dat tolke sou verkies om die geleentheid gebied te word om deel te vorm van ʼn mentorskapprogram waar nuwe tolke saam met ervare tolke na klasse gaan om te observeer en as spantolke op te tree. Verder het beide die vraelys en die onderhoude response opgelewer wat daarop dui dat ervare opvoedkundige tolke van mening is dat hulle meer geleer het vanuit die praktiese ervaring wat hulle opgedoen het (hetsy dit in die opleidingsessies, onder leiding van 'n meer ervare tolk of op hulle eie was) as wat hulle vanuit die teoretiese komponente van die opleiding geleer het. Die meeste tolke is ook van mening dat 'n praktyk bewerkstellig behoort te word wat geleenthede skep waartydens aspiranttolke eers as spantolke saam met ervare tolke na klasse gaan om sodoende praktiese ervaring op te doen. Alhoewel die NWU-tolkdiens poog om nuwe tolke as spantolke te laat optree gedurende die eerste paar weke van die akademiese rooster (om sodoende indiensopleiding te fasiliteer), blyk dit dat die hoë vraag na tolke en die besige akademiese rooster hierdie benadering in sommige gevalle onmoontlik maak. Tolke het ook aangedui dat hulle van mening is dat ʼn teoretiese onderbou belangrik is vir tolkopleiding, maar dat daar enkele aspekte van opvoedkundige tolking by die NWU is wat nie tans deur die opleiding aangespreek word nie en wat liefs by

rekenaarondersteunde opleiding gevoeg behoort te word om sodoende optimale opleiding te verseker. In hierdie verband het respondente aanbeveel dat die aanbevole rekenaarondersteunde opleiding meer geleentheid skep vir praktiese opleiding, dat aspiranttolke kans gegun behoort te word om by meer ervare tolke te gaan skadutolk, dat vakspesifieke opleiding verskaf moet word, dat daar meer evalueringsgeleenthede moet wees en dat die rol van die tolk in meer detail gedefinieer moet word. Alhoewel die meerderheid respondente positief gereageer het op die idee van die gebruik van rekenaarondersteunde opleiding, het almal aangetoon dat hulle van mening is dat rekenaarondersteunde opleiding slegs suksesvol aangewend kan word indien die rekenaarprogram wat gebruik word, die geleentheid skep vir interaksie. Die meerderheid tolke het ook aangetoon dat hulle ʼn behoefte het vir voortdurende opleiding wat in die vorm van opknappingskursusse aangebied kan word.

Hierdie bevindings strook met bestaande navorsing en die onderhawige studie se probleemstelling, wat voorhou dat daar sekere leemtes bestaan by die NWU-tolkdiens se opleiding en dat hierdie probleem moontlik deur middel van rekenaarondersteunde opleiding opgelos kan word. Gebaseer op hierdie bevindings word gevolgtrekkings gemaak wat vervolgens kortliks bespreek word.