• No results found

HOOFSTUK 5 SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKINGS

5.2 Die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding vir

5.2.1 Literatuurstudie

Met die vorming van die Noordwes-Universiteit op 1 Januarie 2004 (Booysen, 2015:14; Verhoef, 2010:170; Verhoef & Venter, 2008:379) is daar ooreengekom dat die nuutgevormde universiteit ʼn beleid van funksionele meertaligheid sal implementeer (NWU, 2012; Verhoef, 2010:171; Verhoef & Venter, 2008:380). Ter vervulling van hierdie taalbeleid word verskeie strategieë gebruik om toegang tot tersiêre onderrig te verseker asook om taaldiversiteit uit te brei (Verhoef & Du Plessis, 2008:13). Op die Potchefstroomkampus word daar spesifiek van opvoedkundige tolking (raadpleeg afdeling 2.2.1 vir 'n bespreking van opvoedkundige tolking) gebruik gemaak om die posisie van Afrikaans op die kampus te behou sonder dat enige studente benadeel word (Verhoef & Du Plessis, 2008:13).

Die NWU-tolkdiens is in 2004 gestig en het in die afgelope dekade eksponensiële groei getoon. In 2017 bestaan die NWU-tolkdiens uit 94 opvoedkundige tolke wat ongeveer 1 300 periodes per week tolk (Rabie, 2017). Die groei wat die tolkdiens getoon het, het ook gelei tot 'n groeiende behoefte aan opgeleide opvoedkundige tolke. Die NWU-tolkdiens werf voornemende tolke vanuit verskeie agtergronde en die meerderheid van hierdie voornemende tolke het dikwels geen tolkopleiding of -ervaring nie (Blaauw, 2008b:32). Om hierdie rede bied die NWU-tolkdiens ʼn kort opleidingskursus aan wat daarop gemik is om die uitdagings van opvoedkundige tolking aan te spreek en te verseker dat tolke daartoe in staat is om die beste moontlike tolkproduk te lewer (verwys na afdeling 2.3.3 vir 'n omvattende bespreking van die NWU-tolkdiens se huidige opleidingskursus). Ten spyte daarvan dat klasse eers in Februarie hervat word, word daar deur die loop van Januarie verskeie versoeke aan die NWU-tolkdiens gerig vir tolking gedurende onder meer die NWU se registrasie en oriënteringsprogram. As gevolg van die druk van die akademiese rooster, wat daarom dikwels vroeg in Januarie39 al tolking vereis, word daar ervaar dat daar slegs

enkele dae beskikbaar is waarin hierdie opleiding aangebied kan word en dat dit dikwels beteken dat aspiranttolke nie voldoende voorberei is vir die uitdagings van opvoedkundige tolking nie. Om hierdie probleem aan te pak, is daar onderneem om ondersoek in te stel na die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke. Verskeie studies (onder meer deur Lightfoot, 2015; Lim, 2013; Moser-Mercer et al., 2013; Ritsos et al., 2012; Sandrelli, 2005) het aangetoon dat die gebruik van rekenaarondersteunde opleiding ʼn lewensvatbare opsie vir tolkopleiding is, en daarom was hierdie studie daarop gemik om te bepaal hoe rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke spesifiek op die NWU sou lyk. Alvorens voorstelle gemaak kan word vir die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolke, is dit belangrik om eers te verstaan wat tolkopleiding behels.

Daar word aanvaar dat formele tolkopleiding van kardinale belang is vir suksesvolle tolking (Gile, 1995; Hale, 2011; Pöchhacker, 2004; Swabey & Mickelson, 2008) aangesien die afwesigheid van voldoende opleiding die tolk se professionele identiteit affekteer en kan lei tot die lewering van ʼn swak tolkproduk. Om dit te verhoed, deurloop tolke normaalweg ʼn uitgebreide akademiese program wat dikwels oor etlike jare strek (Gile, 1992:183). In Suid-Afrika is daar egter so ʼn groot behoefte aan opgeleide tolke dat kortkursusse ʼn aanvaarbare oplossing is (soos bevind deur Lotriet, 2002:97), alhoewel dit dikwels nie langtermyndoelwitte soos professionele ontwikkeling aanspreek nie. Pöchhacker (2004:179) en Stern (2011:501) wys daarop dat alle tolkopleidingskursusse sekere gemeenskaplike eienskappe toon, naamlik teoretiese komponente wat daarop gemik is om aan studente die noodsaaklike teoretiese onderbou te verskaf (die komponente van tolkopleiding soos gebied deur die NWU-tolkdiens word in afdeling 2.3.3

bespreek), praktiese oefeninge wat daarop gemik is om aspiranttolke voor te berei op die tolkproses (naamlik skadutolking, parafrasering van die bronteks en kort tolkbeurte), toetse wat die aspiranttolk se tolkproduk evalueer en deurlopende evaluering van praktiserende tolke. Dit moet beklemtoon word dat beide die teoretiese onderbou en die geleentheid om prakties die tolkproses te oefen, van onskatbare waarde in tolkopleiding is. Hierdie studie voer aan dat die tolkopleiding moontlik meer effektief aangebied sal kan word indien die teoretiese komponente deur middel van 'n rekenaarprogram deur aspiranttolke afgehandel word alvorens hulle in Potchefstroom die praktiese komponent in die vorm van kontaksessies kom afhandel.

Rekenaarondersteunde opleiding behels die gebruik van digitale tegnologie in ʼn opleidingsomgewing waar dergelike tegnologie gebruik word om ʼn goeie leerervaring te ondersteun (Ehrlich & Napier, 2015:xv; Engelbrecht, 2003:41; Ivanović & Jain, 2014:vii). Hierdie opleidingsmetode hou sekere voordele in, onder andere verhoogde effektiwiteit, verhoogde selfvertroue by studente, tydsbesparing, kostebesparings (Sun et al., 2007:1183) asook die feit dat dit gemakliker is vir studente (Cantoni et al., 2004:336). Rekenaarondersteunde opleiding skep ook die geleentheid om gebruik te maak van klank en video, asook interaktiewe komponente wat die student die geleentheid bied om 'n aktiewe rol in die leerproses te speel. Dit is wel belangrik om te verseker dat die rekenaarprogram wat vir opleidingsdoeleindes gebruik word, die student se aandag kan behou en daarom moet sekere aspekte (soos bespreek in afdeling 2.4.4.2) in gedagte gehou word wanneer die opleiding ontwikkel word. Hierdie aspekte sluit naamlik in dat die opleiding aangepas moet word by die student se behoeftes en dat rekenaars gebruik moet word om menslike interaksie te fasiliteer. Dit moet ook beklemtoon word dat die oogmerk van hierdie studie nie was om ʼn nuwe opleidingskursus vir die NWU-tolkdiens te ontwikkel nie, maar eerder om ondersoek in te stel na die teoretiese komponente wat in die vorm van rekenaarondersteunde opleiding aangebied kan word en daarvolgens voorstelle te maak.

Rekenaarondersteunde opleiding moet ontwikkel word volgens stappe wat behels dat opleidingsprobleme geïdentifiseer word, eienskappe van die studente ondersoek word, die inhoud van die program bepaal word, die doelwitte vir opleiding spesifiseer word, die inhoud in logiese volgorde georganiseer word, en die opleiding ontwerp word (Brown & Green, 2011:9). Aangesien die NWU-tolkdiens reeds vir etlike jare 'n opleidingskursus aanbied, word daar egter vir die doel van hierdie studie aanvaar dat die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding vir opvoedkundige tolking slegs die organisering van inhoud en die ontwerp van opleiding gaan behels. Verder moet rekenaarondersteunde opleiding ontwikkel word met die rekenaar se spesifieke sterk- en swakpunte in gedagte (Gibbons & Fairweather, 1998:15). Morrison et al. (2011) plaas spesifieke klem op die aanpassing van die opleiding by die student se behoeftes, alhoewel Barron en Orwig (1995) ook waardevolle aanbevelings maak, onder meer dat 'n prototipe

van die program eers gebou en getoets behoort te word, asook dat daar in ag geneem moet word dat rekenaars nie menslike opleiers kan vervang nie. Hierdie studie stem ooreen met laasgenoemde aanbeveling, aangesien daar voorgestel word dat die rekenaarondersteunde opleiding ook 'n komponent bevat wat in die formaat van kontaksessies aangebied word en dus ook 'n vervlegteleerbenadering behoort te volg.

Enige vorm van opleiding moet ook verskillende benaderings tot leer in gedagte hou en daar moet gepoog word om die opleiding aan te pas volgens die relevante leerteorie om sodoende effektiewe opleiding te verseker. As sodanig beveel hierdie studie aan dat die toepassing van die sosiale konstruktivistiese leerteorie van die meeste waarde sal wees vir die voorgestelde rekenaarondersteunde opleiding. Die sosiale konstruktivistiese leerteorie hou voor dat kennis en idees gekonstrueer word deur middel van interaksie met ander studente (Powell & Kalina, 2009:241; Pritchard & Woollard, 2010:8) en dat opleiding geleenthede moet skep vir interaksie tussen studente om sodoende optimale leer te bewerkstellig. Optimale leer kan ook bewerkstellig word deur die gebruik van multimedia, die organisering van inligting in logiese en hanteerbare brokkies, deur die aspiranttolk aan te moedig om aktief deel te neem in die leerproses, sowel as die skep van ’n outentieke leeromgewing.

Hierdie teoretiese begronding vorm die basis vir die aanbevelings wat die oogmerk van hierdie studie is. Daar is ook empiriese data ingesamel deur middel van vraelyste en onderhoude wat met ervare tolke gevoer is. Die doel met die insameling van hierdie data was om die opinies van ervare tolke rakende tolkopleiding in die algemeen en meer spesifiek rekenaarondersteunde tolkopleiding te meet. In die volgende afdeling word die resultate van die empiriese ondersoek kortliks bespreek.