• No results found

HOOFSTUK 4 DATA-ONTLEDING

4.1 Inleiding

4.2.1 Response op vraelys en onderhoude

4.2.1.5 Onderhoude: wat is tolke se opleidingsbehoeftes?

Die bostaande bespreking van tolke se opleidingsbehoeftes (soos uitgewys gedurende die data- insamelingsproses) is spesifiek gemik op die data wat verkry is uit die vraelys, met enkele verwysings na data uit die onderhoude wat ter illustrasie gebruik word. Vir die doel van hierdie studie is dit egter ook belangrik dat daar in meer diepte ondersoek ingestel word na die data wat uit die onderhoude verkry is. Om hierdie kwalitatiewe data beter te verstaan, is die getranskribeerde onderhoude deur middel van ATLAS.ti gekodeer en die kodes is daarna onderverdeel in kodefamilies wat spesifiek die studie se navorsingsvrae aangespreek het. In hierdie afdeling van die bespreking word die kodefamilie wat te make het met tolke se opleidingsbehoeftes, uitgepak en bespreek.

4.2.1.5.1 Behoefte aan uitgebreide opleiding

Die data wat uit die onderhoude verkry is, wys daarop dat tolke 'n behoefte aan uitgebreide opleiding het. Verskillende tolke identifiseer egter verskillende behoeftes (4 respondente sluit hierby aan en noem dat verskillende mense verskillende behoeftes het). Ten spyte van die verskillende behoeftes aan uitgebreide opleiding, is die behoefte aan meer praktiese ervaring die mees prominente behoefte onder tolke. In hierdie verband toon enkele respondente aan dat hulle meer praktiese ervaring sou wou opdoen voordat hulle begin tolk het. Respondent 7 dui spesifiek aan dat hy/sy nie gemaklik was met die tolksituasie nie en dat hy/sy sou verkies om meer geleentheid te kon gehad het om prakties te oefen, terwyl respondent 8 ook aantoon dat indiensopleiding vir hom/haar van waarde sou wees. Die huidige opleidingskursus maak meestal staat op opnames wat aan aspiranttolke verskaf word en wat hulle dan kan benut om op te oefen, maar beide respondent 8 en 12 is van mening is dat die opnames onvoldoende is aangesien dit 'n kunsmatige omgewing is en daar geen wyse is om te bepaal of aspiranttolke wel die opnames gebruik nie. Om hierdie probleem op te los en die behoefte aan te spreek, toon verskeie respondente aan dat hulle voel aspiranttolke sal baat by die geleentheid om langer by ervare tolke te skadutolk en indien 'n mentorskapprogram op die been gebring word. Respondent 1 sê byvoorbeeld [by aanhaling 1:4]:

"Ek dink praktiese ervaring tel meer, so ek sou definitief meer geleer het as ek 'n maand of wat ge-shadow het."

Respondent 2 dui ook aan dat hy/sy wel vir sowat twee weke geskadutolk het en dat hy/sy nie sou kon begin tolk het as dit nie was vir hierdie ervaring nie. Respondent 4 verduidelik dat hy/sy vir enkele dae by ervare tolke geskadutolk het en dit baie geniet het, maar dat 'n paar dae se ervaring as skadutolk voldoende was. Respondent 6 toon aan dat hy/sy graag sou wou skadutolk, maar nooit die geleentheid gegun is nie. Respondent 7 dink ook skadutolking is 'n goeie leergeleentheid vir aspiranttolke, aangesien dit aan aspiranttolke die geleentheid bied om ná afloop van die klas aan ervare tolke vrae te vra. 'n Verdere tema wat by hierdie waarneming aansluit is die daarstelling van 'n mentorskapprogram wat behels dat aspiranttolke 'n spesifieke ervare tolk kan skadutolk en by die tolk leer. Dit is dan die ervare tolk se verantwoordelikheid om die aspiranttolk deur die leerproses te lei, 'n idee waarna die respondente etlike kere verwys. Respondent 5 noem in hierdie verband dat die klem in tolkopleiding behoort te val op praktiese ervaring en dat mentorskapprogramme 'n goeie wyse is om hierdie ervaring op te doen, veral indien die aspiranttolk in 'n spesifieke vakgebied opgelei moet word. Respondent 8 dui ook aan dat die waarde van mentorskapprogramme daarin lê dat die aspiranttolk die geleentheid kry om vir enkele minute te tolk en dan terugvoering van die ervare tolk kan kry. In terme van kennis verkry vanuit die literatuur, skakel die daarstelling van mentorskapprogramme en die moontlikheid van meer

skadutolking met die voorstel wat in afdeling 2.4.3.4.4 gemaak is rakende die skep van outentieke leeromgewings.

Alhoewel dit blyk dat tolke van mening is dat die NWU-tolkdiens se opleidingskursus daarby kan baat indien aspiranttolke meer geleentheid kry om praktiese ervaring op te doen, raak respondente ook enkele ander kwessies aan wat daartoe kan bydra dat die opleidingskursus uitgebrei kan word. Een so kwessie is 'n behoefte aan vakspesifieke opleiding, veral in gespesialiseerde rigtings, byvoorbeeld regte en ingenieurswese (soos uitgewys deur respondente 1 en 9). 'n Verdere kwessie wat deur respondente aangeraak is, is die behoefte vir meer evaluering, beide as aspiranttolk en as ervare tolk, en dan ook die behoefte vir terugvoering oor hierdie evaluering. Hierdie waarneming is veral deur respondent 2 gemaak, wat graag sou wou terugvoering ontvang oor opnames wat reeds van hom/haar gemaak is. Dit word beaam deur respondent 7 wat graag die geleentheid sou wou hê om na opnames van sy/haar tolkproduk te kan luister. Hierdie data blyk daarop te toon dat evaluering nie slegs tot aspiranttolke beperk behoort te word nie, maar ook tot ervare tolke strek. Een laaste kwessie wat onder uitgebreide opleiding kan val en wat deur beide respondente 6 en 9 geopper is, is die behoefte aan duidelikheid rakende die rol van die tolk. Literatuur (raadpleeg afdeling 2.3.3.8) dui aan dat die rol van die tolk (veral die opvoedkundige tolk) 'n baie dinamiese een is wat moeilik is om te definieer. Pogings moet wel gemaak word om die tolk se veld af te baken om daarvolgens aspiranttolke op te lei in hoe hulle behoort op te tree. Hiermee saam kan ook melding gemaak word van respondente se opinies oor die daarstelling van 'n gedragskode vir aspirant- opvoedkundige tolke. Vir respondent 6 is die behoefte aan 'n etiese gedragskode vir aspiranttolke so belangrik dat hy/sy van mening is dat die kwessie in die e-leeraspek van die opleiding sowel as in die kontaksessies aangespreek behoort te word.

Die bostaande bespreking van tolke se behoefte aan uitgebreide opleiding is egter nie die enigste kwessies wat gedurende die onderhoude aangeraak is nie. Respondente het ook daarna verwys dat hulle 'n behoefte het aan voortdurende opleiding, met ander woorde opleidingsprogramme wat spesifiek aangebied word vir ervare tolke en wat kwessies soos vakspesifieke opleiding (respondent 7), hanteringstrategieë (respondent 9), die skep van professionele netwerke en die geleentheid om by ander tolke te leer (respondent 11), asook die vermoë om vanaf Engels na Afrikaans te tolk (respondent 14), sigtolking en die belang van voorbereiding (respondent 3) aangeraak word. In teenstelling hiermee het drie respondente (nl. respondent 4, respondent 8 en respondent 13) ook aangetoon dat hulle nie 'n behoefte het aan voortdurende opleiding nie. Respondent 8 sê rakende die voortdurende opleiding dat die ervaring wat hy/sy reeds in praktyk as opvoedkundige tolk opgedoen het, voldoende is en dat daar niks is wat verdere opleiding

hom/haar kan leer nie. Respondent 4 is weer van mening dat voortdurende opleiding teoreties 'n goeie idee is, maar dat dit nie prakties uitvoerbaar sal wees nie.

Laastens het respondente ook enkele ander sake aangeraak wat saam met opleidingsbehoeftes gegroepeer kan word, naamlik die belang van voorbereiding, die gebruik van simulasieklasse en hanteringstrategieë. Enkele respondente het verwys na die belangrikheid van voorbereiding, en respondent 11 het spesifiek genoem dat hy/sy in 'n hoogs gespesialiseerde veld begin tolk het en dat hy/sy beter voorbereid sou gewees het indien die opleiding 'n komponent oor die gebruik van termlyste en studiegidse vir voorbereiding ingesluit het. Oor die gebruik van simulasieklasse dui respondent 4 aan dat dit wel ingesluit was by sy/haar opleiding en dat dit van baie waarde was, terwyl respondent 5 aantoon dat dit nie deel was van sy/haar opleiding nie, maar dat dit goed sou wees om simulasieklasse te gebruik om aspiranttolke in 'n veilige omgewing bloot te stel aan klassituasies. Respondent 9 voel dat hanteringstrategieë baie belangrik is en dat dit van groot waarde sal wees om dit by voortdurende opleiding in te sluit sowel as by die opleiding wat aan aspiranttolke gebied word.

Gebaseer op die bostaande bespreking van tolke se opleidingsbehoeftes soos dit geïdentifiseer is in die vraelys en onderhoude, blyk dit dat tolke verbonde aan die NWU-tolkdiens 'n behoefte ervaar vir uitgebreide opleiding. Die vraelys se data toon dat die meeste respondente hulle tolkopleiding as middelmatig beskou, terwyl die onderhoude wys dat tolke voel hulle sou beter voorbereid gewees het vir opvoedkundige tolking indien hulle opleiding meer omvattend was. Gedurende die onderhoude is etlike voorstelle gemaak vir wyses waarop die opleiding uitgebrei kan word, maar die kern van die saak bly dat opleiding 'n noodsaaklike komponent vir tolke is en dat elke tolk unieke behoeftes het. Deur die insameling van kwantitatiewe en kwalitatiewe data kan daar egter naastenby aangetoon word wat daardie behoeftes is en voorstelle kan daarvolgens gemaak word vir die ontwikkeling van rekenaarondersteunde opleiding wat hierdie opleidingsbehoeftes aanspreek.