• No results found

Vorm, proporsie en skaal

3.4 Kunshistoriese eienskappe van Gutter se werke

3.4.3 Vorm, proporsie en skaal

Die skaal van kunswerke, binne ʼn kunshistoriese konteks, verwys na die kapasiteit van ʼn betrokke kunswerk en hoe dit skakel met die omgewing of ruimte. Skaal vereis terselfdertyd dat die aanskouer die grootte van ʼn kunswerk moet beskou as ʼn noodsaaklike aspek in die oorweging van die materiaalgebruik en fisiese voorstelling van die betrokke kunswerk ten einde die versterking van die boodskap wat die kunstenaar wil oordra (Lugli, 2012). Skaal verwys meestal na die fisiese grootte van kunswerke. Proporsie daarteenoor verwys na die grootte van die elemente in die komposisie van ʼn kunswerk. Proporsie is veral in die vroeë kunsgeskiedenis belangrik geag as ʼn metode om rangorde of belangrikheid aan te dui (daarom word Egiptiese politiese figure en gode byvoorbeeld soveel groter as gewonde mense uitgebeeld in hiërogliewe). Binne ʼn kontemporêre kunshistoriese konteks word proporsie gebruik om aandag te vestig op subjekte deur middel van byvoorbeeld die manipulasie van grootte of die gebruik van perspektief. ʼn Hiërargie van subjekte of inhoudelike elemente word geskep deur gebruik te maak van skaal en proporsie om klem te kan lê op die belangrikste fokuspunte in ʼn kunswerk (Saylor, 2011:18-20).

Skaal en proporsie word dus gebruik om die relatiewe grootte van een vorm teenoor ʼn ander aan te dui. Hierdie proporsionele verhoudings word tydens die skeppingsproses gebruik om ʼn illusie van diepte op ʼn tweedimensionele vlak aan te dui deur die plasing van ʼn groter vorm voor ʼn kleiner een (Saylor, 2011:19). Die skaal van ʼn objek skep verder ʼn fokuspunt of plaas klem op ʼn beeld. Gutter maak gebruik van proporsie en skaal in haar kuns om sekere idees of emosies oor te dra. Die massiewe grootte van haar werke skep ʼn onmiddellike visuele impak wat die aanskouer aanspoor om verder met die werke te verkeer.

Gutter (2013:1-2) stel dat haar werke beïnvloed is deur die teatraliteit van balletkonserte tydens haar jeug, sowel as die monumentale grootte van die Vrystaatse platteland. Daarom is die skaal van haar werke gewoonlik groot (die landskappe kan maklik

byvoorbeeld 80 cm x 150 cm wees en etlike portrette is op monumentale skaal uitgevoer sodat ʼn gesig ʼn ruimte van 100 cm x 120 cm kan opneem). Hundt (2008:11) argumenteer voorts dat haar portretwerke geensins binne die grense van "tipiese" portretstudies beskou kan word nie. Die enormiteit gee ʼn heroïese element aan die werke – sodat die plaasmense en hul grond wat verbeeld word, op meer as een vlak groter as die lewe voorkom. Dit het die onmiddellike gevolg dat die aanskouer gekonfronteer word deur die subjekte en hul noodlot in Gutter se werke. Dit skep weer ʼn ongemaklikheid wanneer die aanskouer bewus word van die werklike weerloosheid van hierdie subjekte. Aangesien die werke so groot is, word elke deel van die subjek betrag en elke detail raakgesien en die aanskouer word, soos Gutter (2015:13) dit stel, gekonfronteer met die morele dilemma van “Hoe gaan jy help?” of “Gaan jy betrokke raak?”. Die kwessies word lewensgroot voor individue uitgestal, en aangesien die betrokke individu as ‘t ware niks kan doen om te help nie, word hy/sy ook in dieselfde hulpelose posisie geplaas.

Gutter maak dus gebruik van proporsie en skaal om eerstens ʼn emosionele boodskap te kommunikeer en tweedens om klem te lê op sekere fokuspunte in haar werke.

3.5 Samevatting

In hierdie hoofstuk is aandag gegee aan Gutter se biografiese agtergrond, persoonlike herinneringe van haar lewe op die plaas, asook ander konteksmatige en kunshistoriese aspekte wat haar werk en die dikwels nostalgiese en melankoliese aspekte daaragter inlig. Hier is spesifiek verwys na ʼn oënskynlike nostalgiese verlange en verheerliking van die platteland en plaaslewe en hoe hierdie beskouinge ʼn aantal aspekte in haar kunswerke beïnvloed en geïnspireer het. Soos vanuit hierdie hoofstuk afgelei kan word, maak Gutter gebruik van haar omgewing, herinneringe en belewenisse om byna nostalgiese oomblikke in haar werke te skets, hoewel die inherente betekenis daarvan kan verskil. Sy doen dit vanuit die oortuiging dat ʼn kunstenaar ʼn baie eerliker boodskap kan lewer of gevoel kan oordra wanneer hy/sy binne ʼn sekere kultuur met ʼn sekere verwysingsraamwerk grootgeword het. Die taktiliteit, metaforiese inhoud en skaal van Gutter se werke is ook in ag geneem tydens die kunshistoriese ontleding daarvan en daar is bevind dat elkeen bydra tot die melankoliese gevoel van die werke. Volgens Gutter is al hierdie aspekte van haar werke ook geïnspireer deur haar lewe op die plaas – die tekstuurgebruik en kleur deur die gelaagdheid van die plaasinstrumente, die skaal deur die teateragtigheid van ballet konserte tydens haar jeug en die metaforiese inhoud deur dit waardeur sy omring word in haar plattelandse omgewing. Hoewel Gutter

bekend is vir die tematiese verbeelding van plaasaanvalle in haar werke, wil dit voorkom of daar dieper betekenis lê binne haar kuns. Gutter maak gebruik van haar kuns as ʼn metode om haar lewensuitkyk, kommentaar en herinneringe uit te beeld en te verwerk binne ʼn skilderkunstige medium. Daarom is haar werke so maklik assosieerbaar deur die publiek en kom dit ook so sterk emosiebelaaid voor.

HOOFSTUK VIER

Lees en interpretasie van gekose werke deur Pauline Gutter 4.1 Inleiding

In Hoofstuk Een van hierdie verhandeling is daarop gesinspeel dat die werke van Gutter, wat die inhoudelike betref, met ʼn sterk melankoliese ondertoon gelaai is. Die spesifieke aard van hierdie melankoliese ondertoon is in Hoofstuk Twee opgevolg met ʼn besinning en uiteensetting van die manier waarop melankolie as sleutelbegrip verder ondersoek moet word. Hoofstuk Drie volg met inleidende stellings wat met die kunstenaar se biografiese gegewens verband hou in ʼn poging om die vrugbare teëlaarde waarbinne die melankoliese oomblik in haar werke neerslag gevind het, in spesifiek gekose werke in diepte te ondersoek. Hierdie gekose kunswerke word vervolgens in hierdie hoofstuk aan die hand van bepaalde sleutelbegrippe ondersoek, en daar word in die besonder gefokus op die belangrikheid van die reflektiewe aard en homeostatiese moontlikheid van melankolie as sogenaamde object a in die visuele skeppingsproses.

Ten einde die lees van Gutter se werke te fasiliteer word daar in hierdie hoofstuk in die besonder gebruik gemaak van Plutchik se emosionele ontwikkelingsmodel, soos na verwys in Hoofstuk Twee, ten einde die kompleksiteit van verwante emosies soos melankolie en intuïsie te ondersoek, en die emosionele en kognitiewe samestelling daarvan te bepaal. Voortspruitend hieruit word die ondersoek ten opsigte van die belangrikheid van melankolie as rolspeler in die soeke na emosionele ekwilibrium, en die manier waarop Gutter dit in haar werke probeer bewerkstellig, sentraal tot hierdie ondersoek gestel. Hierdie werke sluit in: Uit die blou van onse hemel (2004), Bull on

truck (2005), Misguided sheep (2010) en Circus (2010).

Om die rol wat melankolie as intermediêre emosie in elkeen van hierdie werke speel te kan bepaal, is dit veral die doel om te toon hoe Gutter se nostalgiese herinneringe en plaaservaringe bewustelik en onbewustelik ʼn rol gespeel het in die keuse van tematiek en metaforiese inhoud. Dit geld ook vir die aard van die skeppingsproses, soos dit blyk vanuit haar kenmerkende medium-aanwending en tekstuurskepping. Daar word dus vervolgens geargumenteer dat die kunswerke se inherente trefkrag versterk word deur die nostalgiese idees wat aan ʼn plattelandse lewe gekoppel word, en daarom word hierdie werke, binne die metodologiese besinning van hierdie verhandeling, beskou as ʼn maklik aanvaarde plaasvervanger van die object a by beide kunstenaar en aanskouer.