• No results found

Emosie is gedefinieer as ʼn soms instinktiewe en soms intuïtiewe, onwillekeurige kognitiewe reaksie op ʼn bepaalde gebeurenis of stimulus (Strydom, 1999:9; Jung, 1950:10; Bodenstein, 2000:10). Dit beteken dat emosies ʼn aksie vrystel deur ʼn idee na vore te bring, wat weer motief aan ʼn aksie verskaf (Root-Bernstein, 2002:62). Kunstenaars en die media maak dikwels van hierdie “idee en motief” gebruik as visuele stimuli in kunswerke en advertensies om emosies doelbewus te manipuleer. Emosies is dus maklik manipuleerbaar en kan bewustelik of onbewustelik plaasvind. Daarom speel

dit ʼn belangrike rol in die mens se verhouding met ander persone, plekke, herinneringe en objekte.

Ten spyte van vroeë navorsing oor emosies deur teoretici soos Darwin en Jung, het die plek van emosies in die Sielkunde eers teen die helfte van die twintigste eeu tot sy reg gekom en selfs nog later by die Kunsgeskiedkundige leer. White (2012:1) voer aan dat die oorheersende Cartesiaanse “Ek dink daarom is ek” ingesteldheid die rede hiervoor was. As gevolg hiervan is emosies beskou as die afvalproduk van intellektuele aksie. Latere studies sou egter toon dat emosies, soos byvoorbeeld intuïsie of melankolie, ʼn nodige oorlewingsinstink is wat ʼn belangrike rol speel in sogenaamde intellektuele oorwegings. Hierdie beskouinge is ontwikkel tot ʼn belangrike nuwe konsep, genaamd emosionele intelligensie, ʼn idee wat gebaseer word op die interaksie tussen gevoelens en denke, oftewel kognisie en reaksie (Mayer & Salovey, 1997:4).

Bester et al. (1991:31) en Bodenstein (2002:9) bevestig Mayer et al. (2001:234) se begripmatige idees oor emosionele intelligensie deur te stel dat emosies ʼn beduidende rol speel by menslike gedrag deur die beheer van die mens se denk- en redeneervermoë. Van den Aardweg en Van den Aardweg (1988:77) gaan selfs sover om emosie te omskryf as ʼn aspek van die affektiewe wat met gemoed, sentimentele gevoel, intuïsie en gevoelstoestande verband hou. Emosies kan volgens hulle dus sterk, swak of selfs soms afwesig wees en in tydsduur en intensiteit wissel, afhangende van die stimulus of respons van die bepaalde individu. Hierdie beskouinge word visueel voorgestel in die emosionele ontwikkelingsmodel wat deur Plutchik geskep is om die interaksie tussen emosies aan te dui. Vanuit hierdie model is die klassifikasie van emosies as primêr, sekondêr en intermediêr afgelei.

Goleman (1996:289-290) stel dat emosionele dimensies ontwikkel vanuit primêre emosies soos liefde, woede en vrees waaruit verskeie emosionele reaksies spruit vir die skynbaar eindelose nuanses van ons emosionele lewe. Plutchik (2001:345) verwys hierna as sekondêre en intermediêre emosies – emosies wat ontstaan deur die integrasie en vermenging van die primêre emosies om nuwe soorte gevoelstoestande te skep. Hy stel die primêre emosies as binêre van mekaar voor in die vorm van ʼn sentrale emosionele kring in sy model. Die verskillende grade van intensiteit van hierdie emosies word as voortvloeiend vanuit hierdie kring of nukleus aangedui. Wanneer twee van primêre emosies met mekaar gekombineer word, vorm ʼn sekondêre emosie.

Goleman (1996:289-290) verwys na die derde soort emosies, genaamd intermediêre emosies, as temperamente. Hy stel dat dit ontstaan vanweë mutasies in gemoedstoestande (die vermenging van ʼn aantal buie/sekondêre emosies) en dat dit meer intens is en langer duur as ander emosies as gevolg van die ingewikkelde samestelling daarvan. Intermediêre emosies soos melankolie of intuïsie speel gevolglik ʼn belangrike rol in die bereiking van emosionele ekwilibrium of ewewig. Plutchik (2001:348) stel hierdie rol voor deur sy idee dat die ontmoeting van twee of meer teenoorgestelde emosies op sy model ʼn emosionele nul, oftewel ekwilibrium skep. Intermediêre emosies kan dus beskou word as ʼn natuurlike manier waarop ʼn individu se emosionele behoeftes bevredig word. Melankolie, as intermediêre emosie, se reflektiewe karakteristiek skep byvoorbeeld ʼn emosionele ewewig, deur die versadiging van ʼn individu se behoefte aan rou en bepeinsing.

As afleiding lyk dit of melankolie se reflektiewe aard dit kan posisioneer as ʼn produktiewe emosie met ʼn positiewe aanslag (Kristeva, 1987:5). Melankolie kan dan met reg beskou word as iets wat ons van tyd tot tyd “begeer”, wat ʼn geleentheid vir euforiese selfrefleksie of ʼn intuïtiewe selfbevraagtekeningsproses bied en die mens se skeppingsdrang aanwakker. Hoewel plesier hieruit geput word, word dit steeds in verband gebring met dit waarna individue verlang. Hierdie verlange na die object a kan óf vreugdevol, óf nostalgies, óf hartseer wees (Brady & Hapaala, 2012:3). Dit het ook die verdere implikasie dat melankolie spesifiek met persone of plekke verbind word (Holly, 2007:7). ʼn Individu sal byvoorbeeld melankolies voel oor ʼn verlore geliefde of vriend, of ʼn betekenisvolle plek soos ʼn ou woongebied of land. Freud (1917:245) stel dat hierdie melankoliese reaksie ʼn belangrike rol speel in die sogenaamde plesier-en realiteitsbeginsel van melankolie, waar plesier geput word vanuit die pynlike hunkering na die object a. Dit veroorsaak dat ʼn innerlike homeostatiese proses kan plaasvind om sodoende die individu emosioneel te kan voed ten einde ʼn emosionele ekwilibrium te kan bereik.

Lacan maak gebruik van Freud se plesier- en realiteitsbeginselteorie om die gevolgtrekking te maak dat emosionele pyn ʼn vorm van innerlike verstarring of verlamming is. Hiermee bedoel hy dat emosionele pyn die onvermoë van mense om van hul omstandighede te ontsnap, beliggaam (Lacan, 1992:60). Hierdie pyn word gerealiseer wanneer dit intuïtief in ʼn artistieke medium beliggaam word. Wanneer ʼn melankoliese temperament begin intree, word ʼn geleentheid vir die betrokke individu geskep om hom-/haarself van sy/haar emosionele lading te distansieer deur middel van

die skeppingsproses. Ek argumenteer gevolglik dat Gutter, soos in vorige afdelings uitgewys, gebruik maak van die skeppingsproses om ʼn emosionele ekwilibrium te bereik, veral in die vroeë stadiums van haar loopbaan.

HOOFSTUK DRIE

Pauline Gutter: bekendstelling van die kunstenaar en haar oeuvre 3.1 Inleiding

In Hoofstuk Twee is die teoretiese agtergrond waarop hierdie navorsing gebaseer is weergee. Enkele aspekte rakende Pauline Gutter as kunstenaar is, waar van toepassing, in Hoofstuk Twee aangeraak, met voorlopige verwysing na aspekte van Gutter se agtergrond en oeuvre. Aangesien Gutter se agtergrond en oeuvre van uiterste belang is vir hierdie studie, is dit nodig om ʼn sterk konteks te skep rakende die kunstenaar, haar invloede en kunsstyl. In hierdie hoofstuk word Gutter se biografiese gegewens in samehang met haar oeuvre voorgehou en analities binne ʼn kontemporêre kunshistoriese konteks getakseer. Daar word ook spesifiek in hierdie hoofstuk aandag gegee aan Gutter se terugblik op die eerste twee dekades van haar lewe saam met haar familie op die plaas en die invloed wat dit op haar kuns gehad het. Noodwendig, en met die spesifieke doelstellinge van hierdie verhandeling in gedagte, word daar gefokus op haar emosionele ingesteldheid gedurende hierdie tydperk, met klem op melankolie as sleutelbegrip.