• No results found

Gestalt as visueel-intuïtiewe en kognitiewe element

2.6 Melankolie as ʼn “intuïtiewe bepeinsing”

2.6.2 Gestalt as visueel-intuïtiewe en kognitiewe element

Volgens Wagemans et al. (2012:1172) kan Max Wertheimer (1880-1943) se studies oor skynbeweging en visuele persepsie in 1912 beskou word as die begin van Gestalt- sielkunde. In hierdie studie het Wertheimer tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn gestruktureerde geheel, oftewel Gestalten, intuïtief deur ʼn individu herken kan word, hetsy in kuns, musiek, argitektuur of in die omgewing (Wagemans et al., 2012:1174- 1175; Smith, 1988:12). Volgens Sabar (2013:6) het Gestalt te doen met vorm, konfigurasie, struktuur, organisering en die groepering van soortgelyke elemente. Sy stel verder dat Gestalt ʼn patroonagtige of geometriese verhouding tussen verskillende lyne, kontoere en vorms suggereer.

Gestalt-sielkunde fokus op die subjektiewe intuïtief-kognitiewe beskouinge en ervaringe van ʼn individu rakende die organisering van elemente in ʼn kunswerk en die visuele persepsies wat die individue hiervolgens vorm (Sabar, 2013:8). Die gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word, is dat die mens se oë nie soos ʼn metaforiese kamera of venster is nie. Inteendeel, dit wat ʼn individu fisies sien, word subjektief en intuïtief geïnterpreteer. Dit verkry gevolglik ʼn persoonlike betekenis wat gebaseer word op die herinneringe, verwagtinge, wêreldbeskouinge, emosionele toestand en vrese van hierdie individue (Sabar, 2013:8; Siegel, 1999:165-169).

ʼn Gestalt kan dus beskou word as ʼn geheelbeeld wat staatmaak op ʼn individu se intuïtief-visuele persepsies. Volgens Wagemans et al (2012:1180-1209) sluit die breë visuele sleutelbegrippe rakende Gestalt die volgende in: (a) verskyning; (b) reïfikasie; (c) multistabiliteit; (d) invariant; en (e) prägnanz.

(a) Verskyning

Verskyning word beskryf as die direkte identifikasie van ʼn geheelbeeld. ʼn Figuur word byvoorbeeld dadelik as ʼn geheel beskou en daarna opgebreek in komponente of vorms. Verskyning kan met ander woorde beskryf word as die proses waarin komplekse patrone of objekte geïdentifiseer word deur die identifikasie van die buitelyne daarvan. Hierdie element steun gevolglik baie op die visuele databank van ʼn individu wat opgebou word uit persoonlike herinneringe en ervaringe (Bradley, 2014:1). Hierdie element kan in ʼn kunswerk uitgeken word deur die objekte of subjekte wat figuratief deur die buitelyne en kontoerlyne voorgestel word.

(b) Reïfikasie

Volgens Bradley (2014:1) word reïfikasie, die teenoorgestelde van verskyning, beskryf as ʼn aspek van persepsie waarin die objek meer ruimtelike inligting bevat as buitelyne. Reïfikasie suggereer dat individue nie ʼn geheelbeeld nodig het om sekere objekte en vorms uit te ken nie, mits die individu bekende patrone en vorms in sy/haar intuïtiewe visuele databank gestoor het (vergelyk Fig. 2.6.2.1). Reïfikasie is met ander woorde die studie van illusionêre kontoerlyne wat as “regte” kontoere waargeneem word.

Fig. 2.6.2.1 Reïfikasie is die studie van illusionêre kontoerlyne wat deur die visuele sisteem as “regte” kontoere beskou word (Wagemans et al., 2012:1202).

(c) Multistabiliteit

Wagemans et al. (2012:1197-1198) beskryf multistabiliteit as die neiging om dubbelsinnige perseptuele ervaringe as meervoudige en alternatiewe visuele interpretasies te lees. Sommige objekte kan op meer as een manier geïnterpreteer

word. Die verskeie interpretasies kan nie tegelyk waargeneem word nie, en die visuele beelde is geneig om terug te flits van die en na die ander (Fig. 2.6.2.2).

Fig. 2.6.2.2 Die bekende Rubin-vaas as voorbeeld van multistabiliteit. Hierdie afbeelding kan as twee gesigte of ʼn vaas geïnterpreteer word (Wagemans et al., 2012:1198).

(d) Invariant

Bradley (2014:1) stel dat invariant dui op die perseptuele eienskap waarin eenvoudige objekte herken kan word ten spyte van verskille in rotasie, perspektief of skaal. Aangesien ons dikwels objekte vanuit verskeie perspektiewe ervaar, het ons die vermoë ontwikkel om hierdie objekte uit te ken ongeag voorkomsverskille. Invariansie dui op ʼn visuele konsekwentheid in die visuele kunste.

(e) Prägnanz

Prägnanz word beskou as een van die mees fundamentele aspekte van Gestalt (Bradley, 2014:2). Volgens die Gestalt-wet van prägnanz, ook bekend as die wet op eenvoud, is individue geneig om visuele ervaringe of komplekse vorms so te groepeer dat dit eenvoudig, simmetries en ordelik vertoon. Hiervolgens word ʼn aantal Gestalt- wette gevorm om die strukturering en organisering van ʼn geheelbeeld te verduidelik. Die Wet op Eenheid impliseer byvoorbeeld dat ʼn verskeidenheid van objekte as deel van ʼn groep beskou kan word wanneer die objekte naby aan mekaar geleë is (Fig. 2.6.2.3). Die objekte hoef nie dieselfde eienskappe te toon om aan hierdie wet te voldoen nie, dit is die afstand tussen die objekte wat die groepering bepaal (Bradley, 2014:3).

Fig. 2.6.2.3. Wet op Eenheid – vorms wat nader aan mekaar is, word as ʼn groep of geheel gesien (Bradley, 2014:3).

Die tweede groeperingswet word na verwys as die Wet op Ooreenkoms. Bradley (2014:4) stel dat objekte wat dieselfde kenmerke deel (kleur, vorm, tekstuur, grootte) volgens hierdie reël as verwant aan mekaar beskou kan word. Net so word die Wet op Sinkronisasie gebruik om objekte wat in dieselfde rigting beweeg saam te groepeer. Elemente wat in dieselfde rigting beweeg word met ander woorde meer verwant aan mekaar beskou as stilstaande elemente of elemente wat in ander rigtings beweeg. Hierdie groeperingswet sinspeel op die idee van dinamiese prosesse, hetsy in ʼn visuele, wetenskaplike of emosionele sisteem (Sabar, 2013:13). Fokuspunte in kuns word geskep deur die teenoorgestelde van die bogenoemde twee wette toe te pas. Bradley (2014:3) stel voor dat die aanskouer se aandag dikwels getrek word deur elemente wat van ʼn groep of geheelbeeld verskil, hetsy deur middel van kontras, verskille in skaal of rigting, tekstuur of kleurgebruik. Fokuspunte word byna onmiddellik uitgeken weens die intuïtiewe kognitiewe reaksie om die onbekende uit te sonder.

Bradley (2014:2) stel dat die Wet op Voltooiing aan individue genoeg visuele inligting gee om ʼn geheelbeeld te skep wanneer sekere gedeeltes weggelaat word. Wanneer die afbeelding te onvolledig is, word die elemente as aparte entiteite in plaas van ʼn geheel beskou. Die gebruik van negatiewe spasie in ʼn kunswerk kan as ʼn vorm van die Wet op Voltooiing beskou word (vergelyk Fig. 2.6.2.4).

Fig. 2.6.2.4. Wet op Voltooiing. Hoewel daar negatiewe spasie in die bekende WWF korporatiewe identiteit is, word die aparte elemente saamgegroepeer om ʼn geheelbeeld van ʼn pandabeer te skep (Bradley, 2014:2).

Die Wet op Simmetrie bepaal dat individue objekte as ʼn patroon of geheel aanskou wanneer dit simmetries om ’n middelpunt gevorm word. Hierdie wet beïnvloed die gebruik van balans en komposisie binne ʼn kunswerk. Visuele inligting word vinnig oorgedra deur die Wet op Simmetrie, aangesien ʼn individu se oë dikwels ingestel is daarop om simmetrie en orde uit te soek (Bradley, 2014:3). Die laaste groeperingswet word na verwys as die Wet op Ervaring. Volgens Bradley (2014:4) is hierdie die mees subjektiewe groeperingswet, aangesien dit staatmaak op die aanskouer se herinneringe, vroeë ervaringe en gemoedstoestand. Ervaringe en herinneringe is uniek aan elke individu, maar sekere ervaringe soos kulturele verbintenis of die simboliese betekenis van kleure of padtekens word deur groepe mense gedeel.