• No results found

Samevatting van hoofargumente

In Hoofstuk Twee is bevind dat emosies konstant deur die mens aangevoel word, hetsy bewustelik of onbewustelik. Emosies beheer die denk- en redeneervermoë en speel gevolglik ʼn beduidende rol by menslike gedrag. Dit word verder beskou as ʼn kognitiewe toestand wat met liggaamsveranderings-, uitdrukkings- en bepaalde aksies verband hou. Dit beteken dat emosies op dieselfde beginsel as Newton se bekende stelling “elke aksie het ʼn reaksie” werk. Aksie stimuleer emosie en emosie stimuleer weer aksie, oftewel die gereedheid om tot ʼn bepaalde handeling oor te gaan. Net so kan daar vanuit Hoofstuk Twee tot die gevolgtrekking gekom word dat komplekse emosionele response soos melankolie verskeie emosionele reaksies tot gevolg het wat dus daaraan ʼn “intermediêre” status verleen.

Dit is hierdie kenmerk wat ʼn belangrike rol speel in die visuele kunste. Wanneer ʼn melankoliese gevoelstoestand ervaar word vanweë die interaksie met die betrokke kunswerk, ontstaan ʼn vermenging of kombinasie van ʼn aantal emosionele toestande, spesifiek tot elke individu se persoonlike ervaringe. Daar word na hierdie emosies verwys binne ʼn emosionele konteks as estetiese emosies, aangesien dit reaksies op visuele uitbeeldings is. Melankolie word as ʼn soort estetiese gevoelstoestand beskryf, aangesien dit gevorm word deur die suksesvolle estetiese ervaring van ʼn spesifieke objek of selfs ʼn ander emosionele toestand soos nostalgie of hartseer, wat daaraan gekoppel word. Hieruit is afgelei dat die kombinasies van emosionele response kan lei

tot meer ingewikkelde emosies en gevoelstoestande, wat beteken dat emosies as ‘t ware in drie groepe geklassifiseer kan word, naamlik: primêre, sekondêre en intermediêre emosies.

Hoofstuk Twee toon verder dat melankolie, as intermediêre emosie, ʼn vermenging van ʼn aantal emosies is wat ʼn rol speel in Lacan se sogenaamde object a. Melankolie word beskou as die reaksie op die verlies van ʼn geliefde objek of plek (die object a) en kan moeiteloos ontlok word vanuit ʼn kunswerk waarmee persoonlik geassosieer word. Skilderkuns realiseer hierdie emosionele assosiasies en wanneer melankolie begin intree, word ʼn geleentheid vir die betrokke individu geskep om hom/haarself van die realiteit van sy/haar se emosionele lading te distansieer. Daar is bevind dat Gutter se kunswerke veral aan die begin van haar loopbaan gebruik is as ʼn metode om haarself te distansieer van die negatiewe emosies wat sy ervaar het ná ʼn plaasaanval in die omliggende area.

Melankolie laat gevolglik toe dat estetiese oorwegings intree; nie net in goed gedefinieerde estetiese situasies nie, maar ook wanneer intense emosionele ervaringe ʼn rol speel tydens die skeppingsproses. As gevolg hiervan word melankolie as ʼn estetiese, dualistiese entiteit beskou en byna vanselfsprekend met die sogenaamde kunstenaarstipe geassosieer. Voorbeelde vanuit die geskiedenis is aangehaal en in die hoofstuk is bevind dat ʼn melankoliese gevoel somtyds kreatiwiteit versterk of daartoe bydra in individue. Daarom speel melankolie ʼn selfs belangriker rol in die kunsgeskiedkundige lees, interpretasie en ervaring van kunswerke as wat individue wil toegee. Dit wil voorkom of die melankoliese gevoel groei uit refleksie en oordenking en die gevolg is dat hierdie reflektiewe aspekte van melankolie die terugroep van bepaalde herinneringe aanmoedig.

Hierdie reflektiewe aard van melankolie is verder ontbloot in Hoofstuk Drie met ʼn ondersoek na die begrip intuïsie. Die melankoliese reaksie op ʼn kunswerk word beskou as ʼn belangrike intuïtiewe respons op kunswerke – veral omdat individue se response verskil. Daar is bevind dat kunstenaars hul onderliggende emosies dikwels intuïtief in hul werke openbaar en daar word sover gegaan om hierdie proses as intuïtiewe bevraagtekening te beskou. Die waarde van intuïtiewe bevraagtekening lê in die feit dat dit aan beide kunstenaar en aanskouer die moontlikheid bied om die emosionele kompleksiteit rakende die kreatiewe proses vas te stel. Emosionele nood spoor individue aan om hulp te soek, en dit is inderdaad een van die aspekte waaraan die

visuele kunste raak; die herstel en ondersoek van emosionele leemtes deur middel van ʼn homeostatiese skeppingsproses.

Deur gebruik te maak van Plutchik se emosie-model, is die ontwikkeling en belangrikheid van emosies in die bogenoemde homeostatiese skeppingsproses bespreek. Deur die natuurlike verwantskappe van emosies te ondersoek, is die oorsprong van intermediêre emosies soos melankolie en intuïsie, sowel as die homeostatiese prosesse wat hierdie emosies onbewustelik aanspoor in ʼn poging om ʼn emosionele ekwilibrium by die individu te vestig, bepaal.

Die betrokke homeostatiese prosesse word aangedui in die oeuvre-ontleding van Gutter in Hoofstuk Drie en die kunswerkontleding in Hoofstuk Vier. Daar is bevind dat die aspek van plaasaanvalle en plaasgeweld ʼn bekende tema in Gutter se werke is, aangesien dit ʼn direkte invloed op haar lewe gehad het. Gutter maak intuïtief gebruik van die gekose tematiek en poog deur middel van ʼn ruwe tekstuur en skilderproses om haar emosionele response ten opsigte van haar plaaservaringe vas te vang. Die manier waarop sy die tekenmediums gebruik word beskryf as ʼn visuele aanval van merke en kleur op doek. Hierdie term verkry ʼn diepere betekenis vanweë haar metaforiese voorstelling van plaasmoorde. Die geweld hieragter word nie openlik uitgebeeld nie, maar word as ʼn emosionele ekwilibrium in skilderkunstige aspekte beliggaam.

Die taktiliteit van Gutter se werke lei daartoe dat dit emosiebelaaid voorkom. Die dualisme in haar skilderkunstige benadering – energiek en gewelddadig, maar tog ook verfynd en peinsend – verleen aan die kunswerke ʼn bykans impressionistiese oppervlakte, waarvan die taktiliteit en kleurgebruik neig om ʼn soort melankoliese ervaring aan te wakker. Hierdie melankoliese ervaring word aangewakker deur die soms diep-emosionele identifisering van subjekte (mense) en objekte (dinge) in Gutter se werke, wat dan die rol van die object a aanneem.