• No results found

Hierdie verhandeling het ondersoek ingestel na die manier waarop Gutter se kunswerke, genaamd Uit die blou van onse hemel (2004), Misguided sheep (2010),

Circus (2010) en Bull on truck (2005) beskou kan word as ʼn soort homeostatiese

kunsskeppingsproses, waarin die openbaring van melankolie as intermediêre emosie ʼn direkte invloed het op die intuïtiewe, melankoliese ervaring van die werke deur sowel die kunstenaar as aanskouers.

Daar is vanuit ʼn kritiese Lacaniaanse perspektief gewerk om die betrokke kunswerke as die sogenaamde verlore object a te identifiseer waarmee ʼn emosionele verbintenis deur kunstenaar en aanskouer gemaak word. Vanuit die teoretiese begronding is bewys dat melankolie, as intermediêre emosie, ontstaan vanweë ʼn aantal emosionele response op die object a; dat dit ʼn belangrike emosie in die lees en interpretasie van kunswerke is; en ʼn definitiewe rol speel in die intuïtiewe selfbevraagtekeningsproses wat opsigself lei tot ʼn emosionele ekwilibrium.

Nadat Gutter se kunswerke aan die hand van die melankoliese gevoelstoestand, sowel as Lacan se object a ontleed en interpreteer is, is bevind dat die betrokke kunswerke emosiebelaaid en melankolies voorkom as gevolg van die taktiliteit en tematiese inhoud daarvan. Deur die metaforiese gebruik van bekende plaasbeelde soos boere en beeste, skep Gutter ʼn geleentheid vir haarself, sowel as vir die aanskouer, om daarmee te identifiseer. Hierdie kunswerke speel gevolglik ʼn rol as die object a en dien as beginpunt vir ʼn intuïtiewe en melankoliese selfbevraagtekeningsproses ten einde ʼn subjektiewe emosionele ekwilibrium te kan bereik.

Gutter steun op haar eie herinneringe en belewenisse as kind op die plaas en gebruik hierdie persoonlike visuele databank om intuïtief ʼn universele en assosieerbare prentjie te skets wat aan die hand van komplekse prosesse op ʼn melankoliese vlak deur die aanskouer ervaar kan word. Die subjekte in die werke neem gou die posisie van die sogenaamde object a in en die gevolg is dat die kunstenaar en aanskouer ʼn empatiese verbintenis met die subjekte bou; ʼn verbintenis wat verseker dat die individu ten aanskoue van die werk ʼn mate van bepeinsing en selfrefleksie weens gekoppelde assosiasies en herinneringe ondergaan. Haar eie behoefte om kuns te skep is intuïtief van kindsbeen af reeds aangevoel; ʼn stelling wat bevestig word deur onderhoude met Gutter, asook visueel deur dit wat sy kies om in haar werke uit te beeld.

Dit is duidelik vanuit hierdie navorsing en samehangende onderhoude dat sy ʼn praktiese probleem-oplosser is; ʼn eienskap wat weens haar plattelandse grootwordjare ontwikkel is. Sy verwys baie na haar pa – vanuit Freudiaanse perspektief kan geargumenteer word dat sy sterk met haar pa assosieer en is dit hierdie assosiasie wat aan haar ʼn praktiese, dinamiese persoonlikheid verleen. Verder stel sy ook dikwels dat probleme op die plaas onmiddellik opgelos behoort te word, aangesien die naaste dorp ver vanaf die plaas is. Hierdie beskouing word ferm opgesom deur haar aanhoudende gebruik van die frase “’n Boer maak ʼn plan.”, wat ook ʼn verdere aanduiding is van haar strewe na oplossings. Sy is ʼn tipiese boerin en niks staan met haar hande verkeerd nie.

Daar is egter sekere dinge wat Gutter, ten spyte van haar geaardheid, nie kan oplos nie, waaronder plaasmoorde, diereslagting en geweld teenoor vroue. ʼn Melankoliese wroeging word as gevolg hiervan op ʼn subtiele manier in haar werke bespeur, aangesien sy haarself in die magtelose posisie vind om nie fisies iets daaraan te kan doen nie. Dit is myns insiens ʼn werklikheid dat Gutter wel intuïtief, deur die proses van melankoliese bepeinsing en homeostase ʼn manier gevind het om hierdie magteloosheid te konfronteer en die probleme te identifiseer en aan die groot klok te hang. Sy doen dit deur middel van ʼn empatiese-intuïtiewe skeppingsproses en dit is waarom sommige van haar kunswerke so emosioneel sterk voorkom.

Vanuit Gutter se kontak met ander kunssoorte, waaronder dans en musiek, kan die afleiding gemaak word dat sy vanaf ʼn vroeë ouderdom deurlopend besig was om haar estetiese intuïsie te ontwikkel. Op ʼn vreemde manier sou mens kon spekuleer dat hierdie einste vroeë ontwikkeling uiters belangrik was, omdat die amptelike opleiding wat sy aan die Universiteit van die Vrystaat gehad het, soos in baie gevalle gebeur, nie ʼn oorweldigende akademiese en daarom gestruktureerde inhoud en tegniek tot gevolg gehad het nie. Die implikasie is dus dat Gutter van meet af ʼn eie styl kon ontwikkel; ʼn faktor waaraan sy haar buitengewone sukses op ʼn relatief jeugdige ouderdom kon behaal. Gutter het as student haarself verder verdiep in die breër kunswêreld van haar omgewing deur middel van haar kontak met die Oliewenhuis kunsmuseum. Hierdie blootstelling sou uiteraard daartoe bydra om haar volwassenheid as ʼn hoogs empatiese kunstenaar te help vorm.

Gutter het egter ook ʼn sin vir humor en sommige van haar werke is dikwels geneig om in die rigting van satire en selfs ironie te beweeg (vergelyk Fig. 3.3.3). Net soveel as wat sy voel dat ʼn persoon vir hom/haarself moet kan lag, is dit duidelik dat sy ook innerlik die pyn van ander kan aanvoel en saam met hulle kan ween. Sy toon sterk empatie met historiese figure van ons geskiedenis, veral vroue, en dit kan ook as die motivering beskou word van werke waarmee sy tans besig is. Wanneer Gutter egter werke skep, toon sy ʼn soeke na ʼn energie wat die werke vir haar “lewend maak”. Dit sluit aan by Plutchik se emosionele model, waarin emosies voortdurend in ʼn fluktuerende en dinamiese posisie met mekaar omgaan om ʼn emosionele ewewig te bereik. Sy gaan ook intuïtief te werk met hierdie idees en in die proses moet sy dikwels die gebeurtenisse of herinneringe wat voorgestel word in haar werke bepeins en deurdink, wat dus myns insiens ʼn nostalgiese ondertoon daaraan verleen.

Vir Gutter is daar nie ʼn doelbewuste soeke na melankolie nie (Bylaag B, bl. 6), maar soos die navorsing reeds telkemale aangedui het, kom dit intuïtief na vore in haar werke. Die aanskouer maak gevolglik ʼn natuurlike emosionele verbintenis hiermee en deel haar empatiese beskouinge. Hierdie beskouinge en herinneringe word elk individueel vasgevang in haar kuns. Melankolie en nostalgie word gebruik as meganismes om hierdie gevoelens in haar werke vas te vang. Dit kan beskou word as ʼn manier om veral die slagoffers van geweld as object a’s vas te vang, sodat individue bewus kan word van hierdie slegte gebeurtenisse, of herinner kan word aan hul eie sterflikheid.

Wanneer Pauline Gutter se loopbaan tot op die huidige oomblik in oënskou geneem word, en gekorelleer word met haar sukses as ʼn kunstenaar, wil ek tot die gevolgtrekking kom dat dit ʼn gepaste samevatting van hierdie navorsing sou wees om die besluit te neem dat sy in die finale instansie op ʼn hoë vlak van artistieke vergenoegdheid eindig. Dit is daarom myns insiens gepas om te stel dat die melankoliese inhoude van haar werke as ʼn belangrike faktor tot hierdie vergenoegdheid gereken kan word. Gutter se kunswerke, hoewel dit nie haar bedoeling is nie, kan in wese beskou word as ʼn bevestiging van Peter Schwenger se stelling dat melankolie, hetsy intuïtief of doelbewus, selfs in sy/haar mees euforiese oomblikke, ʼn kunstenaar se muse bly en voorts ʼn baie belangrike rol speel in die skep en interpretasie van ʼn kunswerk.