• No results found

Taktiliteit en mediumgebruik

3.4 Kunshistoriese eienskappe van Gutter se werke

3.4.2 Taktiliteit en mediumgebruik

Gutter se skildertegniek is besonder kenmerkend. Haar lyngebruik en kwashale is energiek, dinamies en tasbaar; eienskappe wat sy in die ontwikkeling van haar tegniek self terugtrek na haar lewe op die plaas. Die hardheid, grofheid en tasbare aspekte van die plaas speel ʼn direkte rol in haar gevoel vir die omgewing wat uitgebeeld word in haar kleurvolle en tekstuurryke medium gebruik (Venter, 2014:23). Die taktiliteit in Gutter se werke speel gevolglik ʼn belangrike rol in die melankoliese en emosionele interpretasie van haar kuns.

Peterson (2003:67) stel dat taktiliteit, oftewel die tasbaarheid van kunswerke, gedefinieer kan word deur ʼn objek se visuele of tasbare eienskappe en voorkoms. Hy argumenteer verder dat teksture dikwels in die visuele kunste as ʼn sekondêre element gebruik word met die doel om ʼn konsep te versterk eerder as om ʼn idee te kommunikeer. Bacci en Melcher (2011:120) stel daarteenoor dat die estetiese ervaring van kunswerke net so sterk deur tasbaarheid as sig ervaar kan word. Die taktiliteit in kunswerke is dus van uiterste belang, aangesien dit ʼn empatiese verbintenis, deur middel van die tassintuig, met die betrokke objek bewerkstellig (Bacci & Melcher, 2011:120). Volgens Bacci en Melcher (2011:123) dui taktiliteit voorts op die estetiese spanning binne ʼn kunswerk. Dit word in kunshistoriese terme beskryf as ʼn sintuiglike metode om ʼn sublieme oneindigheid te ervaar; iets wat andersins deur die gebruik van slegs visuele elemente in kunswerke beperk word.

Die taktiliteit van Gutter se werke lei daartoe dat dit bykans altyd emosiebelaaid voorkom. Hierdie “emosionele” gelaagdheid word ervaar via Gutter se dinamiese merkmaking, opbou van kleurlae en gebruik van kontrasterende kleurplasings. Soms word die kunsmedia energiek en gewelddadig aangewend, of soos Van den Berg (2012:3) dit stel as ‘t ware “ontrafel”, maar andersins is die werke tog verfynd en peinsend. Hierdie dualisme in skilderkunstige benadering verleen aan die werke ʼn bykans impressionistiese oppervlakte, met kleur- en tekstuurgebruik (taktiliteit) wat ʼn soort nostalgie aanwakker. Botha (2011:2) bevestig hierdie gevoel wanneer hy stel dat die intense emosiebelaaide energie van die merke op die skilderdoeke omskep word tot bekende ruimtes wat die aanskouer meesleur in ʼn melankoliese ervaring.

Gutter (2013) verduidelik dat hierdie melankoliese ervaringe nie net ontsluit word deur die inhoud van die werke nie, maar soveel sterker deurkom in die taktiliteit daarvan, juis omdat dit haar herinner aan die geskiedkundige gelaagdheid van die plaas. “Vir my

gaan dit juis oor daardie merk wat sterk is,” verklaar Gutter (2013). Sy stel dat die skaal van die werke en die swiepende lyne en krapmerke bepaal hoeveel energie oorgedra word deur ʼn kunswerk. Die “krapperigheid” van haar werke, voel sy ook, pas by die landskapselement van haar skilderye. Gutter (2013) stel dat die krapmerke, kwashale en gekose kunsmedia direk aansluit by die tematiek wat voorgestel word in haar kuns. Die rou pigment is telkens verweef en verknoop tot grinterige teksture en gelaagde oppervlaktes en die skilderkunstige maakproses ontplooi en ontrafel in haar werke tot ʼn buitengewone verskeidenheid van merke en motiewe – soms energiek, hardhandig en selfs geweldadig aangewend, op bepaalde punte “kroes en kras”, by tye egter ook met ʼn uiters behendige en verfynde aanslag (Van den Berg, 2012:3). Gutter (2015:10) beskryf juis haar kuns as verweef en in flux. Sy verkry hierdie gevoel van dinamiese verweefdheid deur die opbou van vorms vanuit kleurlae, ʼn tegniek wat aan haar werke ʼn byna impressionistiese kwaliteit gee.

Ongeag van die aanslag wat Gutter gebruik, bly dit vir haar belangrik dat ʼn kunswerk energie moet hê sodat die kunswerk ná die tyd aan beide kunstenaar en aanskouer daardie energie kan oordra (Gutter, 2013). Haar tegniek is een van die aspekte wat hierdie energie suksesvol oordra – die kragtige lyngebruik en ritmiese, swiepende kwashale boei die aanskouer en sluit uiteindelik ook aan by die krag van die boodskap van die skildertegniek (Venter, 2014:23).

Gutter (2013) vertel dat sy nie net gebruik maak van konvensionele kwaste of tekenmedia wanneer sy skep nie, maar dat sy van enigiets gebruik maak om sekere merke op die werke te laat. Sy doen dit in ʼn poging om haar spesifieke gemoedstoestand of die gevoel van die werk sterker deur middel van die taktiliteit daarvan te kan oordra. In Hoofstuk Een word hierdie kenmerkende Gutter-taktiliteit reeds beskryf as ʼn soort visuele “aanval” van merke en kleur op doek. Dit kan beskou word as ʼn gepaste dog ironiese beskrywing, aangesien Gutter bekendheid verwerf het vir haar werke oor die verskynsel van plaasmoorde, waarin die beskrywende term “aanval” diepere betekenis verkry. Soos reeds genoem word die geweld hieragter nie openlik uitgebeeld nie, maar eerder in die skilderkunstige media beliggaam.

Gutter se skilder- en tekenstyl kan voorts beskryf word as ekspressionisties-realisties en bevat ook elemente van impressionistiese kwaswerk. Volgens Venter (2014:23) varieer haar werke tussen hierdie style. Hy stel dat sommige werke meer ekspressionisties voorkom, terwyl ander meer realisties van aard is of in ander gevalle ʼn impressionistiese tegniek toon. Die impressies wat Gutter deur middel van haar

merkmaking in sommige van haar werke skep, herinner aan sekere impressionistiese skildertegnieke soos byvoorbeeld die plasing van kleure langs mekaar om ʼn gelaagde vorm op te bou (Hodge, 2007:112). Haar kunswerke toon verder dieselfde “vasvang van ʼn oomblik in tyd”-element soos in die Impressionistiese tradisie en die impressionistiese impastomerke maak van haar werke besonders tasbaar (vergelyk 4.2.3; Hodge, 2007:113).