• No results found

VERTROUDMAKING VAN BELANGHEBBENDES MET

Deursigtigheid vereis dat inligting oor owerheidswerksaamhede vir belanghebbendes toeganklik moet wees en aan hulle openbaar gemaak moet word. Ingesetenes en ander belanghebbendes, soos byvoorbeeld belangegroepe, kan nie die effektiwiteit en doeltreffendheid van owerheidswerksaamhede bepaal indien hulle nie oor voldoende inligting oor die resultate van goedgekeurde uitvoeringsprogramme beskik nie. Alle belanghebbendes moet op verskeie wyses, soos byvoorbeeld deur die media, gepubliseerde inligtingstukke en imbizo’s (wat letterlik as “vergaderings met die gemeenskappe” vertaal kan word), op hoogte van bestaande en beplande uitvoeringsprogramme van ‘n regering-van-die-dag gehou word. Die Staatsrede (Plan van Aksie) word byvoorbeeld aan die begin van elke finansiële jaar deur die GCIS in die formaat van ‘n kleurvolle A3-pamflet gepubliseer en in bepaalde koerante (soos byvoorbeeld die Volksblad en Sondagkoerante) aan ingesetenes versprei. Die aangeleenthede ter sprake in hierdie pamphlet, sluit onder meer noemenswaardige mylpale en prestasies deur die regering-van-die-dag behaal in en hoe leemtes in goedere- en dienslewering, soos byvoorbeeld die bou van nuwe klaskamers, aangespreek gaan word (GCIS: Plan van Aksie, 2005).

Ingesetenes in die Republiek van Suid-Afrika is besorg oor openbare aangeleenthede soos onder meer armoede, hoë werkloosheidsvlakke, hoë misdaadsyfers en swak dienslewering deur openbare instellings. Die regering- van-die-dag moet verseker dat voldoende inligting oor hulle uitvoeringsprogramme vir die aanspreek van byvoorbeeld armoede, openbaar gemaak word. Openbare instellings moet verseker dat inligting oor onder meer hulpbronne aangewend, personeeluitgawes aangegaan en toerusting deur hulle gedurende die afgelope finansiële jaar aangekoop, in hul jaarverslae gepubliseer word. Jaarverslae moet ook inligting bevat oor die effektiwiteit en doeltreffendheid van goedere- en dienslewering deur openbare instellings.

Instellings moet redes vir swak goedere- en dienslewering en maatreëls om te verseker dat hierdie leemtes gedurende die nuwe finansiële jaar aangespreek sal word, verskaf (Kwazulu-Natal Provincial Government, 2003).

Sekoto & Van Straaten (1999:111) verklaar dat oop en deursigtige regering verseker dat ingesetenes tot verbeterde goedere- en dienslewering kan bydra aangesien korrekte en voldoende inligting vir die evaluering van owerheidswerksaamhede beskikbaar is. Openheid in die openbare sektor behels onder meer dat:

die publiek voldoende kennis dra van hoe besluite in die openbare sektor geneem word;

die beginsels van die openbare besluitnemingsprosesse aan ingesetenes bekend is; en

voldoende inligting oor openbare aangeleenthede aan die publiek beskikbaar is en sodoende versekering bied dat hulle ten volle aan die openbare besluitnemingsprosesse kan deelneem (Hunt 1995:12).

Ingevolge die Witskrif vir Transformasie van Openbare Dienslewering (1997:20) is dit noodsaaklik om ‘n vertrouensverhouding tussen ‘n regering-van- die-dag en ingesetenes te kweek deur laasnoemde in te lig oor onder meer:

die wyse waarop die nasionale- en provinsiale owerheidsinstellings bestuur en administreer word;

hoe effektief hierdie openbare en provinsiale instellings funksioneer, al dan nie;

wie in beheer van hierdie owerheidsinstellings is ten einde rekenpligtigheid af te dwing.

‘n Verdere aspek wat aandag moet geniet, is die gebruik van imbizo’s om ingesetenes op hoogte van goedgekeurde owerheidswerksaamhede te hou. Die

imbizo-program van die Suid-Afrikaanse Regering is in 2001 geloods met die

doel om nouer samewerking tussen die nasionale-, provinsiale- en regionale owerheidsvlakke aan die een kant en ingesetenes aan die ander kant teweeg te bring. Met imbizo’s word gepoog om interaksie tussen die senior uitvoerende amptenare en ingesetenes te bevorder. Dit stel ook die Regering in staat om die goedgekeurde uitvoeringsprogramme en die vordering wat daarmee gemaak word, direk aan die ingesetenes te kommunikeer (GOVZA: Imbizo index page, 2003).

Tydens imbizo’s word bepaalde vraagstukke, soos byvoorbeeld swak goedere- en dienslewering in ‘n bepaalde area, struikelblokke vir die implementering van beleid(e), of die hersiening van beleidsareas (soos byvoorbeeld die regulering van rook in openbare areas) aangespreek. Die publiek kan insette lewer oor moontlike oplossings vir die uitdagings en vraagstukke ter sprake. Hierdie geleenthede bied aan die President en ander hooggeplaastes in die Regering direkte toegang tot die menings van ingesetenes oor die gehalte van goedere- en dienslewering wat deur hulle ervaar word. Kennis kan ook geneem word van die kwellinge, griewe en advies van ingesetenes oor die tempo waarteen owerheidswerksaamhede afgehandel word (GOVZA: Imbizo index page, 2003).

Die doel van direkte interaksie tussen die ingesetenes en ‘n regering-van-die- dag, soos imbizo’s, is derhalwe om ingesetenes in staat te stel om die effektiwiteit van ‘n regering-van-die-dag in die uitvoering van sy werksaamhede te kontroleer en om stappe te neem waar daar gebrekkige goedere- en dienslewering ter sprake is. By ‘n imbizo word byvoorbeeld vereis dat waar aangeleenthede geopper word wat nie onmiddellik opgelos kan word nie,

stelselmatig daarvan kennis geneem word en dat die relevante/gepaste owerheidsgesag tot aksie moet oorgaan. Vir hierdie doel het die Beleiddirektoraat van die GCIS saam met die Beleidkoördinerings- en Adviseringsdiens van die President hulle gesamentlik beywer om ‘n stelsel te vestig om die aangeleenthede wat geopper word so gou as moontlik aan te spreek. Die terugvoer wat tydens die fokusweke vanaf die ingesetenes verkry word, word ook deur die Beleiddirektoraat van die GCIS hersien om te verseker dat effektiewe terugvoering en opvolging van bepaalde kwessies teweeg gebring word (Trew 2002:3).

In die volgende paragrawe word maatreëls wat die Suid-Afrikaanse Regering ingestel het om ingesetenes met uitvoeringsprogramme vertroud te maak, onder die loep geneem.

(i) Gedurende 1998 het die Kabinet van die Suid-Afrikaanse regering ‘n inligtingstegnologie-strategie vir al drie regeringsvlakke goedgekeur. Een van die sleutelelemente van hierdie strategie was om die tegnologiese kapasiteit van die Regering-van-die-dag te verbeter deur ‘n aantal tegnologie-projekte te skep. ‘n Verdere noodsaaklike element behels die verbetering van goedere- en dienslewering aan alle ingesetenes deur middel van openbare inligtingsterminale. Die benutting van inligtingstegnologie stel ‘n regering-van-die-dag in staat om effektiewe, doeltreffende en gestandaardiseerde dienste aan ingesetenes in alle gebiede op ‘n 24-uur grondslag te lewer deur onder meer openbare inligtingsterminale (PIT – Public Information Terminals) en gemeenskapsinligtingsentrums. Die resultate hiervan is ‘n veel meer dinamiese interaksie tussen ‘n regering-van-die-dag en die ingesetenes asook ‘n aansienlike afskaling van burokratiese rompslomp. Op hierdie wyse word ‘n toename in die effektiwiteit en doeltreffendheid van ‘n regering-van-die-dag bereik, korrupsie en bedrog verminder en ingesetenes se toegang tot owerheidsinligting verbeter.

(ii) ‘n Inligtingsportaal genaamd “Gateway” is in werking gestel om inligting oor die goedgekeurde uitvoeringsprogramme van die Regering aan ingesetenes via die Internet beskikbaar te stel (mededeling: mnr. G. Zeeman, Adjunk-direkteur: Kommunikasie (GCIS), Bloemfontein: 27 Julie 2005).

(iii) Gemeenskapsontwikkelingswerkers is in elke munisipaliteit in die Republiek van Suid-Afrika ontplooi om ingesetenes binne hulle gemeenskappe oor regeringsaangeleenthede, soos byvoorbeeld hoe toegang tot owerheidsinligting en -dienste verkry kan word, in te lig (GCIS: Plan van Aksie, 2005).

(iv) Wetgewende instellings in die Republiek van Suid-Afrika het uitreikingsprogramme wat spesifiek ten doel het om landelike gemeenskappe te bereik, in werking gestel. Strategieë wat deur provinsiale wetgewende instellings benut word om na kleiner sentra in die provinsies uit te reik, is byvoorbeeld die reël van openbare verhore in kleiner dorpe, besoeke van wetgewende komitees aan landelike gemeenskappe en die gebruik van plaaslike- en gemeenskapsradiostasies om spesifieke gemeenskappe te bereik (De Villiers, 2001). Die doel met hierdie uitreikingsprogramme is om ingesetenes wat nie aan georganiseerde instellings behoort en dié wat nie oor genoegsame hulpbronne (byvoorbeeld geld en vervoer) beskik om inligting oor owerheidswerksaamhede te verkry nie, te bereik. Tydens die uitreikingsprogramme word werkswinkels en opleidingsprogramme vir ingesetenes aangebied ten einde ‘n begrip by laasgenoemdes te kweek van hoe ‘n demokratiese regering funksioneer. ‘n Gebrek aan kennis oor die verantwoordelikhede van die Suid-Afrikaanse Regering kan tot gebrekkige deelname deur ingesetenes aan openbare besluitneming lei.

(v) Die wetgewende gesag hou ingesetenes verder op hoogte deur die instelling van die Nasionale Jeugparlement en Vroueparlement wat daarop gemik is om spesifieke groepe ingesetenes in die rolle en funksies van wetgewende instellings op te lei (De Villiers, 2001).