• No results found

Kommissies van ondersoek kan enige aangeleentheid van openbare belang of van belang vir ‘n regering-van-die-dag ondersoek. Die effektiwiteit van hierdie kommissies is daarin geleë dat hulle in hul ondersoek slegs op ‘n bepaalde aangeleentheid fokus en soveel navrae as moontlik kan doen om die betrokke aangeleentheid tot op die been oop te vlek. Kommissies van ondersoek kan aangestel word indien:

‘n ooweldigende openbare angstigheid oor ‘n aangeleentheid bestaan;

omvangryke gebreke in die uitkomste/resultate van ‘n regering-van-die-dag blyk betrokke te wees;

omstandighede wat tot die ondersoek aanleiding gee, uniek is, met slegs ‘n beperkte aantal presedente;

die aangeleentheid nie deur die benutting van byvoorbeeld geregshowe of deur die Openbare Beskermer opgelos kan word nie; en

die aangeleentheid binne ‘n area resorteer wat relatief té nuut, kompleks of kontroversieël is om beleidsbesluite daaroor te kan neem (The Department of Internal Affairs, New Zealand, 2005).

Onafhanklike kommissies van ondersoek kan aangestel word om aanklagtes van korrupsie in spesifieke gevalle te ondersoek, soos byvoorbeeld die Skweyiya Kommissie van Ondersoek wat die korrupte praktyke van verskeie openbare amptenare en die misbruik van openbare gelde in die voormalige Bophuthatswana-regering ondersoek het (Die Volksblad, 24 Augustus 2004).

‘n Verdere voorbeeld van ‘n kommissie van ondersoek is die Heath-eenheid, wat aangestel is om die Regering se omstrede wapentransaksie van R30 miljard saam met die Openbare Beskermer, Ouditeur-generaal en die Nasionale Vervolgingsgesag moes ondersoek. Nog ‘n voorval waar ‘n spesiale ondersoekeenheid aangestel is, is dié van mnr. Willie Hofmeyr wat in 2004 die Quakeni-munisipaliteit, wat R33 miljoen sonder enige goedkeuring spandeer het, moes ondersoek en aanbevelings maak. Hierdie Kommissie moes voorts die Oos-Kaapse regering help om die chaos in die goedere- en dienslewering van die plaaslike raad te herstel deur byvoorbeeld verkwiste openbare geld vanaf raadslede te herwin (Die Volksblad, 24 Augustus 2004).

5.11 GEKOSE KOMITEES VAN ‘N WETGEWER

‘n Wetgewende gesag word deur die kiesers verkies en is derhalwe direk vir die beheer oor die invordering, bewaring en besteding van openbare geld

verantwoordelik. Die wetgewer is verplig om reëlings te tref wat daartoe sal bydra om finansiële administrasie op ’n geordende en reëlmatige wyse te laat verloop. Die wetgewer beskik nie oor genoegsame tyd om rekenpligtige beamptes van die onderskeie owerheidsinstellings self te ondervra nie en wys derhalwe ‘n komitee oor openbare rekeninge aan om openbare verantwoording namens hom te hanteer. Die komitee oor openbare rekeninge lewer verslag en maak aanbevelings aan die betrokke wetgewer. Op hierdie wyse aanvaar ‘n wetgewer finale verantwoordelikheid na oorweging en goedkeuring van die aanbevelings van die komitee, vir alle owerheidshandelinge en moet uiteindelik aan die kiesers verantwoording doen (Oosthuizen 1997:8).

Parlementêre komitees beskik oor die bevoegdheid om enige aspekte van wetgewende programme, soos byvoorbeeld die begroting, herstrukturering en rasionalisering in die openbare sektor en beleidformulering, te monitor, ondersoek, navrae te doen en aanbevelings daaroor te maak. Hierdie komitees moedig die ontwikkeling van individuele en kollektiewe spesialisering in verskeie beleidsrigtings aan wat tot voortreflike beleide en wette aanleiding gee en effektiewer oorsig/toesig oor die uitvoerende gesag moontlik maak (De Villiers, 2001).

Verskillende soorte parlementêre komitees kan geïdentifiseer word, te wete:

Portefeulje-komitees

Hierdie komitees bestaan binne die Nasionale Vergadering en in elke provinsiale wetgewer. Die taak van portefeulje-komitees is om die aktiwiteite van openbare instellings namens ‘n wetgewende gesag te monitor. Op nasionale owerheidsvlak is elke portefeuljekomitee vir ‘n spesifieke instelling of department, soos byvoorbeeld die departmente van onderwys, behuising of gesondheid, verantwoordelik en kan binne ‘n bepaalde departement ondersoeke doen en aanbevelings maak wat byvoorbeeld met wetgewing, die begroting,

herstrukturering, menslike hulpbronne, beleidformulering of enige ander relevante aangeleentheid verband hou. Provinsiale wetgewers beskik dikwels nie oor portefeuljekomitees vir elke departement nie. Sodanige komitees bevorder deursigtigheid omdat hulle verteenwoordigend van die kieserspubliek is en in die openbaar van hulle bevindinge verslag doen.

Dit is die verantwoordelikheid van portefeulje-komitees (ook na verwys as ex-

ante komitees) om ‘n toesigrol oor die onderskeie departemente te vervul, deur

onder meer:

owerheidswerksaamhede/resulte en die aanwending van openbare geld wat aan departemente toegesê is, te monitor ten einde te bepaal of goedgekeurde owerheidsprogramme uitgevoer word om beleidsdoelwitte te bereik;

departementele kwartaalverslae ten opsigte van tekorte op begrote inkomste, oor- en onderbesteding en ‘n projeksie van uitgawes en inkomste vir die huidige finansiële jaar na te gaan;

te verseker dat departemente oor strategiese planne beskik waarin hulle aantoon hoe hul begrotings benut gaan word om owerheidsbeleid(e) te bereik; en

te verseker dat departemente die bevindinge/aanbevelings van openbare rekeninge komitees (nasionale- en provinsiale vlakke), soos deur die Parlement aanvaar, implementeer (95th Report of the Standing Committee on

Public Accounts 2003:3).

‘n Voorbeeld waarna verwys kan word is die portefeulje-komitee vir vervoer, onder voorsitterskap van Jeremy Cronin, wat by die streng toesighouding oor die Gautrein-projek vir die 2010 Wêreldsokkertoernooi betrokke is. Hierdie Komitee

het byvoorbeeld in 2005 bevind dat die projekkostes vir hierdie hoëspoed-trein vanaf die aanvanklike R7 biljoen na R20 biljoen gestyg het en het ‘n verslag uitgereik waarin ernstige bekommernisse oor die projek uitgespreek word (February 2005:1). Hierdie verslag is sonder teenkanting aanvaar wat beteken het dat hierdie komitee daarin geslaag het om nie slegs die uitvoerende gesag tot verantwoording oor die projek te roep nie, maar ook daarin geslaag het om ‘n openbare debat oor hierdie aangeleentheid aan te wakker en bewerkstellig het.

Gekose komitees

Gekose komitees vervul ‘n soortgelyke rol as die portefeuljekomitees, maar word slegs in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aangetref. Anders as in die Nasionale Vergadering word daar nie in die NRP vir elke department ‘n gekose komitee aangestel nie. ‘n Enkele gekose komitee behartig ‘n groep (cluster) verwante owerheidsfunksies, soos byvoorbeeld justisie, veiligheid en sekuriteit en verdediging (De Villiers, 2001).

Staande komitees

Staande komitees is permanente komitees wat ‘n spesifieke departement of funksie op ‘n aaneenlopende basis monitor. In teenstelling hiermee word tydelike

ad-hoc komitees gevorm om aan spesifieke aangeleenthede aandag te skenk en

ontbind ná afhandeling van hulle mandaat (De Villiers, 2001). ‘n Voorbeeld van ‘n staande komitee is ‘n komitee wat ‘n bepaalde grondeis moet ondersoek en wat na afhandeling van hulle taak ‘n aanbeveling(s) maak waarna hul ontbind.

Gesamentlike staande komitees

Gesamentlike staande komitees is permanente wetgewende komitees wat lede van beide die Nasionale vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies insluit (De Villiers, 2001).

Openbare rekeninge komitees

Openbare rekeninge komitee(s) word in die Nasionale Vergadering aangestel, bekend as die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SKOOR) en by elkeen van die provinsiale wetgewers waar hulle bekend staan as Provinsiale Komitees oor Openbare Rekeninge (PROKOR). As staande komitees het hulle die verantwoordelikheid om finansiële- en ouditverslae wat deur die wetgewers, afkomstig van die Ouditeur-generaal, na hul verwys word, te oorweeg en aanbevelings aan die betrokke wetgewer te maak. Openbare rekeninge komitees is verplig om wetgewers by te staan ten einde te verseker dat openbare instellings byvoorbeeld binne hulle begrotings funksioneer en volgens die doelwitte wat deur die wetgewers bepaal is, openbare fondse bestee. Die openbare rekeninge komitees is ook behulpsaam om die uitvoerende gesag oor hulle finansiële bestuur tot verantwoording te roep. ‘n Komitee oor openbare rekeninge is die meganisme waardeur ‘n wetgewende gesag beheer oor die besteding van openbare geld uitoefen ten einde aan die behoeftes van die land en/of provinsie te voldoen.

Die missie van ‘n komitee oor openbare rekeninge kan soos volg omskryf word: Komitees oor openbare rekeninge moet op ‘n onpartydige en apolitiese wyse indringende ondersoeke loods ten opsigte van finansiële administrasie en bydra dat die uitvoerende gesag tot verantwoording vir die besteding van openbare geld geroep word en sy rentmeesterskap oor staatsbates om ordelike, ekonomiese en doeltreffende staatsbesteding te verseker. Sodanige komitees moet bevoeg wees om die versekering te gee dat ‘n regering-van-die-dag waarde vir geld ontvang en dat openbare gelde en bates doeltreffend bestuur word. Deur sodanige versekering word die algemene publiek se vertroue in staatsinstellings versterk (Oosthuizen 1997:9).

Aangesien hierdie komitees die kritiese aspekte van openbare finansies ondersoek, is dit van kardinale belang dat hulle effektief en doeltreffend

funksioneer en dat hul besluite nie deur partypolitieke verskille beïnvloed word nie. Hierdie komitees is nie effektief wanneer lede daarvan poog om polities te funksioneer in plaas van om te bepaal of belastingbetalers waarde vir hulle geld ontvang het (February 2002:2).

Wanneer SKOOR/PROKOR ‘n verslag van die Ouditeur-generaal oor moontlike fiskale ongerymdhede ontvang, moet hulle sodanige aangeleentheid ondersoek. Hierdie komitee(s) beskik oor die gesag om die betrokke partye soos byvoorbeeld ‘n rekenpligtige beampte tot verantwoording te roep en hulle werksaamhede in die verband aan die komitee verduidelik. Nadat die ondersoek afgehandel is, berei die komitee(s) ‘n verslag van hulle bevindinge voor wat aan die wetgewer voorgelê word vir oorweging. Partye wat deur die aangeleentheid geaffekteer word, verkry 60 dae om op die bevindinge van die verslag te reageer en die aangeleentheid aan te spreek (February 2002:1).

PROKOR in die Vrystaat Provinsie lê hulle besluite/aanbevelings in die wetgewer ter tafel en indien dit aanvaar word, is dié aanbevelings afdwingbaar. Die Tesourie is verantwoordelik vir die monitering van die aanbevelings. Sedert 1994 het die sukseskoers van die implementering van aanbevelings deur openbare instellings met 70% verbeter (mededeling: mnr. A. Oosthuizen, 10 November 2005). Volgens mnr. Oosthuizen speel die media ‘n noodsaaklike rol om te verseker dat die proses deursigtig bly, aangesien ingesetenes nie op ‘n daaglikse grondslag die verhore kan volg nie en die media hulle belange derhalwe deur middel van verslaggewing verteenwoordig.

PROKOR beskik voorts oor die bevoegdheid om ‘n rekenpligtige beampte tot verantwoording te roep en ‘n beampte te straf met gevangenisstraf, sonder die keuse van ‘n boete indien nalatigheid bewys kan word. Deursigtige regering word bevorder deurdat PROKOR se sittings vir die algemene publiek en die media by ondervraging oop is en hulle verslae ook openbare dokumente is. Voorts beskik PROKOR ook oor die bevoegdheid om enige amptenaar te