• No results found

INVLOED VAN DEURSIGTIGHEID OP BESLUITNEMING

Ingesetenes kan as “vennote” van ‘n regering-van-die-dag in die aanspreek van openbare vraagstukke, soos byvoorbeeld die herverdeling van grond, en die ontwikkeling van doeltreffende en effektiewe langtermyn-oplossings vir openbare vraagstukke beskou word. Finale besluite oor aangeleenthede van openbare belang moet nie slegs deur leidinggewende amptenare in openbare instellings geneem word nie, maar ingesetenes moet meewerk om vraagstukke te identifiseer en strategieë te ontwikkel vir die aanspreek daarvan (Idasa: FAQ Topics – Political Governance, s.a.).

Ingesetenes, as belastingbetalers, is geregtig daarop om ingeligd te wees oor en deel te neem aan besluitneming by plaaslike, regionale en nasionale owerhede.

Wet 108 van 1996 bepaal dat ingesetenes eerstens aan openbare vergaderings

mag deelneem deur hulle menings tydens die debattering van konsepwetgewing te lug; en tweedens geskrewe voorstelle/menings rakende die konsepwetgewing wat volgens hul ‘n omvangryke impak op die samelewing gaan uitoefen, mag identifiseer en hul menings daaroor lug. Artikel 195 van Wet 108 van 1996 bepaal onder meer dat soveel as moontlik ingesetenes by besluitneming oor openbare aangeleenthede betrek moet word. Deelnemende besluitneming impliseer dat ingesetenes en ander belanghebbendes vereis dat voldoende

inligting wyd versprei moet word en dat terugvoering oor hierdie inligting aan ‘n regering-van-die-dag verskaf word alvorens finale besluite oor die betrokke aangeleenthede geneem word. Dit is slegs moontlik indien geheimhouding beperk word en meer openheid en deursigtigheid van owerheidswerksaamhede en –besluite beklemtoon word (Malefane 2003:20).

Onlangse uitsprake deur die Grondwetlike Hof benadruk en verseker voortrefliker deelname van ingesetenes aan beleidbepalingsprosesse in die toekoms. Ter illustrasie van deelnemende besluitneming, kan na die onlangse hofsaak wat in die Grondwetlike Hof gedien het, waarby die Doctors’ for Life International ook betrokke was, verwys word. Hierdie Hof het onder meer die wysigings van die

Wet op die Keuse vir die Beëindiging van Swangerskappe, 2004 (Wet 38 van

2004), ongeldig verklaar weens die gebrekkige nakoming van prosedures wat deur die Parlement bepaal is (onvoldoende deelname van en insette deur die publiek aan die beleidbepalingsproses). Op nasionale owerheidsvlak het die Nasionale Vergadering openbare verhore gereël om die wysigings met belanghebbendes te bespreek, maar die Nasionale Raad van Provinsies het daarin misluk om openbare provinsiale verhore te verseker. In sy uitspraak het die Hof na die Parlement se grondwetlike vereiste om sy aktiwiteite “met die behoorlike inagneming van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie, verantwoording, deursigtigheid en openbare betrokkenheid uit te voer,” verwys (Seedat 2006:1).

Hierdie optrede was in stryd met die Regering se beleid van deursigtigheid en deelname (verwys na artikel 59 van Wet 108 van 1996 wat onder meer bepaal dat die Nasionale Vergadering openbare betrokkenheid in sy wetgewende en ander prosesse moet fasiliteer); om die gemeenskap en belanghebbendes te betrek wanneer wysigings in hoofsaak finaal geformuleer is, was derhalwe ondeurdag (mededeling per e-pos: S. Seedat: Senior Grondwetlike Navorser, Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika – IDASA. 15 September 2006). ‘n Gevoel is onder belanghebbendes gelaat dat die wysigings aan Wet 38 van 2004

sonder die bydraes van die breë gemeenskap afgedwing sou word. Een van die Parlement se redes vir die versuim om provinsiale verhore te verseker, was ‘n gebrek aan tyd. Die Grondwetlike Hof het egter bevind dat die wetgewende proses die vereiste van openbare deelname moes respekteer. Hierdie deelname moes nie as ‘n struikelblok vir wetgewing beskou word nie, maar eerder ‘n wyse moes wees om die effektiwiteit van wette wat onder meer armoede, sosiale welsyn, behuising en gesondheid insluit, bevorder (mededeling per e-pos: S. Seedat: 15 September 2006).

Om te verseker dat ingesetenes by openbare besluitneming in ag geneem word, moet die publiek inligting oor die onderwerp van bespreking (insluitende die datum en plek van openbare vergaderings) verkry, aan hierdie besprekings deelneem en voorbereid wees met geskrewe, voorgestelde wysigings indien hulle insette wil lewer.

Deursigtigheid verwys na die teenoorgestelde van privaatheid. ‘n Aktiwiteit is deursigtig wanneer alle inligting daaroor vryelik beskikbaar is. Byvoorbeeld waar die publiek tot geregshowe

toegelaat word of wanneer fluktuerende pryse in die finansiële markte en aanpassings in rentekoerse in koerante gepubliseer word, word deursigtige regering bewerkstellig. Wanneer militêre owerhede byvoorbeeld hulle planne as geheim klassifiseer, is deursigtigheid afwesig. Die ideale omstandighede sou wees dat nie slegs alledaagse inligting van belang vir

gemeenskappe vryelik beskikbaar moet wees nie, maar dat sover moontlik, alle openbare besluite gepubliseer moet word. Dit staan as radikale deursigtigheid bekend (Wikipedia, The Free Encyclopedia 2004:2).

Radikale deursigtigheid is ’n bestuursmetode waar bykans alle besluitneming in die openbaar uitgevoer word. Alle konsepdokumente, argumente vir en teen openbare voorstelle, besluite oor die besluitnemingsproses self en openbare finansiële besluite moet openbaar gemaak word en selfs in die argiewe toeganklik wees. Die enigste uitsonderings op volle deursigtigheid behels inligting vir persoonlike sekuriteit, soos byvoorbeeld wagwoorde (“passwords”) wat benodig word om toegang tot byvoorbeeld ‘n bepaalde rekenaarprogram te

verkry of sleutels wat vir fisiese toegang tot ‘n kantoor/kluis benodig word (Wikipedia, The Free Encyclopedia 2004:2).

‘n Gedeeltelike vorm van radikale deursigtigheid word in die Parlement aangetref waar alle besprekings tydens die sittings van die Parlement gevoer, opgeneem en gepubliseer word (Hansard dokumente) en die tekste van voorgestelde konsepwetgewing en goedgekeurde wette in beginsel ook openbare dokumente is. Die Parlement stel soveel as moontlik van die

parlementêre debatte en goedgekeurde wetgewing op Internet beskikbaar ten einde dit vir ingesetenes toeganklik te maak. Wat tot kwelling strek, is dat die aanvanklike tekste van

voorgestelde konsepwetgewing en die besprekings en onderhandelinge oor hierdie konsepwette in parlementêre kommissies en -komitees en tussen politieke partye selde deursigtig is. Voorts bemoeilik die logiese en linguistiese kompleksiteit van nasionale konsepwette openbare deelname (Wikipedia, The Free Encyclopedia 2004:3).

In ‘n demokratiese regeringstelsel behels deursigtigheid dat ingesetenes kennis dra van besluite wat deur ‘n regering-van-die-dag geneem word en wat die besluitnemingsprosesse behels. Toegang tot inligting is noodsaaklik om te bepaal hoe en of hierdie besluite deur ‘n regering-van-die-dag geïmplementeer is. ‘n Gebrek aan deursigtigheid gee aanleiding tot onder meer:

ingesetenes wat, as gevolg van ‘n gebrek aan inligting, nie in staat is om owerheidsaangeleenthede te monitor nie;

besluitneming deur die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag wat deur verborge agendas en/of belange verbloem word;

‘n wetgewende gesag wat nie oor genoegsame inligting beskik om toesig oor ‘n uitvoerende gesag uit te oefen nie, soos byvoorbeeld tydens vraetyd in die Parlement oor bepaalde aangeleenthede aan onderskeie ministers; en

ingesetenes wat nie toegang tot inligting wat hulle benodig om effektief aan die besluitnemingsprosesse van die regering-van-die-dag deel te neem, verkry nie (Idasa: FAQ Topics – Accountability, s.a).

Deursigtigheid in die openbare sektor word verseker indien:

kritieke besluitnemingsessies van die regering-van-die-dag vir bywoning deur die publiek en die media oopgestel is;

openbare ampsbekleders verplig word om hulle belange openbaar te maak;

die reg van die media om inligting oor owerheidswerksaamhede bekend te maak, beskerm word;

gereelde, akkurate en gebruikersvriendelike inligting oor goedgekeurde uitvoeringsprogramme, voorstelle en beleide van ‘n regering-van-die-dag beskikbaar en toeganklik vir die publiek en die media is;

‘n uitvoerende gesag hulle plig om gereelde, toeganklike verslae oor hul werksaamhede in die openbaar beskikbaar te stel, nakom;

daar openbare toegang tot onafhanklike ouditverslae oor ‘n regering-van-die- dag se bestedingspatrone is; en

parastatale instellings (openbare entiteite, soos byvoorbeeld Telkom) oor hulle werksaamhede en fiskale bestuur in die openbaar verantwoording doen (Idasa: FAQ Topics – Accountability, s.a).

Ingesetenes is geneig om ‘n regering-van-die-dag te wantrou indien beperkte of geen inligting oor owerheidswerksaamhede en –beleide beskikbaar is nie. Mense vrees die onbekende; derhalwe is inligting en kommunikasie van uiterste

belang om begrip en verdraagsaamheid teenoor owerheidswerksaamhede by ingesetenes te verseker en te kweek (Van der Waldt 1999:161).

4.5 BEVORDERING VAN DEELNAME VAN BELANGHEBBENDES BY