• No results found

BEVORDERING VAN MAKRO-EKONOMIESE GROEI EN

Fiskale deursigtigheid word deur internasionale instellings as ‘n positiewe ontwikkeling en ‘n noodsaaklike voorwaarde vir voortreflike ekonomiese beleide beskou. Hoewel daar nie onteenseglik bewys kan word dat fiskale deursigtigheid tot beter beleiduitkomste lei nie, kan heelwat bewyse wel geïdentifiseer word wat daarop dui dat deursigtigheid inderdaad van regerings vereis dat hulle handelinge in die openbaar uitgevoer word; fiskale dissipline bewerkstellig word; en openbare hulpbrontoekenning verbeter word. Fiskale deursigtigheid behels egter nie slegs die bereiking of nie-bereiking van doelwitte nie. Volle deursigtigheid behels ook inligting oor die openbaarmaking om die redes vir die spesifieke doelwitte aangepas moes word, die aannames van voorspelllings wat benut word in die ontwikkeling van spesifieke doelwitte asook die redes vir die wyses waarop resultate behaal is (Kopits & Craig 1998:10).

Volgens Fölscher & Krafchik (1999:5, soos aangehaal in Rubimbwa 2000:1), verwys deursigtigheid in ‘n begroting na “… the availability, breadth, quality, timeliness and, usefulness of information on fiscal issues, institutional processes and roles.” Die begrip “begrotingsdeursigtigheid” omvat ‘n etos van finansiële besluitneming en impliseer ‘n geleentheid vir belanghebbendes om insette in die begrotingsproses te lewer, in teenstelling met begrotingsbesluite en handelinge wat agter ‘n ondeursigtige gordyn geneem word.

Voortreflike fiskale bestuur behels bepaalde fundamentele aspekte, te wete owerheidsfinansies wat op ‘n stewige grondslag gefundeer is, beheer oor die skuldlas van ‘n regering-van-die-dag en doeltreffende fiskale beleide oor onder meer belastingtariewe. Fiskale deursigtigheid verwys na die openheid oor onder meer die organisatoriese samestelling en funksies van openbare instellings, die doelwitte (intentions) met die fiskale beleid, die samestelling van openbare begrotings en ekonomiese vooruitskattings van openbare instellings. Fiskale

deursigtigheid verseker dat die publiek voldoende ingeligd is om aktief aan openbare debatte deel te kan neem en ‘n regering-van-die-dag meer aanspreeklik vir die ontwerp en implementering van hulle fiskale beleide is (Potter 1999:4).

Dit is noodsaaklik dat ‘n regering-van-die-dag omvattende, betroubare en verstaanbare inligting oor sy fiskale aktiwiteite aan ingesetenes en ander belanghebbendes beskikbaar stel. Die begrotingsproses moet vir die publiek oop wees en ingesetenes moet verantwoording oor die resultate wat met openbare fondse bereik is, van die wetgewende gesag kan afdwing. ‘n Regering-van-die- dag moet daarop bedag wees om nie aansienlike administratiewe hulpbronne in die voorbereiding van ‘n begroting te belê en met die implementering daarvan te vind dat dit onuitvoerbaar is aangesien dit op onrealistiese inkomste- voorspellings gebaseer is nie (telefoniese mededeling: mnr N. Kunene: Direktoraat: Begrotingsbestuur, Vrystaatse Tesourie. Bloemfontein: 12 Junie 2006).

Die tydige publikasie van begrotingsdokumente volgens ‘n gestandaardiseerde formaat stel ingesetenes en ander belanghebbendes in staat om openbare doelwitte (goedgekeurde uitvoeringsprogramme) te evalueer en om dissipline oor owerheidswerksaamhede uit te oefen deur verantwoording af te dwing (Kopits & Craig 1998:13). Soos reeds in ‘n vorige hoofstuk verklaar (kyk bladsye 19-21), word die noodsaaklike rol van deursigtigheid in die bevordering van voortreflike regering wyd erken. Ten spyte van die inherente ingewikkeldheid om die verband tussen deursigtigheid aan die een kant en fiskale dissipline en ekonomiese prestasie aan die ander kant te bewys, kan die stelling gemaak word dat fiskale deursigtigheid tot makro-ekonomiese stabiliteit en die doeltreffendheid, regverdigheid en toenemende geloofwaardigheid van ‘n regering-van-die-dag bydra (Kopits & Craig 1998:13).

Deursigtigheid in owerheidswerksaamhede verhoog die politieke risiko van nie- volhoubare beleide, terwyl ‘n gebrek aan deursigtigheid veroorsaak dat fiskale verkwisting vir ‘n geruime tydperk ongemerk kan voortgaan. ‘n Deursigtige openbare finansiële rekeningkundige stelsel stel belanghebbendes byvoorbeeld in staat om die werklike resultate van ‘n regering-van-die-dag te bepaal en dit met die beplande finansiële werksaamhede te vergelyk (Kopits & Craig 1998:2). Fiskale deursigtigheid (insluitende byvoorbeeld oop verkrygingspraktyke (procurement) fasiliteer nie slegs die bereiking van basiese makro-ekonomiese beleidsdoelwitte nie, maar verhoog ook die produktiwiteit wat met openbare geld behaal word.

Deursigtige regering is noodsaaklik vir ‘n land se ekonomie aangesien dit die verbeterde toedeling van openbare hulpbronne teweeg bring, doeltreffendheid van goedere- en dienslewering verbeter en die vooruitsigte op ekonomiese groei bevorder. Die bekendmaking van finansiële inligting verseker dat geld vir die befondsing van hoë-prioriteit openbare programme aangewend word en versekder derhalwe doeltreffende goedere- en dienslewering (Viswanath & Kaufmann 1999:5). Die bekendstelling van die mediumtermyn- begrotingsraamwerke en implementering van Wet 1 van 1999 wat deursigtigheid en verantwoording aan die publiek oor begrotingsaangeleenthede verseker en bevorder, het aanleiding tot beter kwaliteit goedere- en dienslewering en die herstel van die geloofwaardigheid van die Regering by ingesetenes en oorsese beleggers bygedra. Geen goedere- en dienslewering is moontlik sonder verantwoording en geen verantwoording is moontlik sonder oorsig/toesig oor openbare instellings nie (95th Report of the Standing Committee

on Public Accounts 2003:2).

Die volgende aspekte dien as ‘n samevatting van voortreflike praktyke vir institusionele deursigtigheid wat makro-ekonomiese stabiliteit bevorder en groter vertroue in owerheidswerksaamhede bewerkstellig, te wete:

gedetailleerde openbare verklarings oor fiskale doelwitte en -prioriteite in die konsepbegroting (“mini-begroting” wat gedurende Oktober van ‘n finansiële jaar deur die Minister van Finansies aangekondig word);

die voer van openbare debatte in die wetgewende gesag oor owerheidsaangeleenthede voordat programme goedgekeur word;

die deursigtige uitvoering van goedgekeurde owerheidsprogramme en voldoende beheer oor onder meer aankope in die openbare sektor (streng toepassing van tenderprosedures) ;

die bekendmaking van die resultate van owerheidswerksaamhede en finansiële oudits van die Ouditeur-generaal ten einde verantwoording af te dwing;

die heffing van verskillende soorte belastings wat by wyse van ‘n statutêre basis onderlê en ingesetenes wat hieroor opgevoed en ingelig word;

die beskikbaarstelling van inligting oor die administratiewe prosedures oor byvoorbeeld die indiening van belastingopgawes; belastingbetalersregte en verpligtinge; en die gedragskodes van belastingbeamptes;

die bekendmaking van onder meer rentekoerse en hoe die regering-van-die- dag sy tekorte in die begroting gaan aanspreek; en

verstaanbare finansiële wette en streng beheer oor die implementering daarvan (Kopits & Craig 1998:9).

Fiskale ontwikkelings, soos onder meer die stel van fiskale doelwitte en die terugvoer oor resultate gemeet aan die vooropgestelde doelwitte, moet nie in

isolasie van die algehele vraag na deursigtigheid in die aktiwiteite van ‘n regering-van-die-dag beskou word nie. Deursigtigheid in owerheidswerksaamhede word toenemend as ‘n belangrike voorvereiste vir voortreflike regering en volhoubare ekonomiese groei beskou. Dit is ook ‘n belangrike aspek vir die behoud van vertroue in ‘n regering-van-die-dag en volgehoue steun vir ‘n demokratiese bestel (ANON [Mixed signals on government information] 2001:2).