• No results found

BEWERKSTELLIGING VAN OPENBARE

Ingevolge artikel 195 van Wet 108 van 1996 word openbare verantwoording as een van die demokratiese beginsels wat deur die Regering-van-die-dag nagestreef moet word, beklemtoon. Tradisioneel word verantwoording omskryf as die verpligting van openbare instellings/amptenare om ‘n verslag te publiseer, maar volgens Gloeck (1996:9) kan openbare verantwoording as die verpligting van ‘n openbare instelling beskou word om sy resultate aan openbare ondersoek bloot te lê. Openbare verantwoording bemagtig derhalwe ingesetenes om deursigtige en voortreflike regering van openbare instellings te eis. Loots (1991:201) beskou verantwoording as ‘n verpligting om ‘n verantwoordelikheid wat aan ‘n persoon opgedra is, te verantwoord. Die afleiding kan derhalwe gemaak word dat openbare verantwoording die verpligting is om in die openbaar ten opsigte van bepaalde verantwoordelikhede rekenskap te gee (McCandless 1993:14). Verantwoording behels onder meer die stel van vrae deur een betrokke politieke party en die beantwoording van hierdie vrae deur die verantwoordelike, bewindhebbende politieke party.

Openbare verantwoording word deur ‘n regering-van-die-dag as ‘n voorvereiste vir die doeltreffende lewering van openbare goedere en dienste beskou (Paul 1991:5, soos aangehaal in Gloeck 1996:8). Volgens Ayeni (1998:1) “… the concept of accountability is often used as a basic benchmark against which systems of governments can be judged. Accountable government is deemed to be good government, and carries with it connotations of advanced democracy.” Openbare verantwoording verwys verder na die verantwoordelikheid van amptenare en instellings om die openbare belang te dien, wyses waarop die

misbruik van gesag verminder kan word en strategieë om te verseker dat dié aan bewind hulle werksaamhede volgens aanvaarbare standaarde uitvoer. Indien openbare instellings nie voornoemde verantwoordelikhede nakom nie, moet stappe teen hulle geneem word. Verantwoording verwys derhalwe na meer as bloot ‘n taak om antwoorde aan belanghebbendes te verskaf.

Die druk vanaf ingesetenes en belanghebbendes vir voortreflike verantwoording deur openbare amptenare neem toe namate die openbare sektor die wyse van goedere- en dienslewering aan die ingesetenes verander en laasgenoemde, as belastingbetalers, meer deursigtigheid vanaf die regering-van-die-dag oor hul werksaamhede en besluite vereis. Die doelwitte wat met voortreflike verantwoording nagestreef word, sluit onder meer die volgende in, te wete:

om die noodsaaklikheid van voortreflike resultate te beklemtoon deur onder meer prestasiemaatstawwe vir openbare amptenare vas te stel ten einde te verseker dat amptenare verslag oor hulle werksaamhede/resultate lewer en hul sodoende verplig om hul werksaamhede effektief en doeltreffend uit te voer;

om maatreëls (reëlings) vir verantwoording meer deursigtig te maak, soos om byvoorbeeld die publiek van die Batho Pele-beginsels bewus te maak; en

om die openbare sektor en die publiek se begrip van effektiewe en doeltreffende verantwoording te bevorder (Treasury Board of Canada, Secretariat 2002:7).

Deur die klem op resultate te plaas, word verseker dat effektiewer verantwoording oor openbare instellings se werksaamhede aan die wetgewende gesag en die publiek gelewer word. Met bonoemde doelwitte voor oë, word

gepoog om aan ingesetenes en ander belanghebbendes ‘n omvattender begrip van die werksaamhede en resultate van ‘n regering-van-die-dag te verskaf.

Volgens Fölscher (1999:1) is die openbare beskikbaarheid van gereelde en bruikbare, hoë kwaliteit inligting oor fiskale en begrotingsbesluite en -resultate ‘n voorvereiste vir verantwoordingdoening. ‘n Gebrek aan verantwoordingdoening moedig korrupsie aan, terwyl ‘n gebrek aan inligting oor die gebruik van openbare hulpbronne enige poging om sanksies teen korrupsie te ondersteun, in die wiele kan ry. Fiskale deursigtigheid lê immers die grondslag vir die bepaling van voorkomende maatreëls om korrupsie teë te werk. Deursigtige begrotingspraktyke vereis ‘n regeringstelsel met ‘n onafhanklike, effektiewe en doeltreffende ouditstelsel en ‘n interne verantwoordingdoening- en inligtingstelsel wat tydige en akkurate inligting kan verskaf (Fölscher 1999:2). Openbare verantwoording is ook op die beginsel van die soewereiniteit van ingesetenes oor die finansiering van owerheidswerksaamhede geskoei. Derhalwe is die verkose politieke ampsdraers en aangestelde openbare amptenare verplig om openbare deelname tydens besluitneming te bewerkstellig en op só ‘n wyse deursigtigheid te verseker en te bevorder (Sindane 2002:18). Openbare verantwoording vereis dat inligting ten opsigte van die werksaamhede van openbare instellings (wat die begroting insluit) beskikbaar gestel moet word aan belanghebbendes en dat openbare debatte tussen ingesetenes en verkose verteenwoordigers oor hierdie inligting gevoer kan word (Malefane 2003:27).

Die volgende maatreëls kan onder meer benut word om openbare verantwoording te bevorder, te wete:

die afdwing van waardes en norme ter sprake in die openbare sektor, soos byvoorbeeld om die openbare belang te dien, in teenstelling met die etos (winsmotief) van die private sektor;

toeganklike openbare instellings vir die doeleindes van openbare ondersoek;

die instandhouding van oop kommunikasiekanale deur openbare instellings ten einde ingesetenes se apatiese houding teenoor openbare aangeleenthede aan te spreek;

die ontwerp van eksterne beheermaatreëls (nasionaal en internasionaal), soos byvoorbeeld Deursigtigheid Internasionaal - Suid-Afrika, om openbare verantwoording te bevorder;

sensitiwiteit teenoor ingesetenes se behoeftes en reaksie deur ‘n regering- van-die-dag op hierdie behoeftes;

die bevordering van eerlikheid en integriteit in die uitvoering van die werksaamhede van openbare amptenare;

die bevordering van buigbaarheid en aanpasbaarheid van openbare instellings en amptenare vir organisatoriese veranderinge;

‘n hoë mate van toeganklikheid van openbare instellings vir die publiek (wat beskikbaarheid tydens kantoorure insluit);

die kweek van toewyding aan plig en deeglikheid by openbare amptenare in hulle werksaamhede; en

benutting van alle ander formele beheermaatreëls, soos onder meer ouditering, verslaggewing, ondersoeke, gedragskodes en die handhawing van minimum standaarde om openbare verantwoording af te dwing, te verseker en te bevorder (Cloete 1995:108-112).

Deursigtige regering en administrasie asook die publiek se reg om te weet, is basiese vereistes om voortreflike openbare verantwoording te verseker. Geheimhouding is nie bevorderlik vir openbare verantwoording nie en derhalwe

is dit noodsaaklik om die publiek op te voed oor die vereistes van ‘n demokratiese bestel en die noodsaaklikheid van openbare verantwoording (Jabbra & Dwivedi 1989:29). Verantwoording is slegs moontlik waar deursigtigheid in openbare instellings aanwesig is (mededeling: mnr. A. Oosthuizen: Bloemfontein: 10 November 2005). Ingesetenes moet in staat wees om inligting oor openbare besluite, deur wie die besluite geneem is en waarom dit geneem is, te verkry. Verantwoording vervul die funksie van wigte en teenwigte vir openbare gesag en/of sosiale aangeleenthede wat die welvaart van ingesetenes mag bedreig.