• No results found

Verlange na versoening in die superheld genre

HOOFSTUK 5: DIE MONO-MITE VAN JOSEPH CAMPBELL

5.8 VERLANGE

5.8.3 Verlange na versoening in die superheld genre

Partible (2005:248) reken dat ʼn algemene tema in die superheldgenre die verlange is van mense om met hul ouer/s verenig te word. Campbell (1949:105) sien dit ook as een van die sentrale behoeftes van ʼn held. Hierdie is ʼn eienskap wat in moderne

88

heldeverhale duidelik waarneembaar is. Harry Potter, Batman, Spiderman, Superman en Luke Skywalker hunker elk na versoening met hul ouers. In dié opsig dien superheld-verhale as ʼn allegorie vir die menslike worsteling gesien deur die oë van die hemel (Partible, 2005:248). Miskien verklap hierdie stories die menslike behoefte om versoen te word met ʼn vaderfiguur op ʼn kosmiese skaal? Miskien is dit die strewe na ʼn volkome verhouding soos Jesus dit beskryf in Johannes 17:1-5?

Sprokiesverhale is deurdrenk met verlange (Hazen, 2009:102). Chesterton (1908:77) reken ons erken die waarheid van Beauty and the Beast, aangesien ons oortuig is dat iemand eers liefgehê moet word voor hulle lieflik word. Montgomery (2002:186) sluit by die hoofstuk se argument aan deur te verwys na die universaliteit van helde wat van buite af moet kom om die ‘koninkryk’ te verlos. Die verhaal se wêreld is nie soos dit eens was nie. Daar is ʼn antagonis wat die harmonie wat voorheen bestaan het onderdruk. Deur die dapper opoffering van die held word orde herstel. Hierdie tendens is nie net eie aan Aspoestertjie, Peter Pan, Sneeuwitjie en meeste van die ander Disney produksies nie. Hazen (2009:101) dink die aard van die karakters, temas en storielyn is by ons ingebou op die een of ander manier en daarom kan dit wêreldwyd gevind word. Hierdie diep gewortelde verlange in die mens is geneig om die beste vasgevang en opgelos te word in die fantasiegenre.

5.9 SAMEVATTING

Christenskap bied die intellektuele raamwerk wat al die onvolmaakte insigte van mense wat versamel is in mites en sprokies, verenig en terselfdertyd transendeer. So gesien is dit nie nodig om byvoorbeeld Griekse of Egiptiese mites af te skryf as totaal vals nie, maar kan dit eerder verstaan word as antisipasie van die volle waarheid wat uiteindelik in Christus geopenbaar is. Hierdie mites kan as tekens van die besef van die transendente gesien word.

Die tema dat Christenskap die vervulling is van die mensdom se hoop en verlange na ʼn dieper betekenis, is nie iets wat ontwikkel is deur die Oxford letterkundige groepering

89

van die 20ste eeu nie. Dit is gewortel in die Christelike tradisie en in apologete soos Justin Martyr en Clement van Alexandria wat hierdie benadering aangewend het. Die tema het weer lewe gekry in die missionale teologie van die vroeë 1900’s. Die Inklings- weergawe was meer letterkundig van aard, maar die metodiek is nie deur hulle ontdek nie (McGrath, 2014:67).

Waarskynlik die grootste rede waarom die term mitologie soveel bagasie vandag dra, het te doen met werk van Rudolph Bultman wat gepoog het om die Nuwe Testament te “ontmitologiseer” (Vanhoozer, 2010:4). Vir hom was die bonatuurlike element in die Bybel en moderne wetenskap nie versoenbaar met mekaar nie (Bultman, 1984:4). Bultman se siening het groot impak gehad in teologiese kringe, maar sy werk is verwerp deur letterkundiges wat sy kennis van letterkundige teorie bevraagteken het. Sy denke is gesien as dualisties en sy begrip van mite was baie beperk wat gelei het tot ʼn aanval teen ʼn mitologiese element in die Evangelies, sonder dat hy op hoogte gebly het van die akademiese diskoers rakende mitologie (McGrath, 2014:70). Wat Bultman gesien het as ʼn verleentheid vir die Christelike geloof en iets wat in die modernisering van die geloof sal verander, was ironies genoeg wat Lewis oortuig het en uiteindelik tot sy bekering gelei het. Vir Lewis verweef mite waarheid en betekenis en bring dit die verbeelding en die rede bymekaar (McGrath, 2014:73).

Christene se reaksies op die misterie-gelowe en ander mites het deur die jare verskillende vorme ingeneem. Soos hierbo verduidelik, was die invloedryke Inklings baie gemaklik met die paralelle (Lewis, 2000:141). Vir ander vroeë Christene was die ooreenkomste egter ʼn verleentheid wat hulle wegverduidelik het as demoniese nabootsing om Christene te verwar (Ferguson, 1987:297). Voor daar besluit word watter apologetiese inslag gevolg moet word om die beswaar te weerlê, is dit belangrik om die konsensus rondom die implikasies van die misterie-gelowe te bestudeer. Ferguson (1987:298) wys dat die ooreenkomste nie so oortuigend is soos baie aanvoer nie. Die opstanding van Christus en die van onder meer Osiris en Attis kan beswaarlik aanmekaar gelykgestel word. Laasgenoemde se sogenaamde dood en opstanding was

90

baie nou verbind aan die seisoene van die natuur en hul oorsprong was in die lanbousiklusse. Dit is ver verwyder van wat Christene (kyk 1 Kor. 15:12-49) onder die term opstanding verstaan het. Mettinger (2001:221) sal hom hier gelyk gee dat die kultusse seisoenaal was en Jesus Christus se opstanding eenmalig.

Ferguson (1987:299) beklemtoon dat denkers versigtig moet wees om die parallelle tussen mitiese verhale en die Christelike Evangelie onnadenkend te aanvaar as voor- Christelik en ooreenstemmend. Volgens hom is dit alleen in die Mithras-kultus waar daar ʼn “bonatuurlike” etiek is wat verwag word van die lede. Daar is geen teken van enige morele verwagting by die ander kultusse nie. Verder het die misterie-kultusse nie verwys na ʼn god wat aarde toe kom en gewillig sy lewe opoffer vir die mensdom nie. Volgens Ferguson maak dit nie sin dat so iets van die godheid verwag word nie, aangesien daar in heidense mitiese verhale nie ʼn sterk bewussyn van sonde is nie en gevolglik die held nie ʼn voldoende rede gee om te sterwe vir die mensdom nie. Verder was die misterie-kultusse deurlopend pluralisties en inklusief. Die Christelike geloof het uit die staanspoor eksklusiewe aansprake gemaak82.

Hierdie waarnemings poog nie om die ooreenkomste te ontken nie, maar eerder dat dit binne konteks gesien moet word. Die beweerde identiese parallelle wat deur moderne denkers uitgewys word, is buite konteks en grootliks sensasioneel83. Ferguson

(1987:297) reken dat die kultusse deurlopend aangepas het by hul omgewing en dat dit moontlik is dat die misterie-kultusse eers in die tweede eeu hierdie parallelle aangeneem het as ʼn nabootsing van Christenskap, eerder as die populêre bewering dat die inspirasie omgekeerd was. Boyd & Eddy (2007:53) argumenteer dat, met die uitsondering van Osiris, al die gedokumenteerde Christus-tipe weergawes van die kultusse ná die geboorte van Christenskap ontstaan het. Osiris se dood en opstanding lyk ook beswaarlik soos die Joods-Christelike begrip van die opstanding (Strobel, 2007:177).

82 Kyk byvoorbeeld tekste soos Handelinge 4:12, Johannes 3:18, 14:6. 83 Kyk byvoorbeeld (MacDonald, 2015:1).

91

Dit is van belang om kennis te neem dat hierdie standpunt nie noodwendig universele akademiese konsensus geniet nie. Mettinger (2001:7) het onlangs die eenstemmigheid uitgedaag en alhoewel Licona (2010:563) nie noodwendig saamstem nie, beskou hy Mettinger se werk as indrukwekkend. Wat Mettinger ook anders maak as die meer sensasionele stemme in die debat, is die feit dat hy huiwerig is om gevolgtrekkings te maak wat die Christendom van plagiaat beskuldig met betrekking tot die sentrale argument van die geloof (Mettinger, 2001:1). Vir hom is Christus se dood en opstanding steeds uniek alhoewel daar sekere vraagtekens bly (Mettinger, 2001:221).

Een van hierdie vraagtekens is die onwaarskynlikheid dat die streng monoteïstiese Jode van Galilea die heidense kultusse aantreklik sou vind en meng met hul Judaïsme. Legendes word in die algemeen geskep deur die behoefte om sekere sosiale oortuigings en behoeftes uit te druk. Dit is waarom die proses van mite-skepping so graag sosiologies verklaar word. Ons kan dit dus identifiseer as ʼn sosio-godsdienstig- politiese uitdrukking (Boyd & Eddy, 2007:29). Dit maak egter nie sin om te dink dat Jode die Christusverhaal sou skep, terwyl hulle geensins die sosiologiese raamwerk gehad het vir só ʼn beweerde heidense mite nie. Indien eerste eeuse Palestynse Jode enigsins ʼn mite sou skep, is die Christus-mite eenvoudig net te teenstrydig met hul oortuigings. Sekerlik sou dit ʼn mite gewees het wat ʼn politiese messias verkondig het eerder as die Evangelies se weergawes. Dit sou ook verwag kon word dat hierdie karakter meer simpatiek sou wees teenoor die Joodse tradisies (Boyd & Eddy, 2007:36). Die skeppers van die mite sou hulself in ʼn beter lig gestel het as die dissipels wat herhaaldelik pateties in hul Evangelies tipeer word (Blomberg, 1997:186).

Gevolglik is die beweerde parallelle tussen Christus en die misterie-gelowe ʼn beswaar wat baie dink in die twintigste eeu weerlê is en dra nie gewig in hoofstroom akademie nie (Strobel, 2007:167). Met die onoortuigende voor-Christelike ooreenkomste was Lewis (2000:141) en ander dalk oorhaasting om opgewonde te wees oor die sogenaamde gelyksoortigheid. Die vroeë Christelike poging om dit af te maak as demonies blyk ook die verkeerde strategie te gewees het (Ferguson, 1987:297). Indien

92

dit sou wees dat daar nie soortgelyke messiaanse verhale voor Christus bestaan het nie, doen dit nie skade aan die sentrale argument van hierdie studie nie. Die blote feit dat die kultusse die Christelike geloof miskien nageboots het, is ʼn teken van die verhaal se krag.

Daar is ʼn reeks denkers wat sal verskil met Ferguson (1987:297) en wat argumenteer dat die parallelle nie oortuigend is nie. Mettinger (2001:7) is een só ʼn gerekende stem. Die studie wil ongeag die uitslag van daardie debat beklemtoon dat die Christelike narratief outonoom (het ʼn lewe van sy eie) is, selfs doelbewuste evangeliese aksies transendeer en populêre uitdrukking in verskillende maskers kry (Lewis, 2000:141). Of dit voor of na Christus plaasgevind het, is eintlik irrelevant. Genesis 1:26-28 veronderstel dat die hele mensdom na die beeld van God geskep is en uitdrukking daaraan gee. Ons kan dus verwag om lukrake en soms eksplisiete uitbeeldings van die messiaanse idee in ʼn nie-Christelike konteks te vind (Boyd & Eddy, 2007:149). Dit gebeur egter slegs met verhale wat meer as blote mites is (Chesterton, 2007:104). Hierdie hoofstuk het geargumenteer dat die teenwoordigheid van die mono-mite nie ʼn verleentheid vir die Christendom is nie. Die heidense messiaanse verhale pas goed binne wat Christene oor die eeue verstaan het onder God se algemene openbaring. Die menslike verlange produseer messiaanse verhale en dit bied ʼn moontlike kontakpunt vir die apologeet om denkers te konfronteer met die Messias waarin al die messiaanse verhale begrond word.

93