• No results found

HOOFSTUK 6 : NIETZSCHE VS SUPERMAN

6.2 NIETZSCHE SE SUPERMAN

Sodra die konsep ‘Superman’ in akademiese verband aandag kry, is die eerste konneksie wat by studente opkom, moontlik nie Joe Shuster en Jerry Siegel se strokiesprentheld nie, maar Frederich Nietzsche se geïdealiseerde plaasvervanger vir die klassieke subjekbegrip in die Weste, die Übermensch (Honderich, 1995:860). Soos genoem is die klassieke subjek die alomvattende begronding van sekulêre moderniteit: Die universele ‘essensie’ van die mens wat sedert vroeë moderniteit in die rede gesentreer is (Cambell & McGrath, 2006:592). Gedurende die Verligting kry die klassieke moderne subjek ʼn hupstoot met Immanuel Kant se transendentale opvatting van hierdie begrip, waarna dit uitvloei in verskillende rigtings, van Edmund Husserl se fenomenologie, tot by Jean-Paul-Sartre se vrye self.

In die laat negentiende eeu is hierdie subjekbegrip egter sistematies uitgedaag. Die ‘hermeneutici van wantroue84’, Karl Marx, Sigmund Freud en Nietzsche, het getoon dat

die verwaande rasionaliteit van die sogenaamde ‘redelike subjek’ nie so volledig en grondleggend was as wat vroeëre denkers aangevoer het nie. ‘Die rede’ is eerder die

94

resultaat van ʼn komplekse interspel van materiële, sielkundige en sosiale faktore as die wortel van die self (Ricouer, 1970:3). Ten spyte van denkers soos Bertrand Russel en Jürgen Habermas se beste pogings om die goed gevestigde meta-narratief van die rede voort te sit, is weinig Westerse denke onaangeraak deur die desentrering van die rede. Nietzsche se Übermensch kan verstaan word as ʼn poging om op estetiese wyse sin te maak van ʼn gefragmenteerde wêreld. Soos die Marxisme, is dit eintlik ʼn meta-narratief op sy eie: Die behoefte om ʼn visie te vind wat sin kan maak van die wêreld as ʼn geheel. Heidegger het dit anders verwoord, maar ook in sy denke is daar ʼn komponent te vinde van ʼn hoop op die koms van ʼn nuwe, singewende orde. In ’n onderhoud met Der

Spiegel in 1966, maak Heidegger (soos aangehaal deur Alter & Caputo, 1976:45)

trouens die stelling dat ‘net ’n God ons nog kan red’. Daarmee bedoel hy dat die probleem van Synsvergetelheid – sy weergawe van die nihilisme – nie binne die konteks van humanisme verklaar kan word nie.

Die behoefte om die werklikheid te verklaar in terme van groot singewende narratiewe, is een van die sleutelkenmerke van die Weste. Dit staan bekend as ‘meta-narratiewe’. Hierdie begrip het aandag geniet met die postmoderne filosoof Lyotard (1984:15) se oorhaastige aankondiging dat die era van meta-narratiewe iets van die verlede is. Fukuyama (1992:ix) het ook die berugte politiese stelling gemaak deur aan te kondig dat die ‘einde van die geskiedenis’ bereik is. ’n Mens sou kon aanvoer dat hierdie tendens reeds sy oorsprong by die Grieke het. Alhoewel daar (soos Nietzsche ons bly verseker) nie sprake is van ʼn ‘verlossingsverhaal’ nie, is daar by skrywers soos Herodotus (Flory, 1987:85) wel sprake van ’n sogenaamde ‘Verfallgeschichte’, of ʼn ‘vervalverhaal’. Daarvolgens is daar sprake van die verval vanaf ʼn ‘goue era’, na ʼn ‘silwer era’ tot by ʼn ‘brons era’. Hierdie gedagte van ’n vertikale geskiedenissiening kom natuurlik in die Ou Testament voor in die boek van Daniël 2:31-37. Terwyl die antieke geskiedenisbegrip hoofsaaklik esteties en kwalitatief dink, vind die Christendom in die geskiedenis self ’n doel – die verlossing van die mensdom wat oor tyd uitgespeel word.

95

Op ʼn eg postmodernistiese wyse pleit Lyotard (1979:146) vir die gebruik van sogenaamde ‘klein narratiewe’ (petit recits) wat die plaaslike en kleinere benadruk85. Dit

is egter nie so eenvoudig om van groot narratiewe te ontsnap nie – selfs die ‘ontsnapping’ aan die groot narratiewe is problematies gegewe dat dit neig daartoe om ʼn meta-narratief te word wat meta-narratiewe ontken en in die proses die wet op nie- teenstrydigheid oortree (Blackburn, 2008:253). Een van die moontlike redes vir die sukkelende ontsnapping kan gevind word, soos beide Lyotard en Fukuyama (1992:55) daarop wys, dat die tendens om in terme van meesternarratiewe te dink, ʼn produk is van die oer meta-narratief wat tot vandag die Westerse identiteit bepaal: Die Christelike verlossingsnarratief.86 Ten spyte van ʼn suksesvolle sekulariseringspoging wat

Christenskap ontneem het van sy ereplek in die Westerse kultuur (Rookmaker, 1981:85), is dit ingewikkeld om aan die denkraamwerk van die Christendom te ontsnap87, selfs al word die sentrale Christelike boodskap agressief verwerp (Lennox,

2011:18).

Hierdie studie voer dit ʼn tree verder deur die stelling te maak dat die behoefte aan meta-narratiewe sterker is as wat Lyotard vermoed het. Nie alleen dink die Weste steeds binne die spore van die Christendom nie, maar daar is ’n prominente (wel ontkende) behoefte om terug te keer na die oorspronklike ur-meestersverhaal: Die Christelike meta-narratief van opoffering en verlossing self (Lewis, 2000:141). Alhoewel dit deur fiksie vertel word, is daar ʼn hernieude ontdekking van die wonder van die Christelike verhaal self, ʼn tendens wat sterk genoeg is dat daar al in sekere kringe van ʼn ‘post-sekulêre’ era gepraat word (Habermas, 2008:17). Die studie wil argumenteer dat die Christendom ʼn verskuilde terugkeer maak. Nietzsche (2000:40) was waarskynlik

85 Aangesien postmodernisme aanvoer dat waarheid ʼn sosiale konstruk is, word enige universele aansprake op die waarheid verwerp. Alle meta-narratiewe word in die proses ter seide gestel, aangesien hulle volgens ʼn postmodernistiese raamwerk onmoontlik kan voldoen aan hul aansprake (Mohler, 2005:58).

86 Die Christelike geloof is volgens Mohler (2005:59) die meta-narratief van alle meta-narratiewe. Omdat die verhaal ondubbelsinnig is oor ons oorsprong, toestand, oplossing en bestemming is daar geen twyfel oor die reikwydte van die wêreldbeskouing nie. Christendom beskou homself nie as ʼn narratief langs ander narratiewe nie.

96

profeties toe hy gesê dat grootsheid graag ʼn masker88 dra. Maar grootsheid is ook

onvoorspelbaar: Nietzsche se eie grootsheidsbegrip (die Übermensch) is (en word steeds) uitgedaag deur die opkoms van ʼn ander Superman – die superheld wat sy terugkeer as Messiaanse figuur maak.