• No results found

HOOFSTUK 6 : NIETZSCHE VS SUPERMAN

6.3 META-NARRATIEF

Die radikale opkoms en populariteit van die superheldgenre daag ook Lyotard se teorie ten sterkste uit, aangesien superhelde en postmodernisme nie goeie bedmaats is nie. Superheldverhale word gekenmerk deur goed gedefinieerde waardes en idees wat nagestreef moet word en waar die lyne tussen goed en kwaad duidelik getrek word. Die meeste superheldverhale bevat maklik identifiseerbare boosheid wat op ʼn reuse skaal bedreig en in reaksie op die bose is die oplossing baie een-dimensioneel in sy goedheid Die superheldgenre is dus ondubbelsinnig in sy stelling van die objektiewe dilemma sowel as die objektiewe oplossing (Oropeza, 2005:4). Anders as postmoderne denke, stel hierdie genre nie belang in klein verhale nie, maar dink dit onbeskaamd groot. L’ Engle (1980:116) het vroeg reeds die onsuksesvolle postmoderne poging om superhelde te bekeer gekritiseer. Volgens haar is die menslike verlange nie geskoei op die antiheld nie. Daar is ʼn behoefte daartoe om ingetrek te word deur ʼn waardige karakter wat lig in donkerte inbring en nie na nihilistiese literatuur wat wanhoop romantiseer nie. Partible (2005:250) beaam dit deur te verwys na die relatief swak vertoning van antiheld-films. Dit blyk dat die mensdom ʼn held verkies in die Lukas 12:48-vorm, wat die verantwoordelikheid wat saam met bonatuurlike vermoëns kom,eerbiedig.

Murnane (2010:1) reken dat postmodernisme ʼn waardige opponent gekry het sedert die terreuraanvalle van 11 September 2001. Op daardie dag was die vyand duidelik waarneembaar en die Weste het weer eens ʼn held benodig. Daar was opnuut ʼn behoefte aan ʼn meta-narratief. Ons kan moontlik argumenteer dat die postmoderne

97

wêreldbeskouing nie ʼn bevredigende antwoord gee in die aangesig van soveel pyn en lyding nie. Dat pyn en lyding ʼn verklaring vereis, is in ieder geval ʼn erflating van die Christendom. Om die risiko van veralgemening te neem – daar is ʼn groot verskil tussen Christelike hoop en klassieke fatalisme.

Om in die postmoderne (of laat moderne) kondisie te lewe, veronderstel immers dat die individu sonder enige diep en objektiewe waarhede funksioneer (Fortier, 2002:176). Verder is die oplossings vir hierdie nihilistiese kondisie, indien daar enigsins een is, nie te vinde in ʼn held/messias nie. Dit is waarom postmodernisme en die superheldgenre in breë trekke nie goed meng nie. Murnane (2010:1) verduidelik dat superheldverhale primêr ʼn storie van geloof is. Insover postmodernisme ʼn wêreld verbeel wat nie objektiewe waarhede bevat nie sal die superheldgenre altyd anti-postmodern in sy bewussyn wees – ’n amper middeleeuse verleentheid in sy sekerheid.

Alhoewel die superheldverhaal onder bespreking definitief meer Christelik as heidens is, speel die aanvaarding van die noodlot dikwels hier ook ’n belangrike rol. Dit is egter belangrik vir die doel van hierdie studie om daarop te wys dat, waar die mensdom as geheel uitgelewer is aan noodlot in die ou paganistiese heldeverhale, daar ’n groot verskil tussen die superheld en die mensdom wat hy red is – net soos Christus radikaal

anders is as die mensdom wat Hy red. Dit is juis hierdie eienskap wat Nietzsche so

negatief teenoor die Christendom gemaak het. In Human, All-Too-Human I, afdeling 114, stel hy:

The un-Hellenic in Christianity. The Greeks did not see the Homeric gods as set above them as masters, or themselves set beneath the gods as servants, as the Jews did. They saw them as the reflection of the most successful exemplars of their own caste, that is to say an ideal, not an antithesis of their own nature. They felt inter-related with them, there existed a mutual interest, a kind of symmetry. (Nietzsche, 1908a:41)

98

Die Christelike Verlossersfiguur, wat bestem is om ’n held te wees, het ironies genoeg, op die oog af minder beheer oor sy lot as die mense wat hy red. Lois Lane kan byvoorbeeld kies om die saak te maak vir ’n wêreld sonder Superman, maar Clark Kent is bestem om Superman te wees. Sulke vaste waarhede is vir ’n siniese postmoderne wêreld dikwels ’n verleentheid. Dit is veral die geval vir denkers wat oortuig is dat die einde van die geskiedenis, en alles wat dit impliseer, op ons is. Belangrik egter, die steeds groeiende terugkeer na die verlossingsverhaal kan moontlik ʼn aanduiding wees dat die relativistiese posisies soos dié van Jacques Derrida (1994) as al hoe meer irrelevant word.

ʼn Film wat ʼn duidelik beweging toon van ʼn postmodernistiese gebrek aan geloof tot ʼn herstel in geloof is Bryan Singer se 2006 Superman Returns. Die film begin deur te verwys na die feit dat Superman vir ʼn lang tydperk weg van die aarde af was en dat selfs sy vertrouelinge hoop in hom verloor het. Trouens, sy voormalige romanse, Lois Lane, het bekendheid verwerf vir ʼn artikel waarin sy geargumenteer het dat die wêreld nie vir Superman nodig het nie. Soos die film ontwikkel, is Superman weer in sy bekende rol besig om lewens te red. Uiteindelik offer hy sy lewe op vir die mense wat nie noodwendig in sy redding belangstel nie. In hierdie klimaktiese toneel neem hy die kruisposisie aan (soos hy sterf), een wat nou al geassosieer word met die karakter. Dit lyk of Superman dood is, net om later weer sy verskyning te maak deur uit die dood uit op te staan. Lois Lane is steeds van die oortuiging dat Clark dood is en met ʼn herwinde hart skryf sy ʼn opvolgartikel. Hierdie keer met die titel ‘Waarom die wêreld vir Superman nodig het’. Dit beeld ondubbelsinnig die herstelde geloof in Superman uit (Murnane, 2010:2).

Oropeza (2005:4) reken superheldverhale funksioneer op ʼn mitologiese, teologiese en ideologiese vlak en vanuit die gebied spreek dit die makro kwessies van die mensdom aan. Eerstens is daar ʼn gevoel van ʼn verlore paradys in meeste van die verhale. Die mensdom is verder oos van Eden en daar is ʼn verlange om terug te keer. Wat die superheldgenre in die algemeen meer realisties maak as die moderne bewussyn is die

99

verhale se beklemtoning van die gevalle aard van die mens. Daar blyk ʼn erkenning te wees dat die wêreld soos dit tans is, onbevredigend is. Die verlore paradysgedagte kry meer volledige uitdrukking in ʼn antagonis wat nie alleen boos optree nie, maar fisies boos vertoon. Dit is ’n konsep wat ’n mens kon terugneem na Shakespeare: Sy aartsskurk Richard III is ’n boggelrug en onbeskaamd, onambivalent boos. Die opkoms van die antagonis gaan gepaard met die afvaardiging van die held. Sy mandaat is om die boosheid te oorwin en Eden te herstel. Die held is as’t ware ʼn tweede Adam, soos in die 1 Korintiërs 15:45 sin van die woord en daar is ʼn lang verwagting na die terugkeer van die held. Laasgenoemde is opmerklik in die 1999 The Matrix film. Daar is ʼn basiese besef binne die fiktiewe samelewing dat die boosheid nie intern oorwin kan word nie, maar dat verlossing alleen moontlik is deur middel van ʼn eksterne agent (Oropeza, 2005:8).

Die apokaliptiese veldslag volg sodra goed en kwaad ontmoet (Campbell, 1949:289). Eden kan alleen herstel word wanneer die magte wat die verderf in die eerste plek begin het verslaan word. Dit is maklik identifiseerbaar in films soos Lord of the Rings

(2001-2003), The Matrix (1999), Harry Potter (2001-2011) en ander waar die wêreld op

ʼn makro skaal op die spel is in die finale konfrontasie. Die held gee gereeld sy of haar lewe in die proses, net om weer uit die dood op te staan. Dit is waar van Superman, Neo, Batman, Gandalf en Jesus Christus (Oropeza, 2005:8-9). In die proses is Eden in ʼn mindere of meerdere mate herstel en die siklus van sonde, verlossing en versoening is voltooi. Die helde funksioneer dus as ʼn agent wat ʼn godsdienstige verwagting vervul (Lawrence & Jewett, 2002:46).

Wanneer Oropeza (2005:2) kyk na die opkoms van die superheld strokiesverhaal, merk hy dat dit nie toevallig in die 1930’s en 1940’s sy verskyning gemaak het nie. Die tydperk was geken aan groot uitdagings in die Westerse wêreld. Die Groot Depressie se nagevolge was daagliks sigbaar en ʼn golf van georganiseerde misdaad het die VSA getref. In Europa was Nazi Duitsland besig om boosheid te institusionaliseer. Gevolglik het die man op straat ʼn held benodig wat die makro korruptheid op ʼn makro skaal kon

100

beveg. Die eerste Superman het dus sistematies ʼn sekulêre Amerikaanse messias geword. Hoe groter die omvang van aggressiewe dade, hoe duideliker word dramatiese skeidslyne getrek. Dink byvoorbeeld aan die rol van James Bond gedurende die Koue Oorlog. Met die geboorte van Superman was dit nie veel anders nie. Interessant genoeg wil dit voorkom asof die Christelike elemente in Supermanfilms toeneem, soos die Weste meer sekulariseer.

Die winde van verandering sal waarskynlik binnekort ʼn nuwe era in waai, maar tans is daar ʼn wêreldwye ekonomiese resessie. Daar is oorloë in die Midde-ooste wat ʼn reuse vlugtelingskrisis teweeggebring het op die stoep van Europa en ʼn terroriste-organisasie in die vorm van ISIS wat nie eens deur hoofstroom Islam onderskryf word nie, weens hul gru dade89. Boosheid is sedert die begin van die een-en-twintigste eeu, toenemend

waarneembaar. Die skrywer oorweeg die moontlikheid dat daar ʼn verband bestaan tussen die huidige politieke klimaat en die radikale opkoms van die superheldgenre (Partible, 2005:250).