• No results found

HOOFSTUK 5: DIE MONO-MITE VAN JOSEPH CAMPBELL

5.7 DIE ROL VAN WÊRELDBESKOUINGS

Howard (2010:335) bou die konsep uit dat mite nie bloot as ʼn versinsel gesien moet word nie. Die vraag of die mite in ʼn bepaalde geografiese ligging afspeel is uiteindelik irrelevant en vra iets wat die skrywer nie belangstel om te beantwoord nie. Byna almal vandag sal wil aanvoer dat hierdie mites nie plaasgevind of êrens in die geskiedenis afgespeel het nie. Howard (2010:336) vra egter die vraag waarom daar tot só ʼn gevolgtrekking gekom is. Is dit omdat daar nie historiese bewyse bestaan vir die bepaalde mite nie? Dit sal ʼn regverdige beswaar teen die aanspraak wees, maar meestal kom die objeksie vanuit ʼn wêreldbeskoulike vlak. In ʼn klein heelal van materialistiese denke is mites kinderagtige wensdenkery, maar binne die teïstiese raamwerk is ons nie gebind aan die kundigheid van mikroskope alleen nie. Die Christelike wêreldbeskouing het plek vir die bo-natuurlike wat insluit dat daar ʼn dimensie van onder meer engele en demone is – wesens wat nie eksperimenteel nagevors kan word nie. Christene moet versigtig wees om die verbeelding te kritiseer wat mitiese beelde voortbring, aangesien hulle eie wêreldbeskouing die bonatuurlike erken.

83

Volgens Lewis (1947:2) is die vraag of ʼn mite waar kan wees in die eerste plek ʼn filosofiese vraagstuk. Vir die doeleindes van hierdie studie is die moontlikheid om mitologiese elemente in ons werklikheid te verdedig belangrik. Fantasie se aanspraak op ʼn element van die werklikheid is waansinnig vir die materialis, aangesien hy die natuurlike wêreld as ʼn geslote sisteem sien. Die Christen is nie gebind aan só ʼn oortuiging nie (Lewis, 1947:10). Gevolglik is fantasie nie uit die staanspoor iets wat ons noodwendig alleen in die kategorie van fiktiewe vermaak hoef te sit nie.

Siegel (2010:359) reken dat die kritiek teen mites en feëverhale te make het met die feit dat dit uiteindelik ʼn leuen is wat geskep word deur primitiewe mense ten einde sin te maak van omstandighede wat andersins onverklaarbaar sou wees – ’n gedagte wat ook te vinde is by Daniel Dennett en sy intensionaliteitsdenke. Die gevolgtrekking wat hieruit sou voortvloei, is dat enige bonatuurlike ingryping om boosheid te beveg lafhartig is, aangesien dit ʼn ontsnapping van die werklikheid verteenwoordig – ’n idee wat tot ’n mate by Nietzsche teenwoordig is. Hiervolgens is die meeste wat mites moontlik sou kon beteken onskuldige vermaak, maar niks meer nie.

Hierteenoor moet die Christen vanuit sy wêreldbeskouing egter beklemtoon dat hy net so min in denkbeeldige kastele glo wat in die wolke sweef, as wat die materialis dit sou glo. Soos Collins (2006:51) tereg sê, moet die gelowige met ʼn gesonde hoeveelheid skeptisisme enige beweerde wonderwerk benader. Christene moet vreemde verskynsels benader deur eerstens te soek na natuurlike verduidelikings vir die bepaalde fenomeen. Juis oor hierdie eienskap van die Christendom, kon die wetenskap oor eeue ontwikkel in die sogenaamde Christelike Weste (Lennox, 2011:28).

’n Belangrike verskil met die materialistiese wêreldbeskouing is egter daarin te vinde dat, vir die Christen, die idee van ʼn wonderwerk moontlik is, terwyl dieselfde idee vir die materialis wêreldbeskoulik aanstoot gee. Buechner (2010:319) reken dit is waarom mitiese verhale die verbeelding aangryp, want dit beteken dat lesers, insover hulle die storie wil geniet, hulle begrip van die materiële wêreld moet laat vaar vir daardie tydperk. Lesers (of kykers) moet glo dat dit wat hulle beleef vir daardie oomblik moontlik

84

is, om die meeste uit die ervaring te kry. Omdat mense hulle inleef in die verhaal, huil hulle byvoorbeeld in films. Alhoewel besef word dat dit net karakters is wat deur akteurs en aktrises vertolk word, gryp dit mense aan, omdat hulle hulself toelaat om die storie te glo. Hulle sluit ongeloof vir ʼn bepaalde tyd uit. Bogenoemde sluit moontlik aan by Jesus se woorde in Matteus 18:3 dat jy alleen die Koninkryk van God sal beërwe indien jy soos ʼn kind word: ’n Mens moet werklik meegevoer word deur ’n goed vertelde verhaal wat goedheid, waarheid en skoonheid bevat.

5.7.2 Die krag van fantasie

Een van die tragiesste aspekte van mites vandag is volgens Howard (2010:339) die feit dat die beelde wat die verhaal skep almal afhanklik is van hierdie wêreld. Daar is nie ʼn dimensie buite ons tyd en ruimte wat kan help in die kreatiewe proses nie. Gevolglik sal daar klein mites wees (soos Lyotard se ‘klein verhale’), maar nie op die skaal van ʼn Tolkien en ander nie, want die vertrekpunt is mikroskope, rekenaars en die parkeerarea buite MacDonalds. Die probleem met die alledaagse verwysingsraamwerk is dat Hamlet van Shakespeare vir baie mense meer werklik is as om melk te gaan koop by die plaaslike winkel (Siegel, 2010:347).

Siegel (2010:356) reken dat dit juis die krag van fantasie is wat mense uit hul beperkte omstandighede verplaas in ʼn wêreld waar byna alles moontlik is. Dit is een van die redes waarom daar waarheid in mite is – dit ontlok ʼn besondere verlange by die leser of kyker dat dit waar moet wees. Gevolglik sê Howard (2010:337) dat mite nie dieselfde is as ons ervaring nie, maar dat dit beslis oor ons ervaring gaan.

Buechner (2010:331) moedig mense aan om die Evangelie as ʼn fantasie te lees, aangesien fantasie iets in mense wakker maak wat hulle nie besef het bestaan nie. Teen hierdie agtergrond, is daar ook ʼn belangrike verskil tussen die Evangelie en ander fantasieë wat na vore kom. Die Evangelie-verhaal is nie in die terme ‘lank-lank gelede’ gewortel nie, maar in die geskiedenis – in die persoon van Jesus Christus. Wat begin het in Christus is steeds besig om vandag te gebeur. Dit is wat plaasvind wanneer

85

fantasie en geskiedenis, oftewel, die werklikheid mekaar ontmoet. Wanneer hierdie vreemde wêrelde van mites en geskiedenis mekaar sou ontmoet in ʼn verhaal, sal dit die vreemde en fassinerende karakter aanneem wat ons in die Evangelies raakloop (McGrath, 2014:64).

Lewis (2000:40) verduidelik die vreemde tendens deur die kontras te skep tussen ʼn bekende mitiese verhaal en die manier waarop dit vertel word. Vir hom is die Evangelies te lomp om net mitologies verstaan te word. Die verskillende tonele volg nie noodwendig opmekaar nie en daar is groot gedeeltes van Jesus se lewe wat nie gedokumenteer is nie. Lewis argumenteer dat iemand wat ʼn legende bedink selde 30 jaar van die hoofkarakter se lewe nie neer sal pen nie. Gevolglik het hy as 'n professionele letterkundige die indruk gekry dat die Evangelies te lomp en verbeeldingloos is op plekke om afgemaak te word as net legende. Die mees oortuigende verduideliking vir hierdie ooglopende weglating is die moontlikheid dat die evangeliste bloot nie toegang gehad het tot bepaalde data nie. Laasgenoemde herinner ons aan verantwoordelike geskiedskrywing.

Die sterk mitologiese/verbeeldingsryke gevoel gekombineer met die lomp historiese styl is vir baie Christen-denkers intellektueel stimulerend en emosioneel bevredigend. Die doel van die apologeet is om ʼn wêreld te skep wat nie-gelowiges laat wens dit was waar en dan vir hulle te toon dat dit wél waar is. Die eerste speel af in fantasie, stimuleer die verbeelding en oorwin die hart. Die tweede het te make met die historisiteit en kredietwaardigheid van die Evangelies en oorwin die verstand. Die twee het mekaar nodig.