• No results found

Paulus se redevoering as ʼn deur na die Ateners

HOOFSTUK 4: HANDELINGE 17:16-32 AS VOORBEELD VIR KULTURELE INTERAKSIE

4.1.1 Paulus se redevoering as ʼn deur na die Ateners

ʼn Bybelse weergawe van ʼn subversiewe en kultureel relevante metodiek word in Handelinge 17 deur Paulus aangewend. Paulus bevind homself in die destydse kulturele hoofstad van die wêreld Atene en anders as sy vorige interaksie in die verkondiging van die Evangelie, kom hy in aanraking met ʼn gehoor wat nie ʼn Joodse agtergrond het nie, maar eerder geskool is in onder meer Platonisme en Stoïsisme (Sproul, 2003:16). Botha (2016:179) wys dat, wanneer Paulus die Jode toespreek in

teologie en graviteer na relativisme. Alhoewel hy vraagtekens oor hul filosofiese onderbou het, het hy wel waardering vir die kreatiewe spasies wat hulle op verskillende wyses skep. Gevolglik is dit potensieel gevaarlik om oor-krities te wees, maar terselfdertyd is dit nadelig om sonder kritiek en teologiese refleksie ʼn sisteem of styl te aanvaar. Een van die beste blaadjies wat moderne

apologete uit die boek van die antieke Grieke kan neem is die Aristoteliese goue middeweg ten opsigte van kritiese kulturele betrokkenheid (Botha, 2016:181).

53

Handelinge 13:15-52, hy die Joodse elemente van die Evangelie beklemtoon deur te verwys na:

 Israel se uitverkiesing en hul tyd in Egipte (v. 17)  Die eksodus en woestyn tydperk (v. 18)

 Kanaän (v. 19)

 Konings van Israel soos David en Saul (v. 21-22)

 Die vaders van die geloof soos Abraham, Isak en Jakob (v. 26)  Jesus se familie-lyn (vv. 22, 33)

 ʼn Verwysing na Johannes die Doper (vv. 24-25)

 Die Joodse naam van Jesus, sowel as die messiaanse voorspellings vanuit die Ou Testament (vv. 23, 33-35)

In Handelinge 17:16-34 is daar nie ʼn enkele verwysing na bogenoemde Joodse elemente nie. Paulus ontmoet eerder die vreemde gehoor waar hulle intellektueel is deur Griekse digters Epimenides en Aratus aan te haal om sy argument vir Christus se verhewendheid te staaf (Ward, 2011:68). Craig (2008:22) sluit by Botha aan en maak melding van die feit dat, wanneer Paulus met ʼn Joodse gehoor praat, hy dan besig is om die vervulling van die profesie te gebruik om sy saak te stel. Wanneer hy egter met ʼn nie-Joodse gehoor praat, kan hy nie die Hebreeuse skrifte gebruik as ʼn verwysing nie, aangesien dit geen gesag in só ʼn konteks dra nie60. Dit is dan wanneer Paulus in

Handelinge 17:28 sy strategie verander en na God se algemene openbaring verwys om die heidene te oortuig61 van die Christelike aanspraak. Hieronder volg die oorspronklike

gedigte waaruit Paulus hulle aangehaal het:

Epimenides

60 As ʼn Presbiteriaanse predikant in New York moedig Tim Keller (2015:106) predikers aan om die argument wat die Bybelteksgedeelte probeer maak te versterk deur sekulêre bronne te gebruik wat die gehoor vertrou. In sy ervaring gee dit aan skeptici meer waardering vir die wysheid en uiteindelike gesag van die Bybel as hul ‘eie mense’ se hoop en verlange ooreenstem met dit wat die Bybel aanspreek.

61 Lukas-Handelinge is oorreed/oorhaal literatuur en dit word duidelik gestel met die onderskeie inleidings, Lukas 1:1-4 en Handelinge 1:1-8 (Du Plessis, 2006:5).

54

“They fashioned a tomb for thee, O holy and high one –

The Cretans, always liars, evil beasts, idle bellies! But thou art not dead; livest and abidest for ever: For in thee we live and move and have our being”.

(Epimenides soos aangehaal deur Bruce 1981:359)

Aratus

From Zeus let us begin; him do we mortals never leave unnamed; full of Zeus are all the streets and all the market-places of men; full is the sea and the havens thereof; always we all have need of Zeus. For we are also his offspring; and he in his kindness unto men giveth favourable signs and wakeneth the people to work, reminding them of livelihood

(Aratus 310 vC - 240 vC – soos aangehaal deur Faber 1993 ad loc.)

Volgens Botha (2016:96) is dit nie alleen die direkte aanhalings wat die Epikuriaanse en Stoïstiese konteks in ag neem nie. Paulus se hele toespraak is konstant besig om subtiel na hul idees te verwys deur die gebruik van idees en slagspreke.

Godawa (2009:124) merk dat hierdie teks baie aandag van beide die voorveronderstelling as bewyslerende skole van apologetiek geniet. ʼn Aspek van die teks wat moontlik meer beklemtoon kan word, is die narratiewe aard van die diskoers. Paulus is besig om ʼn heidense Stoïstiese verhaal oor te vertel binne ʼn Christelike raamwerk (Ward, 2011:67). Volgens Godawa (2009:126) gebruik Paulus doelbewus die Stoïstiese struktuur van storievertelling. Dit is ʼn brawe stap en in die proses gee hy sy tuisveld-voordeel weg, deur op iemand anders se terrein te gaan speel. Daar is tans in die Westerse Kerk baie sprake van missionaal wees. Dit veronderstel onder meer dat daar uit die veilige Christelike omgewing geklim word om mense op hul eie speelveld ontmoet (McDowell, 2009:21).

55

Witherington (1998:514) meen dat Lukas vir Paulus in die bekende toespraak skets as ʼn tipe Sokrates – iemand met wie die Atheners beide bekend en ongemaklik sou wees. Sokrates was immers die persoon wat tot die dood toe veroordeel is omdat hy die gode van die staat verwerp het en glo nuwe gode ingebring het (Conzelmann, 1987:140). Die Griekse filosoof se dood was ʼn skande vir meeste Atheners. Hulle was ongemaklik met die gedagte dat hulle een van hul bekendste wysgere doodgemaak het, bloot omdat hy die denke van die dag uitgedaag het (Germiguet 2001:130). Die feit dat Lukas die woorde in vers 18 uiter “dit lyk of hy ʼn boodskapper van vreemde gode is”’, herinner die leser aan Sokrates (Barrett, 2004:828). Witherington (2009:71) reken die vergelyking stop nie daar nie en dat Sokrates eens geargumenteer het dat die gode nie die mens benodig nie. Wanneer Paulus iets soortgelyks sê in vers 25, is dit om die parallel te bevestig. Hierdie tegniek word narratiewe analogie genoem en is ʼn baie effektiewe styl wat skrywers aanwend om te herinner, aanspreek en uiteindelik te oortuig.

McGrath (2014:132) beskryf narratiewe analogie as ‘kulturele vertaling’. Dit veronderstel ʼn proses waarin idees van een taal binne ʼn spesifieke sosiale konteks verplaas word na ʼn ander taal in ʼn ander sosiale konteks. Vertaling is nie net ʼn linguistiese saak nie, maar primêr kultureel. ’n Mens sou hier kon verwys na Wittgenstein se ‘taalspele’, waar elke verwysingsraamwerk as ’n taal op sy eie gesien word. Keller (2008:117) reken dat die kerk in hierdie post-Christelike kultuur nie doeltreffend sal wees deur alleen praktiese toepassings op Bybelse leer te verkondig nie. Bybelse konsepte moet vertaal word in die werklikheid van die dominante sosiale strukture. Soos Losie (2004:232) aanvoer, het Paulus dit meesterlik gedoen in Handelinge 17 deur die Evangelie te bedien in ʼn taal wat die filosofie van die dag gepas het.

Paulus het dit nie as onchristelik gesien om homself te oriënteer met die kunsvorme van die dag nie. Trouens, hy was nie alleen bekend met die denke van sy tyd nie, hy het dit baie duidelik bestudeer. Sy redevoering illustreer ʼn verbasende versoenende karakter as in ag geneem word dat die afgodery hom werklik ontstel het (Hand. 17:16-34). Paulus toon in die proses ʼn goeie Stoïstiese beheer van sy emosies. Hy skeer nie sy

56

klere soos in Handelinge 13 om sy onvergenoegdheid te illustreer nie. Sy gedrag op die Agora en Areopagus is baie beheersd soos wat Atheners en veral Stoïsynse filosowe sou verwag het van ʼn gerespekteerde intellektuele. Volgens Joodse tradisie sou dit aanvaarbaar gewees het vir hom om sy woede duidelik te maak, maar sy beheersde gedrag pas by sy Griekse omgewing (Botha, 2016:182).

In vers 23 gebruik hy die altaar van ʼn onbekende God as ʼn medium om die Grieke toe te spreek. Wat verder verbasend is, is dat die tekste wat hy aanhaal na die Griekse god Zeus verwys en dat Paulus dit nogtans bruikbaar vind (Johnston 2006:91). Hy vind aansluiting by die Griekse kultuur en hy wend dit só aan dat dit uiteindelik die verkondiging van die Evangelie dien (Witherington, 1998:530). Sy toespraak bevat ook nie net ʼn lukrake oppervlakkige aanhaling uit een van hul denkers se werke nie. Dit toon ʼn diep strukturele verstaan van Stoïsynse narratief en beelde. Verder is hy nie besig om alleen in ʼn logiese dialektiese manier te argumenteer nie – hy vertel ʼn verhaal in ʼn subversiewe manier wat beide bekend en uitdagend is.

Die Apostel gebruik die taal van die dominante intellektuele groep en is nie besig om dit te kwalifiseer vanuit ʼn Christelike wêreldbeskouing nie. Wanneer hy hul gedigte aanhaal, differensieer hy nie Jahweh van Zeus nie. Wanneer hy verwys na God se immanente teenwoordigheid, onderskei hy nie God se monoteïstiese aard van die panteïsme wat sy gehoor waarskynlik sou aanhang nie. Selfs wanneer hy na Christus verwys, doen hy dit nie by naam nie. Paulus stel belang om ʼn universele boodskap te verkondig. Deur Jesus se Joodse naam te gebruik, sou moontlik die idee skep dat dit slegs ʼn eksklusiewe Joodse godsdiens is wat nie van toepassing is op Griekse filosowe nie (Botha, 2016:184). ʼn Groot element van Paulus se apologetiese strategie is om agting te toon vir waarheidsmomente van Stoïsynse panteïsme62 en die Epukuriaanse

62 Die Stoïsyne is moeiliker om te verstaan as die Epikuriërs aangesien hulle leerstellings nie staties was nie, maar besonder ontwikkel het deur die jare. Hulle was panteïste in die sin dat hule geglo het dat die Goddelike vasgevang is in materie (Witherington, 1998:514). Verder was hulle egter ook in ʼn mate materialiste en van mening dat die siel saam die liggaam sterf (Russel, 2010:247).

57

deïsme63, maar om terselfdertyd verby dit te beweeg deur dit as waardevol, maar

onvolledig te verklaar64 (Watkins, 2007:18). Trouens, dit is moontlik dat Paulus die

Evangelie as ʼn middeweg beskou het tussen die twee Griekse filosofiese pole – bygeloof en ateïsme. Dit bewys dat Lukas in sy vertelling van die verhaal bewus was van die Aristoteliaanse filosofiese dogma. Hy kon enige ander retoriese tegniek aangewend het, maar deur dit op ʼn Aristoteliaanse wyse met mekaar te vergelyk, resoneer dit ongetwyfeld met sy Atheense gehoor (Botha, 2016:181). Bogenoemde is ʼn waardevolle model om krities maar ook positiewe interaksie uit te oefen. Die Christen is binne sy reg om ʼn opponerende samehangende wêreldbeskouing met respek te hanteer en die Christelike posisie strategies te posisioneer (Lazenby, 2011:47). Dit veronderstel nie ʼn regverdiging van hul idees nie, maar eerder die beoefening van Fillipense 4:8 wat die gelowige aanmoedig om sy gedagtes te rig op dit wat prysenswaardig is (Watkins, 2007:42). Dibelius (1956:55) verduidelik dat Paulus nie verstaan wil word as iemand wat die Grieke veroordeel vir hul sonde nie, maar wat hulle liewer wil inlig oor hul onkunde.

Romeine 1:18-20 vertel van God se algemene openbaring en dat die mens dus sonder verskoning is. Een van die implikasies van God se algemene openbaring is die feit dat God se storie, die Evangelie, homself gaan manifesteer in sogenaamde ‘goddelose’ gemeenskappe. Gevolglik kan Paulus die Evangelie koppel aan bestaande ‘Goddelike’ idees. Die feit dat Paulus in Handelinge 17:27 die opmerking maak dat God nie ver van enigeen is nie, sluit sterk by die algemene openbaring aan. Die bekende gesegde wat aanvoer dat alle waarhede God se waarheid is, is moontlik ʼn moderne verwoording van God se universele openbaring (Watkins, 2007:20). Die skrywer kan die beswaar antisipeer wat aanvoer dat skrywers soos Epimenidus en Aratus nie na Christus verwys

63 Die Epikuriërs was in ʼn sekere mate ateïste maar aangesien dit verban was in antieke Athene, het hul ʼn deïstiese posisie offisieel gehou. Dit was egter ʼn bekende geheim dat hulle materialiste was wat nie geglo het in ʼn lewe na die dood nie (Germiquet, 2001:128). Hulle was baie verdag oor Godsdienstige aktiwiteite en het dit as waansinnig beskou (Goodman, 1995:65).

64 Aristobulus van Alexandria het dieselfde gedoen met die gedig van Aratus wat Paulus gebruik het en het Zeus vervang met die God van die Ou Testament (Losie, 2004:231).

58

nie en dat Paulus se herinterpretasie daarom foutief is. Só ʼn argument oortree egter wat in letterkundige kritiek genoem word die ‘intensionele drogredenasie’ (Skelton, 2006:38).

Deur die loop van die toespraak sou Paulus ongetwyfeld inkoop by sy gehoor gekry het. Alles klink bekend en die spreker het duidelik ʼn goeie begrip van hul denke en idees. Aan die einde van die toespraak trek hy die lyne deur na die Evangelie, hoewel steeds op ʼn subversiewe wyse. Soos Witherington (1998:524) verduidelik, is Paulus besig met ʼn proses om Griekse idees nuwe betekenis te gee deur dit in ʼn Joods-Christelike monoteïstiese konteks te plaas. Hy doen dit dan deur vanuit die Griekse filosofiese konteks te werk na die Christelike. Keller (2015:99-100) beskryf die missiologiese proses as ‘kontekstualisering’. Die apologeet se boodskap moet kan resoneer met die kultuur, maar dit ook terselfdertyd sterk aanspreek - dit moet die afgode van ʼn samelewing kritiseer, maar steeds waardering en respek toon vir hul mense se ideale en behoeftes. Om net jou gehoor te weerspreek gaan nie die gewenste effek tot gevolg hê nie (Wright, 2008:90-93).