• No results found

HOOFSTUK 3: VERKLARENDE STUDIE OOR DIE KERK AS

3.3 Verklarende perspektiewe vanuit die sosiologie op die plaaslike

3.3.5 Verklarende perspektiewe volgens Weber (1864 – 1920)

Weber is bekend vir sy teorie dat die sosiale lewe gekenmerk word deur beide konflik, sowel as samehorigheid. Soms word daar geveg, soms word daar saamgewen; die geheim is die begrip van waarom en wanneer. Weber bevind homself gevolglik in die middel van Marx en Durkheim se teorieë. Marx het die siening gehuldig dat die sosiale lewe konflik in die materiële wêreld behels. Durkheim het egter weer die standpunt gehuldig dat alles oor samewerking in ’n wêreld van idees en waardes gaan (Gabler, 2010:52).

3.3.5.1 Verklarende perspektiewe op burokratiese invloed

Volgens Weber (Gabler, 2010:53), en Beckford en Demerath (2007:609) word die moderne samelewing deur rasionalisering gekenmerk. Die meeste dinge word georganiseer volgens standaard reëls en stelsels wat veronderstel is om vir almal te geld. Weber het die standpunt gehuldig dat ’n burokratiese organisasie een van die kenmerke van die hedendaagse samelewing is.

Weber se definisie van ’n burokrasie is in baie opsigte die beginpunt vir vandag se sosiologie van organisasies. Burokrasie behels verskeie belangrike eienskappe, naamlik:

 ’n Burokrasie is ’n organisasie gedefinieer deur geskrewe reëls. Die organisasie kan baie verskillende afdelings hê, maar die verhoudings in die afdelings word deur reëls gedefinieer.

 Elke persoon wat in ’n burokrasie werk, het ’n gegewe stel verantwoordelikhede wat aan ’n tydperk gekoppel is. Die posisies in die burokrasie word in ’n hiërargie georganiseer. Gesag word daarvolgens bepaal.

 Mense word in ’n burokrasie gehuur en bevorder op grond van formele kwalifikasies, soos skoolgrade of professionele sertifikate, opleiding en werkprestasie; nie op grond van persoonlike voorkeur of verwantskap nie.

 Die organisasie se bates word aan die personeel beskikbaar gestel in die uitvoering van hul pligte (Gabler, 2010:216).

Weber (Gabler, 2010:301) het geglo dat die wêreld vasgevang is in ’n siklus van “rasionalisering” waar tradisie, gewoontes en plaaslike identiteit vervang word met sistematisering, standaardisering en beplanning. Hy beklemtoon die voordele – dit maak die wêreld meer regverdig en laat dinge doeltreffender gebeur. Die negatief is egter dat dit die wêreld kouer en meer onpersoonlik laat lyk. Enigiemand wie se woonbuurt-koffiewinkel deur ’n Starbucks vervang is, of wie se onafhanklike boekwinkel deur Amazon vervang is, sal dit begryp.

3.3.5.2 Verklarende perspektiewe rakende stratifikasie en mobilisasie

In die komplekse samelewing verskil groepe mense en een van die grootste redes daarvoor gaan gepaard met stratifikasie en mobilisasie (Gabler, 2010:16). Weber het bekendheid verwerf vir sy teorieë rakende stratifikasie en mobilisasie. Hy gebruik Marx se idees rakende stratifikasie as fondasie, maar verskil met Marx se teorie (Beckford & Demerath, 2007:31).

Die woord “stratifikasie” verwys na verskillende vlakke van belangrikheid in die samelewing. In sosiologie behels stratifikasie dat sommige mense in enige gegewe samelewing meer mag en vryheid het as ander – sosioloë verwys na hierdie verskille as verskille van sosiale klas. Dit blyk dat daar klasongelykheid in elke gemeenskap is, maar dit verskil van grootte. Daar is egter baie verskillende aspekte van sosiale ongelykheid: geld, beroep, vermoë, motivering, sosiale verbindings, geloof, gespesialiseerde kennis, ras, geslag, kaste of ouderdom. Sosiale mobiliteit beteken dat klassestelsels met verloop van tyd kan verander, asook mense se posisies in die klassestelsels (Gabler, 2010:16).

Ongelyke toegang tot hulpbronne het ’n sterk oorerflike neiging dwarsdeur geslagte, ongeag die persoonlike eienskappe of vaardighede van individue. Toegang tot hulpbronne behels drie kategorieë van beloning, naamlik rykdom, mag en aansien. Rykdom behels eienaarskap van waardevolle materiële goedere. Mag behels die vermoë om ander sover te kry om te doen wat mens wil hê hulle moet doen deur middel van dwang of wettige gesag. Aansien behels eer, respek, agting en openlike goedkeuring aan individue van voorkeur. In sommige gevalle is daar ook ʼn verskil in aansien op grond van ouderdom en geslag (Peoples & Bailey, 2000:203-205).

Vanuit bogenoemde begrip van stratifikasie word kontak tussen lede van verskillende stande vermy. Byvoorbeeld, hoëstandlede glo dat hulle geestelik besoedel sal word as hulle in aanraking met lede van laerstande sou kom. Huwelike tussen verskillende klasse word verbied. Lede van verskillende klasse het wisselende grade van toegang tot materiële hulpbronne (inkomste, rykdom), invloedryke verhoudings (sosiale kontakte) en kulturele kennis (opvoeding, etiket) Die mees ekstreme voorbeeld is die klassesisteem van die Brahmane in Indië, die sogenaamde “untouchables”(Beckford & Demerath, 2007:31,32).

In sommige gestratifiseerde samelewings, soos dié van die Weste, word dit aanvaar dat opwaartse, asook afwaartse mobiliteit moontlik is. Mobiliteit, hetsy op of af die sosiale leer, is moontlik deur huwelike, persoonlike talent of harde werk (Peoples & Bailey, 2000:205,207-210). In ander samelewings is beweging tussen klasse nie moontlik nie. Met ander woorde, sosiale stand word beskou as ʼn “onveranderde”

aangesien dit geërf of deur die beskikking van bonatuurlike wesens toegeken is (Peoples & Bailey, 2000:205, 207-2010).

Navorsing bewys dat opvoedkundige ongelykheid geneig is om ʼn belangrike faktor by inkomste-ongelykheid en intergenerasie mobiliteit te wees. Ouerlike toegang tot finansiële hulpbronne speel ʼn belangrike rol in die oordrag van sosiale voordeel. Vermindering in opvoedkundige ongelykhede tussen ryk en arm is noodsaaklik om te verseker dat die volgende geslag jongmense gelyke geleenthede tot mobilisasie het (Jerrim & McMillan, 2014:23). ’n Tipiese Suid-Afrikaanse voorbeeld hiervan is die onrus wat geheers het by al die universiteite aan die einde van 2015.27 Studente

regoor die land het saamgestaan in die betoog dat die regering studente moet help om te studeer.

Vanuit Marx se teorie dat geld en rykdom die fundamentele basis van sosiale ongelykheid vorm, word wel aanvaar dat mense met meer geld groter mag uitoefen oor mense met minder geld. Mense met geld kan mense sonder geld dwing om take te verrig vir geld. Baie mense in kapitalistiese samelewings het baie werksopsies om van te kies, maar mense met geen geld en ’n paar gespesialiseerde vaardighede het nie keuses nie. Mense word selfs gedwing om met uiters riskante en onaangename “werke” geld te verdien. Hierdie werke kan diefstal, dwelmhandel of prostitusie insluit (Gabler, 2010:146).

Die tweede belangrike invloed van geld is dat mense met baie geld gewoonlik beter behandel word as mense met min of geen geld nie. Weber het geglo dat een van die belangrikste faktore in die opkoms van kapitalisme ’n godsdienstige oortuiging was dat welgestelde mense deur God geseënd is. In kapitalistiese samelewings word vandag nog geglo dat mense met groter rykdom, harder gewerk het as mense met kleiner rykdom. Dit beteken mense met meer geld kan mag en invloed uitoefen sonder om ’n sent te bestee. Weens al hierdie redes word geglo dat geld die hart van sosiale stratifikasie in byna alle samelewings verteenwoordig, met ander woorde geld word ’n simbool van seën en guns (Gabler, 2010:146).

Weber kom tot die gevolgtrekking dat godsdiens die beginsel van stratifikasie beide kan bevoor- of benadeel (Beckford & Demerath, 2007:31).

Vanuit bogenoemde feite, naamlik dat mense in ’n samelewing ’n spesifieke manier van doen verkry, word die gedagte van Florida (2004:226) ondersteun: Dat mense ’n sogenaamde derde plek vestig – buiten hul werk en huis – wat die hart van die gemeenskap se lewenskrag uitbeeld. Die uitdaging vir die kerk is gevolglik om ’n

ruimte te vestig waar mense sosiaal verbind word, ongeag ligging en klasseverskille.

Florida (2004:227) bevind dat hoe groter die etniese of klasseverskille is, hoe meer word die boodskap aan buitestaanders gegee dat vreemdes welkom is.

’n Voorbeeld van ’n derde plek skep, is moontlik waar vrywilligers ’n gemeenskaplike taak verrig tot opbouing van hulself en die gemeenskap. Hamilton (2010:3) bewys

dat indien ’n mens gelukkig wil wees, hy of sy goedhartig moet wees. Hy verduidelik

dat daar bewys is dat mense ’n hoogtepunt-ervaring beleef met vrywillige werk. Uit ’n studie van 3 296 vrywilligers het 95% verklaar dat hulle goed voel nadat hulle mense gehelp het. Die fokus is gevolglik dus: Hoe kan menslike gedrag deur ’n samelewing beïnvloed word of hoe kan mense ’n kultuur skep?

3.3.6 Afleidings vanuit sosiologiese perspektiewe rakende die Suid-