• No results found

Deskriptief-empiriese gevolgtrekkings oor die rol van die kerk as

HOOFSTUK 2: DESKRIPTIEF-EMPIRIESE PERSPEKTIEWE OP

2.9 Deskriptief-empiriese gevolgtrekkings oor die rol van die kerk as

In dié hoofstuk is eerstens ʼn deskriptiewe ondersoek gedoen om vas te stel wat in die gemeenskap aangaan, en tweedens is empiriese navorsing gedoen om te bepaal wat kerklidmate en lede van die gemeenskap se sienings is rakende die rol van die kerk in die plaaslike gemeenskap, asook die kerkleier se rol daarin.

2.9.1 Empiriese gevolgtrekkings

 97,8% respondente glo die kerk moet betrokke wees by positiewe transformasie in die gemeenskap.

 71,2% respondente glo die kerk gee die gemeenskap hoop en 64,2% glo die kerk bied die gemeenskap Bybelse norme en waardes.

 Hoe gereelder mense eredienste bywoon, hoe meer is hulle in die gemeenskap betrokke (r = 0,306).

 Hoe meer betrokke mense by die kerk is

o hoe meer is hulle bewus van die kerk se bydrae tot transformasie in die gemeenskap (r = 0,201);

o hoe meer glo hulle dat leiers wat gemeenskapsgefokus is die kerk se doeltreffendheid in die gemeenskap kan bevoordeel (r = 0,134);

o hoe meer glo hulle dat die kerk die gemeenskap kan ondersteun (r = 0,164); en

o hoe meer glo hulle die kerk het mense wat gewillig is om te dien (r = 0,209).

 Hoe meer die kerk vir die armes en gemarginaliseerdes sorg, hoe minder ervaar hulle dat die kerk onbetrokke by die gemeenskap se probleme is (r = -0,308).

 Hoe meer die kerkleier spanwerk en gemeenskapsbetrokkenheid inisieer, hoe meer word mense bewus van die kerk se bydrae tot transformasie (r = 0,185).

 “Kerk” (vraag 1) beteken vir 62,1% respondente ’n geestelike huis en familie.

 Volgens 58,2% respondente bied die kerk ondersteuning aan die gemeenskap (vraag 5).

 Hoe meer mense eredienste en kerkaktiwiteite bywoon, hoe meer word die kerk ’n geestelike tuiste en familie (r = 0,299).

2.9.2 Deskriptiewe empiriese gevolgtrekkings

In hierdie hoofstuk is die volgende uitdagings in die Suid-Afrikaanse gemeenskap bespreek, naamlik armoede, werkloosheid, geweld, korrupsie, MIV en die gesin in krisis. Die navorser het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:

 Gemeenskapsprobleme soos armoede, werkloosheid, korrupsie, MIV, geweld en die gesinskrisis bring ʼn behoefte voort by die gemarginaliseerdes, sowel as die gemeenskap, dat die kerk, as gemeenskap van gelowiges, sigbaar by gemeenskapsprobleme betrokke moet raak.

 Die statistiese agtergrond behels dat 86% Suid-Afrikaners hulself as Christene beskou. Dit behels ’n invloedsfeer van 52,5% mense wat weekliks eredienste bywoon en 22,5% wat dit tweeweekliks doen. Hierdie bywoning wys dat die kerk ʼn belangrike invloedsfeer in die plaaslike gemeenskap is.

 Net minder as 50% van die Suid-Afrikaanse bevolking tel onder die 40% armste huishoudings ter wêreld. Armoede beroof mense, en gevolglik ook ʼn gemeenskap, van menswaardigheid en kwaliteit.

 Suid-Afrika het tans ʼn statistiese werkloosheidsyfer van 25,5%. Werkloosheid het ʼn spiraaleffek wat ontwikkelend van aard is en op ʼn kontinuum groei vanaf honger, na ʼn swak selfbeeld, na mismoedigheid en stres, tot by woede en gebelgdheid teenoor ʼn sisteem wat werkloosheid veroorsaak. Werkloosheid lei tot trauma vir die individu, gesin en gemeenskap.

 Korrupsie beroof arm gemeenskappe van dienslewering en gevolglik bereik geldelike bronne nie die armes nie.

 Daar is bevestig dat geweld Suid-Afrika in repies skeur en dat ʼn siklus van geweld gevestig is. Min Suid-Afrikaners is nog nie deur geweld geraak nie.

 Suid-Afrika se aantal MIV-sterftes bereik derde posisie in die wêreld. Die virus beïnvloed almal op maatskaplike gebied. Die liggaam van Christus is nie hiervan vrygestel nie. Die kerkgemeenskap se aandag word ook gevestig op stigmatisering wat die liggaam van Christus benadeel en gevolglik die kerklidmate soos wese onversorgd laat. ʼn Skriftuurlike ondersoek sal in die normatiewe hoofstuk gedoen word om die begrip “die liggaam van Christus” beter te verstaan. Die navorser het tot die gevolgtrekking gekom dat, deur die gebruik van sterk uitlatings, sommige navorsers die kerkgemeenskap tot die erkenning wil skok dat baie lidmate reeds MIV-positief is. Gevolglik kan die kerk nie net skouers optrek en haarself van die krisis losmaak nie.

ʼn Laaste faktor wat bespreek is rakende die Suid-Afrikaanse gemeenskap is die gesin. Die volgende is bevind:

 Die gesin is onontbeerlik is vir ’n stabiele samelewing. Uit verskeie oorde word kommer uitgespreek oor die gesin in krisis in die Suid-Afrikaanse samelewing.

 Gesinstrukture het heeltemal verander. Gesinne bestaan nou ook uit enkelouers, saambly-ouers en homoseksuele ouers. MIV sorg vir die grootste gesinsuitdaging in Suid-Afrika se geskiedenis. Die afgelope vyf jaar is daar groeiende insidente van kinderverlating in Suid-Afrika. Aansluitend hierby is die seksuele geweld teenoor kinders. Gedurende die laaste dekade het die verkragting van babas met 400% toegeneem.

Indien bogenoemde uitdagings beskou word teen die statistiese agtergrond van 86% Suid-Afrikaners wat hulself as Christene beskou, ontstaan daar vrae oor die kerk se rol in die plaaslike gemeenskap en of die invloedsfeer van 52,5% mense wat weekliks eredienste bywoon, reg aangewend word.

Die plaaslike kerk, as ʼn gemeenskap van gelowiges, het profeties, sowel as in die wyse waarop gelowiges leef, ʼn rol om te vertolk. Die kerk, as vergestalting van Christus se liggaam, moet besorg wees oor ʼn samelewing wat swaarkry. Daar is ʼn versugting dat die kerk betrokke moet raak by ʼn samelewing wat swaarkry. Gelowiges moet ʼn geoefende oog ontwikkel vir die nood van mense om hulle. God

se sending in die wêreld wys sy oneindige liefde vir mense in nood (soos bespreek in 2.1).

Reid (2010:160-161) toon aan dat prediking met oorreding te make het. Hy toon verder aan dat oorreding tegelykertyd die opdrag aan die kerk se leierskap is.

Die kerkleier het egter die verantwoordelikheid om daarop te let dat in die bestaande kultuur waarin die kerk funksioneer, die kerk die heeltyd by die eise van die tydsgewrig moet aanpas (Niemandt, 2010:1).

Die navorser kom dus vanuit die deskriptief-empiriese studie tot die gevolgtrekking dat kerkleiers wel die potensiaal het om doeltreffende verteenwoordigers van God se koninkryk in die plaaslike gemeenskap te wees as hulle die plaaslike kerk se bronne verantwoordelik tot voordeel van die gemeenskap gebruik.

HOOFSTUK 3: VERKLARENDE STUDIE OOR DIE KERK AS