• No results found

HOOFSTUK 2: DESKRIPTIEF-EMPIRIESE PERSPEKTIEWE OP

2.1 Inleiding

Bonhoeffer het bekendheid verwerf vir sy onderskeid van die sanctorum communio (teologiese studie van die sosiologie van die kerk) (Ford, 2005:49). Gelowiges, as die gemeenskap van heiliges, leef elke dag binne ʼn plaaslike gemeenskap en is veronderstel om die realiteit in die gemeenskap te begryp. In hierdie opsig het Bonhoeffer melding gemaak van wat hy beskryf het as “die las van die ander” om sodoende Christus se volgelinge te herinner aan die roeping wat Christus self op aarde vervul het (Ford, 2005:49). Pieterse (2001:24) som op sy beurt die roeping van ʼn plaaslike gemeente op as ʼn dienende gemeenskap binne die breër gemeenskap. Dit bring mee dat die boodskap van die gekruisigde en opgestane Christus aanspraak maak op die wyse waarop gelowiges prakties leef.

Nullens (2015:83) vind aansluiting by die perspektief van dié aanspraak deur te beklemtoon dat God, deur die werking van die Heilige Gees en deur sy kerk, ʼn nuwe taal skep; die taal van ʼn gemeenskap van gelowiges wat verkondig dat God deur sy Gees teenwoordig is. Hiermee benadruk genoemde outeur die pneumatologiese fundering in die funksionering van die gemeenskap van gelowiges. Die onmiddellike vraag wat gestel kan word, is of bogenoemde outeur ook na die profetiese rol van gelowiges verwys, nie alleen in die verkondiging van die Woord nie, maar ook in die boodskap van hul lewenswyse. Die feit dat die kerk die liggaam van Christus is, veronderstel dat dit ook in die praktiese belewing van kerkwees bemerk sal word. Die kerk is immers op fundamentele wyse veronderstel om ʼn gemeenskap te wees wat by die lief en leed van medegelowiges betrokke is, asook by die omgewing waarin sy haarself bevind. Pieterse (2001:121) beklemtoon in sy navorsing juis hierdié aspek en omlyn die beginsel dat God se oneindige liefde vir die mens in nood die dryfkrag van sy sending in die wêreld is.

Pieterse (2001:19) verduidelik verder dat elke gemeenskap, voorstad en township oor plaaslike kerke beskik. Kerkwees veronderstel verder dat gelowiges op feestelike wyse byeenkom en dat daar juis tydens die eredienste gepreek word. Pieterse beklemtoon dat die impak van persoonlike verhoudings invloedryk is. Gelowiges wat onderling met mekaar meeleef, is veronderstel om gesamentlik ʼn geoefende oog vir die mense in hul lewensmilieu te ontwikkel. Dit behels dat plaaslike gemeentes wat wel relasioneel (koinonia) met mekaar saamleef, op deontologiese wyse uitgedaag word om ʼn vergestalting daarvan te wees dat gemeentelike bediening onder begeleiding van geroepe diensknegte, wel ʼn invloed op die gemeenskap uitoefen. Diensknegleiers en gemeentelede het vanweë die persoonlike gerigtheid (kommunikatiewe gerigtheid) van al die gestaltes van gemeentelike bediening gereelde kontak met mekaar. Diensknegleiers (kerkleiers) kan daarom wel hul invloedsfeer gebruik en as leiers die lidmate tot die konkretisering van verhoudings en vennootskappe binne die gemeenskap begelei.

Om die erns van diensknegleiers se roeping te begryp, is dit opvallend dat die metafoor van “die liggaam” sentraal staan. Vedder (2003:143) toon op grond van Ricoeur se hermeneutiese verklaring oor die funksie van metafore aan dat metafore beide ten doel het om handelinge in die wêreld te vorm, asook om betekenis daaraan te gee. Die kerk word meermale in die Bybel as die liggaam van Christus voorgestel. Christus is die hoof en gelowiges is die liggaam. Soos wat die liggaam ʼn eenheid is en elke lid tot voordeel van die res van die liggaam saamwerk, is die funksionering van die liggaam te danke aan Christus as hoof van die liggaam (Vosloo & Van Rensburg, 1993:1829). Olivier en Van Deventer (2004:20) sluit by die metafoor van die liggaam aan en toon aan dat om ʼn vergestalting van Christus se liggaam te wees, meebring dat gelowiges wel besorg sal wees oor ʼn samelewing wat swaarkry. Sodoende moet die liggaam van Christus duidelik sigbaar in die samelewing word.

In hierdie hoofstuk word dit ten doel gestel om op deskriptief-empiriese wyse aan te toon hoe die unieke dinamika van die werking van die liggaam van Christus en die roeping tot somatisering daarna uitsien. Die vraag oor wat in die problematiese

praksis aan die gang is, sal ondersoek word (volgens die metodologie van Osmer in hoofstuk 1).

ʼn Deskriptief-empiriese ondersoek oor die kerk, as verteenwoordiger van God in die plaaslike gemeenskap, blyk noodsaaklik te wees. Die doel hiermee is nie om ʼn blote opsomming te bied oor navorsing wat met hierdie navorsingsfokus verband hou nie, maar om in terme van die konseptueel-teoretiese raamwerk vas te stel hoedanig die kontoere van eie teorievorming in die lig hiervan uitsien. Die bydraes wat in die deskriptiewe navorsing uitgelig word, sal aan die hand van die konseptueel- teoretiese raamwerk geëvalueer word.

Die deskriptiewe ondersoek sal op die volgende wyse ingerig word, naamlik:

 ʼn Deskriptiewe studie oor die funksionering van die AGS-gemeente in Welkom, asook die AGS-kerk in geheel, word vanuit die invalshoek van ʼn pinksterparadigma benader.

 Die volgende aspekte word op deskriptiewe wyse geëvalueer om sodoende die veld van ondersoek te lokaliseer, naamlik:

o Literatuur, perspektiewe en statistiek oor die realiteit van armoede, werkloosheid, korrupsie, MIV, geweld en die verbrokkeling van die gesin in die Suid-Afrikaanse samelewing.

o Suid-Afrika as ʼn Christenland en die invloedsfeer van die plaaslike kerk.

o Die kerkleier, as leier van die plaaslike kerk, se veranderende rol in die gemeenskap en plaaslike kerk.

o Die House of Hope-projek in Welkom as ʼn gemeenskapsprojek in ʼn plaaslike gemeenskap.

o Die AGS van Suid-Afrika as visiedraer van plaaslike AGS-kerke.

o Die meetbare stand van sake aangaande die rol van die kerk in die gemeenskap.

o Die rol van die kerk in die plaaslike gemeenskap, asook die effek van die diensknegleiers se toerusting van gelowiges ten opsigte van hul taak in die gemeenskap.

2.2 Deskriptiewe navorsing oor die realiteit van armoede, werkloosheid,