• No results found

HOOFSTUK 3: VERKLARENDE STUDIE OOR DIE KERK AS

3.3 Verklarende perspektiewe vanuit die sosiologie op die plaaslike

3.3.4 Verklarende perspektiewe volgens Parsons (1902 – 1979)

Parsons is ’n optimistiese navolger van Durkheim en huldig ’n siening rakende die samelewing wat bekend staan as funksionalisme. In funksionalisme word die verskyning van sosiale verskynsels verduidelik met verwysing na die doel wat hulle dien. As ’n sekere verskynsel, soos onderwys of godsdiens, waargeneem word in baie verskillende samelewings, is daar ’n spesifieke rede daarvoor. Parsons redeneer dat ’n betekenis daaraan geheg moet word, dat dit ’n spesifieke doel het in die samelewing, of dit sou andersins nie bestaan het nie (Gabler, 2010:55). Parsons het die vernaamste werke van Max Weber en Émile Durkheim aan die Amerikaanse sosioloë bekend gestel. Die hoofgedagte van sy werk is dat die samelewing gekonseptualiseer kan word as ’n sosiale stelsel (Swedberg, 2015:216).

Parsons (Calhoun et al., 2012:502,503) beskou ʼn gemeenskap as ’n komplekse sosiale stelsel; ’n netwerk van interafhanklike substelsels wat elk ’n sosiale stelsel in eie reg is. Parsons (Calhoun et al., 2012:503-522) verduidelik dat die analisering van gemeenskapsprobleme nie eenvoudig is nie. Hy gee drie redes waarom gemeenskappe probleme ondervind, naamlik:

1. Prosesse in sosiale stelsels raak al hoe moeiliker om te beheer met verhoogde bevolkingsgroei.

2. Die hiërargie van beheer in sosiale stelsels, soos byvoorbeeld die bestuur van ’n skool, word meer intens en moeiliker om te bestuur hoe groter dit word. Strukturele verandering verg meer aandag hoe meer invloed die persoon uitoefen, byvoorbeeld ʼn skoolhoof. Hoe meer gesag die persoon het, hoe groter is sy of haar invloed op die waardestelsel, veral as in ag geneem word dat stabiliteit vanuit die waardestelsel verkry word.

3. Probleme ontstaan as gevolg van die komplekse maniere waarop die samelewing saamgestel is. Elke gemeenskap het verskeie substelsels. Hierdie substelsels behels verskillende rolle, gemeenskaplikheid, norme en waardes en kan deur eksterne faktore beïnvloed word. Elke gemeenskap word egter ook as ʼn geheel op die kollektiewe vlak georganiseer. Op die kollektiewe vlak kan belangrike veranderings in die leierskapsamestelling oor die algemeen ’n veel groter impak op die norme en waardes van die gemeenskap hê as wat die geval is met byvoorbeeld laer-orde substelsels.

Die positiewe kant is egter dat indien daar deernisvol op ander se behoeftes gereageer word, mense as katalisators kan optree vir die verandering van hul eie en ander se idees oor verhoudings. Mense hoef nie vir ander te wag om hul verhoudingsoortuigings te verander nie. Inteendeel, hulle het die mag om self hul oortuigings te verander en sodoende self die soort verhoudings te skep wat hul benodig in die vervulling van hul behoeftes (Canevello & Crocker, 2010:390).

Parsons (Calhoun et al., 2012:512-517) besef dat groter gemeenskappe aanleiding gee tot nuwe integrasieprobleme. Hoe meer eenhede daar is, hoe minder waarskynlik sal hulle op natuurlike wyse hul aktiwiteite kan koördineer. Die uitdaging is om versoenbare maniere te kry vir die gladde funksionering van die stelsel as ʼn

geheel. Elke subeenheid van die samelewing sal in gemeenskaplikheid sy eie geïnstitusionaliseerde waardes moet hê, wat gesien moet word as spesifikasies wat toegepas kan word in die meer algemene waardes van die samelewing.

Parsons (Calhoun et al., 2012:511) huldig die teorie dat ʼn eenvormige stelsel van geïnstitusionaliseerde waardes ʼn gemeenskaplike kultuur vestig. Gevolglik word afgelei dat mense se denke deur kultuur bepaal word, ook vanuit die kerkgemeenskap. Kultuur kan egter mense se denke verkeerdelik beïnvloed en die moontlikheid bestaan gevolglik dat dίt wat hulle as die norm beskou nie die waarheid is nie. Dit kan verder afgelei word dat die kerk, met die kerkleier as ʼn persoon van invloed, die potensiaal het om gemeenskappe se kultuur te beïnvloed en selfs te verander na omgee-gemeenskappe wat uitdagings aanspreek.

Niemandt (2010:1) waarsku egter dat die kultuur waarbinne die kerk funksioneer soos ’n kronkelende rivier is wat die hele tyd aanpas sonder inagneming van vorige voor- en afkeure uit die geskiedenis. Hy waarsku dat die toekoms moeilik voorspelbaar is en daarom beveg die kerk veranderings soos ’n museumopsigter (die kerk is met ander woorde nie bereid om te verander nie). Die kerk het egter ’n roeping as ʼn missionale kerk in ’n veranderende kultuur (Niemandt, 2010:1).

3.3.4.2 Verklarende perspektiewe rakende die vorming van waardes

Parsons (Calhoun et al, 2012:510) se teorie in die vorming van waardes behels gevolglik: waar twee (of meer) individue interaksie het, begin ʼn deelname-rol en sodoende vorm ʼn interafhanklike sisteem. Hierdie sisteem is gebou op die beginsel dat elke individu beskou word as ʼn stelsel met sy eie waardes. Hierdie interafhanklike sisteem se stabiliteit bepaal ook die verhouding se oorlewing. Stabiele interaksie impliseer verder dat dade betekenis verkry. Hierdie betekenis word vertolk met verwysing na ʼn gemeenskaplike stel normatiewe opvattings en die noodsaaklikheid van die interaksie. Sulke normatiewe patrone behels waardes en normatiewe gereguleerde komplekse gedrag (Calhoun et al., 2012:511).

In die meeste sosiale stelsels het deelnemers nie dieselfde funksie nie, maar vul mekaar eerder aan. Wanneer daar twee of meer strukturele en duidelike eenhede is

wat in wese dieselfde funksie verrig (byvoorbeeld gesinne in ʼn gemeenskap), word gepraat van segmentering soos onderskei deur differensiasie. Hier word gepraat van waardes wat deur die lede gedeel word. Elkeen het ’n spesifieke rol, wat deur die konteks bepaal word, om te speel. Die regte en verpligtinge wat dus op een rol van toepassing is, is nie noodwendig van toepassing op die ander rolle nie, hoewel daar ’n gedeelde waardesisteem is (Calhoun et al., 2012:511). Waar deelname verskillend is, word die deel van waardes ʼn noodsaaklike voorwaarde vir die integrasie van die stelsel. Parsons sien die huwelik as een van die belangrikste diadiese verhoudings in alle samelewings. Dit behels gemeenskaplike waardes, norme en eenheid. Die eenheid in die uitvoering van ʼn rol gee lidmaatskap, verpligtinge en regte (Calhoun et al., 2012:511,512).

Laastens word die insigte van Weber nagevors om die onderliggende kragte van invloed in die gemeenskap te verstaan.