• No results found

HOOFSTUK 2: DESKRIPTIEF-EMPIRIESE PERSPEKTIEWE OP

2.2 Deskriptiewe navorsing oor die realiteit van armoede, werkloosheid,

2.2.5 Deskriptiewe perspektiewe op MIV en vigs

Buys (2008:142) beskryf MIV/vigs as die ramp met die grootste impak wat die mens getref het. Die vraag hoe Suid-Afrika se plaaslike gemeenskappe hierdeur geraak word, kom op aprioriese wyse onmiddellik na vore. Hierdie vraag skep ten diepste ʼn antropologiese, asook eksistensiële probleem, naamlik: Hoe raak hierdie verskynsel mense se vaardighede in besighede en hul werksomstandighede? Die aspek van mensbeskouing en menswees is dus direk ter sprake. Op die mees basiese vlak sou gevra kon word: Hoe word die siekes versorg? Barnett en Whiteside (2002:161), en Abdool Karim en Abdool Karim (2005:43) waarsku dat die pandemie niemand uitlaat nie; elke sektor van die gemeenskap word daardeur geraak. Die MIV-virus is ʼn maatskaplike bedreiging wat almal op die een of ander manier sal beïnvloed. Die virus beïnvloed menswees in sy geheel (Brown & Hendriks, 2004:3,11; Buffel, 2006:13).

MlV/vigs verwoes familiestrukture. Dit het rolverskuiwings tot gevolg, asook kinders wat sonder ouers opgroei. Tradisionele gesinstrukture word vervang deur vroulike substituutversorgers wat dikwels self onder MIV ly (Smit, 2009:8). Vrouens en kinders ly die meeste onder die pandemie (Pillay, 2009:13-25). MIV/vigs laat families verslae, oorweldig die gesondheidsektor en raak studente, sowel as onderwysers. Besighede ly hieronder; persoonlike produktiwiteit en ekonomiese groei word beïnvloed wat tot gevolg het dat skaars bronne verdeel moet word. Ouerlose kinders sal altyd deel van gemeenskappe wees. Wat MIV/vigs anders

3 MIV is die beginstadium van die virus (die Engelse term is HIV) wat vigs (die Engelse term is Aids) veroorsaak. Indien die vigs-stadium bereik is, is die immuniteit reeds baie beskadig.

maak, is dat die gemeenskap se oorlewingsmeganismes wat uit families bestaan, besig is om kwyn, veral in arm gemeenskappe (Abdool Karim & Abdool Karim, 2005:43). Die groeiende aantal straatkinders is ʼn bewys dat families net nie in staat is om ander familielede se kinders te versorg nie (Barnett & Whiteside, 2002:197). Die hartseer resultaat is dat kinders gewoonlik diegene is wat aan die kortste end trek (Barnett & Whiteside, 2002:201).

Gepaardgaande met die hoë MIV/vigs-syfers bestaan daar verdere probleme met hulpverleningsdienste wat eintlik veronderstel is om tot heling van die probleem te lei. Uit ʼn studie in drie openbare Vrystaatse hospitale is bevind dat 40% van die pasiënte nie die personeel vertrou het nie en bang was vir stigmatisering in die geval van ʼn positiewe uitslag. Dít is die grootste rede waarom hierdie dienste nie effektief benut word deur mense wat dit werklik benodig nie (Khan et al., 2015:202).

UNAIDS4

berig dat 6,3 miljoen Suid-Afrikaners MIV-positief is. Die volgende tabel gee dan ook spesifieke indelings van MIV-positiewe mense:

Mense wat MIV+ leef Volwas- senes (15-49jr) Volwas- senes (15jr en ouer) Vrouens (15jr en ouer) Kinders (0-14jr) Sterftes Wese (0-17jr) 6 300 000 19,1% 5 900 000 3 500 000 360 000 200 000 2 400 000

Tabel 2.1: MIV-statistieke van Suid-Afrika

Sowat 2,4 miljoen kinders is MIV-positief. Die statistieke wek kommer na aanleiding van die realisering dat die ouerlose kinders, sowel as die MIV-positiewe kinders, ʼn geweldige uitdaging stel ten opsigte van toekomstige optrede. Ouers en families gaan hulp benodig in die versorging van kinders.

4 UNAIDS – gesamentlike Verenigde Nasies-program wat ’n innoverende vennootskap behels wat MIV/vigslyers wêreldwyd help en universele toegang tot MIV-medikasie bevorder.

ʼn Verdere rede tot kommer is die volgende tabel wat verband hou met swanger

moeders wat MIV-positief is. StatsSA (2013:bladsynommer?) bied die volgende

statistiek, naamlik:

Tabel 2.2: Beraamde persentasie MIV-positiewe vrouens wat klinieke besoek, per provinsie

MIV-positiewe moeders se statistieke bly ʼn wesentlike probleem. Die voorkoms van MIV onder moeders wat klinieke besoek, word beraam op 24,8% tot 30,2% per provinsie.

Die pandemie se grootste veroorsakende faktor is die seksuele lewenswyses van mense in Suid-Afrika (Abdool Karim & Abdool Karim, 2005:143). Pillay (2009:16) verduidelik hoe vrouens en jongmeisies, as gevolg van armoede, seksuele transaksies doen en sodoende hulself aan die MIV-virus blootstel. Jongmeisies moet siek familielede versorg en gevolglik verlaat hulle die skool. MIV/vigs raak die plaaslike gemeenskap in die geheel en die kerk, as gemeenskap van gelowiges, word genoodsaak om opnuut weer oor haar rol te besin.

Brown en Hendriks (2004:3,11) beklemtoon dat die teenwoordigheid van MIV in die gemeenskap, en spesifiek ook in die kerkgemeenskap, die kerk uitdaag om die realiteit en verskeurdheid as gevolg hiervan te aanvaar. Volgens Smit (2009:200) moet die kerk weer haar ware Bybelse identiteit as liggaam van Christus uitleef om doelmatig om te gaan met die pastorale behoeftes van mense wat met MlV/vigs lewe. Hierdie optrede sluit in dat die kerkgemeenskap betrokke moet raak en die kerkleier doelgerigte leiding daarin moet gee (Smit, 2009:8). Die plaaslike kerk moet bemagtig en toegerus word om haar verantwoordelikheid in terme van die

geïdentifiseerde nood en behoeftes aan te spreek deur praktiese en konkrete handelinge. Om bloot net hieroor te preek en duidelike afkeur te bewys, sal helaas nie die enigste oplossing in die problematiese praksis voortbring nie. Woorde moet ook met dade gekomplementeer word (Smit, 2009:220).

Volgens Denis (2009:71) beskou gelowiges MIV dikwels as ʼn oordeel van God. Hiermee kom die aspek van verstaan en die poging om te wil verstaan waarom sekere dinge gebeur (die teleios-gedagte) na vore. Dié eensydige, veroordelende gesindheid van gelowiges kan moontlik apatie voortbring. Die geskiedenis bewys dat geloofsgemeenskappe wel veroordelend gestaan het teenoor MIV, homoseksualiteit, dwelmmisbruik en verslawing (Smit, 2009:153). Die veroordeling het moontlik mense met MIV/vigs verhinder om hulp by ʼn plaaslike kerk te soek. Stigmatisering, wat die marginalisering en uitsluiting van mense behels, benadeel die gehoorsame uitvoering van die roeping van die liggaam van Christus en veroorsaak liminale ervarings (Smit, 2009:95).