• No results found

Hoofstuk 6: Gevolgtrekkings, aanbevelings, beperkinge, afsluiting en slotwoord

2.2 Konseptuele Raamwerk: Transformatiewe Inklusiewe Onderwys (Transformatiewe Inklusiwiteit).

2.3.3 Verenigde State van Amerika

Die Verenigde State van Amerika beskik oor ‘n sterk en omvattende beleid wat ten doel het om gelyke onderwysgeleenthede vir almal te voorsien (Spelling, 2008). Die hervorming van onderwys en die herskepping van die Amerikaanse samelewing spreek tot die noodsaaklike veranderinge wat nodig is in die VSA ten opsigte van inklusiewe onderwys vir alle leerders (Lipsky & Gartner, 1997). Die regte- en etiekdiskoers plaas die fokus op die rol van skole in Amerika om ongelykhede in die onderwys vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes gelyk te stel (Dyson, 1999). Ten spyte hiervan is daar steeds voorbeelde waar daar onderskeid gemaak word tussen rassegroepe en waar kultuurgroepe verskillend behandel word.

Die sluiting van skole wat uitsluitlik voorsiening gemaak het vir swart leerders in die Verenigde State van Amerika, na ’n Hooggeregshof-uitspraak in 1954, het die hoop in dié land laat opvlam dat rasseskeiding in skole iets van die verlede was (Thigpen, 2004; Lipsky & Gartner,1997). Dit blyk egter dat daar steeds gereeld insidente plaasvind wat met rassediskriminasie en onverdraagsaamheid verband hou. Harris (1996) verklaar na aanleiding van ’n insident by ’n skool in Georgia, dat swart leerders nie die genoegsame respek ontvang wat hulle verdien nie.

Volgens Thigpen (2004) bestaan sterk vooroordele steeds in klaskamers waar onderwysers steeds die verwagting het dat wit leerders beter sal presteer as leerders van ander rassegroepe. Barnes, Bentrup, Ekman en Brady (2004) bevestig dit en verklaar dat daar dubbele standaarde by onderwysers ontstaan in die vorm van ‘n jammerte vir Afro-Amerikaanse kinders, daarom wil onderwysers hulle nie te hard druk nie.

29

Thigpen (2004) bevestig dat wit leerders in baie skole steeds beter presteer as hulle swart eweknieë. Moontlike redes wat hiertoe kan bydra is die wit persepsies dat swart leerders ’n anti-intellektuele kultuur het, dat swart ouers ’n onkritiese houding teenoor die skole het en ’n gebrek aan aksie vertoon om die verskille uit te wis ( Barnes, Bentrup, Ekman & Brady, 2004). Aanvullend hiertoe dui Sultana (2000) aan dat baie leerders van Asiatiese oorsprong in die VSA benadeel word as gevolg van taalprobleme. Deelname deur die ouers in gesprekke en evaluerings is nie moontlik nie, aangesien hulle in baie gevalle nie Engels verstaan of hulself nie in Engels kan uitdruk nie. Sultana (2000) wys daarop dat baie onderwysers aanvaar dat taalprobleme die enigste hindernis is wat leer belemmer en doen nie moeite om die leerders verder te evalueer om ander leerhindernisse te identifiseer nie. Leerders wat dus die reg op steun het, word daardie reg ontneem. Uitdrukkings en idiomatiese spreektaal kan ook tot misverstande lei (Sultana, 2000).

Uit die bogenoemde blyk dit dat in die VSA taal-, ras- en kultuurverskille hindernisse kan wees en dat leerders as gevolg daarvan deur samelewingskragte verhinder kan word om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Volgens Spelling (2008) het alle Amerikaners hulleself tot die revolusionêre idee verbind, dat elke kind kan leer. Bevordering van leerderprestasie, koestering van onderwyssuksesse en die versekering van gelyke onderwysgeleenthede vir alle leerders het vir die VSA top prioriteit geword (Spelling, 2008).

Die missie van VSA onderwys is om leerderprestasie te bevorder en leerders voor te berei vir kompetisie met die res van die wêreld deur uitstekende onderwys te bevorder en gelyke toegang tot onderwys te verseker. Volgens Spelling (2008) berus die onderwys van die VSA op baie mense van verskillende vlakke van die regering, maar is so ontwerp om na een uitkoms te lei, naamlik kwaliteitonderwys vir elke leerder. Die Departement van Onderwys het hulle verbind om kwaliteitonderwys aan alle leerders in die VSA, insluitend individue met spesiale onderwysbehoeftes, te verskaf.

30

Die “No Child Left Behind” wet van 2001 het kwaliteitonderwys belowe aan alle leerders sowel as leerders met spesiale onderwysbehoeftes. Die akademiese prestering van hierdie leerders het ‘n nasionale prioritet geword. Om hierdie uitkoms te bereik is volgens Spelling (2008) egter nie ‘n maklike taak nie, maar dit hang af van ’n uiters hoogs gekwalifiseerde onderwyser wat in elke klaskamer gevind word, wat hoë verwagtinge vir elke leerder in die klaskamer koester. Om hierdie hoogs gekwalifiseerde onderwysers, ingesluit gekwalifiseerde onderwysers vir spesiale behoefte-leerders daar te stel, het die staat programme in plek gestel wat befonds word. Volgens Spelling (2008) loop dit hand aan hand met gereelde assessering om te kan sien wat werk en wat nie. Dit is weer nou verwant aan ingeligte ouers wat goeie en regte keuses vir hul kinders kan maak.

Volgens Spelling (2008) het die implimentering van die “Individuele met Spesiale Onderwysbehoeftes Wet” van 2004 tot gevolg gehad dat leerders met spesiale onderwysbehoeftes, groot welslae in die klaskamer behaal. Ongeveer 96% van die leerders met spesiale onderwysbehoeftes word al ingesluit by hoofstroomskole in die VSA. Die ander 4% behoort tot aparte spesiale skole wat hulself uitsluitlik toewy aan leerders met spesiale onder- wysbehoeftes (Spelling, 2008).

Die meeste van die leerders met spesiale onderwysbehoeftes wat hoofstroomskole bywoon, word met behulp van toepaslike hulptoerusting tydens bepaalde periodes deur ‘n gekwalifiseerde spesiale onderwyser ondersteun.

Die tyd wat hierdie leerders buite die hoofstroomklaskamer spandeer in spesiale klasse wissel na gelang van die aard van die leerder se spesialeonderwysbehoefte. Hierbewens spandeer die helfte van die leerders met spesiale onderwysbehoeftes, 80% of meer van hul dag in die hoofstroomklaskamers (Spelling, 2008).

31

Ten einde al hul leerders sinvol op te voed erken die VSA dat hulle slegs suksesvol sal wees deur met die internasionale gemeenskap saam te werk om die behoeftes van leerders met spesiale onderwysbehoeftes aan te spreek, aldus Spelling (2008).

Die VSA ondersteun die doelwitte van Inklusiewe Onderwys en gelyke onderwysgeleenthede vir alle leerders wat deur UNESCO daargestel is. Volgens Kemple, Hartie, Correa en Fox (1994) hou die mate waarin onderwysers, gesinne en gemeenskapsleiers die verbetering van onderwys vir alle leerders bespreek, groot belofte in vir die transformasie van Amerikaanse skole. Volgens Spelling (2008) het dit jare geneem vir die VSA om op nasionale vlak ooreenkoms te bereik, maar vandag word ‘n hernude toewyding tot uitmuntende onderwys in die VSA bespeur, wat aangevuur was deur die “No child left behind”- wet van 2001 (Spelling, 2008).