• No results found

Gevolgtrekkings rakende geselekteerde bevindinge

Hoofstuk 6: Gevolgtrekkings,aanbevelings, beperkings, afsluiting en slotwoord

6.2. Gevolgtrekkings rakende geselekteerde bevindinge

Die eerste gevolgtrekking waartoe ek kom, is dat leerderondersteuning beslis toegepas word in die landelike, Afrikaanse, histories bruin, laerskole waarin die navorsing gedoen is. Hierdie implementering neem verskillende vorme aan. Die onderwysers vertoon gesonde praktyke in hulle ondersteuning ter verbetering van leerders se skolastiese of akademiese vaardighede. Verder bied hulle verskillende vorme van ondersteuning in die aanspreek van psigo- sosiale probleme wat ‘n invloed kan het op leerders se skolastiese vordering. Hulpbronne tot die beskikking van die skool word so ver as moontlik gelyk versprei en gelyke toegang daartoe word ook gefasiliteer. In hierdie verband word die hulpbronne wat deur die onderwysdepartement voorsien word, meestal as positief aangedui. Daar is natuurlik gebreke ook soos die gebrek aan behoorlike sportgeriewe aandui, maar dit beteken nog nie dat hierdie landelike laerskole niks doen aan hulle situasie nie, soos hul kreatiewe oplossings vir sportbeoefening dan ook aandui. Die waarde van selfbemagtiging deur die verwerwing van vaardighede word terdeë besef deur die deelnemers aan hierdie navorsing.

122

Die vaardighede wat so verwerf word, kan dan tot nog beter lewering van leerderondersteuning dien. Binne die skool self word bemagtigings geleenthede aangebied en dan word geleenthede van die Departement van Onderwys ook bygewoon. Sosiale faktore wat in die pad van beter gemeenskaps- en leerder- ontwikkeling staan, word ook deur die skool aangespreek. Die hoofdoelwit van die navorsing; om vas te stel hoe leerderondersteuning in hierdie konteks geïmplementeer word, is dus beantwoord.

Tot ‘n groot mate is die subdoelwitte ook beantwoord. Vervolgens gee ek die gevolgtrekkings waartoe ek kan kom rakende die subdoelwitte.

Ek kom tot die gevolgtrekking dat deelnemers in hierdie navorsing ‘n genuanseerde begrip van leerderondersteuning het wat direkte akademieseondersteuning insluit asook ander vorme van ondersteuning wat meer ontwikkelend van aard is. Beide vorme van leerderondersteuning strek die leerder tot voordeel wat hul akademiese vordering betref. Nog ‘n gevolgtrekking is dat deelnemers se begrip van leerderondersteuning direk verwant is aan die begrip van leerderondersteuning soos uitgedruk in die Witskrif 6 wat die formele beleid is waarin die ideaal van leerderondersteuning vervat is (Department of Education, 2001). ‘n Gevolgtrekking waartoe ek kom rakende die twee skole se implementering van leerderondersteuning, is dat daar baie sterk ooreenkomste is met geringe verskille as gevolg van kontekstuele faktore.

‘n Verdere gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat leerderondersteuning in hierdie landelike konteks onderhewig is aan sekere aanwysers ten einde realisties te kan wees, sou enigiemand ‘n model wou uitwerk vir die lewering van landelike leerderondersteuning. Die professionele toewyding van onderwysers en onderwyserbestuurders moet bo verdenking wees omdat die konteks hard en soms ongenadig kan wees soos die vloedgeteisterde skool 1 bewys. Die skool en gemeenskap moet tasbare wedersydse verbintenis tot mekaar toon.

123

Verder is dit regtig belangrik dat alle rolspelers saamwerk om die negatiewe gevolge wat geografiese afgesonderdheid kan het op die ontwikkeling van leerders teen te werk of uit te skakel.

In hierdie verband dui hierdie navorsing op eenvoudige aktiwiteite soos uitstappies en die gebruik van rekenaars. Die laaste gevolgtrekking na aanleiding van die subdoelwitte is dat sterk netwerke met eksterne vennote gebou en instand gehou moet word ten einde holistiese leerderondersteuning te kan bied.

My finale gevolgtrekkings is tweërlei. Eerstens het die gebruik van die teoretiese raamwerk verskaf deur Transformatiewe Inklusiwiteit baie bygedra tot my oriëntering ten opsigte van die navorsing omdat dit my sensitief gemaak het vir die sosio-ekonomiese en politieke konteks waarin leerderondersteuning beoefen word in landelike laerskole. Tweedens het die navorsingsontwerp van Waarderende Ondersoek beslis bygedra tot die tipe bevindinge wat ek gekry het.

Hierdie oorwegend positiewe bevindinge het heel moontlik te make met die feit dat ek nie ‘Inklusiewe Onderwys’ as term gebruik het nie asook met die aard van ‘n Waarderende Ondersoek wat nie begin met die veronderstelling dat swak dinge gebeur nie.

6.3.

Aanbevelings

Die aanbevelings word in twee verdeel, algemeen en spesifiek. In die

algemene aanbevelings gee ek praktiese aanbevelings aan rolspelers in die implementering van leerderondersteuning. Met die spesifieke aanbevelings dui ek aan watter areas vir verdere navorsing deur hierdie studie uitgelig is.

6.3.1

Algemene aanbevelings

 Ek beveel aan dat die onderwysbestuurders wat by distrikskantore van Onderwys geplaas is, wegbeweeg van tegniese beleidstaal

124

wanneer hulle die implementering van beleidstukke soos Witskrif 6 monitor by landelike en ander skole.

 Sodanige vereenvoudiging van beleidskonsepte kan dalk beter verstaan van die beleidstukke en hul oogmerke aanhelp, wat weer beter implementering tot gevolg kan het. Hierdie aanbeveling hou verband met die vrye deelname wat ek gekry het deur nie die term ‘Inklusiewe Onderwys’ te gebruik nie, maar ‘leerderondersteuning’.

 Dan beveel ek ook aan dat landelike en ander skole deur die Departement van Onderwys speling toegelaat moet word om hul eie vorme van implementering te doen soos deur hul kontekste bepaal word, solank die gees van die beleidstukke gevolg word in belang van leerderondersteuning. Uit die bevindinge rakende die skole se realistiese vorme van leerderondersteuning is hierdie aanbeveling geformuleer.

 Nog ‘n aanbeveling is dat landelike skole se onderwysers en ouers gereeld interne en eksterne ontwikkelingsgeleenthede kry soos die waarde daarvan spreek uit my navorsingsbevindinge.

 Soos in hierdie navorsing uitgewys, het skole byvoorbeeld sportnetwerke gebou tot voordeel van hul leerders. Ek beveel aan dat landelike skole dit oorweeg om akademiese netwerke, ook genoem praktisynsgemeenskappe of Communities of Practice (Au, 2002), te bou met soortgelyke skole binne hulle bereik asook met dorpskole binne hul bereik.

125

6.3.2 Spesifieke aanbevelings vir verdere navorsing

 Ek beveel aan dat navorsers in Inklusiewe Onderwys meer waagmoedig kan wees in hul keuses van navorsingsmetodes, soos my gebruik van Waarderende Ondersoek probeer demonstreer.

 Dan beveel ek aan dat teoretiese raamwerke probeer word wat anders is as die bekende ekosistemiese raamwerk.

 ‘n Verdere aanbeveling is dat intervensienavorsing beoog kan word om innoverende vorme van leerderondersteuning te ondersoek in die landelike konteks.

 Laastens beveel ek aan dat meer navorsing gedoen kan word oor die spesifieke leerderondersteuningspraktyke van multigraadonderrig. Multigraadonderrig kom baie voor in landelike laerskole.