• No results found

1. INLEIDING EN HISTORIESE AGTERGROND

1.5. Teorie en metodiek

Hierdie verhandeling word gebou op primêre dokumente wat in die Ossewa-Brandwagargief te Potchefstroom bewaar word. Hierdie primêre bronne vorm die basis van die narratief- beskrywende inslag tot hierdie verhandeling.

33

1.5.1. Die “historiese” benadering tot geskiedenis

Marwick identifiseer twee verskillende benaderings tot geskiedskrywing, die “metafisiese” benadering en die “historiese” benadering.141 Die “historiese” benadering verwys na die studie

van afgebakende aspekte van die verlede. Navorsing vir die “historiese” benadering word dikwels op ʼn sistematiese wyse uitgevoer deur historici, en alle beskikbare bronne word in die navorsingsproses geraadpleeg. Die “metafisiese” benadering verwys weer na meer spekulatiewe studies wat gebaseer is op die aanname dat die verlede reeds materieel opmerklik is in die vorm van prosesse en magsverhoudinge wat die verlede met die hede verbind. Hierdie “metafisiese” benadering word hoofsaaklik uitgevoer deur akademici wat nie historici is nie.142

Hierdie verhandeling volg die “historiese” benadering tot geskiedskrywing omdat daar nie gespekuleer word oor die impak van die noodregulasies nie (die “metafisiese” benadering). Die primêre bronne word eerder bestudeer in ʼn poging om die verlede in ʼn narratief-beskrywende wyse op skrif te stel. Geskiedenis handel egter nie daaroor om net stories te vertel nie, maar eerder om nuwe inligting oor die verlede bekend te maak, en probleme op te los.143 Volgens

Marwick is primêre bronne die basis vir enige historiese studie; slegs deur die bronne te bestudeer wat agtergelaat is, is dit moontlik om kennis te bekom oor die verlede. Om ʼn oorspronklike bydrae tot historiese kennis te lewer behoort daar nie alleenlik op sekondêre materiaal gefokus te word nie, maar eerder op die inligting wat in die primêre bronne gevind word.144

Geskiedenis as akademiese dissipline, soos reeds genoem, is die studie van die menslike verlede deur noukeurig en sistematies die primêre bronne te analiseer. Geskiedenis is dus die verlede soos wat dit in die bevindings van historici deurgegee word.145 Hierdie verhandeling

fokus nie noodwendig op ʼn probleem in die bestaande literatuur nie, maar eerder op ʼn gaping wat bestaan binne die historiografie. Die “historiese” benadering onderskei tussen “die verlede” en “geskiedenis”, deur na “die verlede” te verwys as dit wat werklik in die verlede plaasgevind het, en “geskiedenis” te definieer as die bevindinge wat historici lewer oor die

141 Sien A. Marwick, ‘Two Approaches to Historical Study: The Metaphysical (Including ‘Postmodemism’)

and the Historical’, Journal of Contemporary History, 30, 1 (1995), pp. 5-35.

142 Marwick, ‘Two Approaches to Historical Study’, pp. 5-6.

143 A. Marwick, The New Nature of History: Knowledge, evidence, language (Hampshire, Palgrave, 2001),

p. 28.

144 Marwick, The New Nature of History, p. 26.

34

verlede. Omdat “die verlede” so onbeperk is, het historici geen ander keuse as om sekere temas van die verlede te identifiseer en hierdie temas verder te bestudeer nie. Historici streef om nuwe bydraes te lewer tot die historiografie en gevolglik word nuwe temas van “die verlede” voortdurend ondersoek.146 Hierdie verhandeling is geen uitsondering nie. Deur die impak van

die noodregulasies op die Ossewa-Brandwag te analiseer word daar terselfdertyd ʼn oorspronklike bydrae tot die “geskiedenis” gelewer.

Behalwe vir die bogenoemde, is daar verskeie ander kernkonsepte van geskiedenis as akademiese dissipline. Geskiedenis verwys na die skrywes van historici; alle navorsingsaktiwiteite wat bydra tot hierdie skrywes; die onderrig en leer van beide benaderings (die “historiese” en die “metafisiese”) tot geskiedenis asook die onderrig en leer van spesifieke idees en inligting van die verlede; die oordrag en ontvangs van historiese kennis via verskillende platforms; en alle bedrywighede wat met die uitkomstes van geskiedenis as dissipline verband hou.147 Geskiedenis bemagtig die historikus om gebeure te kontekstualiseer,

en om uiteindelik ʼn realiteit te verstaan wat anders is as die een waarbinne die historikus funksioneer. Die “historiese” benadering poog verder om so objektief as moontlik te wees. Geskiedenis as dissipline behoort ʼn “objektiewe” dissipline te wees, en die historikus behoort objektiwiteit hoog te ag in beide die navorsings- en skryfproses.148 Absolute objektiwiteit is

natuurlik onmoontlik, maar dit bly ʼn ideaal wat geskiedenis onderskei van fiktiewe skrywes. Dit word gedoen aan die hand van empiriese navorsing en hoë ag wat op die data self geslaan word. Standpunte vloei vanuit die data. Historici bou ook op die bevindinge van ander historici, hulle lewer nuwe inligting oor spesifieke temas, verder benut historici ook nuwe tegnieke en benaderinge. Die bogenoemde word gedoen met die doel om reeds-bestaande interpretasies van die verlede te verfyn, te korrigeer en selfs te verwerp.149

1.5.2. Die narratiewe aard van geskiedenis

Byna alle historiese tekste het ʼn narratiewe element, die rede hiervoor is omdat die studie van die verlede verandering oor tyd bestudeer. Die narratiewe element is onvermydelik omdat

146 Marwick, The New Nature of History, p. 25. 147 Marwick, The New Nature of History, p. 31.

148 L. Gottschalk, Understanding History: A primer of Historical Method, second edition (New York, Alfred

A. Knopf, 1968).

35

kronologie ʼn inherente aspek van geskiedenis is.150 Hoewel narratiewe beskrywing deur beide

kreatiewe skrywers en historici benut word, benut beide kampe dit op verskillende wyses.151

Kreatiewe skrywers, soos digters en dramaturge, benut taal op ʼn meer kreatiewe vlak as wat historici taal benut. Daar word van historici verwag om bevindinge op ʼn duidelike wyse oor te dra, waar kreatiewe skrywers meer vryheid geniet om die verlede oor te dra deur onder andere hulle verbeelding ten sterkste in te span.152 Deur konstant bewus te wees van die feite wat

oorgedra word, en skryfstukke te herskryf en te hersien op ʼn voortdurende basis, is dit moontlik vir historici om narratief te benut sonder enige dubbelsinnigheid, of verdraaiing van historiese feite.153

Goeie geskiedskrywing balanseer aan die een kant narratief en aan die ander analise. Verder is daar ook ʼn balans tussen kronologiese en tematiese benadering. Die historikus kan nie bloot staatmaak op narratiewe skryf (kronologies) nie, maar moet eerder te werk gaan om te skryf op so ʼn wyse dat dit beide narratief en analities van aard is. Dit is ook belangrik om nie alleenlik op analise staat te maak in geskiedskrywing nie, omdat sulke skrywes die belangrike “change through time”-element van geskiedskrywing heeltemal sal ignoreer.154 Dit is die taak van die

historikus om ʼn interpretasie van ʼn tema van die verlede te lewer, en hierdie interpretasie op so ʼn oortuigende wyse as moontlik in die skrywes oor te dra.155 Hierdie verhandeling gaan dus

nie alleenlik ʼn narratiewe vertelling van die impak van die noodregulasies op die Ossewa- Brandwag wees nie, maar eerder ʼn interpretasie van hierdie tema van die verlede. Hierdie interpretasie (en bydrae tot die groeiende navorsing oor die tema) word hoofsaaklik op die analise van primêre bronne gebaseer.

1.5.3. Die empiriese aard van geskiedenis: Primêre bronne en bronkritiek

Volgens Jordanova is een van die belangrikste karaktereienskappe van “outstanding historical scholarship” die inagneming van die kompleksiteit van die bronne wat in die geskiedskrywingsproses benut word. Hierdie kompleksiteite moet nie ontken of geïgnoreer

150 Marwick, ‘Two Approaches to Historical Study’, p. 19.

151 J. Tosh, The pursuit of history: Aims, methods and new directions in the study of History, the sixth

edition, (London & New York, Routledge, 2015), p. 125.

152 Gottschalk, Understanding History, pp. 218-219. 153 Marwick, The New Nature of History, p. 12.

154 A. Marwick, The Nature of History, the third edition (Hampshire, Palgrave, 1989), pp. 242-243. 155 Marwick, The Nature of History, pp. 24-25.

36

word nie, maar eerder op ʼn “creative and self-aware”-wyse deur die historikus benut word.156

Wanneer daar na geskrewe bronne verwys word in geskiedenis, word bronne dikwels in twee groepe verdeel: primêre bronne en sekondêre bronne. Primêre bronne is oorspronklike bronne, roumateriaal van die era wat bestudeer word.157 ʼn Primêre bron moet dus deur ʼn tydgenoot van

die periode wat bestudeer word gelewer word.158 Sekondêre bronne is geskrewe tekste wat oor

die tema of tydperk handel, wat deur historici en ander skrywers gelewer is.159 Sekondêre

bronne word ná die periode wat bestudeer word, geproduseer.160

Marwick maak die punt dat historici bewus moet wees daarvan dat kennis altyd op bewyse gebaseer behoort te wees.161 Om nuwe inligting rondom ʼn spesifieke tema te lewer behoort

historici hulle werk op bewyse te baseer, spesifiek op primêre bronne.162 Primêre bronne bied

nuwe insig op verskeie temas, juis omdat dit geen vinnige antwoorde bied nie. Soos was Tosh opmerk behoort primêre bronne stelselmatig analiseer te word om ten einde die waarde van die bron te bepaal.163 Een implikasie van navorsing, veral navorsing oor die verlede, is “the

discovery of fresh materials and novel insights”.164 Jordanova maak die punt dat historici nie

noodwendig data insamel tydens die navorsingsproses nie, maar eerder dat daar op “raw data” afgekom word. Die term “raw data” is veral omvattend omdat dit verwys na die “preparation, cooking and digesting” van nuwe inligting. Dit is juis hierdie voorbereiding, verwerking en vertering (verstaan), van nuwe inligting wat die historiese navorsingsproses so uniek maak.165

Wanneer hierdie “raw data” benut word, is dit metodologies belangrik dat die historikus beide eksterne en interne bronkritiek toepas op die ingesamelde bronne. Eksterne kritiek verwys na die outentiekheid van die bron.166 Dit is dus belangrik dat die outentiekheid van ʼn bron eers

verseker is voordat die bron benut word.167 Interne bronkritiek fokus op die kredietwaardigheid

van die bron, met ander woorde, interne bronkritiek vestig die aandag op dit wat deur die bron

156 L. Jordanova, History in Practice (New York/London, Bloomsbury, 2016), p. 33. 157 Jordanova, History in Practice, pp. 32-33.

158 Gottschalk, Understanding History, p. 53; Marwick, New Nature of History, p. 156. 159 Jordanova, History in Practice, p. 32.

160 Marwick, New Nature of History, p. 156; Gottschalk, Understanding History, pp. 53-54. 161 Marwick, New Nature of History, p. 153.

162 Marwick, New Nature of History, p. 153. 163 Tosh, The pursuit of history, pp. 100-101. 164 Jordanova, History in Practice, p. 23. 165 Jordanova, History in Practice, p. 23. 166 Gottschalk, Understanding History, p. 118.

167 Vir meer oor die tegnieke wat historici kan benut om die outentiekheid van ʼn bron te bepaal, sien

37

beskryf word en hoe kredietwaardig hierdie inligting is.168 Ten einde hierdie verhandeling

suksesvol te voltooi, sal beide interne en eksterne bronkritiek voortdurend in die navorsingsproses op bronne, veral primêre bronne, toegepas word. Gevolglik kan daar gestel word dat die narratief-beskrywende benadering gevolg word om hierdie verhandeling suksesvol te voltooi. Te same hiermee word die Rankeaanse-tradisie gevolg om die feite, soos wat dit in die bronne verskyn, op die voorgrond te plaas terwyl dit in ʼn narratief-beskrywende manier oorgedra en geïnterpreteer word.