• No results found

1. INLEIDING EN HISTORIESE AGTERGROND

1.4. Historiografiese ontleding en historiese begronding

1.4.3. Agtergrond oor die karakter van die Ossewa-Brandwag as organisasie

Die eerste grootskaalse akademiese werk wat ʼn deeglike beskrywing van die OB as rolspeler in die Suid-Afrikaanse politiek tydens die Tweede Wêreldoorlog gee, verskyn in 1972. F.J. van Heerden se doktorale proefskrif handel oor die politieke klimaat in Suid-Afrika en gee deeglike aandag aan die OB as organisasie. Van Heerden se proefskrif bied ook ʼn veelsydige benadering tot die OB se algehele geskiedenis.72 Wat veral belangrik is, is Van Heerden se omvattende

beskrywings van die OB se posisie teenoor ander organisasies wat van belang is vir die peil van die versetkarakter van die beweging in reaksie op die noodregulasies. Van Heerden se werk dien as belangrike agtergrond vir die tema wat in hierdie verhandeling aangepak word.

ʼn Verdere akademiese stuk oor die OB verskyn in 1985 in die vorm van J.J. Badenhorst se meestersverhandeling. Badenhorst se verhandeling handel oor die organisasiestruktuur van die OB.73 Alhoewel hierdie ʼn redelike omvattende werk is oor Badenhorst se gekose tema, is dit

die verhandeling se tweede hoofstuk wat vir hierdie verhandeling bruikbaar is. Badenhorst se tweede hoofstuk bied ʼn kronologiese oorsig van die ontstaan van die OB, asook al die elemente wat tot die ontstaan van die organisasie bygedra het. Saam met ʼn gepubliseerde weergawe van sy studie word kernelemente van die organisasie van die OB duidelik uiteengesit.74

In 1994 verskyn C. Marx se artikel wat twee hoofredes vir die Ossewa-Brandwag se ontwikkeling tot ʼn massa-beweging identifiseer.75 Eerstens identifiseer Marx dat die Ossewa-

Brandwag volkseenheid bevorder het, en tweedens dat die organisasie gekant was teen Suid- Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Beide sentimente het aanklank gevind by groot hoeveelhede Afrikaners.76 Marx se artikel bied in-diepte insig rondom verskeie

noodsaaklike aspekte tussen 1939 en 1941. Marx bied kontekstuele inligting rondom die ontstaan van die OB waarsonder die interneringsbeleid en noodregulasies nooit sou plaasvind nie. Die rol wat die oorlog op die OB gehad het word in historiese konteks geplaas en verder omskryf, die grootste bydrae wat Marx lewer in hierdie artikel is die omvattende beskrywing

72 F.J. van Heerden, ‘Nasionaal-Sosialisme as faktor in die Suid-Afrikaanse politiek, 1933-1948’ (PhD

tesis, Universiteit van die Oranje Vrystaat, 1972).

73 J.J. Badenhorst, ‘Die organisasiestruktuur van die Ossewa-Brandwag’ (MA verhandeling,

Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, 1985).

74 J.J. Badenhorst, ‘Vroeë organisasiestruktuur van die Ossewa-Brandwag’, Joernaal vir Eietydse

Geskiedenis, 12, 3 (1987), pp. 54-82.

75 Marx, ‘The Ossewabrandwag as a mass movement’, pp. 195-219. 76 Marx, ‘The Ossewabrandwag as a mass movement’, p. 195.

19

wat gegee word van die Ossewa-Brandwag as ʼn massabeweging. Die artikel omskryf hoe die impak van die oorlog, en meer spesifiek Suid-Afrika se deelname daaraan, tot die Smuts- regering se noodregulasies gelei het. Marx gee ook aandag aan die Noodhulpfonds wat tydens die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom het. As direkte uitvloeisel van die noodregulasies is die Noodhulpfonds relevant vir die doelwitte wat met hierdie verhandeling bereik wil word. Soos wat later bespreek word, is die Noodhulpfonds ʼn belangrike element van hierdie verhandeling omdat dit ʼn direkte reaksie op die Smuts-regering se noodregulasies was. Marx bied ook insig in wie deur die noodregulasies geaffekteer is, en hoe dit lewens van OB-lede, veral Stormjaers, geaffekteer het: “Activism was strongest among younger workers, clerks, and more senior skilled workers and craftsmen.”77 Hierdie verhandeling gaan na spesifieke

individue verwys om die akkuraatheid van Marx se stelling rondom lidmaatskap aan die Stormjaers, asook algemene verset deur lede, te toets.

In 2012 voltooi C. Blignaut ʼn meestersverhandeling oor die rol van vroue in die OB.78 Blignaut

se meestersverhandeling is betekenisvol vir hierdie verhandeling omdat twee hoofstukke van Blignaut se verhandeling spesifiek verband hou met hierdie verhandeling se temas. Hoofstuk vier van die verhandeling handel spesifiek oor fondsinsameling binne die OB.79 Omdat hierdie

fondsinsameling ʼn direkte resultaat van die noodregulasies was, is dit van belang vir hierdie verhandeling. Hoofstuk vyf van die verhandeling handel spesifiek oor die verset teen Suid- Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog in die OB.80 Hierdie hoofstuk is verreikend

vir hierdie verhandeling omdat dit fokus op aktivistiese elemente wat in die OB teenwoordig was tydens die oorlog. Dit is juis hierdie meer aktivistiese elemente wat uiteindelik tot die implementering van die noodregulasies deur die staat gelei het. Blignaut se verhandeling is later verwerk tot verskeie artikels wat bruikbaar is vir hierdie verhandeling.81

77 Marx, ‘The Ossewabrandwag as a mass movement’, p. 213. 78 Blignaut, ‘Volksmoeders in die kollig’.

79 Blignaut, ‘Volksmoeders in die kollig’, pp. 167-205. 80 Blignaut, ‘Volksmoeders in die kollig’, pp. 206-237.

81 Blignaut & Du Pisani, ‘“Om die fakkel verder te dra”’, pp. 133-157; C. Blignaut, ‘“Goddank dis

hoogverraad en nie laagverraad nie!”: Die rol van vroue in die Ossewa-Brandwag se verset teen Suid- Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog’, Historia, 57, 2 (2012), pp. 68-103; C. Blignaut, ‘Untold History with a Historiography: A Review of Scholarship on Afrikaner Women in South African History’, South African Historical Journal, 65, 4 (2013), pp. 596-617; C. Blignaut, ‘From fund- raising to Freedom Day: The nature of women’s general activities in the Ossewa-Brandwag, 1939-1943’,

New Contree, 66 (2013), pp. 121-150; C. Blignaut, ‘“Kan die vrou haar volk dien deur haar huis?”:

Afrikanerpolitiek en vroue in die Ossewa-Brandwag, 1942 tot 1954’, Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 40, 1 (2015), pp. 102-124; C. Blignaut, ‘“Skep julle kommando’s in reddingslaers om! Een vir almal, almal vir elkeen!”: Die Ossewa-Brandwag se maatskaplike beleid van Sosiale Volksorg, 1943-1952’, New Contree, 74 (2015), pp. 72-89; Blignaut, ‘“Rebelle sonder gewere”’, pp. 109-131.

20

Die ideologie van die OB is belanghebbend vir hierdie verhandeling omdat dit insig bied tot die versetaksies wat uiteindelik bygedra het tot die Smuts-regering se regverdiging vir die implementering van die noodregulasies. In 1989 verskyn P. De Klerk se artikel wat handel oor die ideologie van die OB, sowel as die invloed wat spesifieke leiers op die formulering van hierdie ideologie gehad het.82 Omdat die karakter en ideologie van die OB tydens die Tweede

Wêreldoorlog sou verander vanaf ʼn hoofsaaklike kultuurorganisasie tot ʼn meer aktivistiese polities-gedrewe organisasie, is De Klerk se artikel relevant vir hierdie verhandeling omdat die bedrywighede van OB-lede in die Tweede Wêreldoorlog die karakter van die OB beïnvloed en verander het.

De Klerk slaag ook daarin om die verskille en ooreenkomste tussen die OB se ideologie en Duitse fascisme aan die leser bekend te maak. Siende dat die OB nou verbind word met Naziïsme, asook fascisme, is dit belangrik om De Klerk se siening daaroor in ag te neem in die verhandeling. Die rol van fascisme, Naziïsme, rassisme en anti-Semitisme word later in die literatuurstudie aangeraak. Alhoewel De Klerk se artikel nie sonder foute is nie,83 moet die

relevante inligting daarbinne nie geïgnoreer word nie.

De Klerk lewer nog ʼn artikel in 1989 genaamd Die Ossewa-Brandwag se ideaal van ʼn nuwe

samelewingsorde in Suid-Afrika. Hoewel De Klerk verskeie aspekte van die OB se ideologiese

beskouing in hierdie artikel bespreek, is die tweede deel van die artikel relevant tot hierdie verhandeling. In die tweede deel van die artikel vestig De Klerk die aandag op die OB as organisasie se volks- en rassebeskouing. De Klerk lê veral klem daarop dat die OB teen nie- blankes gekant was en dat groot waarde geheg is aan “die rassesuiwerheid van die Afrikaner”.84

Hierdie afdeling van De Klerk se artikel is belangrik vir die verhandeling omdat daar ook aandag gegee word aan anti-Joodse sentimente binne die OB. Anti-Joodse sentimente word ten nouste verbind met Nazi-Duitsland, dit is daarom belangrik om die OB se insigte rondom dit te verstaan. Die derde deel van De Klerk se artikel is belangrik vir die uitkomstes van hierdie verhandeling omdat die aandag op die OB se geskiedbeskouing gevestig word. ʼn

82 De Klerk, ‘Afrikanerdenkers en die beginsels van die Ossewabrandwag’, pp. 43-81.

83 De Klerk maak byvoorbeeld foute deur verkeerde datums aan te wys by J.F.J. van Rensburg se

geboortedatum, asook word daar ʼn onvoldoende gevolgtrekking vir die artikel gegee. ʼn Artikel van byna veertig bladsye word saamgevat in een paragraaf, daarin misluk De Klerk om al die hoofpunte van die artikel deeglik in die gevolgtrekking aan die leser oor te dra.

84 P. de Klerk, ‘Die Ossewa-Brandwag se ideaal van ʼn nuwe samelewingsorde in Suid-Afrika’, Joernaal

21

Geskiedbeskouing wat ten nouste verbind word met Afrikanernasionalisme. Soos De Klerk dit stel, is die geskiedenis van die Afrikaner dikwels ingespan om “die geloof in die verwesenliking van die Ossewa-Brandwagideale te versterk.”85 Elemente vanuit die Afrikaner

se geskiedenis is ook deur die OB benut om die versetbedrywighede tydens die Tweede Wêreldoorlog te regverdig.

In 2012 verskyn nog ʼn artikel deur Blignaut, wat hoofsaaklik fokus op die rol van vroue binne die OB, spesifiek op die verset van OB-vroue tydens die Tweede Wêreldoorlog. Blignaut se artikel bevat ook sinryke inligting rondom die rol wat die OB, as organisasie, in die Tweede Wêreldoorlog gespeel het. Blignaut wys ook die impak wat verskillende vorms van verset op die lede gehad het uit. ʼn Omvattende beskrywing van die wyse waarop vroue as simbole van verset voorgehou is, asook hoe OB-lede deelgeneem het aan verset, word in die artikel verskaf. Blignaut se artikel bied verder inligting rondom die Smuts-regering se noodregulasies, spesifieke OB-lede wat direk deur die interneringsbeleid en noodregulasies geraak is, asook inligting rondom die Noodhulpfonds. Hierdie artikel beskryf hoofsaaklik die rol van vroue, maar dit gee ook terselfdertyd konteks en erkenning dat “die OB se verset nie altyd sonder geweld, passief of ‘kalmerend’ was nie”.86 Hierdie verhandeling fokus op beide die meer

radikale en gewelddadige versetaksies, asook die lydelike verset wat onder die OB-lede geseëvier het. Die rede hiervoor is omdat die Unieregering se noodregulasies nie alleenlik gewelddadige verset geteiken het nie, maar eerder alle vorms van verset.