• No results found

1. INLEIDING EN HISTORIESE AGTERGROND

1.6. Hoofstukindeling

Hierdie verhandeling bestaan uit ses hoofstukke. Die eerste hoofstuk dien as ʼn inleiding tot die tema van die verhandeling, en gee genoegsame kontekstualisering oor die Ossewa-Brandwag en die politieke situasie in Suid-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die tweede hoofstuk bestudeer die wyse waarop die Smuts-regering die noodregulasies geregverdig het, asook die aard en omvang van hierdie regulasies. Spesifieke aandag word aan die interneringsbeleid en politieke gevangenes geskenk.

Die derde hoofstuk handel oor die aard en gevolge van die Ossewa-Brandwag se versetaksies teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, asook hoe hierdie versetaktiwiteite die karakter van die Ossewa-Brandwag beïnvloed het. Verder word daar in die derde hoofstuk gekyk na die spesifieke soorte versetaksies van die Ossewa-Brandwag, en hoe sekere van hierdie aksies tot internering en gevangenisskap gelei het.

Die vierde hoofstuk het ʼn sterk sosiale inslag deur te bestudeer hoe die OB-lede die interneringskampe ervaar het, watter aktiwiteite kenmerkend van die kampe was en hoe geïnterneerdes selfs in gevangenisskap steeds op openlike en subtiele wyses verset het. Hoofstuk vyf fokus op die uitvloeisels van die noodregulasies. In hierdie hoofstuk word die wyse waarop die OB-lede deur die noodregulasies geaffekteer is, bestudeer. Hierdie hoofstuk fokus nie alleenlik op die skuldiges nie, maar ook op die organisasie self, asook die vroue en kinders in die organisasie. Verder bestudeer hoofstuk 5 die rol wat die Bond van Oud-

38

geïnterneerdes, in die lewens van die lede wat deur die noodregulasies geaffekteer is, gespeel het ná die ontbinding van die Ossewa-Brandwag.

Die laaste hoofstuk, hoofstuk ses, dien as gevolgtrekking wat al die toutjies bymekaarbring. Vervolgens word die historiese konteks van Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog se binnelandse invloed geskets. Klem word geplaas op die Smuts-regering se implementering van die noodregulasies en wat dit beteken het vir diegene wat nie met die regering saamgestem het nie.

39

2. DIE SMUTS-REGERING SE REGVERDIGING VAN DIE

NOODREGULASIES EN DIE IMPAK DAARVAN OP DIE OSSEWA- BRANDWAG

Die Tweede Wêreldoorlog was ʼn dinamiese tyd in die Suid-Afrikaanse verlede, ʼn tyd waarin daar nie alleenlik oorlog gevoer is teen buitelandse magte nie, maar ook op tuisfront binne die politieke arena van die Afrikanerdom. Hancock se stelling som dit briljant op: “Smuts had to fight a war not only on the military but also on the home front.”1 Die geveg op tuisfront sou

manifesteer in die vorm van verset teen die oorlogspoging en gevolglik die instelling van verskeie oorlogsmaatreëls waaronder oorlogtydse noodregulasies geld. Blake merk op dat die Afrikaner-verset teen die Smuts-regering se oorlogspoging nie slegs oor “verdeelde lojaliteite” handel nie, maar ook oor “verraad en wraak”. Die verdeeldheid onder Afrikanergeledere tydens die Tweede Wêreldoorlog is inderwaarheid, soos wat Blake volhou, “ʼn verhaal wat nog nie ten volle vertel is nie”.2

Anti-oorlogse sentimente wat nou verband gehou het met nasionalisme het hoogty gevier, soveel so dat Grundlingh daarna verwys as “a corollary of the general thrust of Afrikaner nationalism at the time”.3 Die rol wat Smuts in die Tweede Wêreldoorlog moes speel was dus

tweedelig. Aan die een kant van die spektrum moes hy Suid-Afrika se deelname aan die oorlog bestuur, en aan die ander kant moes hy toesien dat die interne situasie in Suid-Afrika beheer word sodat sy posisie as leier nie ondermyn word nie.4 Soos wat Hancock opmerk, blyk daar

twee wisselende, tog verwante, houdings in sy skrywes voor te kom: “the mood of an observer, trying to understand events in the outer world and their significance for South Africa; the mood of a participator, trying to discover his own duty.”5 Smuts was beslis op hoogte van

wêreldgebeure, en hy het ook nie sy opinies teruggehou nie. Tussen 1 Oktober 1938 en 23 Augustus 1939 het Smuts twintig toesprake gelewer oor internasionale gebeure en die

1 W.K. Hancock, Smuts: The fields of force, 1919-1950 (Cambridge, Cambridge University Press,

1968), p. 331.

2 A. Blake, Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwagjare (Kaapstad, Tafelberg, 2018),

p. 92.

3 A. Grundlingh, ‘The King's Afrikaners? Enlistment and Ethnic Identity in the Union of South Africa's

Defence Force during the Second World War, 1939–45’, The Journal of African History, 40, 3 (1999), p. 353.

4 Grundlingh, ‘The King’s Afrikaners?’, p. 354. 5 Hancock, Smuts: The fields of force, p. 308.

40

moontlike impakte daarvan op Suid-Afrika.6 Smuts is ʼn komplekse historiese tydgenoot van

wie daar reeds baie navorsing gedoen is,7 en waarvan nog vele navorsing opgelewer kan word:

Different people looked at Smuts from different angles and different backgrounds. All researchers in due course encounter extreme difficulty in analysing Smuts’ complex personality.8

Van Rensburg se opinie oor Smuts is self ook wisselend: “… in spite of his reputation for coldness of heart, Smuts had a very human side to his nature.”9 As leier van Suid-Afrika tydens

die Tweede Wêreldoorlog het Smuts ongetwyfeld ʼn impak gehad op die regverdiging van nie net Suid-Afrikaanse deelname aan die oorlog nie, maar ook die instelling van verskeie maatreëls om binnelandse onrus te stuit. Hierdie hoofstuk poog dus nie om Smuts se persoonlikheid te ontleed nie, maar eerder om te analiseer hoe die Smuts-regering, en gevolglik Smuts self, die noodregulasies regverdig het.

Die doel van hierdie hoofstuk is driedelig. Eerstens word daar gekyk na die Smuts-regering se regverdiging van hierdie oorlogsmaatreëls, meer spesifiek die noodregulasies (2.1.); tweedens word die aard en omvang van hierdie maatreëls kaleidoskopies bespreek (2.2.); en laastens word die impak van hierdie maatreëls en regulasies op OB-lede breedvoerig verken (2.3.). Spesifieke aandag word geskenk aan die interneringsbeleid, en die hantering van politieke gevangenes en geïnterneerdes deur die Smuts-regering.