• No results found

’N PARALLELLE KORPUS VAN METAFORE OOR AANDELE EN MARKTE IN FINWEEK AS TAAL VIR SPESIALE DOELEINDES

4.2 Taal vir spesiale doeleindes (TSD)

4.2.1 Omskrywing van TSD

Volgens Bowker en Pearson (2002:25) is taal vir algemene gebruik (TAD) (language

for general purposes (LGP)), die alledaagse taal wat in koerante gebruik word, of die

taal wat daagliks gebruik word om algemene sake in alledaagse situasies te bespreek. In hierdie studie sal na taal vir algemene doeleindes verwys word as TAD. TSD, daarenteen, word gebruik in die bespreking van gespesialiseerde kennisvelde.

In elke taal (soos Afrikaans, Engels, Duits, ens.) is daar beide TAD en TSD. Die moedertaalsprekers van ’n spesifieke taal is gewoonlik redelike kundiges van daardie taal se TAD. Wanneer ’n mens ’n nuwe taal aanleer, begin jy normaalweg die TAD van daardie taal leer om so gou as moontlik die basiese in die taal te kan verrig, soos om kos in ’n restaurant te bestel, padaanwysings te vra of om oor die weer te gesels. Al hierdie onderwerpe kan oor die algemeen bespreek word deur van TAD gebruik te maak, maar dit kan ook op ’n meer gevorderde vlak bespreek word deur TSD te gebruik. Kundiges gebruik TSD wanneer hulle sake soos gastronomie, rolprentkunde, meteorologie, ensovoorts bespreek (Bowker & Pearson, ibid.).

Daar is heelwat oorvleueling tussen TAD en TSD. TSD bevat ’n aantal gespesialiseerde terme en kombineer dikwels hierdie woorde op ’n spesiale manier. Daar sal ook heelwat algemene woorde in TSD-gesprekke opduik. Dit sou moeilik wees om ’n gesprek oor enige onderwerp te voer (selfs die mees gespesialiseerde onderwerp), sonder om heelwat alledaagse woorde soos “die”, “dit”, “is” of “baie” te gebruik. Net so gebeur dit dat gespesialiseerde woorde in die alledaagse taalgebruik opduik. Meyer en Mackintosh (2002:112) noem dit ’n determinologisasieproses: wanneer woorde en terme wat eers uitsluitlik aan ’n gespesialiseerde domein behoort het ook deur gewone mense in hul gewone alledaagse gesprekke gebruik word.

Gewoonlik gebeur dit as gevolg van die gebruik van die woorde in koerante of op televisie. Dit is dikwels mediese terme soos ‘antibiotika’, “MIV en VIGS”, of rekenaarterminologie soos “mega-bites”, “modem” en “RAM”. Nog voorbeelde is woorde soos “tsoenami” en “xenofobie”. Natuurlik is die gewone mens wat die woorde gebruik se kennis oor die terme nie so volledig soos dié van kundiges nie, en dit beteken dat die terme in TAD effens anders gebruik sal word as in TSD.

Meyer en Mackintosh (ibid.) noem die volgende interessante voorbeeld: But watch the

stock market – and Canada’s anorexic dollar, which may come under attack by merciless currency dealers. Die woord anorexic hou semanties verband met die

mediese domein, maar dit is duidelik dat die woord hier ’n betekenisvolle verandering ondergaan het in sy migrasie van terminologie na algemene taalgebruik. Anorexia in die mediese domein verwys na ’n lewensgevaarlike siekte. In algemene taal dui dit op die begrip van iets kleins of swaks as dit gebruik word in verskillende prosesse, byvoorbeeld ’n anoreksiese oortreding of ’n anoreksiese aandagsomvang.

Gespesialiseerde woordeskat is ’n belangrike eienskap van ’n TSD en die dissipline wat by die versameling en beskrywing van gespesialiseerde onderwerpvelde betrokke is, word terminologie genoem. Die persone wat in hierdie dissipline werksaam is, word terminoloë genoem en hul vernaamste taak is om glossariums vir gespesialiseerde velde saam te stel (Bowker & Pearson, 2002:26).

Volgens Bowker en Pearson (ibid.) is TSD nie bloot TAD met ’n aantal terme wat bygevoeg is nie. ’n TSD het ook spesiale maniere waarop terme gekombineer word of inligting rangskik word wat verskil van TAD. As voorbeeld kan die TSD van ekonomie genoem word. Die TSD van ekonomie het ’n groot aantal gespesialiseerde terme wat nie deel uitmaak van TAD nie (bv. bruto binnelandse produk en marginale verbruikersgeneigdheid). ’n Bykomende eienskap van hierdie TSD is dat hierdie terme ook uitgedruk kan word deur van sekere afkortings gebruik te maak (bv. BBP en MVG). Hoewel hierdie terme en afkortings die mees sigbare verskille tussen die TSD en TAD van ekonomie is, is dit nie die enigste eienskap van hierdie TSD nie. Hierdie TSD het ook kollokasies, naamlik woorde wat tipies saam gebruik word. Wanneer ’n mens ’n ekonomiese verslag neerskryf, sal jy moet weet watter werkwoorde normaalweg met die naamwoord “begroting” gebruik word. Gebaseer op jou kennis

van ’n TAD mag jy dink dat die werkwoord “ondersoek” gebruik kan word (bv. die begroting word ondersoek). ’n Soektog in ’n gespesialiseerde korpus sal aantoon dat in ekonomie se TSD, begrotings ontleed word. In ekonomiese diskoers is daar talle voorbeelde hiervan: pryse styg of verminder, maar prysvlakke verhoog of verlaag.

Daar is stilistiese eienskappe wat met ’n spesifieke TSD verband hou. Byvoorbeeld, as die resultate van ’n begrotingontleding neergeskryf word, is daar ’n spesifieke manier waarop die inligting aangebied en georganiseer moet word. Die doel van die ontleding moet aangedui word, die metode wat gevolg is, moet uiteengesit word, die data wat gegenereer is, moet beskryf en bespreek word, en ’n tipe afleiding moet geformuleer word. In die meeste gevalle is dit nie aanvaarbaar om enige van hierdie inligting uit te laat of op ’n ander wyse aan te bied nie.

Gespesialiseerde woordeskatte, kollokasies en stilistiese eienskappe maak alles deel uit van TSD.

4.2.2 Gebruikers van TSD

TSD is die taal wat gebruik word in besprekings oor ’n gespesialiseerde onderwerpveld en die doel hiervan is om kommunikasie tussen mense te fasiliteer wat ’n gespesialiseerde onderwerp wil bespreek (Bowker & Pearson, 2002:27-28). Hulle identifiseer die onderstaande drie verskillende tipes TSD-gebruikers:

• Kundiges is mense wat opleiding of ervaring in ’n spesifieke veld het. Dit hoef nie noodwendig tegnies gevorderde persone of professionele persone te wees nie. By ’n stokperdjie soos kalligrafie of bergfietsry, is daar spesiale terme wat met die stokperdjie vereenselwig word (bv. “burnish”, “pounce” en “rubrication” by kalligrafie; of “barge”, “granny gear” en “bunny hop” in bergfietsry). Enige taal wat gebruik word om ’n gespesialiseerde onderwerp te bespreek kan as ’n TSD beskou word.

• Semi-kundiges kan studente of kundiges van verwante velde insluit wat met sekere van die betrokke terme en konsepte vertroud is.

• Nie-kundiges is mense wat om die een of ander rede in ’n situasie verkeer waar hulle TSD moet gebruik waarmee hulle nie bekend is nie. Dit sluit mense in soos tegniese skrywers of vertalers, wat wel opleiding in tale of taalkunde het, maar

nie bekend is met die gespesialiseerde onderwerp in die teks waaroor hulle moet skryf of wat hulle moet vertaal nie.

4.2.3 Verskillende vlakke van TSD-kommunikasie

Volgens Bowker en Pearson (ibid.) is daar verskillende vlakke van TSD- kommunikasie, aangesien TSD-gebruikers oor verskillende vlakke van kundigheid beskik. Kenners wat deur middel van publikasies in joernale kommunikeer, deel ’n gemeenskaplike agtergrond en gebruik taal wat uiters gespesialiseerd is. Dit is nie vir hulle nodig om aan hul lesers te verduidelik wat spesifieke terme en frases beteken nie.

Waar kommunikasie plaasvind tussen kundiges en semi-kundiges, byvoorbeeld tussen kenners van ’n spesifieke veld en studente, gebruik die kenners dieselfde hoogs gespesialiseerde terme wat hulle teenoor ander kundiges uit die veld sou gebruik, maar hulle sal die terme verduidelik waar nodig.

By kommunikasie tussen kundiges en nie-kundiges, sal die kundiges van minder terme gebruik maak en meer algemene taal gebruik om vereenvoudigde beskrywings van ’n gespesialiseerde konsep te gee. Voorbeelde hiervan is spesialisartikels in koerante. Die kundige verwag nie dat nie-kundiges dieselfde mate van begrip sal hê van die terme nie, maar dit is slegs belangrik dat die algemene idee oorgedra en begryp word.