• No results found

MATERIEEL bv. POLITIEK IS KONFLIK bv. SAMELEWING IS ’N GEBOU bv. SPORT IS OORLOG bv. MARKVERHANDELINGS IS FISIESE GEVEG bv. GODDELIKE STRAF IS ’N VYANDIGE WEERS- OMSTANDIGHEID bv. om vir ʼn samelewingsgroep te veg

bv. veg vir oorlewing bv. om beleggers te beskerm, om winste uit te

wis

bv. ʼn bose reën bv. die wind sal hulle

wegdra KONSEPSUELE METAFORE

(2000:150) definieer metafoor as ʼn “figure of speech in which, in some sense, meanings are transferred”. In ʼn vergelykende studie oor Engelse en Spaanse finansiële verslaggewing brei Charteris-Black en Ennis (2001:250) hierdie definisie uit na “a linguistic phenomenon in which a word or expression is used in a particular context with a sense other that the one which it normally has in other contexts.”

Volgens Charteris-Black en Musolff (2003:155), in ’n vergelykende studie oor metafoor in Duitse en Engelse finansiële tekste, is daar sekere kriteria wat in enige definisie van metafoor teenwoordig moet wees. Dit kan na aanleiding van die spesifieke navorsingsdoelwit aangepas word. ʼn Buigsame definisie van metafoor het voordele teenoor een wat te eksklusief is en Charteris-Black en Musolff (ibid.) stel voor dat ʼn definisie van metafoor die volgende moet insluit:

A metaphor involves a meaning shift in the use of a word or phrase. This shift occurs when a linguistic expression is taken from one context and applied to another. This shift is caused by (and may accelerate) a change in the conceptual system.

Bostaande uitgangspunt is gevolg in die proses om metafore in die onderskeie korpusse vir hierdie studie te identifiseer.

Uit bogemelde bespreking is dit duidelik dat, wanneer metafore in verskillende tale vergelyk word, daar goeie rede is om ʼn definisie van metafoor toe te pas wat verskil van die tradisionele definisies wat hierbo aangetoon en bespreek is. Die verskille in metafore in die twee tale is beide op semantiese en pragmatiese vlakke, naamlik in die relatiewe verspreiding van spesifieke soort gebruike. Wat ʼn konvensionele beeld in een taal is, mag in die ander taal ʼn nuwe metafoor wees. Dis is daarom belangrik om die soort metafoor waarmee gewerk word te oorweeg ten einde die vlak van presisie te bereik om ʼn verskynsel oor tale heen te beskryf.

Charteris-Black en Musolff (2003) se studie bespreek die gebruik van metafoor in verslaggewing in die Engelse en Duitse finansiële gedrukte media gedurende ʼn periode van erge turbulente finansiële verhandeling. Hulle was van mening dat, hoewel die benadering tot metafoor in die breë kognitief taalkundig is, metafoor geïdentifiseer word

deur van twee kriteria gebruik te maak, naamlik ʼn breë semantiese een wat gevalle van konkretisering en personifikasie insluit en ʼn nouer een waar metafoor as pragmaties gemotiveer hanteer word.

Charteris-Black en Musolff (2003:157) stel die volgende semantiese definisie van metafoor voor:

metaphor is a figure of speech in which at some point in the evolution of the meaning of a word or phrase there is a shift in its use from one domain to another so that it refers to something else. This can be, for example, a shift from a physical sense to a context where it has an abstract sense (reification) or from an animate sense to a context where it has an inanimate one (personification).

Hierdie definisie het ʼn interessante implikasie vir finansiële verslaggewing in Afrikaans en Engels. Taal vir Spesiale Doeleindes (TSD) is ’n vertakking van toegepaste taalkunde en verwys na ’n verskeidenheid van taal wat deur lede van ’n spesifieke belangstellingsgroep gebruik word en fokus op die taal se genres, styleienskappe en tegniese leksis. (Raadpleeg hoofstuk 3.) Aangesien TSD-domeine tipies abstrak is, vereis dit nuwe, abstrakte woorde. Woorde en frases wat na fisiese en geanimeerde entiteite in die algemene taal verwys, sal dikwels gebruik word om na abstrakte of geanimaliseerde entiteite in tegniese of semi-tegniese woorde te verwys. Dit beteken dat die gebruik van metafoor veral relevant is in TSD-kontekste, aangesien dit ʼn baie algemene manier is om die leksikon uit te brei (Charteris-Black & Musolff, 2003:157). Metafore kom baie dikwels in finansiële verslaggewing voor. Ekonomie word dikwels gekonseptualiseer in terme van organisasies en entiteite wat gebaseer word op die konseptuele metafoor DIE EKONOMIE IS ’N ORGANISME (Charteris-Black & Ennis, 2003:256).

By die realisering van tekstuele doelwitte, soos om volgehoue leesbelangstelling te verkry en ʼn outoritêre identiteit te vestig, asook waar humor en handelsmerkvestiging van ʼn spesifieke styl belangrik is, word ʼn meer pragmaties-georiënteerde definisie van metafoor vereis. Charteris-Black en Musolff (2003:158) stel die volgende definisie voor:

metaphor is a figure of speech in which a writer aims to achieve particular rhetorical goals such as establishing a relationship with the reader and making judgements by selecting particular words and phrases to refer to important topics when these words or phrases usually refer to other topics.

Hierdie definisie van metafoor dui meer op die gebruik van minder konvensionele taalgebruik en waar metafoor spesifiek gebruik word om opinie te help vorm. Wanneer metafoor pragmaties gemotiveer is, word die gebruik van ’n woord of uitdrukking bepaal deur die behoefte om die leser te oorreed. By die skryf van finansiële tekste en waar die gedrag van die aandelemark en gebeure in die maatskappywêreld beskryf word, het die skrywer dikwels ʼn verskuilde agenda wat implisiet oorgedra word deur die spesifieke woordkeuses wat hy gebruik. In ʼn kontrasterende studie oor diskoers oor aandele en markte, is daar ʼn interessante waarneming. Tale verskil met betrekking tot hul metafore op beide die semantiese en pragmatiese vlakke. So kan ʼn konvensionele beeld in een taal, ʼn nuwe metafoor in die ander taal wees. ʼn Tipiese semantiese interpretasie van ʼn metafoor is waar die gebruik van die metafoor die “normale” wyse is waarop na daardie verskynsel verwys word, byvoorbeeld, die dollar het tot ʼn nuwe laagtepunt geval (Charteris-Black en Musolff (2003:158)). Pragmatiese interpretasie-kriteria word gebruik waar dit lyk asof die skrywer ʼn spesifieke figuurlike spraakvorm gebruik om ʼn retoriese doelwit te bereik. Voorbeelde hiervan is hiperbool of beklemtoning, soos “die beleërde Suid-Afrikaanse rand”, “die siek euro” en “die aangerande euro”.

In die bespreking hierbo is volledigheidshalwe ’n oorsig gegee van verskillende standpunte oor die definisie van metafoor. Vir doeleindes van hierdie studie word volstaan by die definisies van Lakoff en Johnson wat volledig in 2.3.2.1 en 2.3.2.2 uiteengesit is.

2.5 Samevatting

In hierdie hoofstuk is verskillende teorieë oor diskoers bespreek en daar is aangetoon dat die studie die betekenis wat Foucault aan die term “diskoers” gee, onderskryf, naamlik dat diskoers ’n stel bevestigde sienings is met ’n geïnstitusionaliseerde krag wat ’n sterk invloed het op mense se denke en optrede.

Vir doeleindes van hierdie studie oor finansiële diskoers in Finweek, word die term “diskoers” gebruik om die totaliteit van onderling verwante tekste aan te dui, beide gesproke en geskrewe, wat oor ʼn spesifieke domein geproduseer word, byvoorbeeld aandele en markte. Ná die bestudering van die verskillende teorieë oor diskoers en diskoersanalise is die afleiding vir doeleindes van hierdie studie dat kritiese diskoersanalise fokus op die koppelvlak tussen teks en konteks.

Die verskillende benaderings tot mediadiskoers is bespreek, met spesifieke klem op die siening en werk van Fairclough, wat van mening is dat die media die mag het om kennis, opvattings, waardes, maatskaplike verhoudings en identiteite te beïnvloed. Dit is hierdie mag wat deur outeurs van finansiële diskoers gebruik kan word om as kundiges kommentaar te lewer op gebeure in die finansiële omgewing en daardeur ’n begripvormende funksie te verrig.

Die klassieke kognitiewe metafoorteorie, die konseptuele metafoorteorie en die poëtiese metafoorteorie is bespreek met spesifieke verwysing na die bydraes van Lakoff en Johnson, en Kövecses in die ontwikkeling van metafoorteorie.

Die rol van metafoor in mediadiskoers en finansiële mediadiskoers is in ʼn literatuurstudie ondersoek en daar is bevind dat reekse metafore gebruik word om gebeure en oorsake van gebeure te beskryf en dat die gebruik van metafoor bydra tot die evolusie van ekonomiese denke. Metafoor kan beskou word as een van die stilistiese hulpbronne waarvan outeurs van finansiële diskoers afhanklik is. Deur sekere metafore in finansiële tekste te gebruik, word spesifieke onderwerpe geïdentifiseer en die outeurs voer argumente aan vir die konseptualisering daarvan en om dit begripsvormend aan die leser oor te dra. Die keuse van metafoor wat die outeur in finansiële mediadiskoers gebruik, hou verband met die bepaalde oogmerk van die outeur oor watter ideologie hy deur die teks wil verkondig.

Vir doeleindes van hierdie studie word, by die vergelyking van die twee tale, en vir die identifikasie van die metafore, uitgegaan van die standpunt dat die metaforiese struktuur van ʼn mense se konsepte gereflekteer word in die taal wat hulle gebruik. Die meeste konsepte kan deur meer as een metafoor begryp word.

In die volgende hoofstuk word ’n kritiese analise van die metafore in die korpusse gedoen, wat kwantitatiewe en kwalitatiewe analises insluit.

HOOFSTUK 3