• No results found

Die samestelling van die TSD-korpusse

’N PARALLELLE KORPUS VAN METAFORE OOR AANDELE EN MARKTE IN FINWEEK AS TAAL VIR SPESIALE DOELEINDES

4.3 Die ontwerp van ’n TSD-korpus

4.3.3 Die samestelling van die TSD-korpusse

Die twee tekskorpusse waarop hierdie studie gebaseer is, is ʼn versameling artikels oor maatskappye en markte wat in die Suid-Afrikaanse finansiële tydskrif, Finweek, verskyn het. Die korpusse is as ʼn geheel aan ʼn kwantitatiewe analise onderwerp en ʼn kwalitatiewe analise is gedoen van ʼn aantal voorbeeldartikels uit die korpusse. Die resultate word in hoofstuk 5 verskaf. Die analise het die strategie verskaf waarvolgens die impak van die metafoor op die diskoers bespreek word. Die fokus van die studie is oor die algemeen op die gebruik van metafoor in die vertaalde finansiële diskoers oor aandele en markte in die Afrikaanse en Engelse weergawes van Finweek.

Die twee elektroniese tekskorpusse wat gebruik word, is spesiaal vir die studie saamgestel. Dit is in elektroniese formaat en bestaan uit tekste wat vanaf Maart 2006

tot November 2006 gepubliseer is, en wat in die Suid-Afrikaanse tydskrif Finweek verskyn het. Die Afrikaanse en Engelse uitgawes van Finweek het dieselfde inhoud en die Engelse en Afrikaanse tekste is in ʼn parallelle korpus versamel. Raadpleeg figuur 4.2.

Publikasie Soort publikasie Tydperk Aantal artikels van

korpus

Aantal woorde Gemiddelde lengte van artikels (aantal woorde)

Finweek

(Engelse uitgawe) Weeklikse tydskrif Maart 2006 – November 2006 500 211 (50.32%) 727 423.5

Finweek

(Afrikaanse uitgawe) Weeklikse tydskrif Maart 2006 – November 2006 500 209 (49.68%) 032 418.1

Totaal 1000

(100%) 420759 (100%)

Figuur 4.2 Data oor die publikasies oor aandele en markte

Vanuit ʼn korpuslinguistieke oogpunt is die materiaal wat vir die studie gebruik is veral van belang, aangesien dit parallelle teksmateriaal verskaf wat stilisties en tematies ooreenkom en as voorbeelde geskik is om te vergelyk. Die aantal artikels wat gebruik is, is as voldoende voorbeeld geag vir ʼn vergelykende studie van die metafore in die twee tale. Beide korpusse bevat die artikelopskrifte sowel as die teksartikels.

Volgens Cameron en Low (1999a:88) is daar drie stadiums in die metodologie van ’n metafoor-analise:

The methodology of metaphor analysis typically proceeds by collecting examples of linguistic metaphors used to talk about the topic ... generalising from them to the conceptual metaphors they exemplify, and using the results to suggest understandings or thought patterns which construct or constrain people’s belief and actions.

Hierdie benadering stem ook ooreen met die funksionele benadering tot linguistiek en val binne die metodologie van kritiese diskoersanalise (KDA).

One of the key particularities of business – and, in fact, any special-interest media discourse – resides in the fact that the people journalists write about are overwhelmingly the readers themselves (Koller, 2004:44).

Dit is belangrik om inligting oor die demografie van Finweek se leserstal te voorsien. Dié inligting is vervat in bylaag 4.1.

By die bepaling van ʼn metode vir die samestelling van die korpusse vir ontleding, is na die werk van verskillende navorsers gekyk wat soortgelyke ondersoeke verrig het. Charteris-Black en Ennis het in 2001 ʼn vergelykende studie gedoen oor die metafoor in Spaanse en Engelse finansiële verslaggewing oor die ineenstorting van die aandelemark in 1997. Charteris-Black en Musolff het in 2003 ʼn vergelykende studie voltooi oor Engelse en Duitse finansiële verslaggewing oor die verhandeling van die euro met die instelling daarvan in 2000. Koller het in 2004 ʼn studie gedoen oor die voorkoms van metafoor en gender in besigheidsdiskoers in vier verskillende Engelse finansiële tydskrifte, naamlik Business Week, Economist, Fortune en Financial Times. In haar studie is van beide Amerikaanse en Engelse tydskrifartikels gebruik gemaak, maar sy het nie ʼn studie gedoen van die kultuurspesifieke aspekte van die tekste nie. In hierdie studie word wel gekyk na die kultuurspesifieke aspek, aangesien die Engelse en Afrikaanse artikels wat in die korpus vervat is, vertalings van mekaar is.

Die belangrikste vraag by die aanvang van die ondersoek was hoe om klusters van dominante metafore in die korpusse te bepaal.

Clusters are defined as a set of metaphoric expressions that tend to co-occur frequently in any given discourse – for example, hostile takeover and corporate marriage co-occuring as instantiations of the FIGHTING and the MATING methaphor, respectively, in texts on mergers and acquisitions (Koller,

2004a:47).

Om bogemelde vraag te beantwoord, is Koller se metode in hierdie studie gebruik, soos in 4.8 verduidelik word.

Kwantitatiewe analises is noodsaaklik, aangesien dit die basis verskaf waarop norme van taalgebruik beoordeel word. Sonder kwantitatiewe analise is dit nie moontlik om aan te toon of die gebruik van ʼn spesifieke metafoor nuut of konvensioneel is nie,

aangesien hierdie opvatting van kwantitatiewe bevindinge afhang van wat normaal is in taalgebruik.

Kwantitatiewe analises behels onder meer frekwensie en kenmerkendheid en beantwoord vrae oor hoe dikwels ʼn spesifieke woord of frase in byvoorbeeld die Engelse korpus voorkom in vergelyking met die Afrikaanse korpus. Kwalitatiewe analises geskied vinniger aangesien dit nie betrokke is by die konteks van die doelvorms nie. Beide kwalitatiewe en kwantitatiewe analises is betrokke by die werklike gebruik van taal in teenstelling met die intensies van taalgebruik. Volgens Charteris-Black (2004:32) is kwalitatiewe analise noodsaaklik om die pragmatiese rol van metafoor te vertolk – byvoorbeeld of dit ʼn positiewe of negatiewe evaluering oordra. Kwalitatiewe en kwantitatiewe analise is die effektiefste as dit in dialoog met mekaar geskied en elkeen vrae opper wat deur die ander beantwoord kan word.

Daar was twee stadiums in die aanvanklike prosedure van kwalitatiewe analise van die voorbeeldtekste: eerstens, is al die data deurgelees om die metafore per hand te identifiseer, deur ʼn wye definisie van metafoor te gebruik. Die uitgangspunt was om die aanvanklike identifisering van metafoor te gebruik, sodat geen metafore misgekyk word nie. Hierdie metafore is geklassifiseer volgens hoëvlak- konseptuele metafore. ʼn Tweede, meer gedetailleerde analise is gedoen deur ʼn nouer definisie van metafoor te gebruik om die tekstuele en interpersoonlike aspekte van die metafore wat gebruik is vas te vang. Die tweede analise is met behulp van die program ParaConc gedoen. Hierdie analise het die basis voorsien om ʼn vergelyking te tref van die rol van die metafore in die realisering van spesifieke retoriese doelwitte en in die realisering van tekstuele kohesie. Die doel van hierdie aspek van die studie was dat dit moontlik insig sou gee in die verskille en ooreenkomste van die diskoerseienskappe van die twee tale in dieselfde register van TSD.