• No results found

HOOFSTUK 4: LEWERANSIERSELEKSIE

4.7 Subkontraktering en uitkontraktering

Subkontraktering is ʼn sakepraktyk waardeur ʼn vervaardiger ʼn ander leweransier uitkontrakteer om ʼn gedeelte van die vervaardigingsproses of diens te behartig, of sekere komponente wat vir die eindproduk of diens nodig is, te lewer. ʼn Subkontrakteringsooreenkoms is gewoonlik ʼn langtermynooreenkoms. Uitkontraktering, daarenteen, maak nie deel uit van die produksieproses of diens nie, maar het eerder betrekking op ondersteunde produkte of dienste. ʼn Onderneming kan byvoorbeeld kafeteriadienste, skoonmaakdienste en vervoerdienste uitkontrakteer.

Subkontraktering en uitkontraktering sluit aan by die maak-of-koop besluit en vorm ook deel van die vraagstuk van vertikale integrasie. Groot ondernemings word deur markvraag verplig om op kernaktiwiteite te konsentreer en sekere van die gespesialiseerde produksietake te eksternaliseer deur middel van subkontraktering of uitkontraktering. Op dié wyse word die produksiekapasiteit van die onderneming vergroot en aan die spesialisasievereiste in die mark voldoen (Jacobs & Chase, 2011:417).

Sekere tendense in die sakewêreld het ʼn invloed op die vorming van ooreenkomste soos subkontraktering tussen ondernemings. Die volgende neigings kan ʼn sake-onderneming beïnvloed om subkontrakteringsooreenkomste met ander ondernemings aan te gaan:

 Konsentrasie op kernaktiwiteite in die onderneming;

 Seleksie en sertifisering van ʼn beperkte aantal leweransiers;

 Spesialisering in ʼn beperkte aantal produkte en tegnologie; en

Klem op kwaliteit, afleweringstyd en tegnologie (Erasmus et al., 2016:577).

4.7.1 Die subkontrakterings- of uitkontrakteringsverhouding

Die verhouding tussen twee partye in die subkontrakterings- of uitkontrakteringsooreenkoms kan verskillende vorme aanneem, afhangende van verskillende faktore. Die verhouding tussen die twee partye in ʼn subkontrakteringsooreenkoms sal byvoorbeeld afhang van die tegniese-, bestuurs- en finansiële vermoëns en die grootte van die twee partye, die tipe produk, toerusting of diens, die omstandighede in die mark, die welstand van die land se ekonomie en die motiewe van die hoofkontrakteur. Die bystand wat die hoofkontrakteur aan die subkontrakteur verskaf, kan wissel van geen bystand nie (met ander woorde ʼn “koue kontrak”), tot hulp met die oprigting van die subkontrakteur, finansiële bystand, die voorsiening van geskoolde arbeid, tegnologiese hulp (byvoorbeeld navorsing en produkontwikkeling), die opleiding en bestuur van werkers, hulp met kwaliteitbeheer en die aankoop van roumateriaal (Van Weele, 2010:34-35).

Hoe meer hulp die hoofkontrakteur aan die subkontrakteur verleen, hoe meer afhanklik sal die subkontrakteur van die hoofkontrakteur wees. In ʼn hoogs tegnologiese omgewing sal die subkontrakteur gewoonlik ʼn selfstandige onderneming wees en sal samewerking beperk word tot byvoorbeeld strategiese beplanning, navorsing en produkontwikkeling.

Andersyds, waar groot ondernemings as deel van hulle bydrae tot die heropbou- en ontwikkelingsprogram eenvoudige produksie- of diensleweringstake uitkontrakteer, sal groter ondersteuning dikwels aan die subkontrakteur verleen moet word, byvoorbeeld opleiding van werkers en die skep van infrastruktuur (Erasmus et al., 2016:578).

4.8 Samevatting

Die aankoopfunksie is ʼn selfstandige bestuurstaak wat gerig is op die ononderbroke voorsiening van produkte aan die onderneming, ten einde die beplande produksietempo te handhaaf en wat derhalwe sal bydra tot die verhoging van die winsgewendheid van die onderneming.

Ten einde bogenoemde doelstelling van die aankoopfunksie te verwesenlik word verskeie aankoopbestuursaktiwiteite geïdentifiseer, wat gekoördineerd en doeltreffend uitgevoer moet word. Só het die konsep “aankoopfunksie” ontwikkel, op die gebied van aankoophantering en - voorsiening.

Die aankoopfunksie bied ʼn organisasiestruktuur waarbinne alle interafhanklike aktiwiteite, wat verband hou met die toevoer en deurvloei van produkte, onder een bestuurspos, naamlik dié van aankoopbestuurder, gegroepeer is. Daar bestaan ʼn al hoe nouer interafhanklikheid tussen aankoopaktiwiteite en die aktiwiteite van ander ondernemingsfunksies met betrekking tot produkvoorsiening. Die afhanklikheid plaas die aankoopfunksie by uitstek binne die kategorie van ʼn bestuursfunksie wat interafhanklik optree om die gesamentlike ondernemingdoelstellings te verwesenlik.

Die doel van hierdie hoofstuk was dan ook om teoreties gefundeerde riglyne neer te lê om eerstens die leemtes met betrekking tot leweransierseleksie te vul; tweedens die doeltreffende funksionering van leweransiersontwikkeling in die privaatsekuriteitsomgewing; derdens die belangrikheid van kwaliteitbepaling, beheer en prysbepaling; vierdens die belangrikheid van subkontraktering en uitkontraktering; en vyfdens te dien as basis waarvolgens die empiriese ondersoek uitgevoer word.

Die aankoopfunksie, as ʼn integrerende deel van die materiaalbestuurstelsel, word geensins ondergeskik geag nie; trouens, aankope is waarskynlik een van die heel belangrikste aktiwiteite van materiaalbestuur. Die aktiwiteite van die aankoopfunksie is van die belangrikste voorsieningsaktiwiteite en slegs deur doeltreffende integrering van al die voorsieningsaktiwiteite sal die aankoopbestuurskonsep in ʼn onderneming behaal word.

Die belangrikheid van die hoofstuk is gesetel in die teoretiese en prakties gefundeerde riglyne wat daargestel word en die bydrae daarvan tot die beklemtoning en bevordering van die doeltreffende funksionering van die aankoopfunksie in ʼn privaatsekuriteitsonderneming. Die hoofstuk lewer verder ook ʼn besonder belangrike bydrae tot hoe belangrik leweransierseleksie is in enige privaatsekuriteitsondernemings.

Die hooftema van hierdie hoofstuk, naamlik die aktiwiteite van die aankoopfunksie is nou ineengevleg met die doel van die studie om bestaande leemtes aan te vul deur teoretiese en praktiese riglyne daar te stel vir die doeltreffende bestuur van die aankoopfunksie in die privaat- sekuriteitbedryf.

HOOFSTUK 5: NAVORSINGSMETODOLOGIE

5.1 Inleiding

In hierdie hoofstuk word die navorsingsmetodologie wat gebruik is, bespreek. Die doel van hierdie studie is om te bepaal hoe die aankoopfunksie bestuur word in verskillende sekuriteit- ondernemings. Ten einde hierdie doel te bereik, is daar in hoofstukke 2-4 verskeie aspekte in die aankoopfunksie bestudeer. In Hoofstuk 2 word daar ondersoek ingestel wat die aankoopfunksie is en die belangrikheid daarvan. In Hoofstuk 3 is daar ondersoek ingestel na die rol van gesentraliseerde en gedesentraliseerde aankoopstrukture en hoe dit die onderneming as geheel beïnvloed. Verder word daar in Hoofstuk 4 ondersoek ingestel na strategiese leweransierseleksie en hoe dit kostes bespaar vir die onderneming. Die navorser het dit nodig geag om eerstens vas te stel wat die aankoopfunksie is en hoe dit funksioneer in die sekuriteitsbedryf en watter invloed dit het op die onderneming se daaglikse take en in hoe ʼn mate sukses daarmee behaal word. Daarom was dit nodig om ʼn empiriese ondersoek te doen by die maksimum beskikbare sekuriteitsondernemings in Gauteng.

In hierdie hoofstuk word die navorsingsmetodologie wat gebruik is, bespreek en gemotiveer. Die doel van die empiriese ondersoek word verduidelik om die keuse van ʼn dataversamelingsmetode toe te lig. Die gekose metode word bespreek, sowel as die toepassing daarvan en probleme wat ondervind is met die toepassing daarvan. Daar word ook aandag gegee aan responspersentasie en bevindinge ten opsigte van responspersentasie word gemaak.