• No results found

HOOFSTUK 7: OPSOMMING, GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

7.3 Gevolgtrekkings

Daar is tot die volgende gevolgtrekkings gekom uit die literatuurstudie en empiriese ondersoek.

7.3.1 Die funksionering van die aankoopfunksie

In die literatuur word sterk klem gelê op die belangrikheid van die aankoopfunksie binne die onderneming. Vir die bestuur van die onderneming is dit belangrikrik om die belangrikheid van die aankoopfunksie raak te sien. Dit kan nie net meer gesien word as ʼn administratiewe taak nie. Die aankoopfunksie word gedefinieer as die bestuur van die onderneming se eksterne hulpbronne, tot só ’n mate dat die voorsiening van produkte, dienste en kennis, wat nodig is om die onderneming se voortbestaan te verseker, nie beïnvloed word nie. Die aankoopfunksie handel verder oor die aktiwiteite wat verrig moet word om te verseker dat goeie leweransiers die onderneming van die regte benodighede in die regte hoeveelheid op die regte tyd en plek teen die beste prys moontlik voorsien.

Die resultate toon die volgende hoe die aankoopfunksie in die sekuriteitsondernemings funksioneer. Alle respondente (100%) het aangedui dat hulle nie die eienaars van die onderneming is nie. Die meeste van die ondernemings (71.43%) het 9 funksies in hulle ondernemings.

Die helfte van respondente (52%) bevestig dat hulle ander funksies buiten die aankoopfunksie doen terwyl die ander (48%) aangedui het dat hulle aankoopfunksie verantwoordelik is vir die aankope. Verder het ʼn groot meerderheid (90%) van die respondente aangedui dat daar ʼn hoof in hulle aankoopfunksie aangestel is, terwyl die meeste respondente (84%) aangedui het dat die aankoopbestuurder die gesag het om aankoopbesluite te neem. Laastens het 51.02% van die respondente gesê dat die onderneming tussen 51 en 75% spandeer aan aankope van goedere en dienste.

7.3.2 Waar die aankoopaktiwiteite plaasvind in die onderneming

Die literatuur beskryf die aankoopsiklus as ʼn reeks opeenvolgende aankoopaktiwiteite wat vir elke aankooptransaksie verrig moet word (Jacobs & Chase, 2011:412). Verder behoort die oorsigtelike bespreking van die verskillende stappe in die aankoopsiklus ʼn aanduiding te gee van die basiese prosedures wat deur die aankoopafdelings gevolg word, asook van die vloei van aankoopdokumente.

Volgens die resultate het die meeste van die respondente aangedui dat die aankoopfunksie verantwoordelik is vir die aktiwiteite in die aankoopsiklus. Die meeste respondente (60%) het aangedui dat hulle nasionale strukture gebruik vir hulle aankope. Die meeste respondente (71,74%) het voorts aangedui dat die aankoopfunksie binne die aankoopafdeling funksioneer.

7.3.3 Gesentraliseerde en gedesentraliseerde aankope

Volgens die literatuur is gesentraliseerde aankope wanneer ʼn enkele individu of afdeling, die bevoegdheid en gesag het om alle aankope namens die onderneming te doen. Hierdie individu, gewoonlik die aankoopbestuurder is aan topbestuur verantwoordelik vir die funksionering van die aankoopfunksie ongeag van waar of deur wie die werklike aankope gedoen word (Van Zyl et al., 2012:134). In hierdie soort organisasiestruktuur skep die aankoopdepartement beleide en standaard operasionele prosedures vir die hele onderneming. Verder verduidelik die literatuur ʼn gedesentraliseerde organisasiestruktuur waar aankope deur verskillende afdelings of individue gedoen word (Monczka et al., 2010:91).

In die geval van ʼn onderneming beteken dit dus dat die gesag ontneem word van die hoofkantoor en dit word dan gegee vir elke bestuurder by die onderneming se verskeie takke. Die resultate wys dat die meeste respondente (71,74%) aangedui het dat die aankoopbeleid, -prosedures en -strategie nasionaal geformuleer word, terwyl die meeste respondente (60,42%) aangedui het dat die aankoopfunksie gesentraliseerd is. Die seniorbestuur (41,67%) hanteer die tekenmagte by die meeste van die ondernemings.

7.3.4 Prysbepaling

Die literatuur beskryf ʼn billike prys as ʼn prys wat vir beide partye, die koper en verkoper aanvaarbaar is. Verder is ʼn billike prys die prys wat deurlopende voorsiening van kwaliteit produkte verseker op die regte tyd en plek (Van Zyl et al., 2012:153). Hieruit is dit duidelik dat daar nie reëlmatig ʼn formule vir die berekening van ʼn billike prys bestaan nie. In die lig hiervan is

Eerstens moet die prys in ʼn redelike verhouding tot vervaardigingskoste staan; tweedens moet vraag en aanbod in die leweransiersmark die prys bepaal en derdens moet die prys in toestande van vrye mark mededinging bepaal word.

Die resultate dui aan dat die meeste van die respondente (90%) hoofsaaklik gebruik maak van pryslyste om kostes te bepaal, terwyl baie van die respondente (80%) ook onderhandelings gebruik. Kwotasies (66%) word ook op ʼn gereelde basis gebruik word om pryse te bepaal vir die onderneming.

7.3.5 Taak van bestuur 7.3.5.1 Besluitneming

Die literatuur onderstreep die feit dat die aankoopfunksie belangrik is vir suksesvolle bedrywighede van ondernemings. Die indruk het bestaan dat ondernemings nie altyd die belangrikheid van doelmatige aankope besef het nie, maar sommige hedendaagse ondernemings het die belangrikheid daarvan besef. Die aankoopfunksie, in die meeste ondernemings, word betrek by topbestuur en strategiese beplanning, aangesien hierdie funksie ʼn belangrike rol speel in die effektiewe funksionering van die onderneming.

Die resultate toon dat uitvoerende bestuur minder gebruik maak van ʼn tenderproses as die operasionele bestuur. Verder maak uitvoerende bestuur minder gebruik van onderhandelings met leweransiers as die operasionele bestuur. Laastens maak uitvoerende bestuur minder gebruik van verbruikers se behoeftes as die operasionele bestuur.

7.3.5.2 Organisasiestruktuur

Daar word van verskillende literatuur gebruik gemaak om die plek van die aankoopfunksie in die ondernemingshiërargie te identifiseer. Hierdie teoretiese grondslag kan moontlik prakties toepasbaar wees in private ondernemings waar die aankoop van goedere en dienste betrokke is (Murray, 2014).

Die belangrikheid van die plasing van die aankoopfunksie op ʼn geskikte plek binne die organisasiestruktuur van die onderneming, kan nie oorbeklemtoon word nie, aangesien dit bepalend is vir die doeltreffende uitvoering van aankoopaktiwiteite. Dit beïnvloed byvoorbeeld die manier waarop die aankoopfunksie ʼn bydrae lewer aan die breë bestuur van die onderneming, asook die mate waarin koördinering met ander funksies in die onderneming bewerkstellig kan word (Du Toit et al., 2010:527).

Die resultate dui aan dat daar prakties betekenisvolle verskille bestaan tussen uitvoerende en operasionele bestuur van ondernemings met aparte aankoopdepartemente ten opsigte van besluitneming. Daar was slegs ʼn verskil tussen uitvoerende en operasionele bestuur se persepsie oor leweransiersfokus met ʼn medium effekgrootte (0.46). Dit beteken dus dat die uitvoerende bestuur (gem 2.87) minder op leweransiers fokus as die operasionele bestuur (gem = 3.17).