• No results found

Maatskaplike werk begin gewoonlik as reaksie op `n probleem wanneer daar stres of ongemak tussen `n individu en sy breër gemeenskap of omgewing ondervind word. Die eerste stap in die proses is om `n doelbewuste plan van aksie te kry ten einde die probleem op te los. Gray en Collett van Rooyen (2002:197) is van mening dat die benadering in maatskaplike werk dikwels is om die probleem te verken. Hierdie probleemoplossingsproses veroorsaak dat maatskaplike werkers dikwels `n inventaris van probleme opstel en dus probleemgesentreerd werk. Jeugmisdaad is `n voorbeeld van `n probleem wat die fokus van maatskaplike werkers kan aflei en die probleemgesentreerde proses aan die gang sit.

Die sterkteperspektief is ontwikkel as `n alternatief vir die probleemgesentreerde benaderings waar kliënte geëtiketteer is as hulpeloos en passiewe rolspelers in die hulpverleningsproses (Gray & Collett van Rooyen, 2002:193). Dit is nie `n nuwe benadering in maatskaplike werk nie en is reeds `n geruime tyd in gebruik. Die sterkteperspektief het gedurende die 1990`s `n groot herlewing in die maatskaplike werk veld beleef en was as`t ware `n revolusionêre beweging teen die dominante mediese modelle wat gefokus het op die individuele patologie van kliënte. Veral byvoorbeeld met die behandeling van ernstige jeugmisdadigers was dit dikwels `n

baie individuele behandelingsproses terwyl die oortreder oor `n gemeenskap met sterktes en bronne beskik.

Saleebey (2002:1) konstateer dat die sterkteperspektief op moontlikhede fokus, eerder as om na die probleme te kyk. Laasgenoemde outeur stel dit metafories dat in die middel van trauma, pyn of probleme kan die bloeisels van hoop en transformasie gesien word. Saleebey (2002:1) beskryf die formule vir `n sterkteperspektief soos volg: Die sterktes (talente, kennis, bronne) van kliënte moet gemobiliseer en aangewend word om kliënte te help om hul doelstellings en visies te bereik. Die sterkteperspektief poog dus om kliënte te help om hulself te help.

Vervolgens sal die sterkteperspektief bespreek word om die begrip daarvan te verbeter. Die bespreking sal hoofsaaklik fokus op die eienskappe van die sterkteperspektief.

2.4.1 Eienskappe

Volgens die sterkteperspektief beskik elke individu, gesin en gemeenskap oor sterktes, bates en bronne (Saleebey, 1999:16; Sheafor et al., 2000:93). Die identifisering van bronne en ten volle benutting daarvan is ook sentraal in maatskaplike probleemoplossing. Dit is egter dikwels `n uitdaging om sterktes in die onderskeie maatskaplike sisteme te identifiseer weens die wanfunksionering daarvan. Die disfunksionerende gesin van `n jeugmisdadiger waarin daar geen verhoudings of ondersteuning vir mekaar is nie, is `n voorbeeld van so `n wanfunksionerende sisteem op die mesovlak.

Volgens Compton en Galaway (1999:15) vereis die sterkteperspektief nie die beklemtoning van positiewe aspekte ten koste van die erkenning van die realiteite nie. Die perspektief neem egter die individu terug na `n gebalanseerde sienswyse van sy toestand, met ander woorde, `n sienswyse wat die vermoë van die mens om probleme te oorkom, respekteer (Saleebey, 1999:15). Die jeugoortreder wat op `n

jong ouderdom skool verlaat het, sal byvoorbeeld aangemoedig word om sy skoolopleiding voort te sit en te voltooi sodat hy `n groter loopbaankeuse kan uitoefen.

Gray en Collett van Rooyen (2002:197) lê klem op die krag van woorde. Dit word ook deur Saleebey (1999:15) ondersteun wat staaf dat woorde kan ophef of vernietig en kan motiveer of ontmoedig. In hierdie perspektief word woorde gereeld gebruik soos bemagtiging, potensiaal, vermoë, verantwoordelikheid, groei, bates en visie (Gray & Collett van Rooyen, 2002:194). Deur die gebruik van hierdie begrippe word daar gepoog om kliënte se persepsies van probleemsituasies te herdefinieer en te motiveer om aktief betrokke te wees in die probleemoplossingsproses. So kan die positiewe of negatiewe woorde van `n ouer byvoorbeeld bepaal of die kind `n goeie of slegte selfbeeld het en dit bepaal die kind se hantering van groepdruk wat eindelik tot die betrokkenheid by misdaad kan lei.

Die diagnose van `n individu as `n krimineel of die gesin as disfunksionerend kan dikwels beperkinge plaas op die verwagte potensiaal van die sisteem. Die sterkteperspektief maak die aanname dat daar geen perke geplaas kan word op die potensiaal of vermoëns van waartoe die sisteem in staat is nie (Saleebey, 1999:16). Die perspektief vra dus vir `n holistiese benadering waarin die sisteem as geheel ondersoek word in `n poging om alle potensiële sterktes te identifiseer en aan te wend ten einde die sisteem optimaal te laat funksioneer.

Die voorkoms van jeugmisdaad, veral in `n disfunksionerende gesin, bemoeilik dit vir die hele sisteem om sterktes raak te sien (Kirst-Ashman, 2007:59; Morales & Sheafor, 1983:17). Dit is nodig vir die maatskaplike werker om vol te hou met oorredingsmetodes en herdefiniëring van die situasie sodat die sisteem self kan begin glo dat daar wel bronne is wat aangewend kan word ten einde positiewe veranderings aan te bring (Saleebey, 1999:17). Veral wanneer daar alreeds etikettering plaasgevind het en die sisteem `n posisie van hulpeloosheid aangeneem

het. Die aanwending van die sterkteperspektief in sulke situasies sal poog om die sisteem in staat te stel om die bronne en potensiaal van die sisteem raak te sien. Elke omgewing beskik oor bronne en potensiaal (Sheafor et al., 2000:58). `n Omgewing kan in `n groot mate wanfunksionering toon, maar steeds `n geskikte topografie besit ten opsigte van bates en hulpbronne. Die sterktes kan in die individue, gesinne en gemeenskappe gevind word wat deel is van die sisteem (Kirst-Ashman, 2007:59). Daar word gepoog om eerstens sterktes in die sosiale sisteem te vind voordat daar na die diensleweringsisteem gekyk word (Saleeby, 1999:16). Die sosiale sisteem beskik dus self oor die potensiaal om positiewe veranderinge te maak nadat die sterktes ontdek is en dit aangewend word in die sisteem. Die geleentheid vir skoolopleiding in `n gemeenskap is `n voorbeeld van `n sterkte in die sosiale sisteem van die jeugoortreder. So kan `n jeugoortreder wat byvoorbeeld skool verlaat het weens sy betrokkenheid by misdaad aangemoedig word om sy skoolloopbaan te voltooi ten einde `n wyer loopbaankeuse te kan hê.

Saleebey (2002:84) skryf dat, onder die regte omstandighede, amper enige iets as `n sterkte gesien kan word. Daar word na spesifieke sterkpunte verwys en vir die doeleindes van die studie word `n paar van die sterkpunte onder drie kategorieë ingedeel (Saleebey, 2002:84-87):

Individuele sterktes (mikrovlak): Gedurende moeilike tye ontwikkel en groei

individue se persoonlike kwaliteite en karaktertrekke maar hul is dikwels self nie bewus daarvan nie. Van die kwaliteite sluit in `n sin vir humor, kreatiwiteit, getrouheid en onafhanklikheid. Die maatskaplike werker kan byvoorbeeld die jeugmisdadiger help om die eienskappe in homself raak te sien en dit aan te wend in die probleemsituasie.

Talente waaroor individue beskik soos byvoorbeeld om `n musiekinstrument te kan bespeel, stories vertel, kosmaak, skryf en handewerk. Die jeugoortreder wat in `n

onbetrokke huis grootword waar niemand sy talente raaksien en hom aanmoedig om dit te gebruik nie sal maklik heeltemal daarvan afsien. Die maatskaplike werker kan die individu aanmoedig om weer byvoorbeeld `n musiekinstrument te begin bespeel sodat hy dalk `n loopbaan daarvan kan maak.

Gesinsterktes (mesovlak): Kulturele en persoonlike stories van ouers of voorouers

is dikwels bronne van sterkte en word maklik oorsien. Hierdie stories en narratiewes dien as bronne van inspirasie in moeilike tye. So kan stories in `n Xhosa gesin oor hul voorouers se bestaan byvoorbeeld `n jeugdige oorreed en inspireer om die kulturele erflating van hardwerkendheid en ondernemingsgees self voort te sit.

Spiritualiteit is `n sterkte by individue, gesinne en gemeenskappe wat dikwels oorgesien word. `n Groot rede hiervoor is maatskaplike werkers wat self nie gemaklik is met hul eie spiritualiteit nie en dan hierdie sterkte van individue of groepe ook weerhou. Spiritualiteit in gesinne kan byvoorbeeld `n anker wees vir die jeugoortreder en sy gesin wanneer daar deur moeilike tye gegaan word.

Gemeenskapsterktes (makrovlak): Die gemeenskap is dikwels op fisiese en

interpersoonlike terrein belaai met informele- en formele bronne wat glad nie gebruik word nie. Groepe wat in buurte saamkom om mekaar te help en ondersteun is informele sterktes waarop gesinne kan steun gedurende moeilike tye. Daar is gewoonlik ook verskeie formele organisasies in gemeenskappe wat bystand gee aan gemeenskapslede. `n Dwelmgroep vir jeugdiges wat by die kliniek aangebied word is `n voorbeeld van gemeenskapsterkte en kan `n jeugdige wat dagga gebuik inlig oor die gevare van verslawing en die moontlike gebruik van ander dwelms.

Saleebey (2002:236) noem dat daar drie belangrike beginsels is in die identifisering van gemeenskapsterktes:

Bate- en sterkte gebaseerd: Wanneer daar na die sterktes in `n gemeenskap gekyk word is dit belangrik om te fokus op die bates en sterktes wat wel in die gemeenskap is en nie op die tekortkominge nie. Met die rehabilitering van `n jeugoortreder is dit byvoorbeeld belangrik om die sterktes van die gesin en bates van die gemeenskap te identifiseer en nie net op die behoeftes te fokus nie.

Interne fokus: Dit is belangrik om `n begrip te kry van wat in die gemeenskap

aangaan en kennis te dra van die sterktes en bates daarvan. Indien daar byvoorbeeld `n probleem met die herintegrasie van jeugoortreders in `n gemeenskap soos die Paarl is, sal dit nie help om met inwoners van Stellenbosch te praat om inligting oor gemeenskapsbronne te kry nie.

Verhoudingsgesentreerd: Wanneer die sterktes geïdentifiseer en aktiveer word is

dit belangrik dat positiewe verhoudings tussen die bronne en gemeenskap gebou word sodat die bemagtiging van gemeenskapslede voortgaan. Die verhouding tussen `n maatskaplike werker wat die NICRO program aanbied en die jeugoortreder wat dit bywoon moet van so `n aard wees dat die oortreder na afloop van die program steeds toegang tot die gemeenskapsbron of –sterkte het, sonder die bystand van die maatskaplike werker.

Saleebey (1999:17) noem dat die voorkoms van etniese- en kulturele verskille tussen die sisteem en maatskaplike werker dit bemoeilik om sterktes raak te sien. Morales en Sheafor (1983:5) konstateer egter dat hierdie individuele- en kulturele verskille as `n sterkte beskou moet word aangesien elke kultuur beskik oor verskeie bronne wat uniek is tot die spesifieke omgewing en sisteem. Die identifisering van sterktes in onbekende kulture word ook dikwels bemoeilik deur die onvermoë van die maatskaplike werker om die bronne van die sisteem korrek te interpreteer en aan te wend as sterktes. Vir baie individue of gesinne is byvoorbeeld spiritualiteit of geloof `n sterkte wat hul totale lewens rig en die onvermoë van `n maatskaplike werker om die sterkte te identifiseer kan die sisteem beroof van `n kosbare bron (Saleebey,

1999:19). Daar is dus `n definitiewe behoefte vir `n etnies-sensitiewe benadering in die ondersoek na sosiale sisteme en die perspektief word derhalwe bespreek.