• No results found

In hierdie gedeelte word die gesin eerstens gedefinieer. Daarna word `n omskrywing van gesinne gegee deur te fokus op die verskillende gesinsamestellings wat voorkom.

Development, 2006:13) omskryf die gesin as `n groep van twee of meer mense wat saamgebind is deur instemming, herkoms, regsmiddele, aanneming, en wat verantwoordelikhede deel, `n gemeenskaplike doel het, en funksioneer as `n eenheid wat bestuur word deur familiereëls en waar norme en waardes ontwikkel en in stand gehou word. Hepworth, Larsen, Strom-Gottfried, Rooney en Rooney (2006:240) definieer die gesin as `n sosiale sisteem waarin elke deel en subsisteem in interaksie met mekaar is in `n voorspelbare, georganiseerde manier. Vir die doeleindes van hierdie studie verwys die term gesin na `n sosiale eenheid, van twee of meer persone, wat gevorm is deur bloed, huwelik of aanneming en saambly in dieselfde woning.

Hierdie omskrywing van die gesin kan as `n definisie vir gesinne in alle kulture gebruik word (Zastrow, 2004:193). Sosiale- en kulturele faktore het egter `n invloed op die samestelling van gesinne en die verskillende gesinsvorme word derhalwe bespreek.

4.2.1 Nuklêre gesinne

Die nuklêre gesin bestaan uit `n getroude paar en hul kinders wat saamwoon (Zastrow, 2004:193). Hierdie tipe gesin is meer geskik vir die industriële samelewing aangesien dit kleiner is en meer mobiel en aanpasbaar vir veranderende omstandighede, byvoorbeeld as daar verhuis moet word agter `n beter werk aan. In Suid-Afrika is daar `n goeie kombinasie van uitgebreide- en nuklêre gesinne en dit word grootliks deur die kultuur en geografiese ligging van families bepaal.

4.2.2 Uitgebreide gesinne

Uitgebreide gesinne bestaan uit `n aantal bloedverwante wat saamwoon soos ouers, kinders, grootouers, ooms, tantes, neefs en skoonfamilie (Zastrow, 2004:193). In Suid-Afrika is daar ook `n groeiende tendens van uitgebreide gesinne waar grootmoeders of selfs ander vrouens in die gemeenskap die hoof van hierdie gesinne is en daar na `n aantal pleegkinders omgesien word. Vir die doeleindes van hierdie

studie verwys uitgebreide gesinne na wye informele netwerke van verwante of goeie vriende wat saambly in dieselfde woning.

4.2.3 Enkelouergesinne

Zastrow (2004:194) verwys na die enkelouergesin as `n “nuwe” tipe gesin wat wêreldwyd ontwikkel. Enkelouergesinne ontstaan wanneer daar net een ouer is wat na kinders omsien. Hierdie gesinne word gevorm wanneer `n ongetroude persoon `n kind aanneem, `n ongetroude vrou geboorte gee aan `n kind, of `n getroude paar skei en een ouer (gewoonlik die vrou) verantwoordelikheid neem vir die sorg van die kind. `n Enkelouergesin is dus `n gesin waar net een ouer na die kinders omsien. Soos vroeër genoem is daar `n tendens in Suid-Afrika waar gesinne beide uitgebreide- en enkelouergesinne is.

4.2.4 Pleeggesinne

In Suid- Afrika is daar geen onderskeid tussen pleegsorg by nie-familie en familiepleegsorg nie (Van Rensburg, 2006:62). Die Discussion Paper van die SA Law Commission (2002:713,714) definieer pleegsorg as die voorsiening van sorg aan `n kind, op `n tydelike of permanente grondslag, deur spesifieke versorgers, wat verwant of nie-verwant is met `n kind. Vir die doeleindes van hierdie studie word `n pleeggesin omskryf as tydelike of permanente sorg aan `n kind wat verwant of nie-verwant is nie en regtelike outoriteit het om na die kind om te sien.

4.2.5 Gesinne met kinders as gesinshoofde (“child-headed families”)

Volgens die Suid-Afrikaanse minister van sosiale ontwikkeling, Zola Skweyiya, is een uit elke agt kinders in Suid-Afrika huidiglik ouerloos, hoofsaaklik weens die HIV pandemie (Molwedi, 2006:5). Die minister noem verder dat hierdie tendens baie druk op gemeenskapstrukture plaas en veral op die uitgebreide gesinsisteem. Die uitgebreide gesinsisteem het tradisioneel in Suid-Afrika as `n veiligheidsnet vir weeskinders gedien maar met die groeiende HIV syfers is dit onmoontlik vir familielede om na al die weeskinders in `n gemeenskap om te sien (Molwedi,

2006:5). Gevolglik moet kinders as gesinshoofde optree sonder enige volwasse supervisie en so ontstaan die sogenaamde “child-headed families”. Kinders neem dus noodgedwonge die ouerverantwoordelikhede oor as primêre versorgers en die gevolge hiervan is disfunksionerende gesinne.

Kinders wat op straat woon vorm dikwels ook “child-headed families”. Maree (2003:61) noem dat kinders wat op die straat woon een van die vinnigste groeiende probleme in Afrika is. Die bogenoemde outeur noem verder dat straatkinders onder die veranderlike “gesinne” geplaas kan word aangesien hul beskou word as kinders met ontwrigte- of geen familiebande wat op straat moet oorleef. Die straatkinders kan volgens Maree (2003:61) in die volgende groepe ingedeel word: kinders wat op `n daaglikse basis deur hul ouers uitgestuur word om geld te verdien; straatkinders met los gesinskontak wat soms terugkeer huis toe; en kinders sonder enige gesinskontak wat permanent op die straat bly. Hierdie kinders wat permanent op die straat woon vorm hul eie “gesinne” waar die ouer kinders sekere ouerrolle vervul. In `n stryd om oorlewing raak baie van hierdie straatkinders by misdaad betrokke aangesien hul geen versorgers of bronne het nie.

Die gesinsamestelling van jeugdige het dus `n invloed op hul sosiale funksionering en hierdie invloed word derhalwe bespreek.

4.2.6 Die invloed van die gesinsamestelling op `n jeugdige

Germain en Gitterman (1986:630) noem dat die bronne van wanaanpassing in `n gesinsisteem gewoonlik te doen het met die samestelling van die sisteem. Deur die interaksie wat in die gesin plaasvind word daar ook karakter gevorm, rolle aangeleer en lede gesosialiseer vir deelname in die groter samelewing (Browne, Hollin & Palmer, 2002:9; Hepworth et al., 2006:240). Die laasgenoemde outeurs beskryf die gesin as die basiese informele welsynsisteem van enige gemeenskap. Die gesin is dus primêr verantwoordelik vir die fisiese- en emosionele behoeftes van alle

gesinslede. Woolridge (in Hendrick, 2002:35) konstateer dat die oorsprong van byna elke ernstige misdaad geleë is in die huishoudelike lewe van die oortreder.

Johnson en Schwartz (1994:257) noem dat die verhouding tussen misdaad en die funksionering van `n jeugdige se gesinsisteem `n belangrike fokusarea vir navorsers is. Onwudiwe (2004:1) en Kirst-Ashman (2007:478) is van mening dat die wortel van jeugmisdaad gevind word in disfunksionerende gesinne. Beide hierdie laasgenoemde outeurs noem dat kriminologiese en sosiologiese literatuur die idee ondersteun dat die verbrokkeling van gesinsisteme in samelewings die basis van jeugmisdaad is. Davis (2003:140) konstateer dat die gesinseenheid die belangrikste instelling vir die opvoeding en sosialisering van `n kind is. Die gesin is dus die fundamentele agent van sosiale beheer en `n kind se aanvanklike kontak met die wêreld en sy sosiale prosesse begin met die gesin. Gesinne speel dus `n belangrike rol in die vorming en ontwikkeling van `n jeugoortreder en veral die gesinsamestelling het `n invloed op `n jeugdige se betrokkenheid by misdaad.

Vir die doeleindes van hierdie studie sal die reeds bespreekte definisie van gesinne gebruik word en verwys na nuklêre-, enkelouer-, uitgebreide-, pleeg- en “child-headed” gesinne.