• No results found

In hierdie gedeelte word daar gefokus op die eienskappe en invloede van die ouers van jeugoortreders. Goldenberg en Goldenberg (1998:28) noem dat die ouer (man-vrou) subsisteem die belangrikste eenheid in die gesinsisteem is en dat die sukses van die gesin grootliks berus op die vermoë van die man en vrou om `n suksesvolle verhouding te hê.

Elke kind wat die gesinsisteem binnekom het gawes en talente om `n positiewe lewe te kan lei maar dit is nodig dat hulle die geleentheid gebied word om hierdie eienskappe te ontwikkel en te beoefen (Kretzmann & McKnight, 1993:13). Individue is dus die roumateriaal vir gemeenskapsbou maar die individue moet in hul gesinne opgebou word om hul volle potensiaal te bereik. Die belangrikste rolspelers in hierdie ontwikkelingsproses is die ouers of voogde van `n kind en die toekoms van `n kind word grootliks deur hierdie invloede bepaal. In die volgende gedeelte word daar gefokus op twee faktore by ouerskap wat `n invloed op jeugdiges het.

Die eerste faktor is ouerhouding. Farrington (2002:426) en Loveday (2003) noem dat `n koue en verwerpende ouerhouding teenoor kinders tot jeugmisdaad bydra. Hierdie negatiewe ouerhouding veroorsaak dat jeugdiges se interne inhibisies afgestomp raak. In `n studie wat Foster in Londen gedoen het, is bevind dat ouers se houding teenoor onderwys, straatlewe en misdaad herhaal word deur die kinders in die gesin (Muncie, 1999:25). Farrington (in Muncie, 1999:25) noem dat kinders wat blootgestel is aan negatiewe ouerskapstyle en skeiding tussen ouers `n goeie kans het om by misdaad betrokke te raak aangesien die jeugdiges nie `n interne lokus van kontrole oor sosiaal onaanvaarbare gedrag ontwikkel nie. Tesame hiermee ontwikkel jeugdiges uit kriminele gesinne `n anti-outoriteits houding en die oortuiging dat misdaad regverdigbaar is.

Guerra (2002:140) konstateer dat die regering of hulporganisasies nie kan instaan vir

vir die persoonlike en direkte sorg van `n vader en moeder kan wees nie. In die hersiene Kinderwet (Minister of Social Development, 2006) word ouerlike verantwoordelikhede omskryf as die sorg en optrede as bewaarder van `n kind. Hierdie verantwoordelikhede van `n ouer word ook as die regte van `n ouer beskryf en dit impliseer dat die ouer mag en kan omsien na die fisiese- en emosionele behoeftes van sy/haar kind. Hierdie verantwoordelikhede en regte kan ook wettiglik oorgedra word na `n voog. Die mate waarin daar in hierdie fisiese- en emosionele behoeftes van `n kind voorsien word, het `n invloed op die latere funksionering en gedrag van die kind .

Wêreldwyd het veral vaders baie uitbeweeg na die werkplek en is `n gaping gelaat in die huis, die plek waar die karakter van die kind gevorm moet word. Die afwesigheid van `n vader in die huis beteken die afwesigheid van `n manlike rolmodel vir manlike jeugdiges. Popenoe (1996:142) konstateer dat manlike rolmodelle nodig is vir die beheer van jeugdiges en dat die afwesigheid hiervan `n risikofaktor vir die betrokkenheid by jeugmisdaad is. Die rol van moeders het ook grootliks verander van die tradisionele “huisvrou” wat na die kinders omsien na `n meer beroepsgedrewe rol. Hierdie rolle van die vader en moeder en die invloed daarvan op die lewe van die jeugoortreder word derhalwe bespreek.

4.5.1 Die rol van die vader in die gesin

Popenoe (1996:9) noem dat die belangrikste verlore bestanddeel in hedendaagse families die biologiese vader is. Die outeur noem verder dat afwesige vaders die onderliggende rede van al die verklarings vir die stygende misdaadsyfers onder manlike jeugdiges is en dat 72% van jeugmisdadigers en 70% van langtermyn gevangenes in die VSA uit vaderlose huise kom (Popenoe, 1996:62). Manlike jeugdiges wie se vaders in die huis woon en betrokke in hul lewens is, het beter skoolprestasies as kinders wat met `n enkelmoeder woon (Roopnarine, 2004:70; Loveday, 2003). Hierdie jeugdiges wie onbetrokke- of afwesige vaders het, is ook meer waarskynlik om nie skool te voltooi nie. Popenoe (1996:142) noem dat seuns

by hul vaders leer hoe om `n man te wees deur identifisering en nabootsing. Vaders leer hul seuns oor manlike verantwoordelikheid, onafhanklikheid en hoe om in verband te staan met die teenoorgestelde geslag. Die laasgenoemde outeur noem verder dat seuns wat verwerp word of afwesige vaders het, sal grootword as jeugdiges met `n gevoel van teenstrydige manlikheid wat die “vaderwond” genoem word. Die afwesigheid van liefde, affeksie en belangstelling, veral vanaf die vader, het `n negatiewe invloed op `n jeugdige (Clarke, 2002:127). Egosentrisme kan die gevolg hiervan wees waarin `n individu sal poog om deurentyd die aandag op homself te vestig. Egosentrisme is ook dikwels `n kenmerk van jeugoortreders.

Pleck (2004:41) konstateer dat die Tweede wêreldoorlog `n reuse invloed op jeugmisdaadsyfers in Amerika gehad het, aangesien vaders afwesig was in huise en moeders moes werk as broodwinners vir die gesinne. Gedurende hierdie tydperk het rebellie onder jeugdiges ook baie gegroei weens die afwesigheid van vaders en die families wat moes rondtrek agter werksgeleenthede aan. Dit was `n tydperk waarin baie jong seuns begin het om dagga te rook, motors te steel en in hegtenis geneem te word (Pleck, 2004:41). In Suid-Afrika het `n soortgelyke verskynsel voorgekom met die destydse trekarbeiderstelsel (Ramphele & Wilson, 1989:158). Onder hierdie stelsel het groot groepe mense in spesifiek afgebakende dele van die land gewoon. Die mans in hierdie gebiede moes na groot stede verhuis vir werksgeleenthede met die gevolg dat vrouens alleen agtergelaat is om na die gesinne om te sien, dikwels sonder enige fisiese- of finansiële ondersteuning van die mans of ander familie. Die resultaat hiervan was grootskaalse familiedisintegrasie en manlike jeugdiges wat geen rolmodelle gehad het nie. Popenoe (1996:2,63) noem dat betrokke vaders onmisbaar is vir die welsyn van die gesin en gemeenskap en dat die groeiende syfers van vaderloosheid `n ramp in wording is.

Lamb en Tamis-Lemonda (2004:14) verwys na die verskillende sosio-kulturele verwagtinge van die korrekte vertolking van die vaderrol. Hewlett (2004:184) beskryf hierdie kulturele verwagtinge as die kennis en gebruike wat nie-biologies oorgedra

word van generasie na generasie. Vaders speel verskillende rolle in verskillende subkulturele kontekste en daarom het verskillende groepe kontrasterende menings oor wat `n goeie vader is. So is daar byvoorbeeld sekere kulture en kontekste waarin die rol van die broodwinner (finansiële sekuriteit) as belangrik geag word soos in die geval van `n buite egtelike kind. Vir ander families en gemeenskappe is finansiële sekuriteit minder belangrik maar direkte sorg en supervisie en emosionele ondersteuning vanaf die vader word as belangrik geag. Popenoe (1996:196) is egter van mening dat die verskillende kulturele verwagting van vaderskap nie soseer die probleem is nie maar eerder die feit dat jong mans nie meer deur ouer mans die waardes van vaderskap geleer word nie. Kulturele waardes oor vaderskap word dus nie meer oorgedra van een geslag na die volgende nie en so raak hierdie kulturele waardes verlore.

4.5.2 Die rol van die moeder in die gesin

Burt (in Hendrick, 2002:35) ken die rol van die grootmaak van emosionele gebalanseerde jeugdiges aan die moeder toe. Gottfredson en Hirschi (1990:104) noem dat die toename van vrouens wat die arbeidmark betree `n invloed op die stygende jeugmisdaadsyfers het. Die belangrikste rede hiervoor is dat kinders sonder toesig gelaat word en daarom is gevind dat goeie supervisie hierdie risiko vir jeugmisdaad verminder. Maree (2003:59) noem dat baie Suid-Afrikaanse huishoudings afwesige moeders het weens werksverpligtinge. Sommige moeders werk groot afstande van hul huise af en moet vroeg in die oggend hul huise verlaat waarna hul eers in die aande terugkeer. Ander woon in stede gedurende die week en is net naweke tuis om hul moederrol te vervul. Hierdeur gaan `n groot deel van die ouerliefde en supervisie verlore wat dikwels manifesteer in gedragsprobleme vanaf `n jong ouderdom (Maree, 2003:59). Dit is dus duidelik dat `n afwesige moeder `n invloed op die emosionele ontwikkeling van `n jeugdige het maar dat bystand en ondersteuning vir `n vrou vanaf `n manlike figuur onafwendbaar is in die grootmaak van kinders.

4.5.3 Die invloed van `n kriminele ouer

Farrington, Barnes en Lambert (in Muncie, 1999:25) konstateer dat die “beste voorspeller” vir jeugmisdaad `n kriminele ouer is. Die laasgenoemde outeur noem verder dat die negatiewe invloed van`n kriminele ouer die grootste impak maak terwyl die kind jonger as tien jaar oud is. Muncie (1999:25) noem dat dit voorkom of kriminele gedrag van ouers na kinders oorgedra word: “crime runs in the family”. Die verhouding is veral sterk tussen `n kriminele vader en die latere misdaadpleging deur `n seun. Maree (2003:59) verwys ook na die groot manlike tronkpopulasie van Suid-Afrika wat beteken dat baie jeugdiges vaderloos is. Hierdie kombinasie van `n afwesige vader wat boonop `n misdadiger is, kom dikwels in die gesinne van jeugoortreders voor en het `n negatiewe invloed op die funksionering van die gesin. Die ouers van jeugoortreders het dus `n definitiewe invloed op hul betrokkenheid by misdaad.