• No results found

Teorie skep `n konseptuele raamwerk waarbinne sosiale verskynsels geïnterpreteer en verduidelik kan word. Garvin en Tropman (1999:39) skryf dat teorie `n verklaring van die verhouding tussen verskillende idees gee, gewoonlik met betrekking tot oorsaak en effek. Die interpretasie van verskynsels binne so `n konseptuele raamwerk verhoog die kredietwaardigheid daarvan en verskaf `n teoretiese basis vir die spesifieke bevindings. Maatskaplike werk fokus op die verskynsel van die interaksie tussen `n persoon en sy omgewing en die probleme wat hierin voorkom (Compton & Galaway, 1999:4; Morales & Sheafor, 1983:5; Potgieter, 1998:52). Indien die interaksie van die persoon en sy omgewing geïnterpreteer kan word aan die hand van `n konseptuele raamwerk, kan teoreties gebaseerde gevolgtrekkings en aanbevelings gemaak word.

Wanneer `n sosiale verskynsel soos jeugmisdaad ondersoek word is dit `n kwessie of daar op die individu of die sosiale sisteem gefokus moet word. Compton en Galaway (1999:4) is van mening dat maatskaplike werk poog om die bes moontlike passing tussen `n individu en sy omgewing te maak en dus moet daar op die individu sowel as sy sosiale omgewing gefokus word. `n Gegronde studie sal dus na die jeugmisdadiger en sy gesin as losstaande entiteite sowel as `n interaktiewe sisteem kyk. Hierdie tipe benadering is `n voorbeeld van teoretiese begrip wat noodsaaklik is om wetenskaplike bevindings te kan maak (Morales & Sheafor, 1983:165).

Compton en Galaway (1999:28) konstateer dat basisteorie wat vir maatskaplike werk gebruik word, `n refleksie moet gee van die omgewing en persoon-in-situasie transaksies. Daar moet dus na die interaksie tussen die individu en sy

omgewing gekyk word om die dinamiek van die sisteem te kan ondersoek. Volgens Compton en Galaway (1999:28) voldoen die sisteemteorie aan beide hierdie voorwaardes en om hierdie rede is dit die ideale teoretiese raamwerk vir die studie. Die sistemiese benadering gee egter nie riglyne of voorskrifte vir aksie nie maar verskaf net `n basis waarop `n model vir aksie gekonstrueer kan word. Om `n effektiewe plan van aksie te kan saamstel is dit nodig vir kennis oor die persoon (individuele gedragspatrone van die jeugoortreder), kennis oor die situasie (die gesin van die jeugoortreder met sy bronne en strukture) en kennis oor transaksionele konsepte (Compton & Galaway, 1999:5; Garvin & Tropman, 1999:84,85). Die rasionaal van die sisteemperspektief word as basis benut in die samestelling van die konseptuele raamwerk vir die doeleindes van hierdie studie en word vervolgens verduidelik en gemotiveer.

Rodway (1986:514) noem dat die sisteemperspektief help om mense, individueel en kollektief, te verstaan en hierdeur kan die jeugmisdadiger holisties beskryf word. Die betrokke perspektief fokus op die balans tussen individuele ontwikkeling en omgewingsfaktore. Die sisteemperspektief maak dit dus moontlik om te fokus op die jeugmisdadiger se totale lewensituasie, waar die individu en sy situasie `n geheel is en beide die oorsaak en gevolg van probleme is (Compton & Galaway, 1999:28). Hierdeur kan `n raamwerk geskep word waarbinne evaluering van `n probleemsituasie en alle sisteme betrokke, sinvol kan geskied.

Die ekologiese perspektief word in hierdie studie gebruik omdat dit die wederkerige interaksies tussen die persoon en sy omgewing beklemtoon en die fokus van intervensie plaas op die verbetering van die passing tussen die persoon en sy omgewing (Germain & Gitterman, 1986:619; Payne, 2005:150). Ten einde dit te bewerkstellig is dit noodsaaklik om die persoon, die omgewing en die huidige passing tussen die veranderlikes te ondersoek. In hierdie studie sal dit dus die jeugmisdadiger, sy gesin en gemeenskap en die wedersydse interaksie tussen die

betrokke sisteme wees. Aangesien die ekologiese perspektief dié wederkerige interaksie beklemtoon is die gebruik hiervan gepas.

Hoffman en Sallee (1994:60) konstateer dat maatskaplike werkers die terme “ekologiese perspektief” en “sisteemteorie” gelykwaardig gebruik en dat ekologie `n vorm van algemene sisteemteorie is. Die kern idee van die twee perspektiewe is dieselfde, naamlik dat mense as individue en deel van `n groep funksioneer en dat daar `n wederkerige interaksie tussen die verskillende sisteme in `n omgewing is (Germain & Gitterman, 1986:619; Payne, 2005:150). Weens die ooreenkomste tussen die twee perspektiewe word dit vir die doeleindes van die studie gesamentlik as die ekologiese sisteemteoretiese perspektief benut. Vervolgens word die rasionaal vir die benutting van die sterkte- en etnies-sensitiewe perspektiewe gemotiveer.

Volgens die sterkteperspektief beskik elke individu, gesin en gemeenskap oor sterktes, bates en bronne (Saleebey, 1999:16; Sheafor, Horejsi & Horejsi, 2000:93). `n Omgewing kan in `n groot mate wanfunksionering toon, maar steeds `n geskikte topografie besit ten opsigte van bates en hulpbronne. Die sterktes kan in die individue, gesinne en gemeenskappe gevind word wat deel van die sisteem is (Kirst-Ashman, 2007:59). Aangesien die ekologiese perspektief volgens Ife (1995:49) onsuksesvol is in die aanspreek van fundamentele kwessie in gemeenskapsontwikkeling, soos bemagtiging, stel die sterkteperspektief die navorser in staat om wel die sterktes in die betrokke sisteme te identifiseer. Die rehabilitasiedienste wat deur `n organisasie soos NICRO gelewer word, is byvoorbeeld `n bron of sterkte waarvan jeugoortreders en hul gesinne gebruik kan maak.

Die sterkteperspektief word met groot sukses in verskeie spesialiteitsvelde in maatskaplike werk gebruik, waaronder jeugmisdaad en gesinne (Clark, Kaplin & Girard in Compton & Galaway, 1999:14). Die laasgenoemde outeurs meld verder dat

die sterkteperspektief ook aangewend word in die navorsing van jeugmisdadigers en hul gesinne. Die sterkteperspektief is dus uit `n navorsingsoogpunt die ideale perspektief vir die doeleindes van die studie.

Sturgeon (1998:31) konstateer dat maatskaplike werk in Suid-Afrika die konsep van `n inheemse model moet ondersoek ten einde effektiewe maatskaplike dienste aan die “reënboog nasie” te lewer. Die etnies-sensitiewe perspektief fokus op die etniese, kulturele en godsdienstige diversiteit tussen mense en die probleme en effek van diskriminasie (Sheafor et al., 2000:94). Zastrow (2004:295) beskryf die perspektief as die inlywing van kennis oor diverse etniese-, kulturele- en minderheidsgroepe by die teorieë en beginsels van maatskaplikewerk-praktyk. Morales en Sheafor (1983:168) konstateer dat navorsing oor etnisiteit noodsaaklik is om kennis op te doen oor die verskeie kulturele sisteme waarmee te doen gekry word. Weens globalisering en die diverse bevolkingsgroepe wat saamleef in dieselfde gemeenskappe is etnies-sensitiwiteit belangrik om sisteme te bemagtig om optimaal te funksioneer. In `n diverse samelewing soos Suid-Afrika is die gebruik van die etnies-sensitiewe perspektief in enige konseptuele raamwerk onafwendbaar en daarom word dit ingesluit vir die doeleindes van hierdie studie.

Vir die praktiese toepassing van kennis word `n goed georganiseerde kennisbasis verwag en die bespreekte perspektiewe verskaf riglyne vir die organisering van kennis (Hoffman & Sallee, 1994:61). Derhalwe word die konseptuele raamwerk voorgestel in figuur 2.1 waarna die verskillende perspektiewe bespreek word.

Multi-dimensionele perspektief Ekologiese sisteemteoretiese perspektief Sterkteperspektief Etnies-sensitiewe perspektief Sisteemteorie Ekologiese perspektief

FIGUUR 2.1: Die multi-dimensionele perspektief