• No results found

Die ouersisteem, soos hierbo bespreek, het `n groot invloed op die funksionering van `n gesin. `n Spannende of gebroke ouersisteem lei dikwels tot spannende gesinsverhoudings. Burt (in Hendrick, 2002:35) noem dat spannende gesinsverhoudings tot senuagtige kinders lei en dat `n goed funksionerende gesin nodig is vir die vorming van `n geestesgesonde kind. `n Studie wat in Inanda, `n lae inkomste area naby Durban in KwaZulu-Natal, gedoen is het getoon dat jeugdiges wat met die gereg bots afkomstig is uit gesinne wat verhoudingsprobleme het (Maree, 2003:74). Daar is verskeie faktore wat verhoudingsprobleme veroorsaak maar vir die doeleindes van hierdie studie word daar spesifiek gefokus op ouerskapsvaardighede, die invloed van bloedverwante en familiedisintegrasie.

4.6.1 Ouerskapsvaardighede

Browne et al. (2002:11) konstateer dat ouerskapsvaardighede nie instinktief is nie en dat die ouers van jeugoortreders dikwels nie die vermoë het om te onderskei tussen geskikte- en swak gedrag nie. Maree (2003:60) skryf die voorkoms van swak

ouerskapsvaardighede in Suid-Afrika toe aan die groot hoeveelheid jong ouers wat glad nie oor ouerskapsvaardighede beskik nie. Ouers van jeugoortreders versuim om hul kinders te beloon en aan te moedig vir goeie gedrag, reageer nie positief op kinders se behoeftes nie en misluk om te onderskei tussen hul eie gemoed en die kind se gedrag. Winnicott (in Browne et al., 2002:12) is van mening dat jeugmisdaad eintlik `n natuurlike reaksie tot swak ouerskapsvaardighede is, aangesien die beheer wat aangeleer moet word in die gesin, verskuif word na beheer in die samelewing. Vir die doeleindes van hierdie studie verwys ouerskapsvaardighede spesifiek na supervisie en dissipline wat deur ouers toegepas word.

Maree (2003:60) noem dat die afwesigheid van ouersupervisie korreleer met kriminele aktiwiteite en wangedrag van jeugdiges. Fraser (1996) ondersteun hierdie stelling en konstateer dat inkonsekwente ouersupervisie aan kinders en `n mislukking om reëls vas te lê kenmerke van `n disfunksionerende gesin is. Wanneer daar wel opgetree word is dit met fors en negatiewe effek. Die ouers van jeugmisdadigers sal dikwels skreeu, gryp, stamp en slaan sodat kinders bevele gehoorsaam (Fraser, 1996:348). Die afwesigheid van ouersupervisie in Suid-Afrika kan volgens Maree (2003:60) toegeskryf word aan die jonkheid van ouers wat veroorsaak dat hul dikwels bang is vir hul eie kinders. Ouersupervisie impliseer dus dat ouers sekere riglyne neerlê waarvolgens kinders hul lewens kan rig. Die afwesigheid van hierdie ouerlike riglyne lei dikwels tot wangedrag onder jeugdiges.

Farrington (2002:426) en Browne et al. (2002:12) stem saam dat die ouers van jeugoortreders ongevoelige en wisselvallige dissipline op hul kinders toepas. Gottfredson en Hirschi (1990:101) noem dat straf in die gesinne van jeugoortreders gewoonlik maklik, korttermyn en onsensitief is waartydens daar geskreeu en geslaan word. Hierdie fisiese mishandeling deur ouers word geassosieer met `n groter risiko vir jeugdiges om self gewelddadig op te tree. Sherman (in Emmet, 2000:281) bevind dat sterk ouer-kind verhoudings waar kinders konsekwent en sensitief gedissiplineer word en goeie gemeenskapsondersteuning ontvang, die beste teenvoeter vir

jeugoortredings is. Vanuit die klassieke teorie word aangevoer dat strawwe wat konsekwent en dadelik is, jeugdiges sal weerhou van misdaad. Die afwesigheid van effektiewe straf deur ouers word byvoorbeeld aangevoer vir die rede waarom jeugdiges uit “goeie” huise by misdaad betrokke raak (Joubert, 2003:81,82). Die toepassing van effektiewe dissipline is dus `n vaardigheid wat deur ouers bemeester moet word en die suksesvolle toepassing daarvan het `n invloed op die betrokkenheid van `n jeugdige by misdaad.

4.6.2 Die invloed van bloedverwante

Die teenwoordigheid van misdadiger bloedverwante het `n negatiewe invloed op ander kinders in die gesin (Maree, 2003:60; Browne et al., 2002:10). Veral ouer broers wat betrokke is by misdaad het `n negatiewe invloed op jonger verwante van dieselfde geslag en kan `n subsisteem in die gesin vorm. Hierdie subsisteem sal die kind se eerste sosiale groep verteenwoordig waarin sekere gedrag aangeleer word (Goldenberg & Goldenberg, 1998:29). Volgens die biologiese teorieë oor jeugmisdaad sal die rede hiervoor in genetiese faktore gevind word. Dit is egter al in die vorige hoofstuk bespreek waarom hierdie studie eerder op die sosiale invloede as genetiese determinante fokus. Die betrokkenheid van jeugdiges by misdaad uit dieselfde gesinne word dus toegeskryf aan die blootstelling aan byna identiese ondervindinge van ouerskap, armoede, ontwrigting en soms mishandeling en verwaarlosing (Browne et al., 2002:10). Volgens die sosiale positivistiese teorieë sal die rede vir die betrokkenheid van verwante by misdaad gevind word in die sosiale strukture en interaksie wat in die gesinsisteem plaasvind. Die betrokkenheid van bloedverwante by misdaad het dus `n negatiewe invloed op ander sibbe in die gesinsisteem.

4.6.3 Familiedisintegrasie

Familiedisintegrasie het `n groot invloed op die funksionering van `n gesin. Sherman (soos in Emmet, 2000:281) noem dat informele beheer (dissiplinering van kinders) verdwyn sodra gesinne en gemeenskappe disintegreer. Die belangrikste kenmerk

van familiedisintegrasie is die afwesigheid van die biologiese vader of moeder. Die huidige disintegrasie van gesinne in Suid-Afrika is dus `n rede vir die groeiende syfers van jeugmisdaad. Die stelling word ondersteun deur die navorsing van Gottfredson en Hirschi (1990:103) waarin bevind is dat die syfers van familiedisintegrasie (gemeet aan die persentasie van enkelouergesinne en egskeidings) `n sterk aanduiding vir jeugmisdaad in `n spesifieke area is. Hawkins et al. (1999:41) noem dat familiedisintegrasie `n sterker invloed as familiegeweld op die betrokkenheid by jeugmisdaad het. Gottfredson en Hirschi (1990:178) is ook van mening dat famieliedisintegrasie `n risikofaktor vir jeugmisdaad oor verskeie kulture is en nie net tot sekere samelewings beperk is nie.

Farrington (2002:426) noem dat familiedisintegrasie veral weens egskeiding `n definitiewe invloed op jeugdiges se betrokkenheid by misdaad het. Browne et al. (2002:14) bevestig dat hierdie verskynsel herhaaldelik bewys is en dat jeugdiges uit gebroke huwelike langtermyn invloede daarvan ervaar soos byvoorbeeld gedragsprobleme en depressie. Block (in Browne et al., 2002:14) bevind egter dat `n groot hoeveelheid van hierdie jeugdiges al tekens van gedragsprobleme of depressie voor die egskeidings getoon het. Om hierdie rede noem die outeur dat die atmosfeer van konflik tussen ouers eerder die probleme veroorsaak en nie noodwendig die egskeiding self nie. Farrington (2002:426) en Johnson en Schwartz (1994:257) verwys ook na hierdie invloed van die ouerkonflik wat bydra tot egskeiding en noem dat dit `n algemene verskynsel in die gesinne van jeugoortreders is. Popenoe (1996:53) is egter van mening dat die impak van egskeiding op `n jong seun geleë is in die afwesigheid of verlies van die vader. Indien al hierdie verklarings in ag geneem word kan daar met sekerheid gesê word dat egskeiding wel `n risikofaktor vir jeugmisdaad is. Egskeidings het dus `n definitiewe invloed op die funksionering van `n gesinsisteem.