• No results found

Soos alreeds in die vorige hoofstuk bespreek, is sosiale- en ekonomiese ontwikkeling interafhanklik van mekaar (Ministry for Welfare and Population Development, 1997). Sosiale ontwikkeling is die grondslag vir ekonomiese welvaart en ekonomiese groei is nodig vir sosiale ontwikkeling. In hierdie gedeelte word daar gefokus op die invloed van sosio-ekonomiese faktore op die gesin van die jeugoortreder. Daar word spesifiek gefokus op die invloed van werkloosheid, armoede en ander sosio-ekonomiese stremminge op die funksionering van die gesinsisteem.

4.7.1 Werkloosheid en armoede

Uit die vorige hoofstuk was dit duidelik dat `n land se ekonomiese toestand `n direkte invloed op die sosiale funksionering van individue en groepe op mesovlak het. Een van die sigbaarste bewyse van die huidige ekonomiese toestand in `n land is die voorkoms van werkloosheid. Murray (in Muncie, 1999:141) konstateer dat werkloosheid, veral onder mans, lei tot die verval van die gemeenskap. Die ondersteuning van `n gesin is `n sentrale deel van manwees en mans wat nie hul gesinne ondersteun nie moet ander maniere vind om hul manlikheid te bewys (Muncie, 1999:141). Die vrees van werkloosheid dra by tot die las van armoede wat dikwels voorkom in die gesinne van jeugoortreders (Ramphele & Wilson, 1989:158). Onwudiwe (2004:155) noem dat kinders wat in arm gesinne grootword dikwels hierdie negatiewe invloed vir die res van hul lewens met hul saamdra. Die gesin is ook die plek waar kinders blootgestel word aan die voordele van opleiding en `n goeie werksetiek (Onwudiwe, 2004:156). Dus sal kinders wat geen voorbeeld van werkende ouers het nie ook selde self gemotiveerd wees vir opleiding en werk. Die ouers van jeugmisdadigers het dikwels `n negatiewe houding teenoor opleiding en die houding word oorgedra na die kinders. Hierdie negatiewe ouerhouding is een van die hoof redes vir vroeë skoolverlating. In Suid-Afrika is `n groot deel van die jeug gebore of grootgemaak deur ouers waarteen gediskrimineer is (Bezuidenhout, 2003:5). Na 1994 het die regering egter verskeie wetgewing en beleid ingestel vir die

ontwikkeling van die jeug. Die praktiese implementering en uitvoering daarvan blyk egter nog nie effektief te wees nie (Berry & Guthrie, 2003:11). Die nawerking van hierdie onvermoë om die jeug te bemagtig en ontwikkel word tans gesien in die stygende misdaadvlakke in Suid-Afrika (Bezuidenhout, 2003:5,6; Malan, 2005:20). Armoede het dus `n negatiewe invloed op die funksionering van gesinne en kan as `n bydraende faktor vir jeugmisdaad gesien word.

Farrington (in Muncie, 1999:25) konstateer dat jeugdiges uit arm gesinne `n groter disposisie het tot die betrokkenheid by misdaad, aangesien hul dikwels nie die geleentheid het om wettiglik hul behoeftes te bevredig en doele te bereik nie. Warr (2002:60) noem dat die inkomste en lewenstyl waarmee `n kind groot word ook die standaard sal bepaal waarmee hy eendag tevrede sal wees. Armoede het dus `n kringloop waarin dit oorgedra word vanaf een geslag na die volgende en so word `n teelaarde vir misdaad geskep. Hierdie tekort aan geleenthede lei ook dikwels tot spanning in die gesinsisteem wat `n negatiewe invloed op ouers en kinders het.

4.7.2 Stremminge op die gesinsisteem

Daar word in hierdie gedeelte gefokus op die stremminge wat deur armoede in `n gesinsisteem veroorsaak word. Maree (2003:58) en Browne et al. (2002:15) noem dat armoede veral lei tot stres, depressie en huwelikskonflik tussen ouers. Hierdie stremminge het weer `n invloed op ouers se verhouding met hul kinders en die kwaliteit van ouerskap kan negatief beïnvloed word. Indien hierdie aanpassings nie suksesvol is nie veroorsaak dit spanning tussen gesinslede wat manifesteer in gedragsprobleme en na `n tyd gevestig raak as patrone (Germain & Gitterman, 1986:630). Weens die lae sosio-ekonomiese status van die familie kan jeugdiges byvoorbeeld `n swak selfbeeld ontwikkel met gevoelens van minderwaardigheid en skaamte. Hierdie karaktereienskappe het `n invloed op die jeugdige se kognitiewe vermoëns wat uiteindelik tot `n swak weerstand vir kriminele gedrag in groepsverband sal lei.

Hierdie stremminge in die gesinsisteem word deur Johnson en Schwartz (1994:258) beskryf as `n bydraende faktor vir fisiese-, seksuele- en emosionele mishandeling in gesinne. Die bogenoemde outeurs noem ook dat jeugmisdadigers dikwels vanaf `n vroeë ouderdom, in hul gesinne mishandel is. In `n studie onder manlike gevangenes in Suid-Afrikaanse tronke bevind Wedge et al. (in Maree, 2003:61) dat 68% van die deelnemers as kinders aan `n vorm van mishandeling blootgestel is. Browne et al. (2002:17) noem dat mishandeling dikwels voorkom saammet ander risiko faktore vir jeugmisdaad en daarom is dit moeilik om die langtermyninvloed van mishandeling te bepaal. Jerome et al. (1999:54) noem dat kinderverwaarlosing dikwels voorkom in geslote gesinne wat sonder enige ondersteuningsbronne soos familie en vriende funksioneer. Hierdie verwaarlosing van kinders kom dikwels voor wanneer groot groepe mense saamwoon en daar nie persoonlike aandag en liefde aan alle individue in die sisteem gegee word nie.

Armoede lei dikwels tot probleme met behuising en Maree (2003:59) noem dat oorbevolkte huislike omstandighede `n teken van lae sosio-ekonomiese status is. Oorbevolkte behuising lei tot geen privaatheid, irritasie met mekaar en jeugdiges wat in die buurte ronddwaal en selfs hul huise verlaat. Clarke (2002:127) verwys spesifiek na die negatiewe invloed van kinders wat “in die straat” speel en die faktore waaraan hul blootgestel word soos alkohol en dwelms. Hier in die strate word jeugdiges ook aanvanklik blootgestel en later verwelkom tot die bendes, meestal deur goeie kennisse (Ramphele & Wilson, 1989:158). Soos in die vorige hoofstuk bespreek vind jeugdiges in die bende `n mate van persoonlike gemak en sosialisering. Aangesien sommige van hierdie jeugdiges geen ondersteuning vanaf hul gesinne kry nie is die betrokkenheid by misdaad onafwendbaar.

4.7.3 Die sosio-ekonomiese invloed van HIV op gesinne

Soos in die eerste gedeelte van hierdie hoofstuk bespreek is, het HIV `n groot invloed op die samestelling en funksionering van gesinne. Pharoah (2005) noem dat daar sterk korrelasie is tussen die dinamiek wat aan die gang gesit word deur HIV en

jeugmisdaad. Die laasgenoemde outeur verwys na kinders wat as wese na hulself moet omsien na die dood van ouers aan HIV. Maree (2003:60) verwys spesifiek na Suid-Afrika waar die meeste van hierdie kinders steeds na die dood van hul ouers by hierdie huise aanbly. Dit veroorsaak dat ouer broers of susters na ander kinders moet omsien wat dikwels lei tot die betrokkenheid by jeugmisdaad. Hierdie siekte en sterfte van ouers laat kinders ook vol vrees en onsekerheid wat hul in `n baie beïnvloedbare posisie vir misdaad laat. Die emosionele trauma, stigma, etikettering en die verlies van positiewe rolmodelle is van die faktore wat verder bydra tot jeudiges wat deur HIV beïnvloed is se betrokkenheid by misdaad.

4.7.4 Die invloed van kultuur op die sosio-ekonomiese funksionering van `n gesin

Die sosio-ekonomiese beïnvloeding van `n gesin word bepaal deur die spesifieke kultuur van die gesinsisteem. Hawkins et al. (1999:38) noem dat sosio-ekonomiese invloede soos werkloosheid en armoede verskillende invloede op verskillende kulturele groepe het. Daarom word tot die gevolgtrekking gekom dat kulturele invloede aangehelp word deur die sosio-ekonomiese omgewing van `n jeugoortreder (Hawkins et al., 1999:39). Die spesifieke norme en waardes van `n kultuur sal dus die invloed van `n positiewe- of negatiewe sosio-ekonomiese omgewing bepaal. Vanuit die kulturele afwykende teorieë word die invloed van sosio-ekonomiese faktore op die gesin gekoppel aan `n laeklas kultuur wat ontstaan in sekere gemeenskappe (Joubert, 2003:90). Hierdie laeklas kultuur ontwikkel hul eie waardes en norme, byvoorbeeld onmiddellike bevrediging en taaiheid. Die spesifieke invloed van sosio-ekonomiese faktore op wit- of swart gesinne en die jeugdiges daarin sal dus bepaal word deur die spesifieke kultuur van die gesinsisteem.

4.8 SAMEVATTING

Hierdie hoofstuk het `n oorsig gegee van die gesinne van jeugoortreders. In die eerste gedeelte van die hoofstuk is daar gefokus op die verskillende tipes gesinne wat voorkom. Dit was duidelik dat die tipe gesin grootliks bepaal word deur die

aanwesigheid of afwesigheid van ouers. Daarna is die lewensoorgange van die gesin vanuit `n sistemiese perspektief beskryf ten einde die invloed van verskeie sisteme op die funksionering van die gesin te illustreer.

Die tweede gedeelte van hierdie hoofstuk het gefokus op spesifieke gesinsfaktore en die invloed daarvan op die funksionering van die gesinsisteem. Eerstens is daar gekyk na spesifieke gesinsamestellings en die invloed daarvan op jeugmisdaad. Daarna is gefokus op die ouers van jeugoortreders en veral op die rol van die vader en moeder in hul invloed op die gesinsfunksionering. Hierdie faktore rondom ouers en ouerskap het die grootste impak op die funksionering van jeugdiges. Veral die afwesigheid van `n vader of positiewe manlike rolmodel in die lewe van `n manlike jeugdige het `n negatiewe invloed op sy lewe. Laastens is die invloed van sosio-ekonomiese faktore op die gesin ondersoek.

Die volgende hoofstuk verken die gesinservaringe van jeugoortreders en skets die resultate van die studie.

HOOFSTUK 5

`n VERKENNING VAN DIE GESINSERVARINGE EN –PERSEPSIES

VAN JEUGOORTREDERS

5.1 INLEIDING

Die manlike jeugoortreder en sy gesin is vanuit `n multi-dimensionele perspektief bespreek in die vorige twee hoofstukke van hierdie tesis. In hierdie hoofstuk word die ingesamelde inligting vanuit onderhoude met manlike jeugoortreders weergegee, ten einde hul eie gesinservaringe en –persepsies multi-dimensioneel te verstaan.