• No results found

HOOFSTUK 1 ORIËNTERING

1.3.6 Sosiale interafhanklikheidsteorie

Gebaseer op die doel met die studie en die ontleding van die literatuur, is daar besluit op ʼn teorie wat die studie ten grondslag lê. Dit was duidelik dat die sosiale interafhanklikheidsteorie die konseptuele aspekte van die studie en die verband tussen die twee aspekte beste verklaar.

Sosiale interafhanklikheidsteorie stel dat die waardes wat met verskillende uitkomste geassosieer word, die gedrag van die individue in die volgorde van gebeure, bepaal (Johnson & Johnson, 2009:366). Dit bestaan ook wanneer die uitkomste van individue deur hulle optredes beïnvloed word (cf 5.4). In hierdie studie word gepoog om vas te stel of die sosiale interafhanklikheidsteorie kan bydra tot beter interaksie deur die regte leierskapstyl in ʼn gunstige skoolklimaat om sodoende leerderprestasie te bevorder. Die teorie word volledig in hoofstuk 5 bespreek.

1.4

NAVORSINGSVRAE

Na aanleiding van die voorafgaande kom die volgende navorsingsvrae na vore: 1. Wat is die aard van skoolhoof-leierskap?

2. Wat is die aard van skoolklimaat?

3. Watter skoolhoofleierskapstyl kan gevolg word om optimale skoolklimaat en leerderprestasie in Suid-Afrika te verseker?

4. Wat is die verband tussen skoolhoofleierskapstyl, skoolklimaat en leerderprestasie?

1.5

NAVORSINGSDOELWITTE

Navorsingsdoelwit 1: Om die aard van skoolhoof-leierskap te bepaal. Navorsingsdoelwit 2: Om die aard van skoolklimaat te bepaal.

11

HOOFSTUK 1 ORIËNTERING

Navorsingsdoelwit 3: Om skoolhoofleierskap-strategieë daar te stel om optimale skoolklimaat en leerderprestasie in Suid-Afrika te verseker.

1.6

NAVORSINGSMETODOLOGIE

1.6.1 Navorsingsparadigma

Post-positivistiese studies het ten doel om die oorsaak wat die gevolge of uitkomste beïnvloed, te identifiseer en te evalueer. Die bedoeling is om die idees in ‘n kleiner, diskrete stel idees te plaas en om die veranderlikes wat die hipotese en navorsingsvraag omvat, te toets (Creswell, 2009:7). Die kennis wat deur die post-positivistiese lens ontwikkel, is gebaseer op deeglike waarneming en meting van die objektiewe realiteit wat bestaan. Verder gaan die post-positivistiese benadering van die veronderstelling uit dat verstaan van realiteit veelvoudig, subjektief en logies deur individue gekonstrueer is. Realiteit is nie ‘n bepaalde geheel nie maar in ‘n mate deur die individu voortgebring. Post-positiviste fokus op die stawing van en soeke na bewyse wat geldig en betroubaar is met betrekking tot die bestaan van die verskynsel (Maree, 2010:65).

Die navorsing is deur die post-positivistiese paradigma onderlê. Maree (2010:65) en Robson (2011:22,23) voer aan dat die post-positivistiese paradigma se bewyse soms feilbaar kan wees en moet dus staatgemaak word op die bewyse wat uit ‘n studie verkry word. Alle kennis is feilbaar maar nie eenders feilbaar nie; realiteit bestaan, maar kan nie een honderd persent verstaan word nie. Cohen et al. (2011:5) versterk hierdie argument deur daarop te wys dat verskillende teorieë spesifieke waarnemings of feite mag ondersteun en dat sosiale feite en wyse van denke sosiale konstruksies is eerder as ‘n objektiewe en universele waarheid.

Numeriese meting en die waarneming van die gedrag van individue is die belangrikste kenmerk van die post-positivistiese paradigma (Creswell, 2009:7) en omdat post-positivisme beperking, kontekstuele faktore en die gebruik van veelvoudige teorieë binne die interpretasie van die navorsingsbevindinge toelaat (McMillan & Schumacher, 2010:5), is die post-positivistiese paradigma die aangewese paradigma, spesifiek vir kwantifisering maar om tog subjektiwiteit en betekenis te verenig (Maree, 2010:65). Studies sal begin met ‘n teorie, data sal ingesamel word wat die teorie óf sal ondersteun óf sal weerlê en daarna sal die nodige hersiening gedoen word voordat addisionele metings/toetse gedoen sal word (Creswell, 2009:7).

‘n Kwantitatiewe navorsingsontwerp fokus objektief op die meting en beskrywing van ‘n verskynsel. Die navorser gebruik syfers, statistieke, strukture en kontrole om die verskynsel te bestudeer. Deur ‘n nie-eksperimentele ontwerp in die vorm van ‘n opname sal die verskynsel beskryf word en die verhouding tussen verskillende verskynsels sonder ‘n direkte manipulasie van toestande ondersoek word. Die opname-ontwerp leen dit daartoe om deur middel van vraelyste, groot getalle deelnemers te akkommodeer en, die nodige data in te samel (McMillan & Schumacher, 2010:21,22; Maree, 2010:152; Creswell, 2012:376; Leedy & Ormrod, 2013:189).

Volgens Cohen et al. (2011:143) moet die volgende faktore oorweeg word wanneer die steekproef gekies word: die grootte van die steekproef, die verteenwoordiging van populasie, toegang tot die steekproef, die strategie wat gevolg gaan word en die navorsingsontwerp wat gevolg gaan word. Hierdie studie het hom daartoe geleen om ‘n kwantitatiewe navorsingsontwerp te volg aangesien die groot getal deelnemers se verhouding tot die verskynsel (die verband tussen skoolhoofleierskapstyl, skoolklimaat en leerderprestasie) deur middel van syfers en statistieke bepaal kon word.

In hierdie studie is daar gepoog om deur numeriese meting geldige en betroubare bewyse te identifiseer en te evalueer om sodoende die verband tussen skoolhoofleierskap, skoolklimaat en leerderprestasie vas te stel.

Onderliggend aan die navorsingsparadigma wat die studie ten grondslag lê, is die aanname dat die verskynsels wat beskryf en ontleed gaan word, in ʼn interafhanklike verhouding tot mekaar staan. Daarom is die sosiale interafhanklikheidsteorie, soos in hoofstuk 5 volledig uiteengesit, as die mees gepaste teoretiese raamwerk beskou om die konseptuele aspekte van die studie saam te bind.

1.6.2 Literatuurstudie

Verskillende elektroniese databasisse (Ebscohost, Emarald, Sabinet), internet soekenjins (Google, Google scholar, Yahoo, One Search) en ander primêre bronne (akademiese boeke en wetenskaplike artikels) is geraadpleeg om die toepaslike literatuur te bekom. Die trefwoorde wat gebruik is, is (Eng.): school principal leadership, leadership, management, leadership styles, leadership approaches, school performance, learner performance, student academic achievement, school climate, organisational climate.

13

HOOFSTUK 1 ORIËNTERING

1.6.3 Empiriese ondersoek

1.6.3.1 Meetinstrumente

Vir hierdie studie is twee instrumente gebruik (cf 6.5.5.1 & 6.5.6.1)

Multifactor Leadership Questionnaire (MLQ):

Die Multifactor Leadership Questionnaire (Oberfield, 2012:409) soos in Addendum A en B is gebruik om leierskapstyle van nader te ondersoek met verwysing na onder andere leierskapoptrede wat lei tot leierskapeffektiwiteit (cf 6.5.5). Die instrument is geldig en betroubaar met betrekking tot die meting van die nege komponente van die “Full Range Theory of Leadership” Die meetinstrument sluit ook ‘n respondentafdeling in en is dus toepaslik vir die onderwyser se mening ten opsigte van die skoolhoof se leierskapstyl (Hinkin & Schriesheim, 2008:502,512; Schriesheim et al., 2009:614; Martin, 2012:57).

Organizational Climate Description Questionnaire – Rutgers Secondary (OCDQ-RS):

Die Organizational Climate Descriptive Questionnaire (OCDQ-RS) (Hoy & Miskel, 1987) soos in Addendum C, is gebruik om die optrede van die skoolhoof en onderwysers in skole te bepaal (cf 6.5.6). Die OCDQ-RS bestaan uit verskillende kategorieë wat in landelike sowel as stedelike skole toepaslik is. Die eerste deel van die vraelys fokus op die skoolhoof en hoe sy/haar optrede die onderwyser in die skoolklimaat beïnvloed. Die onderwysers evalueer die hoof deur middel van die vraelys. Die manier waarop die skoolhoof optree, sowel as die leierskapstyl, beïnvloed die siening van die onderwysers ten opsigte van die skoolklimaat. Die tweede deel van die vraelys fokus op die optrede van die onderwyser en hoe dit die skoolklimaat beïnvloed (Hendricks, 2011:23; Vos et al., 2013:2,3; Ferree, 2013:4). Alhoewel verskeie navorsers Wiskunde-uitslae gebruik om ‘n standpunt te stel, sê hulle nie waarom hulle spesifiek dié uitslae gebruik nie (Roney & Coleman, 2011:3; Stols, 2013:1). Tog word dit algemeen aanvaar dat Wiskunde die aanduider van die gevorderdheidsvlak van ‘n land is (Meisenberg & Woodley, 2013; Nixon & Barth, 2014; Lee, 2014).

Die Wiskunde-uitslae (2013) van die Nasionale Seniorsertifikaat vir graad 12-leerders (Suid- Afrika) is gebruik om Wiskundevaardighede per deelnemende skool te bepaal en of dit verband hou met die skoolhoofleierskapstyl. Die Nasionale Seniorsertifikaat is ‘n jaarlikse eksamen waarin eksamen geskryf word in al die vakke wat Suid-Afrikaanse skole aanbied. Vir hierdie studie is die Wiskunde-uitslae wat deur graad 12-leerders behaal word, gebruik

want die uitslae is per skool beskikbaar en die graad 12-leerders het ‘n geruime tyd die skoolhoof se leierskapstyl en skoolklimaat beleef.

1.6.3.2 Studiepopulasie

Die studiepopulasie is soos volg bepaal (cf 6.6):

Twee databasisse, naamlik 2013-Wiskunde-uitslae van die Nasionale Seniorsertifikaat en ‘n databasis, wat al die leerdergetalle en kwintielstatus van die sekondêre skole in Suid-Afrika vir 2013 verskaf, is gebruik om skole wat die beste verspreiding van gemiddeldes in die Nasionale Seniorsertifikaat vas te stel. KwaZulu Natal het die beste verspreiding getoon. Deur ‘n sistematiese ewekansige trossteekproef is 80 skole in KwaZulu Natal geïdentifiseer om die verband tussen skoolklimaat, leierskap en leerderprestasie ten beste te kan ondersoek. Volgens Maree (2010:174) word daar tydens die sistematiese ewekansige steekproef sistematies deur die deelnemers beweeg om die steekproef te bepaal. Creswell, (2012:143) sluit hierby aan dat hierdie steekproef gerieflik is omdat individue nie genommer hoef te word nie.

Cohen et al. (2011:153) voer aan dat die steekproef deelnemers vanuit ‘n lys gekies word (verwys na die twee databasisse) op ‘n sistematiese wyse. Die hoofde en onderwysers per gekose skool is as ‘n trosdeelnemers gebruik word. Kwintielstatus en leerdergetalle van die skole as demografiese veranderlikes is in hierdie studiepopulasie gebruik ten einde vergelykings tussen skole moontlik te maak. ‘n Kombinasie van posvraelyste en persoonlike uitdeel daarvan is as data-insamelingstegniek toegepas.

1.6.3.3 Statistiese tegnieke

Die volgende statistiese tegnieke is met die analise van die data toegepas:

Beskrywende statistiek (SPSS-program): berekening van gemiddeldes, standaardafwyking (SD), frekwensies en persentasies van die response op die vraelys.

Faktoranalise: ʼn Faktoranalise is uitgevoer ten einde die geldigheid van die Multifactor Leadership Questionnaire en Organizational Climate Desription Questionnaire – Rutgers Secondary as meetinstrumente vir hoofde en personeellede van die sekondêre skole in KwaZulu Natal te bepaal en te bevestig of dit ooreenstem met implementering daarvan in ander kontekste.

15

HOOFSTUK 1 ORIËNTERING

Betroubaarheidskoëffisiënte (Cronbach Alphakoëffisiënt): Dit is aangewend om die interne konsekwentheid van die items wat bydra tot konstrukte in die Multifactor Leadership Questionnaire en gesorteerde as meetinstrument te bepaal en te bevestig of dit ooreenstem met implementering daarvan in ander kontekste.

Statistiese betekenisvolheid (p-waardes) en effekgroottes (d-waardes) is bereken met behulp van hiërargiese lineêre modelle waar response van deelnemers in dieselfde skool se afhanklikheid in ag geneem is, ten einde vas te stel of die verskille tussen groepe in die studiepopulasie as prakties betekenisvol bestempel is.

Hiërargiese lineêre modelle is ook gebruik om die betekenisvolheid van die verskille tussen die respons van die skoolhoof en die respons van die skool se onderwysers te bepaal.

Korrelasies tussen skoolhoofleierskap, skoolklimaat en leerderprestasie is op skoolvlak bepaal deur Spearman rangordekorrelasies en/of SEM modelle.

1.7.

HOOFSTUKINDELING

Hoofstuk 1: Oriëntering

Hoofstuk 2: Die aard van skoolhoofleierskap Hoofstuk 3: Die aard van skoolklimaat Hoofstuk 4: Leerderprestasie

Hoofstuk 5: Teoretiese raamwerk Hoofstuk 6: Navorsingsmetodologie Hoofstuk 7: Data-analise

1.8

ETIESE ASPEKTE

Volgens Leedy en Ormrod (2013:104) behels etiese aspekte vier belangrike kwessies naamlik, beskerming teen skade/beserings, vrywillige en ingeligte deelnemers, die reg tot privaatheid en eerlikheid en professionaliteit. In hierdie studie is by die etiese kwessies gehou. Die nodige toestemming om die navorsing uit te voer is van die Etiekkomitee van die Noordwes-Universiteit verkry (Sien Addendum D). Toestemming is van die hoof van die Departement van Basiese Onderwys in KwaZulu Natal verkry (cf 6.9). (Sien Addendum E). Daar is vooraf met die skoolhoofde telefonies kontak gemaak sodat ʼn aanduiding gekry kon word van watter skoolhoofde en hulle onderwysers beskikbaar en bereid sou wees om aan die navorsing deel te neem. ‘n Skriftelike toestemmingsversoek is aan die skoolhoofde oorhandig waarop hulle en die onderwysers aangedui het of hulle bereid sou wees om verder aan die navorsing deel te neem en dat die navorser die skole as navorsingsplek mag gebruik het om die navorsing te doen.

Die verloop van die navorsing en wat dit behels is skriftelik aan die deelnemers gegee en die identiteit van die deelnemers sowel as die navorsingsinstansies is beskerm sodat onnodige openbaarmaking van die inligting teengewerk kon word. Anonimiteit van skole en deelnemers is in die vraelys verseker en deelname aan die navorsing het op ‘n vrywillige basis geskied en deelnemers kon hulle in enige stadium aan die navorsing onttrek. Tydens die data-analise en in die finale verslag is geen deelnemer aan antwoorde gekoppel nie om sodoende die identiteit van die deelnemers te beskerm (McMillan & Schumacher, 2010:117- 122; Creswell, 2012:402; Leedy & Ormrod, 2013:105-108).