• No results found

HOOFSTUK 2 DIE AARD VAN SKOOLHOOFLEIERSKAP

2.3 LEIERSKAP EN LEIERSKAPSTEORIEË

2.3.5 Leierskapsteorieë

Oor die afgelope jare het verskeie leierskapsteorieë die lig gesien (Bolden et al., 2003:2; Dansereau et al., 2013:798; Ofoegbu et al., 2013:67). Hierdie teorieë het ontwikkel uit die ‘grootman-teorie’, eienskapsteorie, gedragsteorie, situasie-leierskapsteorie, gebeurlikheids- teorie en gevorder tot die transaksionele en transformerende leierskapsteorie. In hierdie gedeelte word die teorieë wat verband hou met die studie, kortliks bespreek.

2.3.5.1 Die ‘Grootman-teorie’ (1840’s)

Hierdie leierskapsteorie is gebaseer op die oortuiging dat leiers uitsonderlike mense is en oor aangebore leierseienskappe beskik (Maslanka, 2004:6). Bolden et al. (2003:6) gaan van die standpunt uit dat slegs mans die eienskappe van leiers kan hê. Verder is geglo dat ʼn leier nie gemaak kan word nie. Day en Antonakis (2012:7) beweer dat leiers na vore sou kom wanneer sekere situasies sou opduik, en wanneer leiers sou optree, is na hulle as helde verwys.

2.3.5.2 Die eienskapsteorie (1930's – 1940's)

Die eienskapsteorie verskil van die ‘Grootman-teorie’ in die sin dat leiers nie net gebore word nie maar dat leiers gemaak kan word indien hulle oor sekere eienskappe beskik (Bass, 1990:38; Day & Antonakis, 2012:7,8; Achua & Lussier, 2013:19). Genoemde eienskappe word as sleutel- persoonlikheidseienskappe geïdentifiseer en dan geklassifiseer en gedefinieer onder die opskrifte fisiese eienskappe, bekwaamhede en persoonlikheid. Die eienskapsteorie gaan van die standpunt uit dat die karaktereienskappe of ʼn kombinasie daarvan onder persone voorkom en hulle dan identifiseer as leiers (cf 6.5.5 item 6, 10, 21).

2.3.5.3 Die gedragsteorie (1940's – 1950's)

In reaksie op die eienskapsteorie, openbaar die gedragsteorie ʼn nuwe perspektief deurdat dit fokus op die gedrag van leiers namate hulle karaktereienskappe openbaar. Maslanka, (2004:8) beskryf die gedragsteorie as ʼn opeenvolging van optredes. Die leier se gedrag is ʼn aanduiding van wat die volgelinge se gedrag gaan wees. Dit volg soos ʼn kettingreaksie op mekaar waar die gedrag van leiers sowel as van volgelinge mekaar wederkerig beïnvloed. Dit sluit aan by Day en Antonakis (2012:8) en Achua en Lussier (2013:20) se bewering dat die gedragstyl van leiers die uitkomste van die volgelinge beïnvloed. Die gedragsteorie verdeel leiers in twee groepe, naamlik die leiers wat taalgeoriënteerde is en leiers wat mensgeoriënteerd is. Leiers wat taalgeoriënteerde is, sal daarop fokus dat volgelinge die taak voltooi (cf 6.5.5 items 8, 11, 15, 16, 32) terwyl die mensgeoriënteerde leiers daarop fokus om die mense te motiveer om die taak te voltooi (cf 6.5.5 items 18, 19, 23, 30, 31). Hierdie teorie is goed van toepassing op skoolhoofde en hedendaagse skoolhoofde onderskei hulle nog steeds as taalgeoriënteerde of mensgeoriënteerd.

37

HOOFSTUK 2 DIE AARD VAN SKOOLHOOFLEIERSKAP 2.3.5.4 Die situasie- en gebeurlikheidleierskapsteorie (1960's)

Na die gedragsleierskapsteorie het die situasieleierskapsteorie nuwe denke ten opsigte van leierskapsteorieë laat onstaan (Day & Antonakis, 2012:8). Die teorie gaan van die standpunt uit dat die leiers hulle leierskapstyl kan aanpas na gelang van die situasie (cf 2.2.1). Bolden et al. (2003:6) en Day en Antonakis (2012:8) beweer verder dat verskillende leierskapstyle (cf 2.5) op verskillende vlakke binne ʼn organisasie gekry kan word. Clifton (2012:149) is egter van mening dat daar geleidelik wegbeweeg word van wat leiers is na wat leiers doen. Maslanka (2004:11) gaan van die standpunt uit dat die gebeurlikheidsbenadering het begin om meer aandag te skenk aan die situasie waarin leiers hulle bevind.

Bolden et al. (2003:6), Walumbwa et al. (2008:94) en Day en Antonakis (2012:9) is dit eens dat die gepaste leierskapstyl gevolg kan word in die gegewe situasie of gebeure wat plaasvind. Die situasie- en gebeurlikheidsteorie is nog steeds van toepassing ten opsigte van skoolhoofde waar hulle hul style aanpas na gelang van die situasie. Wanneer daar dringend aandag aan ʼn saak gegee moet word, sal die skoolhoof byvoorbeeld die outokratiese leierskapstyl (cf 2.5.1.1) volg om die taak afgehandel te kry. In ʼn geval waar ʼn besluit geneem moet word, sal skoolhoofde byvoorbeeld die gedeelde leierskapstyl (cf 2.5.1.3) volg.

2.3.5.5 Die transaksionele en die transformerende leierskapsteorie (1970’s)

Robinson (2010:15,16) beweer dat die transaksionele en die transformerende leierskapsteorie van die voorafgenoemde teorieë verskil, in dié sin dat dit nie meer op die leier alleen nie maar op die belangrikheid van die verhouding tussen die leier en die volgelinge fokus. ʼn Beloningstelsel word gevolg in die transaksionele leierskapsteorie in ʼn poging om die lojaliteit van die volgelinge te verseker (cf 6.5.5). Hierdie tipe leiers is baie effektief wanneer hulle ʼn wedersydse uitruilomgewing ontwikkel waarin die volgelinge en die organisasie se doelwitte sinchroniseer. Dit sluit by die mening van McGuffin (2011:17) aan, naamlik dat wanneer doelwitte deur volgelinge bereik word, die volgelinge tydens transaksionele leierskap beloon word.

Robinson (2010:19) beweer verder dat die transformerende leierskapsteorie op interaksie met die volgelinge fokus in ʼn poging om vertrouensverhoudings te bou (cf 6.5.6). Die transformerende leiers se inspirerende aard en persoonlikheid verander die denke van hulle volgelinge om meer gemotiveerd te wees. Die volgelinge kan maklik met hulle leiers identifiseer want hulle voel dat hulle êrens behoort (McGuffin, 2011:18). Die twee

leierskapsteorieë is selfs vandag nog van toepassing in die skoolomgewing maar waar daar die sterkste gefokus word op die transformerende leierskapsteorie.

Die voorafgaande bespreking werp meer lig op die verskeidenheid leierskapsteorieë. Dit is opvallend hoe die teorieë ontwikkel het van ʼn aanname af dat slegs mans leiers kan wees tot waar volgelinge ook ʼn rol in leierskap speel. Waar daar aanvanklik geglo is dat leiers gebore is, word daar tans aanvaar dat leiers ook gemaak kan word. Verder speel die eienskappe en optredes van leiers ʼn rol in leierskap.

Die teorieë hou verband met skoolhoofleierskap waar die skoolhoof die leier en die onderwysers en leerders die volgelinge is. Skoolhoofde beskik oor eienskappe wat hulle onderskei van die onderwysers en leerders in hulle skole, en hulle optredes bepaal dié van die onderwysers en leerders. Verder motiveer hulle onderwysers en leerders om sekere doelwitte na te streef en skep hoë verwagtinge. Hulle pas hulle optredes aan na gelang van die situasie waarin hulle, hulle bevind. Sommige skoolhoofde volg ʼn beloningstelsel waar hulle onderwysers en leerders beloon wanneer sekere doelwitte bereik is. Ander skoolhoofde fokus op die verhouding tussen hulle, die onderwysers en leerders in ʼn poging om hulle te motiveer en te lei sodat die skool suksesvol en effektief bestuur kan word.

Dit blyk dat leierskapsteorieë veral ten doel het om menslike gedrag te beskryf, om eienskappe van ʼn leier te beskryf, te dui op die wyse waarop leiers binne sekere situasies behoort op te tree en ʼn ontleding van die vermoë om aanpasbaar te wees en transformasie te bestuur. Alhoewel voorafgaande teorieë verband hou met leierskap word net sekere aspekte van leierskap ondervang, byvoorbeeld leiers wat oor uitsonderlike eienskappe beskik (cf 2.3.5.1), persoonlikheidseienskappe (cf. 2.3.5.2), die gedrag van die leier (cf 2.3.5.3), hoe leiers in situasies optree (cf 2.3.5.4) en transformerende en transaksionele leiers (cf 2.3.5.5). Wanneer daar egter na leierskap, wat uit verskeie verskillende kontekste bestaan, kan dit aan die hand van die strategiese-oordeelteorie gedoen word; effektiewe strategiese leierskap is afhanklik van ʼn sistemiese begrip en ʼn stel vaardighede wat aangepas moet word binne die konteks van waar leierskap beoefen word.