• No results found

4.5 Die benutting van speltegnieke tydens gevallewerk intervensie met die

4.5.2 Spelvorme

4.5.2.4 Skeppende spel

Skeppende spel is kreatief van aard en kan gebruik word in verskeie vorme van kuns en handwerk. Skeppende spel help die kind om gevoelens te ondersoek en te ontlaai. Situasies kan ook herleef word en aanpassings kan gemaak word sodat

aanvaarding kan intree. Skeppende spel is veral handig wanneer daar met jong kinders gewerk word wie se verbale vermoëns nog nie goed ontwikkeld is nie (Van der Merwe, 1991:199-200).

(a) Konstruktiewe spel

Die manipulering en aanmekaarsit van speelmateriaal bevredig kinders se behoefte om vorm te gee aan hul gedagtes en gevoelens, ‘n voorwerp te ontwerp en beheer oor hul omgewing te verkry. Sekere speelmateriaal soos lego, legkaarte en blokke is ontwerp om aanmekaar gesit te word en opgebreek te word. Soos kinders hul vrese, woede en ander gevoelens op die voorwerp waaroor hulle volle beheer het projekteer, verwyder dit baie van die mag wat hul eie gevoelens oor hul het. Konstruktiewe speelgoed stel kinders in staat om op ‘n veilige manier hul vrese vir vernietiging of om vernietig te word, uit te speel. Hierdie hele proses gee aan die kind beheer oor dinge in sy/haar omgewing wat gewoonlik lei tot probleme en negatiewe gevoelens (Timberlake & Cutler, 2001:60).

(b) Kindertekeninge

Teken is ‘n spontane medium van terapie wat aan kinders van alle ouderdomme bekend is (Gouws, 2003:52). Kindertekeninge gee aan kinders die geleentheid om kreatief te wees. Volgens McMahon (1993:36) is tekeninge ‘n wyse vir kinders om gedagtes en gevoelens uit te druk, te eksperimenteer met verhoudings, om nuwe benaderings te vind, of om te groei deur ervarings deur middel van hul negatiewe ervarings op ‘n veilige manier vas te vang. Kindertekeninge is baie handig tydens intervensie met kinders aangesien kinders gevra kan word om enige onderwerp te teken wat moontlike leidrade aan die maatskaplike werker kan verskaf rondom die kind se probleme (Webb, 1991:31). Tekeninge is ook doelgerig en help dus die maatskaplike werker om ‘n begrip te ontwikkel vir die kind se probleme. Terapeutiese tekeninge werk vanaf die aanname dat kinders hulle persepsies, gevoelens en probleme in die tekening projekteer. Die proses van teken bied aan die kind die geleentheid om ‘n ervaring te herleef (Timberlake & Cutler, 2001:64).

Indien die kind nie kan teken nie kan die kind gevra word om “skribbel” tekeninge te maak. Die kind moet dan voorwerpe binne die geskribbel identifiseer wat ook moontlike leidrade aan die maatskaplike werker kan verskaf (Webb, 1991:32).

Vingerverf dien ook as ‘n medium vir self-uitdrukking en neem die vorm van projektiewe spel aan deur insig te ontwikkel oor die kind se wense, vrese, konflikte en fantasieë. Aangesien kinders hul produksies kan uitvee en nuwes ontwerp, word kinders nie ontmoedig deur ontoepaslike prente nie en koester hulle ook nie die vrees vir mislukking nie. Die proses bied die vryheid om beide te ontwerp en te vernietig. Tydens die gebruik van vingerverf observeer die maatskaplike werker die kind se spoed en ritme van werk, die kleure wat geselekteer word en die styl van die lyne wat geteken word. Terwyl die kind vingerverf moet die maatskaplike werker die kind aanmoedig om te praat oor dit wat hy/sy teken sowel as die gevoelens wat hy/sy tydens die proses ervaar. Die eindproduk sowel as die kind se verbalisering help die maatskaplike werker om die kind se huidige maatskaplike funksionering te assesseer sowel as om die vordering van die intervensie te evalueer (Timberlake & Cutler, 2001:59-60).

(c) Kleiwerk

Kleiwerk is ‘n medium wat by kinders van alle ouderdomme benut kan word, dit is vormbaar en buigbaar, en hou geen bedreiging vir die kind in nie. Kinders is gemaklik met klei en dit vergroot dus die geleentheid om gevoelens uit te druk (Gouws, 2003:59). Kleispel help die kind om op ‘n veilige manier ontslae te raak van aggressiewe gevoelens, aangesien dit nodig is vir die kind om die klei te druk en hardhandig daarmee te werk ten einde die gewenste vorm te verkry (Webb, 1991:32). Kinders kan voorwerpe of mense uit die klei vorm en dan hul gevoelens en emosies op die klei projekteer. Klei is van groot waarde aangesien kinders hul emosies en gevoelens uitdruk op ‘n veilige, sigbare en aanvaarbare wyse en dit aan die kind die gevoel van bemeestering gee (Timberlake & Cutler, 2001:58-59).

(d) Sandspel

Sand is ‘n nie-bedreigende materiaal wat sensoriese stimulasie en die geleentheid vir ongestruktureerde aktiwiteite verskaf. Sandspel is ‘n kreatiewe vorm van psigoterapie wat die kind in staat stel om die dieper lae van sy/haar psige te ondersoek in ‘n totale nuwe formaat (Lotz, 2003:66; Irwin, 1983:156).

Sandspel is baie handig wanneer daar gewerk word met kinders wat weerstand bied sowel as met hiperaktiewe kinders wat dit moeilik vind om te fokus (Irwin, 1983:156). Die kind kan menslike of diere figuurtjies gebruik om bekende stories, konflikte of ervarings uit te speel binne ‘n veilige omgewing. Kinders kan ook simbolies hul vrese

en geheime in die sand begrawe. ‘n Nagemaakte wêreld kan ook geskep word waarbinne kinders hul eie siening van die werklikheid weerspieël of hulle kan hul eie pynvolle wêreld bou en vernietig (Timberlake & Cutler, 2001:57-58).

4.5.2.5 Bibliospel

Volgens Gouws (2003:56) bied bibliospel ‘n indirekte kanaal aan die kind om bedreigende aspekte van die wêreld waarin die kind woon en wat dikwels geblokkeer word, na vore te bring.

Bibliospel behels verskeie vorme van spel waartydens daar gebruik gemaak word van leeswerk, boeke, geskrewe boeke, briewe skryf asook oudio-visuele media. Bibliospel help die kind om sy/haar gevoelens na vore te bring sodat dit produktief deurgewerk kan word. Bibliospel hou die volgende voordele in vir die kind: dit lei tot groei en insigontwikkeling; verbalisering van probleme word aangemoedig; dit dien as indirekte kommunikasiemedium tussen die terapeut en die kind; dit is genotvol en bevorder dus die vertrouensverhouding en verhoog die kind se motivering vir gevallewerk; dit bied duideliker perspektief oor probleme; dit gee alternatiewe vir probleemoplossing; dit het voorkomingswaarde; dit bied aan die kind die geleentheid om ‘n emosionele afstand tussen homself/haarself en die probleme te kry; dit gee die geleentheid om emosies te ontlaai en onverwerkte gevoelens op die karakter te projekteer; dit help om die gevoel van isolasie te verminder as die kind besef ander kinders het al soortgelyke probleme oorkom; dit bied moontlikhede vir nuwe gedrag deur modelle te bied vir positiewe gedragsmodifikasie; en dit bied aan die kind ‘n situasie waarbinne hy/sy omstandighede, gevoelens, gedagtes en wense binne ‘n simboliese wêreld kan beheer (Van der Merwe, 1991:166-167). Ahn & Filipenkon (2007:280) beweer dat bibliospel belangrik is aangesien dit fantasie en werklikheid kombineer. Verskillende metodes wat tydens bibliospel benut kan word gaan nou vervolgens bespreek word.

(a) Kinderboeke

Terapeutiese boeke vir kinders verskaf ‘n storie met ‘n kind (model) wat ‘n soortgelyke situasie deur die loop van die boek hanteer. Die boeke modelleer ‘n kind se reaksie op ‘n spesifieke situasie met die hoop dat die luisteraar (kinderkliënt) van die idees sal neem en inkorporeer in sy/haar benadering tot die probleem (Kaduson & Schaefer, 2000:15-16). Die kind kry ook die geleentheid om vanuit ‘n

verbeeldingsoogpunt te sien hoe iemand anders ‘n probleem soortgelyk aan sy/haar eie probleem hanteer (Webb, 1991:34).

Indien ‘n geskikte boek nie beskikbaar is nie kan die maatskaplike werker alleen of tesame met die kind ‘n boek maak wat fokus op die kind se spesifieke probleem. ‘n Voorbeeld: Daar was ‘n 2 jaar 5 maande oue baba wat ‘n vrees vir vure ontwikkel het nadat hy verskeie vure in sy woonbuurt beleef het. Hy het ontsteld geraak sodra hy sirenes gehoor of brandweerwaens gesien het. Die maatskaplike werker het toe ‘n kort verhaal geskryf oor ‘n kind wat soortgelyke vure beleef het. Die kind in die storie het vir sy familie vertel van sy vrese, geleer om te praat oor sy gevoelens en veilig gevoel wanneer hy in die aande bed toe gegaan het (Kaduson & Schaefer, 2000:15- 16). Die doel van die storie is dat die kind met die kind in die storie identifiseer.

(b) Storievertelling

Storievertelling is baie handig tydens intervensie, aangesien dit die kind en maatskaplike werker op ‘n gelyke vlak van kommunikasie bring. Die maatskaplike werker kan ‘n storie aan die kind vertel of die kind toelaat om ‘n storie te vertel. Die maatskaplike werker en die kind kan ook gesamentlik ‘n storie vertel.

Die wedersydse storieverteltegniek is ook ‘n vorm van bibliospel. Tydens hierdie tegniek vertel die kind ‘n storie wat hy/sy self opgemaak het, die maatskaplike werker analiseer die betekenis en vertel dan ‘n ooreenstemmende storie. Die maatskaplike werker se storie bevat dieselfde karakters in dieselfde opset, maar bevat meer positiewe oplossings vir die konfliksituasies wat in die kind se storie voorgekom het (Gardner, 1983:355; Baloyi, 2006:19-20; Gouws, 2003:59). Baloyi (2006:20) bied ook ‘n weergawe van die wedersydse storieverteltegniek: Die maatskaplike werker vertel ‘n storie van ‘n beerfamilie wat in ‘n woud woon. ‘n Beskrywing van hulle daaglikse roetine en omgewing word gegee. ‘n Soortgelyke situasie as die kind se situasie word geskep waarin die hoofkarakter van die storie dieselfde probleme as die kind in die gesig staar. Die kind moet van daar af die storie verder vertel terwyl die maatskaplike werker luister na hoe die beer die probleme hanteer. Indien dit nodig is kan die maatskaplike werker help en die storie in ‘n meer funksionele rigting laat beweeg, byvoorbeeld dat die beer in pleks daarvan om in ‘n hoekie te gaan sit of weg te kruip vir die wêreld eerder met iemand gaan praat vir advies wat die beer kan help om die probleem beter te hanteer.

(c) Lewensboek

Die lewensboek (“scrap booking”) is ‘n boek wat visuele of geskrewe rekord oor die kind se situasie bevat. Dit is ‘n baie handige metode om die kind te help om sy/haar agtergrond en persoonlike geskiedenis te verstaan (McMahon, 1993:189). Lewensboeke is baie handig wanneer daar gewerk word met kinders wat vanaf hulle ouers verwyder is en in alternatiewe sorg soos ‘n kinderhuis geplaas is. In hierdie situasie help die boek die kind om georiënteer te word ten opsigte van die nuwe omstandighede. Dit help die kind om rekord te hou van veranderinge in hul lewens en help hul ook om hul lewens vorentoe te beplan. Die idee van die lewensboek is dat dit natuurlik tydens die terapeutiese proses moet ontwikkel. Die lewensboek kan handel oor die kind se familie en die redes vir die kind se verwydering. Tydens die gebruik van die lewensboek word daar met die kind gepraat oor die verlede, die hede en die toekoms op ‘n wyse wat vir die kind gemaklik is. Die kind en maatskaplike werker kan belangrike inligting bymekaar maak oor gebeure, sowel as belangrike patrone in die kind se lewe identifiseer. ‘n Oorbrugging kan dan gemaak word na die kind se hoop en vrese vir die toekoms (Nel, 2004:60-62).

4.6 Samevatting

In hierdie hoofstuk is aandag geskenk aan die praktykraamwerk wat van toepassing is op die kinderhuis sowel as die kinderhuiskind. ‘n Praktykraamwerk vorm die lens wat fokus op hoe menslike gedrag en sosiale strukture waargeneem word. Dit is die padkaart wat die gedrag en situasies verduidelik en riglyne gee oor hoe om die gedrag en situasies te verander, en is die konsepte en beginsels wat tydens intervensie ontwikkel word uit werklike ervarings en eksperimente. Dit word benadruk dat die perspektiewe, teorieë, modelle en benaderings van die praktykraamwerk meestal geïntegreerd benut word, maar dat dit ook situasie- relevant eklekties aangewend kan word. Die operasionalisering van speltegnieke, wat op die gekonstrueerde praktykraamwerk gegrond is, is ook prakties beskryf.

HOOFSTUK 5

BENUTTING VAN SPELTEGNIEKE DEUR MAATSKAPLIKE

WERKERS IN KINDERHUISE

5.1 Inleiding

Die doelstelling van die navorsing is om ’n teoretiese raamwerk vir maatskaplike werkers in kinderhuise te bied vir die benutting van speltegnieke tydens maatskaplike gevallewerkintervensie met die kinderhuiskind.

Hierdie hoofstuk fokus op die vierde doelwit van die studie, naamlik om die aard van maatskaplike werkers se benutting van speltegnieke tydens maatskaplike gevallewerk intervensie met die kinderhuiskind te ondersoek.

Tydens die analisering van die resultate van die empiriese ondersoek het drie temas na vore gekom wat bespreek sal word. Dit sluit in:

• Behoeftes van die kinderhuiskind;

• Gedrags- en emosionele probleme van die kinderhuiskind; • Die benutting van speltegnieke.

Hierdie hoofstuk bied eerstens ‘n oorsig oor die totstandkoming van en voorbereiding vir die ondersoek, waarna verduidelik sal word hoe data ingesamel is en daarna verwerk is. Daarna word die resultate van die empiriese studie in besonderhede uiteengesit.